Bak en Brou.
Leer elke maand ‘n nuwe heerlike resep.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Biltonghappies
Kry hierdie bestanddele:

So maak mens:
Maak die botter sag deur om dit buite die yskas te hou.
Skep die botter in ’n bakkie.
Meng nou 1 eetlepel vleissmeer met die botter in die bakkie.


Sny die brood in blokkies. Dit sal die beste wees om ’n ongesnyde brood te gebruik wat jy, so dik as wat jy wil, kan sny.

Smeer die vleissmeerbotter op al die kante van die blokkie brood en rol die gesmeerde blokkie brood deur die fyn biltong sodat die biltong daaraan kan vasplak.
Herhaal vir al die blokkies brood tot jou vleissmeer botter gesmeer en met biltong bedek is.
Sit die biltonghappies in die yskas vir omtrent 30 minute sodat die botter weer styf word voor jy die biltonghappies bedien.


Lekker smul aan jou biltonghappies en onthou, dit is vriendelik en ordentlik om te deel!
Uitgawe 2 – Februarie 2026
Pannekoek
Min dinge is so eg Afrikaans as pannekoek by ‘n kerkbasaar of ‘n skoolkermis nie. Mens kan sommer van ver af sien watter stalletjie pannekoek verkoop want die langste tou staan gewoonlik daar. Pannekoek is so gewild dat dit dikwels die eerste stalletjie is wat al sy voorraad uitverkoop.

Ons pannekoektradisie kom van Wes Europa af en dit is daar net so gewild soos hier. Maar anders as ons pannekoek wat ons meestal met kaneelsuiker eet, eet die Europeërs dit met onder andere: sjokoladesmeer, konfyt, gewone suiker, suurlemoensuiker, piesang met sjokoladesmeer, soos jy in die foto hierbo kan sien. Die foto hierbo is van ‘n padstalletjie waar die kok in minder as ‘n minuut ‘n perfekte pannekoek op ‘n warm plaat (nie met ‘n pan nie) en ‘n spateltjie ‘n pannekoek bak. Wanneer hulle pannekoeke op ‘n plaat gebak word kom dit reghoekig uit en nie rond soos ons s’n wat in ‘n pan gebak word nie. Daar is egter spesiale pannekoekrestaurante in Frankryk wat crêperies genoem word (crêpe is pannekoek in Frans). Ons het ook sulke restaurante in Suid-Afrika. In hierdie restaurante kan mens pannekoek met onder andere maalvleis, kaas en roomys in kry.
Om jou eie pannekoeke te bak benodig jy die volgende:
Mengbak om in te meng
Bakkie vir die meel
Klitser
Maatlepels om te meet
Eetlepel om te skep
Pan
Spaan om op te lig
Hond
Bestanddele:
250 ml koekmeelblom
1 ml sout
125 ml melk
125 ml water
2 ml olie
1 eier

Suiker (die hoeveelheid hang van jou soettand af – sommige mense hou van baie kaneelsuiker en ander van minder en sommige mense sit heeltemal iets anders op hulle pannekoek)
Kaneel (die hoeveelheid hang van hoeveel suiker jy gebruik af).
Metode:
1. Meet die koekmeelblom af in die bak.
2. Klits die eier, melk, water en sout saam in die mengbak.
3. Voeg 3 eetlepels meel by die mengsel in die mengbak en klits dit goed deur. Voeg dan nog 3 eetlepels meel by en klits dit weer goed deur. Herhaal die proses tot al jou meel by die beslag ingeklits is. Klits goed sodat al die klontjies uit is en die beslag dun en loperig is.
4. Stel ‘n plaat op die stoof tot hoog.
5. Gooi die 2 ml olie in die pan en verhit dit op die plaat maar nie vir te lank nie anders gaan dit begin rook. Kantel die pan sodat die olie die hele bodem bedek.
Kaneel (die hoeveelheid hang van hoeveel suiker jy gebruik af).



