Beiteltjie – Jaargang 1 – Volume 6
Wat is Beiteltjie.
Beiteltjie is ‘n gratis aanlyn tydskif spesiaal vir die Afrikaanse kind.
Elke maand is daar nuwe stories, resepte, blokraaisels, interesante feite van ons verlede, doen-dit-self projekte en vele meer.
In hierdie uitgawe:
Die donkie is ‘n wonderlike ding
Die storie van goud: Deel 2
Bou jou mynskagtoring klaar
Buksie soek Oupa Knoffel se skat
Maak jou eie sonhorlosie!
Maak die lekkerste kaiings
Leer om ’n waterbom te maak…
en nog baie meer

Inhoud:
Liedjie: Die donkie is ‘n wonderlike ding
Ontdek: Die storie van goud, Deel 2
Hoesê? Woorde en Uitdrukkings
Die Knoffels – Oupa se skat
Storie: Sias en Mias Hoofstuk 6: Die groot skrik
Blokraai
Bak en Brou: Leer om kaiings te maak
Wat maak jy daar? ‘n Sonwyser op jou muur
Toeka se tyd: Armblankes
Knip en plak: Bou jou eie mynskagtoring: Deel 2
Uit die tuin: Snoei ‘n vrugteboom
Kom speel saam: Maak ‘n waterbom!
Raaisel van die 12 stawe goud
Brief aan die ouers: Taal en breinontwikkeling
Volgende maand
____________________________________
Redakteur: Prof. Francois Durand
Medewerker: Ben Raubenheimer
Kontak ons by: beiteltjie@yahoo.com
Liedjie
DIE DONKIE IS ’N WONDERLIKE DING

Tradisioneel:
Die donkie is ’n wonderlike ding,
Hy dra jou vrag en hy dra jou ring,
Hy dra jou water en hy dra jou hout,
Die donkie is ’n wonderlike ding.
Hy dra jou mielies en hy dra jou brood,
Hy dra jou klippe en hy dra jou lood,
Hy dra jou koring en hy dra jou sout,
Die donkie is ’n wonderlike ding.
Hy dra jou meisie en hy dra jou vrou,
Hy dra jou skoonma en hy dra jou kou,
Hy dra jou kinders en hy dra jou goud,
Die donkie is ’n wonderlike ding.
Chris Blignaut (1969):
O, die donkie is ‘n wonderlike ding,
Ja-nee, die donkie is ‘n wonderlike ding,
Die donkie is ‘n bonkel, hy’s ‘n boetie van ‘n muil,
Sien die een die ander dan begin hy sommer huil.
Ja die donkie, o die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Sy kop is so groot, dit lig sy agterpoot,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy trek as hy staan en hy vrek as hy gaan,
O die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy staan teen die draad en hy loer op die straat,
O die donkie is ‘n wonderlike ding.
O die donkie, ja die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Die donkie is ‘n bielie hy’s ‘n boetie van ‘n muil,
Sien die een die ander dan begin hy sommer huil.
Ja die donkie, o die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy rol in die sand en hy vreet ‘n koerant,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Staan en dink waar die muishond stink,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
O die donkie, ja die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy staan en hik met sy kop in ‘n mik,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
O, die donkie is ‘n wonderlike ding,
Ja-nee die donkie is ‘n wonderlike ding,
Die donkie is ‘n bonkel, hy’s ‘n boetie van ‘n muil,
Sien die een die ander dan begin hy sommer huil.
Ja die donkie, o die donkie,
Die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy rol in die sand en hy vreet ‘n koerant,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy gaan soms kuier by sy donkie vryer,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.
Ja die donkie is ‘n wonderlike ding,
O die donkie is ‘n wonderlike ding,
Hy lek haar aan die nek en hy kou haar aan die bek,
o die donkie is ‘n wonderlike ding.

Ontdek:
DIE STORIE VAN GOUD Deel 2
Waar kom goud voor?


Alhoewel goud wêreldwyd voorkom, word die grootste konsentrasie goud hier in Suid-Afrika aangetref. Omtrent 22% van die goud wat ooit gemyn is, is afkomstig van die geologiese eenheid wat as die Witwatersrand Supergroep bekend staan. Die Witwatersrand Supergroep kom in die suide van die ou Transvaal (suid Gauteng en Noordwes) en in die noordweste van die Vrystaat voor.
Die Vredefort Koepel is een van die grootste en bes bewaarde meteorietimpak-oorblyfsels op aarde (lees meer daaroor in: https://wereldomons.co.za/2021/05/31/ 883/). Parys lê langs die Vaalrivier op die rand van die Vredefort Koepel, terwyl die dorpie Vredefort in die middel daarvan geleë is. Dit is nie toevallig dat die goudmyne noord en noordwes van die Vredefort Koepel voorkom nie (die wit blokkies op die foto op die vorige bladsy is die slikdamme van goudmyne).

Oorspronklik het mense gedink dat die goud van die Witwatersrand Supergroep, dalk uit die uitskot van die meteoriet gevorm is, maar dit is nie waar nie. Die uitskot van die meteoriet het egter ‘n dik laag puin gevorm wat die goudryke lae, wat reeds lank voor die tyd, op die rand van in ‘n vlak see afgeset was, van verwering bewaar het.
Trouens, die goudryke lae van die Witwatersrand Supergroep kan in die kraag van die Vredefort Koepel gesien word, waar dit weens die impak, boontoe gebuig het. Verder weg van die impakkrater hel die Witwatersrand Supergroep se lae na die Vredefortkoepel toe omdat die meteorietimpak die aardkors gebuig het. Hierdie helling van die goudryke lae het ‘n groot invloed op die aard van die goudmyne rondom die Vredefort Koepel, want die enigste manier om die goud te bekom is met behulp van skagte en tonnels wat tot drie kilometer, en op die Wes Rand selfs oor die vier kilometer diep is. Hierdie is van die diepste myne op aarde.
Elders in Afrika, word goud in van die oudste korsgesteentes op aarde aangetref. Herhalende siklusse van verhitting en verkoeling, waaraan die gesteentes in hierdie geologiese gebiede blootgestel is, het tot die infusie van goud in hierdie gesteentes bygedra. In hierdie gebiede kom die goud in kwartsare van ‘n paar sentimeter tot 1.5 m in deursneë voor.
Arabiese Afrika
Wat my opval is die onkunde, of die totale geheueverlies, of eerder die moedswillige ignorering van Arabiese ekspansionisme wat ‘n direkte impak op die ontwikkeling en geskiedenis van Afrika, en Suid-Afrika gehad het en steeds het.

Iets wat mense ook verwar is dat die woord Arabier, net soos die woorde Jood of Christen, ‘n kulturele en geloofsbetekenis het en nie na ‘n etnisiteit verwys nie. Wanneer ek die woord Arabies hier gebruik verwys ek na die taal, kultuur en godsdiens van ‘n groep mense en nie slegs hul etniese herkoms nie.

Arabiere het ook nie een en ‘n half duisend jaar gelede uit die lug geval nie, hulle oorsprong was uit die volkere van die Midde-Ooste – die nasate van die Sumeriërs, Hettiete, Babiloniërs, Perse,

Fenisiërs en Egiptenare, om maar net ‘n paar te noem. Die Arabiese kultuur het na vore gekom na die geboorte van die Profeet Mohammed in 570 en die daaropvolgende verspreiding van Islam vanaf 610 tot vandag. Die Arabiese identiteit word gekenmerk aan die aanhang van Islam wat ‘n gemeenskaplike godsdiens, taal, kultuur en regstelsel insluit.
Die kulturele en tegnologiese invloed van die Midde Ooste het oor millenia, lank voor die koms van Islam, na Europa, Afrika en Asië versprei en sodoende landbou, veeteelt en metaalverwerking na die drie kontinente oorgedra. Hierdie invloede van die Midde Ooste het met die aanvang van landbou 9000 jaar gelede begin, wat tot die verspreiding van die Indo- Germaanse taal, kultuur en religieë en die verspreiding van gedomestiseerde diere in die vorm van vee en die verbouiing van graangewasse gelei het.

Die Midde-Oosterse kultuur en goedere het makliker en vinniger na Noord-Afrika, Europa en Indië versprei as wat dit na die binneland van Afrika suid van die Sahara versprei het. Van die grootste hindernisse, wat die verspreiding van beeste, en dus beesboere en die gepaardgaande tegnologiese, kulturele en ekonomiese invloed, insluitende mynbou en metallurgie, vanaf die Arabiese Peninsula na sub-Sahara Afrika vertaag het, was die tsetsevlieg. Anders as in Andalusië, die Maghreb, Mashrek en Indië, sien mens nie ‘n massa-verhuising van Perse en Arabiere in tropiese Afrika nie, maar eerder die vestiging van hawestede langs die Ooskus van Afrika. Die Arabiere, soos die Perse voor hulle, was hoofsaaklik bemoeid met die verkryging van goedere uit sub-Sahara Afrika en die vervoer daarvan na Arabië en Indië waar dit verhandel is. Oos Afrika, suid van die Horing van Afrika, waar slawe en ivoor verkry is, het as die Zanj bekend gestaan, terwyl die goud-produserende land in die suide as Sofala bekend gestaan het. Arabiese seevaarders vanuit die Persiese Golf het reeds teen die agste eeu die Ooskus van Afrika so ver as die Zambesi en waarskynlik so ver suid as die Limpopo verken. Die eerste geskrewe rekord wat Sofala vermeld is die geskrifte van die Arabiese geleerde Al-Masudi wat in die tiende eeu geleef het.

