Wat maak jy daar?

Leer elke maand iets oor gereedskap, tegnieke of hoe om iets te maak.

Uitgawe 1 – Januarie 2026

Beitels

Beitels is reeds duisende jare gelede gebruik om erts uit myne te kap, om hout af te werk, hout op ’n draaibank te vorm, om voeë in planke te kap,  om klippe te kap en om beelde mee uit sagte klip soos marmer te beitel.  Mens kry dus verskillende beitels vir verskillende take.

Steenbeitels of koudbeitels word gebruik om gate in klippe te kap of om klippe, sement of beton weg te kap.  Dit kan ook gebruik word om skakels van ‘n ketting, of ‘n slot, of ‘n geroeste bout af te kap.

Baksteenbeitels of bouersbeitels het ‘n breë snyvlak waarmee ‘n baksteen kleiner gekap of in twee gedeel kan word.  Dit word ook gebruik om beton te sny en oortollige sement op bouserk weg te kap.

Houtbeitels:

Steekbeitels het ’n breë reguit lem en word meeste in houtwerk gebruik vir die afsteek en verwydering van hout.  Dit is dikwels die eerste beitel wat op die werkstuk gebruik word.  Mens gebruik ’n hout- of rubberhamer om ’n kapbeitel te slaan.

Skilbeitels word onder meer gebruik vir die uitsteek van swaelstertvoeë.  Die skuins kante laat mens toe om die beitel teen ’n hoek te kantel.  Mens gebruik ’n hout- of rubberhamer om ’n skilbeitel te slaan.

Gutsbeitels se lem is geutvormig en word gebruik om hout in repe te verwyder om ’n holte in die werkstuk te maak.  Mens gebruik ’n hout- of rubberhamer om ‘n gutsbeitel te slaan.

Kapbeitels word gebruik om gate in die werkstuk te vorm en vir die afsteek van oortollige hout.  Mens gebruik ’n hout- of rubberhamer om ’n kapbeitel te slaan.

Kerfbeitels het dieselfde vorms as groter houtbeitels maar is net heelwat kleiner.  Die kerfwerk word meestal met drukking van die hand uitgevoer.

Draaibankbeitels word gebruik om hout op ’n draaibank af te werk. Daar sal ’n spesiale artikel oor die draaibank en die verskillende beitels se funksies later in Beiteltjie verskyn.

Hierdie skaakstuk is op ’n draaibank gemaak.

Die onderdele van ’n beitel

Uitgawe 2 – Februarie 2026

Bliklantern

Bliklanterns soos hierdie was deur die Voortrekkers gemaak en gebruik.  ‘n Lantern laat genoeg lig deur om ‘n area te verlig maar beskerm die vlammetjie teen wind en reën wat dit kan uitdoof.  In die verlede was daar baie handige mense wat ‘n bliklantern soos die een in die foto van stukkies metaalplaat of ou blikke kon maak.  Daarvoor moet mens egter gereedskap soos ‘n blikskêr, hamertjie, skroewedraaier, ensovoorts he.

Jy kan egter jou eie bliklantern van ‘n leë blik te maak as jy weet hoe.  Al is ons lanterntjie nie so kompleks soos die Voortrekkers se lantern met die dakkie en deurtjie met skarniere nie, kan dit steeds oulik en mooi wees.  

Jy sal die volgende gereedskap nodig he: ‘n leë blik, hamer, spyker en ‘n vrieshokkie in ‘n yskas (wat die Voortrekkers natuurlik nie gehad het nie).

Wat jy moet doen: 

Stap 1: Kry ‘n leë blik. Stap 2: Maak die blik vol water en laat dit vir ‘n dag in die vrieskas om kliphard te vries.  

Stap 3: Haal die blikkie met ys uit die vrieshokkie en teken patrone op die kante.

Stap 4: Kap gaatjies al lang die strepe van jou patroon.  

Stap 5: Gooi die laaste ys wat nog nie gesmelt het uit jou blikkie en laat dit droog word.

Wenke:

Jy kan ‘n klein skroewedraaier gebruik om plat, langwerpige gaatjies in die blik te kap, soos dié van die Voortrekkerlantern.

Pasop – die gaatjies se rande, wat na binne wys is skerp en kan jou krap wanneer jy die kers insit (trouens, dit is hoe mense in die ou tyd raspers gemaak uit ‘n blikplaat gemaak het).

Gebruik ‘n kort, plat kersie eerder as ‘n langer kersie, want die lang kersie sal meer geneig wees om binne die blik om te val.

Werk op ‘n skinkbord, of buite, of beter selfs op ‘n handdoek buite want die ys gaan mettertyd begin smelt en mors waar jy werk.  

Jy kan bo, naby die rand, twee gaatjies weerskante van die blikkie inkap waar jy met ‘n stukkie draad ‘n handvatsel kan maak om jou lantern iewers buite op te hang.  Pasop – hierdie handvatsel wat reg bo die vlammetjie gaan wees, gaan baie baie warm word en jou brand as jy daaraan vat.

Jy kan natuurlik enige ontwerp soos die buitelyn van blomme, diere of selfs jou naam vir die gaatjies op jou lantern gebruik.  Stuur vir my ‘n foto van jou lantern.