6. Skep die beslag uit die bak met ‘n koppie of maatlepel en gooi dit met jou een hand stadig in die pan terwyl jy met die ander hand die pan flink in die rondte kantel sodat die beslag oor die hele bodem vloei (moenie tob daaroor as jy nie dit die eerste keer regkry nie – jou hond sal graag van jou floppies ontslae raak).
7. Sit die pan op die plaat sodat die pannekoek kan gaar word. Wanneer die randjies begin bros raak en van die pan weglig, weet jy dat dit gaar is.
8. Lig die pannekoek nou versigtig met die spaan op, om dit los van die oppervlakte te maak – of as jy behendig raak, kan jy dit losskud voor jy dit in die lug opgooi.
9. En nou kom die groot opwinding! Jy moet die pannekoek in die lug opgooi sodat dit in die lug omdraai en met die rou kant na onder in die pan land! (Moenie bekommer nie, jou hond sal jou help om van die mislukkings ontslae te raak. As dit jou eerste keer is wat jy pannekoek bak, en veral as iemand jou dophou en jy ‘n flop wil maak nie, dop die pannekoek ewe ongeërg met die spaan om. As die persoon jou vra hoekom jy dit nie in die lug opgooi nie, dan sê jy bloot omdat jy nie lus is nie en as sy jou aanhou voorsê eet jy al die pannekoek alleen op.
10. Sit die gaar pannekoek in ‘n groot bord en sit ‘n tweede een onderstebo bo-op sodat die hitte binnebly en die vlieë nie daarop sit nie.
11. Gebruik die res van die beslag om die res van die pannekoeke te bak. Jy sal opmerk dat dit al hoe vinniger en beter gaan hoe langer jy aanhou en hoe meer gereeld jy probeer. (Mettertyd sal jou hond ook belangstelling verloor want jy sal al hoe minder foute maak.)
12. Meng kaneelsuiker in ‘n bakkie deur om eers die suiker en dan bietjies-bietjies kaneel by te voeg terwyl jy dit roer. Proe tot dit reg is vir jou smaak.
13. Strooi ‘n dun lagie kaneelsuiker oor die boonste pannekoek en rol dit dan op en sit dit op ‘n bord. Herhaal met al die ander pannekoeke tot jy ‘n stapel opgerolde pannekoeke het.
14. Hierdie baksel lewer maar so ses pannekoeke (afhangende van die grootte van jou pan). As jy met ander mense, soos familie, vriende en jou bure wil deel, moet jy maar jou bestanddele (buiten die olie) verdubbel.

Wenke:
Daar is min dinge so lekker soos ‘n dun lagie vleissmeer en gerasperde kaas in ‘n pannekoek. Of ‘n lagie maaskaas en biltongpoeier!
Probeer ook ‘n lagie konfyt en ‘n paar teelepels roomys op jou pannekoek.
Vir ‘n geselligheid bak ‘n stapel pannekoeke en sit ‘n klomp verskillende belegsels op die tafel vir almal om hul eie lekkerste pannekoek te maak!
Uitgawe 3 – Maart 2026
BAK EN BROU
Mieliepap
Mieliepap is een van die eenvoudigste en bekendste disse wat in Suid-Afrika deur bykans almal geëet word. Mieliepap is die stapelvoedsel vir meeste mense suid van die Sahara.
Mieliepap word tradisioneel op een van drie maniere opgedis as slappap, stywepap of krummelpap. Al die verskillende tipes pap word tydens ontbyt genuttig. Stywepap en krummelpap word dikwels met tamatiesmoor of sous saam met vleis bedien. Daar is egter talle resepte waar daar ekstra bestanddele bygesit word om dit ekstra lekker te maak, maar kom ons begin met die drie tradisionele resepte vir slappap, stywepap en krummelpap.
Slappap (vir 4 tot 6 mense)
Jy benodig:
Kookpot met deksel
Maatlepels en koppies
Houtlepel
Bestanddele:
150 ml mieliemeel
500 ml water
1 teelepel (5 ml) sout