Na gelang van tyd was die hawestede, handelsentrums en sultanate soos Chibuene, Sofala, Kilwa en Modadisjoe langs die Ooskus van Arika gevestig. Dikwels was sultanate op eilande soos Zanzibar, Mombasa, Pemba, Mafia en Mosambiek Eiland gevestig – juis om die veiligheid van die Arabiese heerserklas van die etniese Afrikane te verseker.
Danksy duisende jare se blootstelling aan eers die Persiese, en later die Arabiese handelaars, het ‘n handelselite tussen die inheemse bevolking langs die Ooskus van Afrika ontstaan wat ‘n lingua franca bekend as Swahli gebruik om met mekaar te kommunikeer. Swahili bestaan uit ’n mengsel van hoofsaaklik Bantoe en Arabiese woorde. Die voorkoms van Persiese woorde in Swahili dui egter op ‘n blootstelling aan Perse wat reeds eeue voor Christus moes plaasgevind het. Die invloed van die Arabiese kolonialisasie word ook in die Swahili-sprekende mense se bekering tot die Islam, hul argitektuur, boerderymetodes, kleredrag, wette, skrif en politiese en familiestrukture weerspieël.

Meeste van die verkryging en vervoer van goedere vanuit die binneland van Afrika na die kusdorpe was deur die Swahilis van Sentraal Afrika beheer. Die Swahilis se kennis van die tale, kulturele gebruike en regeringstelsels van die Bantoe-sprekende volke van Afrika was allerbelangrik in die totstandkoming van ‘n reuse handelsnetwerk wat oor Afrika gespan het en selfs die mees afgeleë gehuggies, tot die belangrikste stede van die interieur met die Arabiese hawestede verbind het.

Terwyl die Arabies-beheerde hawestede op die eilande Zanzibar, Kilwa, Mafia, Pate, Manda, Pemba, Komores en Madagaskar in die tiende eeu gevestig is, het Swahili-beheerde dorpe binnelands vanaf die kus allangs die handelstroetes in Somalië, Tanzanië, Kenia en Mosambiek verrys.

Terwyl die Arabies-beheerde hawestede op die eilande Zanzibar, Kilwa, Mafia, Pate, Manda, Pemba, Komores en Madagaskar in die tiende eeu gevestig is, het Swahili-beheerde dorpe binnelands vanaf die kus allangs die handelstroetes in Somalië, Tanzanië, Kenia en Mosambiek verrys.
Nadat die sultan van Kilwa die goudinvoer van Sofala oorgeneem het, het dit teen die 12de eeu tot dit die grootste en belangrikste hawestand aan die Ooskus van Afrika geword. Kilwa het steeds magtiger in die 13de eeu geword soos die aanvraag na goud in die Midde Ooste en Verre Ooste toegeneem het. Die paleis van Sultan Husini Kubwa en die Groot Moskee van Kilwa was tydens hierdie bloeitydperk in die 14de eeu gebou voor die prys van goud gedevalueer het weens die instroming van groot hoeveelhede goud vanaf Wes Afrika na die Midde Ooste.
Ons sal waarskynlik nooit weet wie die eerste geoloë was wat die goudvelde van die Zimbabwe Kraton ontdek het nie, maar ek vermoed dit was Arabiese geoloë. Die mynboutegnieke wat toegepas is, is duidelik dieselfde wat vir duisende jare in die Arabiese Peninsula en in Egipte gebruik is. Dit is ook nie toevallig dat die ontwikkeling van die Zimbabwiese goudvelde presies met Arabiese ekspansionisme saamval nie. Daar was geen ontginning van goud, goue voorwerpe in grafte of goudmyne in Suider-Afrika voor die koms van die Arabiere langs die Ooskus van Afrika nie. Wat wel duidelik blyk is dat mynboukulture en die Mapungubwe, Groot Zimbabwe, Mutapa, Torwa en Rozwi Koninkryke in die hedendaagse Zimbabwe tussen 1000-1900 jaar gelede rondom hierdie goudvelde ontstaan het. Die totstandkoming van hierdie koningkryke het met die suidwaartse uitbreiding van die Arabiese handelsroete en die totstandkoming van die Arabies-beheerde hawestede Chibuene en Sofala gepaard gegaan.
Ysterverwerking het vanaf Noord Afrika en die Arabiese Peninsula vanaf ongeveer 2000 v.C. na Afrika suid van die Sahara versprei en het aan die Afrika Ystertydperk oorsprong gegee. Ystergereedskap was deur die Zimbabwese kulture gebruik om gouderts vanuit die kwartsare in die graniet te myn waarna die erts buite die myn fyn gestamp en gemaal is.

Die Koninkryk van Mapungubwe (1075-1220 nC) was die mees suidelike vesting van ‘n groot Arabiese handelsnetwerk wat regoor Afrika gestrek het en wat met hawestede op die Ooskus van Afrika verbind was. Arabiese skepe het met goedere uit Afrika – hoofsaaklik slawe, ivoor, pelse en goud – vanaf hierdie hawestede na bestemmings op die Arabiese Peninsula, Indië en die Verre Ooste vertrek.
Goedere van Suid-Afrika was met handelsroetes, langs die groot riviere, vanaf die binnelandse Bantoe-sprekende stede na die Arabies-beheerde kusstede vervoer. Die suidelike handelsroete het vir ‘n gedeelte langs die Limpopo vanaf Mapungube tot by Chibuene aan die ooskus van die hedendagse Mosambiek geloop. Die sentrale handelsroete het vanaf Groot Zimbabwe gedeeltelik langs die Runde en Save Riviere geloop tot dit noordwaarts tot by die destydse hawestad Sofala (wat na Beira deur die Portugese herdoop is) op die ooskus gestrek het. Die noordelike handelsroete het vanaf Mutapa, in die noordelike deel van die hedendaagse Zimbabwe, al langs die Zambesi Rivier tot by Angoche en Quimane op die ooskus van die hedendaagse Mosambiek gestrek.
Die goedere was vanaf hierdie kusdorpe met dhows noordwaards al langs die kus na Kilwa vervoer. Arabiese handelaars het die handelsware met behulp van die somer-monsoenstrome, vanaf Mei tot September, vanaf Kilwa na die Midde Ooste en Indië vervoer, en dit daar vir glaskrale, geglasuurde keramiek en katoen verhandel. Die Arabiese handelaars het die winter-monsoenstrome tussen November tot Februarie gebruik om met hul skepe vol handelsware van die Ooste na Kilwa terug te keer.
Zimbabwe (1100-1550 nC) was oorspronklik ‘n vasalstaat van die Mapungube Koninkryk en het eers na die ondergang van Mapungubwe aan bewind gekom. Die Koninkryk van Zimbabwe het oor ‘n groter goudryke gebied as sy voorganger geheers en het tot die grootste streeksmoontheid ontwikkel danksy hul verbintenis met die Arabiese Ooskus handelsroete. Daar word gespekuleer dat die ondergang van die Koningkryk van Zimbabwe veroorsaak was deur die uitputting van die goudreserwes in hul ryk, maar dit is onwaarskynlik want die ineenstorting van die Koninkryk van Zimbabwe kan eerder met die koms van die Portugese aan die Ooskus van Afrika verbind word.
Ten spyte van die oorname van Sofala en Kilwa deur die Portugese, was die oorname van die speseryhandelsroete na die Verre Ooste die Portugese se hoofdoel en het hulle min of geen belangstelling in die binneland getoon nie. Dit is ook hoekom Mosambiek so ‘n lang, uitgerekte land langs die ooskus is want die Portugese het die kusgebied beheer en in die naasliggende goudryke gebied – Zimbabwe – belangestel nie. Die teenwoordigheid van Portuguese in Sofala en Kilwa het nie die vloei van goud vanaf Suid-Afrika na die Midde Ooste belemmer nie. Die goud was steeds vanaf Zimbabwe met behulp van ‘n netwerk van binneslandse handelsroetes en per dhow kuslangs vervoer. Na die ineenstorting van Groot Zimababwe, het die Koningkryke van Mutapa en Rozwi, verder noord, met goudmynery aangegaan. Danksy die Swahilis was die handelsroetes van Afrika na Arabië in stand gehou terwyl die Portugese die beheer oor die handelsroetes in die Indiese Oseaan oorgeneem het.
Suid-Afrika
Die goudmyne van Mpumalanga
Na die nederige sukses van die goudmyn in Millwood in Knysna en Eersteling Myn die noorde van die ZAR, was spoelgoud in riviere rondom Sabie in 1871 ontdek wat tot ‘n goudstormloop gelei het. Verskeie dorpe soos Pelgrimsrus en Barberton het rondom die goudvelde ontstaan, insluitende verskeie ander soos Steynsdorp, Leydsdorp en Eureka City wat kort na die goudbronne uitgeput is, verval en verdwyn het (sien Beiteltjie 1.5). ‘n Massa-uittog van mynwerkers het van die goudmyne van Mpumalanga na die Witwatersrand plaasgevind toe dit duidelik geword het dat daar nog meer goud as in Mpumalanga is.
Witwatersrand Supergroep
Ongeveer 3 miljard jaar gelede was die Kaapvaal Kraton met ‘n see bedek waarna ‘n tydperk van sedimentasie gevolg het. Soos die see al dieper geraak het was die oorspronklike laag sand wat die Kaapvaal Kraton bedek het, deur modder vervang, waarna ‘n tydperk van chemiese presipitasie gevolg het. Hierdie sedimente staan as die Hospitaalheuwel Subgroep van die Witwatersrand Supergroep bekend en vorm die onderste en oudste laag van die Witwatersrand Supergroep.
Die opeenvolgende lae van moddersteen, konglomeraat en sandsteen wat die Witwatersrand Supergroep opmaak, dui op ‘n tydperk van wisselende seevlakke. Sand en gruis was op sekere tye op strande uitgespoel en op ander tye, wanneer die seevlak verdiep het, was modder op die seebodem afgeset. Hierdie sedimente was afkomstig van brongebiede op hooglande na die noorde en die weste van die Witwatersrand Kom. Die gouddraende konglomerate van die Witwatersrand Supergroep is as kwartsgruis, geronde piriet en klein swaarmetaal korrels vanaf hoërliggende brongebiede uitverweer en met riviere tot by die oersee wat die Witwatersrand Kom gevul het, vervoer. Die gruis, piriet en swaarmetale was in deltas langs die kus afgeset, terwyl modder, wat langer in suspensie gebly het, verder deur die seewater vervoer is en op die seebodem afgeset is.

