Sing en Rym Saam.

Lees ons mooiste gedigte en leer om tradisionele liedjies te sing.
Liedjies en gedigte deur van die bekendste skrywers in ons geskiedenis.

Uitgawe 1 – Januarie 2026

Die Beiteltjie.

N.P. van Wyk Louw

Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.
Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:
– mens moet jou vergewis:
‘n beitel moet kan klip breek
as hy ‘n beitel is –
ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs ‘n voeg:
toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,
die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe –
só moet ‘n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?
Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see
en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met ‘n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

Uitgawe 2 – Februarie 2026

VANAAND GAAN DIE VOLKIES


Uitgawe 3 – Maart 2026

SARIE MARAIS

My Sarie Marais is so ver van my hart, maar’k hoop om haar weer te sien.
Sy het in die wyk Van die Mooirivier gewoon, Nog voor die oorlog het begin.

O bring my t’rug na die ou Transvaal,
Daar waar my Sarie woon,
Daar onder by die mielies by die groen
doringboom,
Daar woon my Sarie Marais.

Susara Margaretha Maré (1869 – 1939)
(Sarie of Tant Mossie in latere lewe) het
oorspronklik in Heidelberg Distrik in
Transvaal gewoon. Sy is met die digter,
Joernalis en skrywer Jacobus Petrus Toerien, in 1884 getroud en in Potcheftroom gaan bly. Hulle het 16 kinders gehad.

Tourien het die Afrikaanse woorde van die volksliedjie “Sarie Marais” op die note van die Amerikaanse liedjie “Sweet Ellie Rhee”

geskryf. Hy het hierdie lied, wat hy reeds voor die Tweede Anglo Boereoorlog geskryf het, gesing toe hy op kommando was en na sy vrou verlang het.


Sarie Marais was deur die Boere krygsgevanenes in Cylon (Sri Lanka) gesing, waarna die Girl Guides van Sri Lanka dit as hulle lied aangeneem het. Sarie Marais was ook deur die Suid-Afrikaanse troepe tydens die Tweede Wêreldoorlog gesing, waarna dit in 1953 die amptelike marslied van die Verenigde Koninkryk se Kommandos geword het. Die Franse École Militaire Interarmes gebruik die Franse vertaling van Sarie Marais as hulle kenwysie en die Franse Vreemdelinglegioen speel dit dikwels as marslied.


Sarie, wat ‘n baie nederige vrou was en wat die kollig vermy het, het tot haar dood ontken dat die liedjie oor haar was.

Later was nog drie versies deur ander mense bygevoeg.

Uitgawe 4 – April 2026

Liedjie

PIET HEIN EN DIE SILWERVLOOT
(Uit Nederlands vertaal deur François Durand)

Het jy al gehoor van die Silwervloot
Daardie Silwervloot van Spanje?
Dit het baie Spaanse munte aan boord
En goudstukke van Oranje

Piet Hein, Piet Hein, Piet Hein sy naam is klein,
Sy dade is wel groot, sy dade is wel groot,
Hy oorwin gewis die Silwervloot
Hy oorwin gewis die Silwervloot

Toe spreek Piet Hein ons aan met ‘n grimmige woord:
“Wel, jongmans van Oranje!
Kom op reis saam en gaan aan Spaanse boord
En voeter die spul van Spanje!”

Piet Hein, Piet Hein, Piet Hein sy naam is klein,
Sy dade is wel groot, sy dade is wel groot,
Hy oorwin gewis die Silwervloot
Hy oorwin gewis die Silwervloot

Nes katte beklim hulle die takelwerk
Hul veg met die moed van leeue
Hul het die Spanjaarde totaal verpletter
Tot in Spanje klink hul skreeue.

Piet Hein, Piet Hein, Piet Hein sy naam is klein,
Sy dade is wel groot, sy dade is wel groot,
Hy oorwin gewis die Silwervloot
Hy oorwin gewis die Silwervloot

Sou jul, as jul kon, saam met ons die Silwervloot
aanval en van voor af verslaan?
Of sou jy veilig en buite skoot,
suutjies in jou hangmat vergaan?

Nederlandse spruit, jou bloed het baie moed!
Al is ons ver van groot, al is ons ver van groot,
Sou ons nog steeds wen teen ‘n Silwervloot!
Sou ons nog steeds wen teen ‘n Silwervloot!

Uitgawe 5 – Mei 2026

Rympie

TRIPPE TRAPPE TRONE 

Trippe trappe trone,
die varkies in die bone,
die koeitjies in die klawer,
die perdjies in die hawer,
die gansies op die groene gras,
eendjies in die waterplas,
ek wens dat kindjie groter was
om al die diertjies op te pas.

WIELIE WIELIE WALIE

Wielie wielie walie
die apie ry op ‘n balie
tjoef tjaf daar val hy af
wielie wielie walie.

Uitgawe 6 – Junie 2026

Liedjie

DIE DONKIE IS ’N WONDERLIKE DING

Tradisioneel:
Die donkie is ’n wonderlike ding,

Hy dra jou vrag en hy dra jou ring,

Hy dra jou water en hy dra jou hout,

Die donkie is ’n wonderlike ding.

Hy dra jou mielies en hy dra jou brood,

Hy dra jou klippe en hy dra jou lood,

Hy dra jou koring en hy dra jou sout,

Die donkie is ’n wonderlike ding.

Hy dra jou meisie en hy dra jou vrou,

Hy dra jou skoonma en hy dra jou kou,

Hy dra jou kinders en hy dra jou goud,

Die donkie is ’n wonderlike ding.

Chris Blignaut (1969):

O, die donkie is ‘n wonderlike ding,
Ja-nee, die donkie is ‘n wonderlike ding,
Die donkie is ‘n bonkel, hy’s ‘n boetie van ‘n muil,
Sien die een die ander dan begin hy sommer huil.
Ja die donkie, o die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Sy kop is so groot, dit lig sy agterpoot,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy trek as hy staan en hy vrek as hy gaan,
O die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy staan teen die draad en hy loer op die straat,
O die donkie is ‘n wonderlike ding.
O die donkie, ja die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Die donkie is ‘n bielie hy’s ‘n boetie van ‘n muil,
Sien die een die ander dan begin hy sommer huil.
Ja die donkie, o die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy rol in die sand en hy vreet ‘n koerant,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Staan en dink waar die muishond stink,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.

O die donkie, ja die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy staan en hik met sy kop in ‘n mik,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.

O, die donkie is ‘n wonderlike ding,
Ja-nee die donkie is ‘n wonderlike ding,
Die donkie is ‘n bonkel, hy’s ‘n boetie van ‘n muil,
Sien die een die ander dan begin hy sommer huil.

Ja die donkie, o die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy rol in die sand en hy vreet ‘n koerant,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.

Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy gaan soms kuier by sy donkie vryer,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.

Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy lek haar aan die nek en hy kou haar aan die bek,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.