Metode:
- Roer die sout in die water en verhit dit op die stoof tot dit kook.
- Terwyl jy wag vir die water om te kook, meng die mieliemeel met ekstra water in ‘n bakkie tot dit ‘n slap, gladde pasta vorm (moenie te veel water gebruik nie, gebruik net genoeg om die meel in ‘n pasta te laat verander).
- Voeg nou die pasta stadig by die kokende water met een hand, terwyl jy die water met die houtlepel in die ander hand roer om te verhoed dat klonte vorm.
- Verlaag die plaat se hitte en sit die deksel op die pot.
- Kook vir nog so 10 minute tot die pap gaar is.
Slappap word meestal tydens ontbyt in ‘n bakkie saam met melk en suiker geëet. Mense voeg soms room of ‘n lepel botter by om dit nog lekkerder te maak. Soettande voeg weer heuning, stroop of kondensmelk by.
Stywepap (6-8 mense) Stywepap kan vir ontbyt of met braaivleis en bredie geëet word.
Jy benodig:
Kookpot met deksel
Maatlepels en koppies
Houtlepel en vurk
Bestanddele:
750 ml mieliemeel
1 liter water
12,5 nl sout
12,5 ml botter
10 ml olyfolie

- Roer die sout in die water en verhit dit op die stoof tot dit kook.
- Terwyl jy wag vir die water om te kook, meng die mieliemeel met ekstra water in ‘n bakkie tot dit ‘n slap, gladde pasta vorm (moenie te veel water gebruik nie, gebruik net genoeg om die meel in ‘n pasta te laat verander).
- Gooi die meel bietjies-vir-bietjies in die kokende water, terwyl jy dit met ‘n vurk roer om die mengsel dik maar klontvry te kry.
- Voeg die botter en olyfolie by en roer goed deur.
- Sit die deksel op die pot en laat die pot teen ‘n lae hitte vir ongveer 30 minute prut tot die pap gaar is.
- Roer dit goed deur en dien op.
Krummelpap (6-8 mense) Krummelpap kan vir ontbyt met melk, suiker en botter geëet word, maar is heel lekkerste met bredie en braaivleis.
Jy benodig:
Kookpot met deksel
Maatlepels en koppies
Houtlepel
Vurk
Bestanddele:
750 ml mieliemeel
1 liter water
1 teelepel (5 ml) sout
20 ml botter

- Roer die sout in die water en verhit dit op die stoof tot dit kook.
- Gooi die mieliemeel net so droog in en gee dit net een roer.
- Laat die pot vir 15 minute kook sonder om te roer.
- Roer die pap nou met ‘n groot vurk tot dit krummelrig is.
- Roer die botter in en sit die plaat op laag.
- Sit die deksel op en laat die pap saggies prut vir nog ‘n uur.
Uitgawe 4 – April 2026
Maak jou eie gemmerbier
Maak jou eie gemmerbier
Bestanddele (vir 4 liter gemmerbier):

4 liter water
4 eetlepels gemaalde gemmer
3 koppies suiker
2 sakkies gis
10 ml kremetart
10 ml wynsteensuur
handvol rosyntjies

Toerusting:
Maatkoppie en 5 ml
maatlepel
5 liter houer om mengsel
aan te maak
‘n Tweede 5 liter houer
Lepel om te roer
Tregter
Twee 2 liter bottels
Metode:
- Meet die suiker af en gooi dit in die menghouer, gooi warm water by en roer tot die suiker oplos.
- Gooi die gis in ‘n koppie en los dit op met lou water op en gooi dit in die menghouer.
- Meet die kremetart en wynsteensuur af en gooi dit ook in die menghouer.
- Laat staan die menghouer met die mengsel in vir 24-36 uur binnenshuis sodat dit kan gis (dit sal langer onder koue toestande neem as onder warm toestande). Jy kan andersins die houer in die son vir ongeveer 6 ure sit. Bedek die houer met ‘n doek sodat die gas kan ontsnap en goggas nie daarin val nie.
- Giet die vloeistof deur ‘n doek in ‘n ander houer sodat die sediment meestal agterbly.
- Gooi rosyntjies by die gemmerbier en laat dit nog staan sodat dit verder gis. Bedek die houer met ‘n doek sodat die gas kan ontsnap en goggas nie daarin kan val nie.
- Die gemmerbier sal reg wees as die rosyntjies bo begin dryf.
- Giet die gemmerbier nou met die tregter in die 2 liter bottels, maar moenie tot bo volmaak nie.
- Sit die bottels met gemmerbier in die yskas om te verhoed dat dit verder gis en vir langer vars bly.