Rotse van die Witwatersrand Supergroep is verder suid in Gauteng, Noordwes en in die Vrystaat ontdek waar dit in ‘n boog rondom die Vredefort Koepel voorkom. Deur boormonsters is daar bepaal dat die tot 7500 m dik Witwatersrand Supergroep in ‘n sinklien rondom die Vredefortkoepel voorkom.
Moderne diepmyn-tegnieke, wat tans wêreldwyd gebruik word, was vir die eerste keer vir die myne op die Witwatersrand ontwikkel en gebruik. Vertikale skagte, wat tot by die gouddraende lae gesink is was vir die eerste keer deur Jubilee Gold Mining Company in 1887 gebruik. Kort daarna het J.B. Robinson vyf skagte op die plaas Langlaagte gesink, wat met sytonnels verbind is, om die Hoofrif met behulp van afbouing te myn. Die diepste myn in die wêreld is Mponeng Goudmyn (voorheen bekend as Western Deep Levels Goudmyn) naby Carletonville. Hierdie myn is reeds 4 km diep en daar is planne om die myn tot ten minstens 5 km ondergronds te sink.

Diepmyn-tegnieke sluit die ondersteuning van die tonnel- en afboudakke met behulp van betonpilare, houtkonstruksies en natuurlike rotspilare wat behou word terwyl die gouderts rondom dit heen deur afbouing uitgemyn word. Koekepanne word op spore gebruik om die erts na die skagte te vervoer waarvandaan dit met die mynskaghysers na die oppervlakte gebring word. Die koekepanspore word teen ‘n helling gebou sodat die volgelaaide koekepanne, met behulp van swaartekrag, vanaf die goudrif na die mynskag sonder aandrywing kan beweeg. Die leë koekepanne word gewoonlik met die hand na die afbou, waar die myners erts uithaal, teruggestoot.
Die fisiese en chemiese aard van die gouderts verander na gelang van die diepte in die kors waarop dit voorkom. Oorspronklik was die amalgamasieproses gebruik om die goud uit die fyngestampte gouderts te verwyder, maar hierdie proses het al hoe duurder en minder effektief geword hoe dieper die erts ondergronds voorkom. Die MacArthur-Forrest sianiedproses was in 1890 ontwikkel om hierdie probleem te oorkom en word nog steeds vandag gebruik om goud uit die fyngestampte erts te kry. Die outydse mynhope van sand, was die eindproduk van die amalgamasieproses. Die slikdamme daarenteen is die eindproduk van die sianiedproses. Die koolstof-in-pulp en koolstof-in-loog prosesse is ontwikkel om die oorblywende goud uit die ou sandmynhope te ontgin. Die Randse Rafinadery, wat in 1922 in Germiston opgerig is, is steeds die grootste goudrafinadery ter wêreld.
Die belangrikste goudriwwe van die Witwatersrand Supergroep is die Basale Rif wat in die Vrystaatse goudmyne voorkom, die Koolstofgidslaag (Carletonville), Kimberleyrif (Evander), Hoofrif (Wes Rand, Sentraal Rand en Oos Rand), Hoofrifgidslaag (Sentraal Rand en Oos Rand), Middelvleirif (Carletonville), Suidrif (Sentraal Rand en Wes Rand), Vaalrif (Klerksdorp) en Ventersdorpkontakrif (Carletonville en Klerksdorp).
Die goudmyne aan die Sentraal Rand het hulle produksielimiet teen die einde van die Twintigste Eeu bereik en was verlaat. Kort daarna het die myne op die Oos Rand en Wes Rand in hul voetspore gevolg. Meer as 50 000 ton goud was tussen 1887 en 2019 deur die myne op die Witwatersrand onttrek (sien Beiteltjie 1.5 oor hierdie deel van die geskiedenis van goudmyne).

Daar word bereken dat daar egter nog 48 000 ton goud ondergronds nog nie uitgemyn is nie, meer as 1600 ton goud in die mynhope en slikdamme gestort is en dat daar nog ‘n onbekende hoeveelheid goud in rotshope rondom die myne voorkom. Weens die diepte van die oorblywende goudneerslae op die Witwatersrand moet daar egter nuwe mynboumetodes ontwikkel word om dit te ontgin.
Suid-Afrika het vanaf die wêreld se grootste goudprodusent teruggesak na ver onder ander lande soos China, Austalië, Rusland en die VSA. Ghana is tans die grootste goudprodusent in Afrika, gevolg deur Mali, Burkina Faso, Suid-Afrika, Soedan, Guineë, Tanzanië en Zimbabwe. Hierdie agteruitgang van die mynboubedryf het egter niks met die beskikbaarheid van goud te doen nie, want daar is ongeveer nog soveel onontginde goud in die Witwatersrand Supergroep oor as wat reeds gemyn is.
Hierdie verskynsel vorm eerder deel van die onttrekking van beleggers en besighede uit die land in reaksie op die huidige politieke agteruitgang, onrealistiese arbeidsregulasies, verbrokkeling van die pad- en spoornetwerke, ineenstorting van die kragnetwerk en agteruitgang van sekuriteit in die land. Ten spyte van die afname van operasionele goudmyne in Suid-Afrika vanaf 2006, is daar nog steeds hoogs produktiewe myne in Suid-Afrika, insluitende ses van die diepste myne in die wêreld.
Vanaf 1990, na die ontbanning van die ANC, maar veral na 1994 met die magsoorname van die ANC, het beleggers en mynhuise uit die land onttrek. Die regering het vanaf 1994 al hoe meer met die prosessering van duisende mynreg- en prospeksieaansoeke begin sloer en min tot geen rehabilitasie van die verlate myne was gedoen of deur die staat afgedwing nie. Die gevolg is dat honderde verlate myne regdeur die land ryp was om geplunder te word, terwyl daar ‘n instroming van onwettige immigrante is en die getal oud-mynwerkers, wat weens die sluiting van myne werkloos is, groei. Hierdie arm en werklose mense, insluitende duisende oud-myners bly tussen of naby ou myne. In die lig van swak instromingsbeheer en polisiëring, het onwettige mynbou tot ‘n epidemie in Suid-Afrika gegroei.

Daar is tans na beraming meer as 30 000 onwettige myners, ook bekend as zama-zamas (Zulu vir “vat-‘n-kans”) wat deur ongeveer 200 swaar gewapende kriminele sindikate beheer word. Hierdie zama-zamas het honderde verlate en operasionele goud, yster, steenkool en mangaanmyne in Gauteng Mpumalanga, Limpopo, Vrystaat en Noordwes Provinsie oorgeneem. Dit is opvallend dat die meeste geweld en sosiale probleme rondom die geskaakte goudmyne op die Sentraal Rand, maar ook sekeres op die Wes Rand plaasvind waar hierdie kriminele sindikate betrokke is by die terrorisering van plaaslike gemeenskappe, teregstellings, geldwassery, wapensmokkelary, afpersing en georganiseerde misdaad. Die zama-zamas is egter slagoffers van kriminele sindikate en nie self in beheer van die onwettige mynbou nie. Hulle word gedwing om selfs vir maande aanmekaar ondergronds vir hierdie kriminele sindikate te werk en moet ten duurste kos en benodigdhede met goudstof, wat hulle uitgrawe, koop. In sommige gevalle is zama-zamas kinders wat deur mensehandel in die myne beland. Zama-zamas is ‘n moderne weergawe van slawe.
Die onwettige myners het nie die elektrisiteit, infrastruktuur en toerusing om die grondwater, wat die myne oorstroom het na dit verlaat is, uit te pomp nie. Die reslutaat is dat hulle mynaktiwiteite hoofsaaklik gefokus word op die pilare, wat die dak van die uitgemynde gallerye en tonnels stut, wat bo die wateroppervlakte bereikbaar is. Hierdie gevaarlike bedryf het tot talle instortings, ontploffings en verdrinkings gelei, wat die dood van talle onwettige myners veroorsaak het.