Uitgawe 3 – Maart 2026

Maak ‘n Britse blokhuis

Maak ‘n Britse blokhuis

Meeste van die speelgoed wat ons in Beiteltjie oor gesels, sal jy, al is jy nog klein, met hierdie gereedskap kan maak.

Gereedskap en die vermoë om dit te gebruik ontsluit ‘n wonderwêreld van spel, ontwikkeling van vaardighede en bemagtiging.  ‘n Kind moet allerlei speelgoed met hierdie gereedskap kan maak vanaf bootjies, vlieërs, karrietjies, huisies, kissies, kassies, toktokkies tot draadfiguurtjies.  Dit is maar waar dit begin, want later kom die poppekas, boomhuis en kaskar.   

Die maak van ‘n speelding ontwikkel die groot en klein motoriese funksies van die kind, leer die kind om te beplan en probleme op te los en ontwikkel so die uitvoerende funksionering en uitgestelde beloning-bedrading van die brein, wat presies teenoorgestelde gedrag is as wat in die dopamien-verslaafde brein van die skermkind, wat onmiddelike bevrediging verwag, gebeur.   

Daar is niks lekkerder as om jou eie speelgoed te bou nie – eers die beplanning, dan die harde werk, dan die uittoets om te sien of dit werk, die uitsortering van probleme en verfyning van die produk, en uiteindelik die spel en die trots wat daarmee gepaard gaan dat jy dit self gemaak het.

Uitgawe 4 – April 2026

WAT MAAK JY DAAR?

Van stomp tot plank

Opsaag van stompe in planke

Boomstompe word hoofsaaklik op vier maniere in planke opgesaag. Elke snit se planke het sekere kenmerke wat dit geskik vir sekere gebruike maak en wat die bekostigbaarheid daarvan bepaal.

Dwarssaagmetode:

Voordele:
Maklikste, vinnigste en goedkoopste manier van die opsaag van ‘n stomp met bandsae.
Planke is maksimum breedte.
Lewer die meeste hout met die minste vermorsing.
Droog maklik

Nadele:
Planke wat nie die kern van die stomp insluit nie trek maklik krom.
Sommige planke bevat slegs splinthout.
Die kante van die planke is oneweredig en is met bas bedek. Dit noodsaak bykomstige snitte om reghoekige balke te vervaardig.
Fyn barsies vorm tydens die uitdrogingproses

Vierkantsaagmetode:

Voordele:
Tweede minste vermorsing van hout, naas dwarssaagmetode.
Die planke se sye is eweredig en basvry.

Nadele:
Die stomp moet dikwels gedraai word, baie meer hantering van die stomp vind plaas en word dit dus ‘n duurder metode as die dwarssaagmetode.
Die planke is nie maksimum breedte van die stomp nie.
Sommige planke bevat slegs splinthout.
Meer oneweredige krimping.

Kwartsaagmetode:

Voordele:
Planke het ewewydige jaarringe wat dit sterker maak en meer bestand teen verwering maak.
Minder geneig om krom te trek en daar is minder inkrimping tydens uitdroging.
Geen oppervlakbarste tydens uitdroging

Nadele:
Duur metode omdat daar meer hantering is en omdat daar baie hout verkwis word

Rifsaagmetode:

Voordele:
Planke het ewewydige jaaringe wat dit sterker maak en meer bestand maak teen verwering.
Minder geneig om krom te trek en daar is minder inkrimping tydens uitdroging

Nadele:
Heel duurste metode omdat daar meer hantering as met enige ander snit is en dat die meeste vermorsing van hout met hierdie saagmetode plaasvind.

Die verskillende saagtegnieke word op verskillende houttipes gebruik. Goedkoop hout soos dennehout wat vir konstuksiewerk gebruik word, word meestal met die deursaagmetode of vierkantsaagmetode opgesaag. In die geval van duur loofblaarhout, wat vir hoë-kwaliteit meubels gebruik word, en vir hout wat teen verwering bestand moet wees soos vloerplanke en trappe, word die kwartsaag en rifsaagmetodes gebruik.

Tydens die drogingsproses is die planke wat met deursaag en vierkantsaag metodes gesaag is, en die katedraal-tipe jaarringpatroon het, meer geneig om krom te trek as die planke met ewewydige jaaringe wat met die rifsaagmetode en die kwartsaagmetode vervaardig is.

Volgende keer as jy planke uitsoek sal jy na die jaarringe van die kort kant van die plank kan kyk om die regte plank vir die regte doel uit te kry. Oor die algemeen is ‘n goeie riglyn om te kyk hoe reguit die plank is, hoe swaar die plankis en hoeveel jaarringe dit het. Hoe meer jaarringe ‘n plank het, hoe digter is dit en hoe swaarder weeg dit. ‘n Plank wat met die dwarsaag- of die vierkantsaagmetode deur die middel van die stomp gesny is, het al die kenmerke van ‘n plank wat met die kwartsaag- of die rifsaagmetode gesny is en is dus reguiter en sterker as die ander wat verder weg van die middel gesaag is, maar kos net soveel as die swakker krom plank.

Argiewe – Lees al die vorige uitgawes van Wat Maak Jy Daar.