Onwettinge mynbou het ‘n groot sosio-ekonomiese en sekuriteitsprobleem in Suid-Afrika geword. Onwettige mynbou is ‘n aanduiding tot watter mate die Suid-Afrikaanse regering sy beheer oor die instroming van onwettige immigrante, beheer oor kriminele sindikate en hulle bedrywighede, beheer oor sy minerale bronne en die uitsmokkel van waardevolle minerale bates verloor het en erger nog, selfs deelneem daarin. Onwettige mynbou kos Suid-Afrika jaarliks ongeveer R21 miljard.
Selfs al word die onwettige myners genoop om eenvoudige toerusting soos pikke, grawe, hamers en beitels te gebruik, en al is hul aktiwiteite tot die boonste lae van die mynruimte beperk, kry hulle dit steeds reg om tonne goud uit te myn. Tussen 2012 en 2016, het onwettige myners reeds 34 ton goud van die verlate goudmyne in Gauteng gemyn. Hierdie goud word hoofsaaklik al langs die ou Arabiese Ooskus hadelsroete na Dubai per skip vervoer – soos wat die geval vir ‘n duisend jaar was. Dit is terloops ook die roete waarlangs renosterhoring uit die land gesmokkel word en mensehandel (lees slawerny) bedryf word.
Hoe kan mens so ‘n verwronge sin van die waarheid aanhang dat jy kolonialisme en die gepaardgaande plundery van die land se hulpbronne en onderdrukking van die inheemse mense wat deur oorsese mense gepleeg was, op die Afrikaner afsmeer? Vir een of ander rede word die Afrikaner en Jan van Riebeeck deur sekere groepe in Suid-Afrika as die groot koloniale sondebokke voorgehou. Jan van Riebeeck, wat die verversingstasie aan die Kaap vir die Hollandse besigheid, bekend as die VOC, bestuur het en maar vir 10 jaar in Suid-Afrika gebly het, het gemengde huwelike tussen Hollanders en die Khoi voorgestaan. Die laaste VOC goewerneur in die Kaap, Willem Adriaan van der Stel, se ma was ‘n Maleise vrou en hy was dus van gemengde etniese herkoms. Hollanders het nie segregasie tussen rasse ingebring of afgedwing nie – die Britte het. Ongelukkig vertel mense jou nie hierdie dinge op skool nie.
Dus, as enigeen vir jou ‘n storie oor kolonialisme vertel en jou as Afrikaner wil beskuldig daarvan, vertel hom hierdie feite. ‘n Mens kan slegs ‘n kolonialis wees as jy die belange van ‘n ander land bo die land waarin jy jou bevind bevorder en al kom Afrikaans van Hollands af, was en is die Afrikaner nie ‘n Hollander nie en was hulle ook nie lojaal teenoor Holland nie. En as jy ‘n inheemse burger is, wat ander lande en hulle belange bo jou land en sy mense sit, is jy ‘n verraaier – soos as jy jou land plunder ter wille van ‘n ander land, of toelaat dat jou land geplunder word deur buitelanders soos Britte, Arabiere, Indiërs of Chinese.
Kolonialiste word gekenmerk aan ‘n onversadigbare drang na minerale – onder andere goud, diamante, steenkool, yster ens. waarmee die hul mag internasionaal behou, ander lande en hul ekonomieë oorneem en die volke van daardie lande uitbuit en onderdruk. Die eienaars van die goudmyne, die invoerders van mensearbeid en die ontvangers van die goud is die werklike kolonialiste – en dit hulle tale, godsdienste, kulture wat die wêreld oorheers – en dit is nie Afrikaans, die Susterskerke of jukskei nie.
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Amalgamasie beteken die samevoeging van verskillende goed om ‘n groter meer komplekse eenheid te vorm. In die geval van goudherwinning verwys die amalgamasieproses na die oorspronklike metode om goud uit fyngemaalde erts te herwin deur om die goud met kwik te laat verbind om ’n “amalgam” te vorm. Die amalgam was later verhit om die kwik te laat verdamp en die suiwer goud agter te laat. Hierdie tegniek was algemeen in die 19de en vroeë 20ste eeu, maar is later met die sianiedproses vervang weens gesondheids- en omgewingsgevare.
Arabies verwys na ‘n kultuur wat hoofsaaklik verbind word met Islam. Dit word gekenmerk aan ‘n spesifieke godsdiens, taal, skrif, kultuur en regstelsel.
Arabiese Peninsula is die landdeel wat tussen Afrika en die res van Eurasië geleë is. Dit word begrens deur die Rooi See, die Persiese Golf, die Arabiese See en die Middelandse See. Dit is grootliks woestynagtig vandag, maar was 9 000 – 4 000 jaar gelede die wieg van beskawing.
Babiloniërs was ’n antieke beskawing in Mesopotamië, met Babilon as hoofstad. Hulle was veral bekend vir koning Hammurabi se wette en hul bydraes tot wiskunde en sterrekunde. Hulle het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van reg, kultuur en godsdiens in die Midde Ooste.
Bestaansboer is iemand wat net genoeg op sy plaas produseer om hom en sy gesin te onderhou. Bestaansboere dra weinig tot die ekonomie en voedselsekuriteit van ‘n streek by.
Chemiese presipitasie is ’n proses waar ’n opgeloste stof uit ’n vloeistof neerslaan en ’n vaste stof of presipitaat vorm. Dit gebeur wanneer die oplossing versadig raak of wanneer ’n chemiese reaksie ’n onsuiwer oplosbare verbinding skep.
Deltas vorm waar ’n rivier by sy monding stadig vloei en sedimente afset, gewoonlik in ’n see of meer. Die opgehoopte sand, slik en klei vorm ’n waaiervormige gebied wat dikwels vrugbaar en dus dig bevolk met landbougemeenskappe is. Bekende voorbeelde sluit die Nyl-delta en die Ganges-delta in.
Devaluasie is die afname in waarde van ’n land se geldeenheid teenoor ander geldeenhede. Dit kan doelbewus deur ’n regering of sentrale bank gedoen word om uitvoere goedkoper en meer mededingend te maak, maar dit maak invoere duurder en kan inflasie veroorsaak.
Dhow is ’n tradisionele seilboot wat al eeue lank in die Indiese Oseaan en langs die kus van Oos-Afrika en die Midde-Ooste gebruik word. Dit het ’n kenmerkende driehoekige seil en ’n smal, lang romp wat geskik is vir handel, visvang en seevaart. Dhows was belangrik in die Arabiese en Swahili-handelsnetwerke en het ’n groot rol gespeel in die verspreiding van goedere, mense en die Arabiese kultuur in die lande rondom die Indiese Oseaan.
Egiptenare was die inwoners van antieke Egipte, ’n beskawing wat meer as 5 000 jaar gelede langs die Nylrivier ontstaan en ontwikkel het. Hulle is bekend vir hul monumentale bouwerke soos die piramides en tempels, hul gesofistikeerde godsdiens en hiërogliefskrif, asook hul bydraes tot wiskunde, geneeskunde en landbou. Hierdie beskawing het vir duisende jare ’n groot invloed gehad op die kultuur en geskiedenis van die Mediterreense en Nabye Ooste.
Ekspansionisme is ’n beleid of ideologie waar ’n staat of mag sy grondgebied, invloed of ekonomiese beheer wil uitbrei. Dit kan deur militêre verowering, kolonisasie, politieke oorheersing of ekonomiese uitbreiding plaasvind. Die doel is gewoonlik om meer hulpbronne, mag of strategiese voordeel te verkry.
Etnisiteit verwys na ’n sosiale kategorie waarin mense hulself en ander identifiseer op grond van gedeelde kulturele kenmerke soos taal, tradisies, godsdiens, geskiedenis en ’n gemeenskaplike oorsprong.
Fenisiërs (NIE Venesiërs NIE) was ’n antieke Semitiese volk wat 5 000 jaar gelede langs die kus van die hedendaagse Libanon, Sirië en Israel gewoon het. Hulle was uitmuntende seevaarders en handelaars wat die Middellandse See met skepe en kolonies verbind het. Hulle het mettertyd stede en kolonies rondom die Middelandse See gehad. Die Fenisiërs het die alfabet ontwikkel wat later die basis vir Hebreeuse, Arabiese, Griekse en Latynse skrif gevorm het. Hulle invloed het wyd gestrek deur handel, kultuur en tegnologie, ver buite hul oorspronklike klein tuisgebied.
Gauteng is ‘n naam wat polities geïnspireer is en geen geografiese of etniese verband het nie, maar bloot volgens die stemgetalle wat mees voordelig vir die ANC is, ingedeel is. Dit is geografies die suidelike deel van die oorspronklike Transvaal.
Gedomestiseerde diere of makgemaakte diere is diere wat deur mense oor duisende jare heen vanuit hul wilde voorouerlike spesies getem en aangepas is om saam met hulle te leef en sekere funksies te verrig. Hulle word gebruik vir voedsel (bv. beeste, hoenders), arbeid (bv. perde, donkies) en beskerming (bv. honde). Deur selektiewe teling het mense sekere eienskappe van hierdie diere uitgekies wat hulle meer afhanklik van en nuttig vir mense maak.
Glasuur is ’n dun, glasagtige laag wat op ’n oppervlak aangebring word en na verhitting ’n harde, blink afwerking vorm. In keramiek dien dit om potte, bekers, koppies en borde te versier, maar ook waterdig te maak.
Geldwassery is die proses waardeur geld wat onwettig verkry is deur verskeie transaksies en kanale geskuif word om dit te laat lyk asof dit uit ’n wettige bron kom. Die geld word deur komplekse transaksies geskuif om die oorsprong te verdoesel. Die gesteelde geld word deur middel van korrupte besighede na ander besighede of banke geskruif om uiteindelik met “skoon” geld in die vorm van salarisse, beleggings of uitbetalings van die bank of besighede vorendag te kom.
Goewerneur is ’n amptenaar wat die hoogste gesag in ’n gebied, provinsie of kolonie uitoefen namens ’n staat of regering. In die geval van ‘n kolonie word die gesag namens ‘n buitelandse regering uitgeoefen.
Graangewasse is kosspesies wat mense oor duisende jare uit wilde grasse veredel het. Die bekendstes, wat ook die grootste impak op die mens, sy gesondheid, verspreiding en geskiedenis gehad het, is koring, gars, hawer, sorghum, rys en mielies.
Hettiete was ’n Indo-Europese volk wat in Anatolië (hedendaagse Turkye) gewoon het en tussen 1650–1200 v.C. een van die magtigste ryke van die Bronstydperk geword het. Hulle het hul hoofstad by Hattusa gehad en was bekend vir hul militêre vaardigheid, veral met strydwaens, en vir die gebruik van yster.
Indo-Germaans of Indo-Europees verwys na ‘n antieke kultuur met ‘n taal wat aan al die tale wat strek van Indië in die ooste tot Germaanse streke in Europa. Hierdie tale sluit Sanskrit, Grieks, Latyn, Kelties, Germaans, Slawies en ander in.
Islam is in die 7de eeu n.C. deur die profeet Mohammed in Arabië gestig. Mohanned het die openbarings van Allah in die Koran opgeteken. Die vyf pilare van Islam is die geloofsbelydenis, gebed, aalmoese, vas en die pelgrimstog na Mekka. Islam is een van die grootste godsdienste ter wêreld, met meer as ’n miljard volgelinge in verskeie kulture en lande.
Kaapvaal Kraton is een van die oudste en mees stabiele stukke aardkors op aarde, gevorm tussen ongeveer 3,7 en 2,6 miljard jaar gelede en steeds ’n kern van Suid-Afrika se geologie. Dit is ’n groot Argeïese kraton wat die basis vorm van groot dele van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.
Katoen is ’n natuurlike vesel wat uit die sade van die katoenplant (genus Gossypium) verkry word en is een van die belangrikste tekstielgewasse ter wêreld.
Keramiek of erdeware is voorwerpe wat uit klei en ander minerale gevorm word en dan deur verhitting, gewoonlik langs ‘n vuur of in ‘n oond, verhard word. Dit is die oudste materiaal wat deur die mens ontdek is en is gebruik vir kuns, gereedskap en boumateriaal.
Kraton is ‘n stabiele stuk van die aardkors wat vir miljarde jare reeds bestaan.
Koekepanne is sterk metaal waens met wiele wat op spore loop, wat met die hand deur mense gestoot word, waarmee erts in ‘n myn vervoer word. Die diep U-vormige bak van ‘n koekepan kan na die kant gekantel word om die erts uit te gooi. Sommige myne het klein elektries-aangedrewe lokomotiewe wat die koekepanne trek. Koekepanne word gebruik om die erts na die skagte te vervoer waarvandaan dit met die mynskaghysers na die oppervlakte gebring word. Die koekepanspore word teen ‘n helling gebou sodat die volgelaaide koekepanne, met behulp van swaartekrag, vanaf die goudrif na die mynskag sonder aandrywing kan beweeg. Die leë koekepanne word gewoonlik met die hand na die afbou, waar die myners erts uithaal, teruggestoot. Die woord koekepan is afgelei van die Afrikaanse woord vir ‘n diep pan waarin koek gebak word.
Konglomeraat is ’n sedimentêre gesteente wat bestaan uit afgeronde klaste (klippe, gruis of rolstene) wat deur ’n fynkorrelige matriks of sement aanmekaar gebind is.
Kolonie is ‘n land soos Suid-Afrika, of kontinent (soos Australië) wat deur ‘n volk van ‘n ander land soos Brittanje oorgeneem is en polities, ekonomies en kultureel by daardie land ingelyf is. Alhoewel van ons voorouers Hollands was, was die inwoners van Suid-Afrika nooit as Hollanders gesien nie. Die inwoners van die Kaap, wat van allerlei volke en kulture afgestam het, was nog minder lojaal teenoor Holland. Oorspronklik was die verversingspos aan die Kaap deur die VOC, wat ‘n Hollandse besigheid was, bestuur en nie die regering van Holland nie. Slegs toe die VOC bankrot geraak het en die regering van Holland hulle bestuur oorgeneem het, was Holland vir 4 jaar (1802-1806) in beheer van ‘n deel van die Wes Kaap voor die Britte dit finaal in 1806 oorgeneem het. Met ander woorde ‘n deel van die Wes Kaap was vir 4 jaar ‘n Hollandse kolonie, terwyl die Britte eers die Kaap toe die Boererepublieke Natalia, Oranje Vrystaat en Transvaal oorgeneem het en uiteindelik die Unie van Suid-Afrika vanaf 1795-1802 en 1806-1961 beheer het, met ander woorde Suid-Afrika was vir 162 jaar ‘n Britse kolonie.
Kolonialis is iemand soos Cecil John Rhodes wat alles in ‘n kolonie doen om sy vaderland te bevoordeel en die inheemse mense te onderdruk. Hy sien homself nie as ‘n inbooring van die kolonie nie, maar is daar om ryk te word en uiteindelik na sy vaderland terug te keer, nadat hy die kolonie geplunder het (ironies het Rhodes in Suid-Afrika gesterf voor hy na sy moederland kon terugkeer).
Koloniseer is wanneer ‘n regering van een land, ‘n ander land oorneem deur om van hulle mense in daardie land te vestig, sodat hulle die hulpbronne van daardie land vir hul eie gewin kan plunder. Die vreemde land se mense word onderdruk en in sommige gevalle selfs deur die koloniste verslaaf of deur volksmoord uitgewis.
Kultuur is dit wat mense doen. Dit sluit hul taal, kleredrag, gewoontes, religie, gereedskap, werkswyse, voeding, medisynes, opvoeding ens. in. Alle mense van alle tye het kultuur. Kultuur, soos taal, is wat mense van diere onderskei. Die eerste aanduiding van kultuur is die maak van steenwerktuie. Kultuur is dus ook dit wat die mens doen om die natuur te verander om daarin te kan oorleef.
Kwartsaar is ‘n kraak in ‘n rots waarlangs superverhitte silika-ryke water beweeg het. Kwartskristalle vorm in die kraak wanneer die water aan die einde van die hidrotermiese proses afkoel.
Maghreb is die streek in Noord-Afrika wat die Middelandse see aangrens wes van Egipte. Dit strek tot by die Atlantiese Oseaan en sluit Marokko, Algerië, Tunisië, Libië en Mauritanië in. Die Maghreb het ’n ryk geskiedenis van Berber- en Arabiese invloede en was ’n belangrike spilpunt vir handel en kultuur tussen Afrika, Europa en die Midde-Ooste.
Mapungubwe (1075-1220 n.C.) was die mees suidelike vesting van ‘n groot Arabiese handelsnetwerk wat regoor Afrika gestrek het en wat met hawestede op die Ooskus van Afrika verbind was. Die suidelike Arabiese handelsroete het vir ‘n gedeelte langs die Limpopo Rivier vanaf Mapungube tot by Chibuene aan die ooskus van die hedendaagse Mosambiek geloop. Die volk wat in Mapungubwe gewoon het was verwant aan die Shona-kutluurgroep wat van Zimbabwe af kom. Hulle het benewens deel van Suid-Afrika duskant die Limpopo, ook oor die suidelike deel van Zimbabwe geheers.
Mensehandel is sinoniem aan slawehandel. Mense was vir duisende jare deur ander gevang, vervoer, verkoop en gebruik. Sommige slawe het in harems opgeëindig, ander was vir swaar hande arbeid, mynwerkers, soldate of roeiers in galeiskepe aangewend en nog ander was vir hul vaardighede gebruik.
Metallurgie is die wetenskap wat handel oor die ontginning, verwerking en gebruik van metale. Dit sluit alles vanaf die verkryging van metale uit erts, tot die smelt en die giet daarvan in bruikbare produkte in, asook die tegnologie daaraan verbonde.
Meteoriet is ‘n stuk ruimtepuin soos ‘n komeet of asteroïed wat op ‘n groter hemelliggaam soos ‘n ster, ‘n planeet of maan neerstort. ‘n Stuk ruimtepuin wat uit ys, metaal of klip of mengsels daarvan bestaan, word eerstens deur ‘n groter hemelliggaam se gravitasieveld aangetrek. Wanneer dit die oppervlakte van die groter hemelliggaam tref, word dit ‘n meteoriet genoem, al vergas die meteoriet dikwels op impak.
Miljard is ‘n duisend miljoen of te wel 1 000 000 000. Die Amerikaners noem dit ‘n billion. Maar ongelukkig is hulle nie die mees ingeligte mense op aarde nie. Hulle is heeltemal verkeerd, want ‘n biljoen is 1 000 000 000 000 – wat hulle ‘n trillion noem. Maar weereens is hulle verkeerd want ‘n triljoen is 1 000 000 000 000 000 000. Die woorde miljoen, biljoen en triljoen is deur die Franse uitgedink en dit bedoel letterlik meervoude van miljoen. Dus miljoen miljoen sal bi (twee) of te wel ‘n biljoen wees, en miljoen, miljoen, miljoen sal dan tri (drie) of te wel triljoen wees. Dus is Elon Musk in Europese terme eintlik nou eers ‘n biljoenêr en nie soos die Amerikaners dink, ‘n triljoenêr nie, want hy het maar net $ 1 100 000 000 000 – en voor dit was hy ‘n miljardêr.
Moddersteen is ’n fynkorrelige sedimentêre gesteente wat hoofsaaklik uit modder, kleiminerale en silt bestaan, en wat vorm wanneer modder of klei in waterige omgewings neergelê en later verhard.
Monsoen is ’n seisoenale windverskynsel wat veroorsaak word deur groot temperatuur- en drukverskille tussen land en see, wat afwisselende nat en droë seisoene deur die jaar veroorsaak. Dit is veral bekend in Suid- en Suidoos-Asië, waar die somermonsoen swaar reënval bring en die wintermonsoen droë toestande veroorsaak. Die woord is van die Arabies mausim, wat “seisoen” beteken, afgelei.
Mutapa (ook bekend as Monomotapa of Mwenemutapa) is ‘n koninkryk wat ontstaan het toe Nyatsimba Mutota, ‘n jagter van die Karanga-stam en sy volgelinge, na die ineenstorting van die Zimbabwe Koninkryk, noordwaarts gemigreer en hulself in die noorde van Zimbabwe gevestig het. Hulle het vanaf die middel van die 15de eeu tot die 17de eeu gefloreer danksy handel in goud en ivoor met die Portugese. Hulle het die noordelike handelsroete vanaf Mutapa, al langs die Zambesi Rivier tot by Angoche en Quimane op die ooskus van die hedendaagse Mosambiek beheer.
Mynbou is die proses waardeur mense minerale, metale of ander natuurlike hulpbronne soos sand of olie uit die aarde onttrek. Dit kan plaasvind op die oppervlak (oopgroefmynbou) of ondergronds (skag- of afbouontginning).
Oranje Vrystaat was ‘n Boererepubliek en later ‘n provinsie van die Unie van Suid-Afrika, en later die Republiek van Suid-Afrika. Na die oorname van die ANC was die naam na Vrystaat verander. Die Oranje van die oorspronklike naam is afgelei van die Oranjerivier wat na die Huis van Oranje deur die Hollandse ontdekkingsreisiger Robert Jacob Gordon in die 18de eeu vernoem is. Die Huis van Oranje was die verdedigers van Protestantisme in Holland en oranje is die kleur wat met Protestantisme verbind word.
Perse was ’n antieke Indo-Europese volk wat die Persiese Ryk (Achaemenidiese Ryk), in die gebied wat nou as Iran bekend staan, gestig het. Dit was een van die grootste en invloedrykste ryke van die antieke wêreld. Hulle was bekend vir hul administratiewe vaardigheid, indrukwekkende bouwerke. Hulle kultuur het ‘n groot invloed op die geskiedenis van Wes-Asië, Griekeland en die wêreld gehad.
Persiese Golf is die lang seebekken wat tussen die Arabiese Skiereiland en Iran lê. Dit is ’n verlenging van die Indiese Oseaan en verbind met die Golf van Oman deur die Straat van Hormuz.
Piriet is ’n yster-sulfied mineraal (FeS₂) wat dikwels as gekkegoud of klatergoud bekend staan, omdat dit amper soos goud lyk en ironies dikwels in dieselfde gesteentes as goud voorkom, maar bykans waardeloos is.
Puin is rommel wat gewoonlik uit rotse of boumateriaal bestaan. Dit verwys dikwels na die bourommel wat na ‘n aardbewing, vloed, ontploffing of brand oorgebly het.
Raffinadery is ‘n aanleg waar rou materiale verwerk en gesuiwer word. Daar is verskillende tipes raffinaderye soos olie-raffinaderye waar ru-olie tot petrol, diesel, paraffien en ander brandstowwe verwerk word. By suiker-raffinaderye word rou suiker met baie onsuiwerhede tot wit, geel en bruinsuiker en molasse verwerk. In metaal raffinaderye word metale soos goud, silwer en koper gesuiwer, gesmelt en in stawe gegiet.
Sandsteen vorm oor miljoene jare wanneer sand onder druk en hoë temperatuur versteen.
Sedimentasie is die proses waartydens vaste deeltjies (sediment), wat in ’n vloeistof gesuspendeer is, onder die invloed van swaartekrag of ander kragte na die bodem van ‘n meer, of see, of vloedvlakte sak en daar neergeset word.
Segregasie is die skeiding van mense volgens ras, etnisiteit, geslag status, inkomste of geloof.
Sianied is ’n chemiese verbinding wat die sianiedgroep (-CN) bevat. Dit is ‘n uiterste giftige verbinding wat die liggaam se vermoë om suurstof te gebruik, verhinder. Aangesien goud sterk chemies met sianied reageer, word sianied in goudontrekking gebruik.
Sindikaat is ‘n groep individue of organisasies wat saamwerk om ’n gemeenskaplike doel te bereik, dikwels op ’n gesamentlike finansiële of sake basis.
Sinklien is ’n geologiese struktuur wat ontstaan wanneer gesteentelae na onder toe buig of afwaarts vou om ‘n U vormige struktuur in die aardkors te vorm.
Sofala is die Arabiese naam vir Suidelike Afrika. Dit beteken “land van goud”.
Sub-Sahara Afrika is Afrika suid van die Sahara Woestyn. Dit is ‘n nuttige term om die verspreiding van plante, diere en mense te beskryf. Die Sahara Woestyn vorm ‘n geografiese hindernis wat die verspreiding van plante, diere en mense erg tot noord daarvan (die Maghreb) en suid daarvan (Sub-Sahara Afrika) beperk.
Sultan is ‘n Arabiese heerser wat politieke en godsdienstige beheer oor ‘n gebied uitoefen.
Sultanaat is soortgelyk aan koninkryk waar ‘n sultan soortgelyk aan ‘n koning is. Die sultanaat mag ‘n onderdeel van ‘n kalifaat wees met die kalief (‘n godsdienstige en politieke opperleier), soortgelyk aan ‘n keiser, aan die hoof daarvan.
Sumeriërs was een van die vroegste beskawings in die wêreld, wat in Mesopotamië (tussen die Tigris- en Eufraatriviere, hedendaagse Irak) 4 000 – 2 000 v.C. bestaan het. Hulle hoofstede was onder andere: Ur, Uruk en Lagash waar tiene van duisende mense gewoon het. Hulle was die eerste mense wat skrif (spykerskrif) en geskrewe dokumente op kleitablette ontwikkel het. Hulle was van die eerste mense waarvan ons weet wat wiskunde, sterrekunde, wetstelsels en stadsorganisasie ontwikkel het. Hulle ekonomie was op landbou, en spesifiek die verbouiing van gars en koring, gebasseer. Hulle was verantwoordelik vir tegnologiese deurbrake soos die ontdekking van die wiel, die ploeg en die verbetering van brons-tegnologie wat vir die vervaardiging van gereedskap en wapens gebruik is.
Suspensie is ’n heterogene mengsel waarin klein vaste deeltjies in ’n vloeistof of gas versprei is, maar nie daarin opgelos is nie.
Susterskerke verwys na die drie tradisionele Afrikaanse gereformeerde kerke – die Nederduits Gereformeerde Kerk, die Nederduits Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika – wat dieselfde belydenisskrifte deel en ‘n gemeenskaplike oorsprong het.
Swaarmetale is ’n groep metale wat gekenmerk word deur hul hoë digtheid, hoë atoommassa of atoomgetal, en wat dikwels toksies of skadelik kan wees vir mense en die omgewing wanneer dit in hoë konsentrasies voorkom.
Swahili is ’n etniese en kulturele groep wat onder Bantoe-sprekende groepe langs die kus van Tanzanië, Kenia, Mosambiek en omliggende eilande ontwikkel het, na hul kontak met Arabiese ontdekkingsreisigers, jagters en handelaars wat hulle tot die Islam bekeer het. Die taal wat hulle gebruik wat ook as Swahili bekend staan, bestaan uit ‘n mengsel van Niger-Kongo Bantoe, Arabiese en tot ‘n mindere mate Persiese woorde. Die Swahili’s was deur die Arabiese handelaars aangewend om vir hulle goedere soos slawe, goud en ivoor uit die binneland van Afrika te bekom.
Transvaal is die geografiese gebied noord van die Vaalrivier en suid van die Limpopo, met die Lebomboberge in die ooste. Die gebied het so bekend gestaan in die 1830’s tot 1840’s Voortrekkertyd tot en met die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) in 1857. Na die Britse oorwinning van die ZAR in 1902 het dit weer as die Transvaal bekend gestaan en was so in die Unie van Suid-Afrika as ‘n provinsie ingelyf. Die streek het tot 1994 as die Transvaal Provinsie bekend gestaan. Nadat die ANC oorgeneem het, is die Transvaal vir politieke doeleindes in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en ‘n gedeelte van Noordwes verdeel.
Tsetsevlieg is enigeen van die 22 vliegspesies wat tot die genus Glossina (superfamilie Hippoboscoidea) behoort. Hierdie vlieë is verantwoordelik vir die oordrag van die protosoïese parasiet Trypanosoma brucei in Sub Sahara Afrika en Arabië, waar dit slaapsiekte en nagana (slaapsiekte in vee) veroorsaak. Die Suid-Afrikaanse tsetsevlieë voed op vlakvarke, bosvarke, seekoeie, verskeie bokspesies en plaasdiere soos beeste en varke. Die Hippoboscoidea (tsetsevlieë, hertluisvlieë en vlêrmuisvlieë) is bekend daarvoor dat hulle aan ’n enkele reusemaaier, wat die moedervlieg met melk binne haar uterus voer, geboorte gee in plaas daarvan om honderde eiers soos ander vlieë te lê.
Veeteelt is die doelbewuste makmaak van diere vanuit wilde spesies vir menslike gebruik. Dit sluit in die versorging, voeding en teel van diere soos beeste, skape, bokke, varke en pluimvee om produkte soos vleis, melk, wol, leer en eiers te verkry. Dit is ’n belangrike tak van landbou wat voedsel, wol vir klere en been, vere en vet vir ander nywerhede voorsien.
Vredefort Koepel, ook bekend as die Vredefort Astrobleem of Impakstruktuur is die oorblyfsels van een van die grootste bekende meteorietimpakte op aarde. Die oorspronklike meteoriet impakkrater was tussen 160 en 300 km wyd met ‘n kraterrand van ten minstens 5 km hoog. Die meteoriet wat die impak veroorsaak het was ongeveer 10-15 km in deursneë en het die aarde teen ongeveer 10 km per sekonde (36 000 km per uur) getref. Die impak was so geweldig dat van die mantelmateriaal, 40 km onder die aardkors teruggebons het wat ‘n koepel, ongeveer 40 km hoog gevorm het. Na miljoene jare se verwering het die kraterrand wegverweer en is slegs die binneste deel van die terugbons-effek en die verwronge aardkors rondom heen sigbaar.
Witwatersrand is die geografiese gebied vanaf Nigel in die ooste tot by Randfontein in die weste. Die Witwatersrand se geologie word gekenmerk aan ‘n oranjekleurige kwartsietlaag wat ‘n lae rand vorm wat ongeveer 100 km van die ooste na die weste strek. Dit is die Orange Grove kwartsiet laag wat die onderste deel van die Witwatersrand Supergroep geologiese opeenvolging vorm. Dolomiet kom bo-op en aangrensend aan die Witwatersrand Supergroep voor. Daar is ‘n groot waterleier met miljarde liter water wat ondergronds in die dolomiet voorkom. Fonteine het in vervloë jare, voor mynbou, al langs die Witwatersrand ontspring waarvan die naam van die gebied afgelei is.
Witwatersrand Kom was ‘n laagliggende deel van die oerkors wat met seewater gevul was. Kwartsgruis, geronde piriet en klein swaarmetaal-korrels is vanaf hoërliggende brongebiede uitverweer en met riviere tot by die oersee vervoer en in deltas wat in die see uitgebou het, afgeset. Die modder, wat langer in suspensie gebly het, is verder deur die seewater vervoer en op die seebodem afgeset. Hierdie sedimentêre lae, wat in die Witwatersrand Kom afgeset is, staan as die Witwatersrand Supergroep bekend.
Zama-zama (Zulu vir “vat-‘n-kans”) is ‘n onwettige mynwerker in Suid-Afrika. Baie zama-zamas is bloot opportuniste wat deur die honderde verlate myne in Suid-Afrika rondsoek vir die oorblyfsels van die vorige mynboubedrywe. In Gauteng is die zama-zamas egter deel van groot misdaadsindikate wat deur oorsese entiteite beheer word. Die beheer van die verlate myne word deur swaar bewapende misdaadsindikate bestuur en alhoewel baie plaaslike mense in hierdie netwerk ingetrek word, word mense ook van die buurlande deur menshandelaars ingesmokkel. Hierdie zama-zamas word niks minder as die slawe van die misdaadsindikate nie en moet onder die gevaarlikste en haglikste omstandighede ondergronds werk. In baie gevalle bly hulle selfs vir maande ondergronds sonder om na die oppervlakte te kom. Baie sterf ondergronds weens ineenstortings en ander ellendes.
Zanj was ’n benaming wat Middeleeuse Moslem-geograwe gebruik het vir die Bantoevolke van die Oos-Afrikaanse kus, veral die Swahili-kus, en het ook die gebied self aangedui. Die naam het aanleiding gegee tot plekname soos Zanzibar en die “See van Zanj”. Die woord is van die Persiese woord vir swart mense afgelei. Die Perse, was die eerste mense van buite Afrika wat swart mense as slawe gebruik het. Alhoewel zanj na swart mense in Persies verwys, het dit ook sinoniem met slawe en die plek van slawehandel geword.
Zimbabwe (1100-1550 nC) was oorspronklik ‘n vasalstaat van die Mapungube Koninkryk en het eers na die ondergang van Mapungubwe aan bewind gekom. Die Koninkryk van Zimbabwe het oor ‘n groter goudryke gebied as sy voorganger, Mapungubwe, geheers en het tot die grootste streeksmoontheid ontwikkel danksy die vraag na goud deur die Arabiese Ryk. Daar word gespekuleer dat die koninkryk van Zimbabwe ondergegaan het weens die uitputting van die goudreserwes, maar dit is onwaarskynlik want hul ondergang kan eerder met ineenstorting van die Arabiese handelsroete na die koms van die Portugese verbind word. Die sentrale Arabiese handelsroete het vanaf Groot Zimbabwe tot by die destydse hawestad Sofala (wat na Beira na die Portugese oorname herdoop is) op die ooskus gestrek.
Die Knoffels
(vervolg van Beiteltjie 1.4)

Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS
deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)
Hoofstuk 6: Die groot skrik
Koos Geyer het die gewoonte gehad om sy eie stories te maak. Oor alles wat sy oë sien, het hy ‘n storie gemaak en hy was ‘n baasverteller. Op ‘n dag het hy en die kinders ‘n donkie met haar wolhaarvulletjie in die veld raakgeloop en toe het Koos eers weer gaan sit om ‘n storie te vertel. Daar was ook die storie van die stinkmuishondjie, ‘n muishond wat meer as ander muishonde gestink het. En Koos kon vertel! Die kinders se monde het dan oopgehang. Dis vir hulle of die dinge werklik gebeur het.
So het hulle lief vir die natuur geword, want kyk! Die wolke van die hemel is dan kwansuis die meubels van die reëngod en as die weer dreun, dan stoot hy sy meubels rond. Die diere, so het hy vretel, het almal ’n siel en ‘n taal. So weet hy te vertel dat Boesman, Sias se dikdei, van skone goud gemaak is en toe is lewe in hom geblaas. Die kinders het die stories graag geglo.
Die skool het nog nie weer heropen nie. Vandag is Sias, Mias en Krisjan drie jagters in die oerwoud. Elkeen het ‘n velmus op die kop, musse wat Koos Geyer van hasievelle gebrei het. Die dennebome teen die hange van Boesmansberg is ‘n woud in ‘n ver land, en die geroep van die duiwe en ander voëls is die geluide van ‘n oerwoud.
Waar hulle nou loop, is die bos dig. Net hier en daar val ‘n sonstraal deur die takke van die bome. Ons jagters is op die spoor van ‘n yslike beer en voor dit aand is, wil hulle sy vel hê. Elkeen het ‘n boog in die hand en ‘n pylkoker om die lyf. Dis alles dinge wat Koos vir hulle gemaak het.
Koos het hulle geleer om nie voëltjies te skiet nie, want voëltjies is dan kwansuis die boodskappers van die reëngod, en eekhorings is die karperde van die reëngod. Hase en springhase kan hulle maar skiet. Dis goed wat die groente van die mense vreet.
Net so ywerig soos hulle, jag Napoleon, die steekbaard. Dan is hy voor hulle, en dan hardloop hy sommer sy eie koers.
Skielik is daar ‘n geluid. Ons drie jagters val plat op die maag en die harte klop onstuimig. Sias druk Napoleon hier by hom op die grond vas. Dis mensestemme, maar vir ons drie jagters is dit die stemme van mensvreters, of Rooihuide.
“Sjuut!” sê Sias en Krisjan se oë draai beangs in sy kop.
Die mense kom uit die koers van die groot plaas van die Engelsman wat naby Bitterwater boer. Mense kom selde na die dennebos hier teen Boesmansberg. Die drie jagters kry hond se gedagtes.
“Dis rowers,” sê Mias en sy hart slaan doef-doef teen die grond.
“Ons moet weet wie dit is,” sê Sias en lig sy bolyf op.
“Hulle sal ons doodmaak,” sê die derde lid van die geselskap.
Krisjan was miskien nie so ver verkeerd nie. Dis drie skelms en hulle gesigte sal enige mens die skrik op die lyf jaag. Hulle stap nou ‘n entjie van die drie jagters verby en is nie bewus van die kinders nie. Die een het ‘n aaklikge gesig wat deur lelike merke ontsier is. Die tweede een het ore amper soos ‘n bobbeaan en ‘n nek soos ‘n gorilla. Dis altans soos dit vir die drie hier lyk.

“Ons moet hoor waar die water raas. Koos het gesê dis naby die stroompie,” sê die een met die groot ore.
Die kinders kyk vir mekaar en bid maar dat die skelms hulle nie sal sien nie. Koos is ‘n bekende naam vir hulle en hulle wonder of dit Koos Geyer is.
“Daar is glo ‘n skerm van takke,” sê die een met die lelike gesig.
“Dit moet hoër op teen die berg wees” sê die derde ene, wat ook maar lelik lyk en effens mank loop.
Die drie mans stap nou weer aan en weg van die drie jagters af.
“Dis diewe” sê Mias.
“Ons moet kyk wat hulle maak,” meen Sias, maar is doodbang om op te staan. Dis mense daardie wat jou sal vermoor.
“Napoleon sal blaf,” sê Mias.
“Ek het ‘n plan. Krisjan bly jy hier en hou Napoleon vas. Kom, Mias,” gebied Sias.
So gesê so gedaan. Dit geskied alles in stilte, want die kinders vertrou die vrede nie. Hulle is ook heeltemal reg, want die drie is daggasmokkelaars. Hulle gaan nou eers in die daglig verken waar die plek is en vannag kom hulle die dagga haal.
Met harte wat klop van angs gaan Sias en Mias van boom tot boom. Hulle maak nie eens ‘n geluidjie nie. Die drie boewe weet nie van hulle nie en hoewel hulle nie baie hard gesels nie, kan die twee tog hoor waar hulle is.
Die drie het nou die skuilplek ontdek en staan ‘n rukkie daar. Sias en Mias hou hulle dop. Die man met die groot ore lig een van die sakke orent en maak dit oop. Sias en Mias kyk na mekaar. Toe sien elkeen hoe bang die ander een is. Sias sluk en Mias sluk. Hulle het mos vandag self gesien hoe skelms lyk dit is net te vreeslik.
Gedagtes van moord kom in hul koppe. Hulle kan vermoor word en dan sal die drie hulle hier iewers begrawe en hulle ouers sal hulle nooit weer sien nie.
“Koos Geyer sê die goed is veilig hier. Een van ons moet darem hier bly tot die ander twee vannag kom. Willie jy kan hier bly, maar nie hierso nie, daar hoër op teen die berg. Ek sal nou vir Koos gaan soek,” sê die een met die aaklikge gesig.
Sias en Mias wil juis haastig padgee toe dit gebeur. Napoleon is nie gewoond om sonder sy maatjies te wees nie en hy raak nou woes aan die tjank.
Die een man sê: “Wat is dit?”
Nou wag Sias en Mias nie langer nie en hardloop dat hul voete dreun oor die aarde. Een van die skelms hardloop ook. Dis genoeg vir hulle om aan die huil te gaan. Maar die skelm het net geskrik en is eintlik aan die weghardloop. Toe hy so ‘n entjie gehardloop het, kom hy weer versigtig terug na sy maats. Dis mos maar net kinders, dus is hy weer gerus.
Die drie jagters weet dit darem nie en nou hardloop hulle vir al wat hulle werd is. Krisjan Jantjies met sy een arm kan nie so vinnig hardloop nie, maar vandag bly hy by die ander twee. Hulle kom Bitterwater ingenael en sit die stuk in na die skuur van ou Jantjie Arries. Hier het hulle al baie dae rotte gejag, of sommer net gespeel.
Uitasem staan hulle ‘n rukkie naby mekaar. Die oë is nog groot van vrees. Nou praat hulle nog nie, maar as dit moontlik was, sou die hare regop gestaan het.
Mias loer by die deur uit en Sias en Krisjan staan kort agter hom.
“Waar is hulle?” vra Sias.
“Ek sien hulle nie,” antwoord Mias.
“Dis drie moordenaars,” sê Mias ‘n rukkie later.
“Wat gaan ons nou maak?” vra Sias.
Dis ‘n groot probleem. Nie een weet raad nie. Vir hulle is die drie skelms baie leliker en groter as wat hulle werklik is. Hulle glo vas dat hulle vandag baie na aan hul einde was.
“Hulle het van ons Koos Geyer gepraat,” sê Mias.
“Die een kom vir Koos sien en as hy ons in die dorp sien, sal hy ons vermoor. Hy moet ons nie sien nie,” is Sias se mening.
Hulle gaan op sakke sit om hierdie probleem eers uit te pluis. Hoe gaan hulle nou maak? Die skelms het Sias en Mias gesien en een van hulle kom vandag na Koos Geyer.
“Ons moet vandag net in die huis bly en jy moenie vandag weer na ons huis toe kom nie, Krisjan,” sê Sias. “Hulle sal nie weet in watter huise ons bly nie. Wag, ons moet nog nie gaan nie,” sê Sias toe Krisjan opstaan.
“Wat sou in die sakke wees?” vra Mias.
“Ons weet nie,” antwoord Sias, wat altyd meen hy weet meer as ander kinders. Hierdie keer weet hy darem ook nie.
“Ons moet vir niemand iets sê nie, want dan kom hulle agter wie ons drie is,” sê Mias en sluk om sy keel nat te maak.
“Nee, ons mag vir geen mens sê nie,” beaam Sias en gaan voort. “Krisjan, as jy jou mond oopmaak, sny hulle jou keel af. Het jy al gevoel hoe voel dit as hulle jou keel afsny?” Krisjan skud sy kop en sy oë trek nog groter. Hy weet hoe dit voel as ‘n mens se arm afgeruk word en dit was vreeslik.
‘n Halfuur later glip die drie uit Oom Arries se skuur en sluip, dis al wat ‘n mens dit kan noem, na die huis. Hulle ken darem al die mense van Bitterwater en sal dadelik weet as daar ‘n vreemde gesig op die dorp is. Sover het hulle nog nie een van die moordenaars in die dorp gesien nie.
So soet was Sias en Mias lanklaas. Hulle het doodstil na die slaapkamer gegaan, die deur toegedruk en gaan sit. Kort-kort is een by die venster om te sien of een van die moordenaars nog nie in die dorp is nie.
“Ons is ‘n tweeling. Hulle sal ‘n tweeling soek,” sê Sias.
Vir die eerte keer is dit ‘n groot nadeel om ‘n tweeling te wees. Sias kyk vir Mias en Mias kyk vir Sias.
“Kom ons bid,” sê Sias.
Saam kniel die twee en Mias vat Sias se hand. Wat hulle gesê het, weet ons nie, maar na ‘n rukkie staan die twee op en stap na die venster.
“Ons moenie weer saam gesien word nie,” sê Mias.
“Ons moenie weer uit die huis gaan nie,” is Sias se mening.
Mias knik. Miskien het die moordenaars nie eens vir Krisjan gesien nie, maar ‘n tweeling vergeet ‘n mens nie.
Die kamerdeur gaan oop en Lenie Viljoen kom in. Sy het die twee hoor inkom en kan nie verstaan waarom hulle so stil is nie. As hulle stil is, is dit gewoonlik ‘n slegte teken.
Wat maak julle?” vra sy.
“Niks nie Ma,” antwoord hulle. Sulke onskuldige gesiggies sien ‘n mens nie aldag nie.
“Ek wil hê julle moet na ou Wolheim se winkel gaan en twee stene seep en ‘n rolletjie garing gaan koop.”
“Ja, Ma. Ma, kan Anna nie gaan nie? Ons is op die oomblik besig,” sê een van hulle.
“Julle was nog nooit ongehoorsaam nie, “ sê Lenie en frons haar wenkbroue. “Gaan dadelik. Ek het die goed nodig. Hier is die geld.”
“Ja, Ma,” sê die ander een weer, maar nie een is lus om te gaan nie.
Toe die kamerdeur weer toegaan, sê Sias: “Ons kan nie altwee gaan nie. Dis te gevaarlik.”
“Ons sal lootjies trek,” gee Mias aan die hand.
“En die een sal hom moet vermom,” sê Sias.
Mias knik. Sias het altyd raad. In Mias se oë is sy broertjie ‘n baie slim man, amper so slim soos die skoolhoof en net ‘n rapsie dommer as Koos Geyer.
BAK EN BROU
Maak kaiings van skaapvet

Alhoewel ek gereeld by plekke soos die Boeremark varkkaiings eet, bly skaapkaiings steeds die lekkerste. Mens kan na ‘n groot slaghuis soos Uitkyk gaan en vra vir skaapvet wat reeds van skaapsterte afgesny en verpak is.

Al wat jy nou benodig is ‘n stoof of kole, ‘n diep pan of driepootpot, ‘n houtlepel om te roer en sout. Gooi die rou skaapvet in ‘n diep pan of pot en sit dit op lae hitte.
Die geheim is om die kaiings stadig oor ‘n lae hitte uit te braai. Jy wil graag baie vet uitbraai terwyl die kaiings mooi bruin braai. Roer dit gereeld sodat dit nie vasbrand nie en sodat die kaiings rondom mooi bruin braai.
Wanneer jou kaiings mooi ligbruin is, verwyder die pan of pot van die hitte en skep die kaiings uit. Ek gebruik ‘n lepel met gaatjies in sodat die vet kan afloop terwyl die kaiings agterbly. Skep die kaiings in ‘n bakkie en gooi sout oor.
Eet jou kaiings op stywe pap, patats of roosterbrood. Dit is so lekker jy sal jammer wees jy het nie meer gemaak nie. Mens kan die uitgekookte vet hou om later kos in ‘n pan mee te braai en om seep of kerse mee te maak (maar meer daaroor in ‘n volgende aflewering van Beiteltjie).
WAT MAAK JY DAAR?
’n Sonwyser op jou muur

Sonwysers is al vir duisende jare gebruik om die tyd, maar ook die seisoene en trouens die jaar te bepaal.
Daar is verskeie sonwysers in Suid-Afrika, waarvan van die oudstes by die Kasteel in Kaapstad gesien kan word.
‘n Sonwyser is ‘n baie oudtydse maar baie effektiewe instrument wat verbasend akkuraat is, as mens dit reg maak en korrek installeer.

Die eerste ding wat jou sal opval as jy na die twee sonwysers hier langsaan kyk is dat hulle verskillend lyk. Die rede hiervoor is dat die mure waarop hulle geplaas is nie een heeltemal Noord gebou is nie. As jou muur presies reghoekig met Ware Noord gebou is, sal die sonwyser simmetries wees.
Die wyser self, word die gnomon genoem. Dit is ‘n Griekse woord wat ons net so oorgeneem het.
Mens kan enigiets gebruik wat ‘n skaduwee gooi om die tyd te bepaal, maar die plaat wat die ure aanwys sal dan groot en skeef wees en die syfers sal ver uitmekaar wees. As jy ‘n netjiese sonwyser wil he, waar jy met een oogopslag kan sien hoe laat dit is, moet jou gnomon parallel aan die Aarde se as wees.
Die foto hieronder wys vir jou hoe jy vier verskillende sonwysers kan maak – een met ‘n vertikale wyser, ‘n poolwyser, ‘n ekwatoriale wyser en een met ‘n horisontale wyser. Die poolwyser sal op sy beste in Alaska of Antarktika werk, waar die son vir sekere tye van die jaar nooit ondergaan nie en regom die aarde volgens die waarnemer se perspektief draai. Noord Alaska en Svalbard Eiland, en Siberië en die Noorde van Kanada, gaan die son nooit onder in die somermaande nie, net soos wat die son in die Suidelike Halfrond se somer nooit ondergaan in Antarktika nie. Dan kry mens natuurlik die teenoorgestelde – hierdie poolgebiede is on die winter vir maande in duisternis gehul en dan sal ‘n sonwyser mos glad nie nuttig wees nie.

In hierdie projek maak ons ‘n vertikale sonwyser wat teen ‘n muur geplaas word. In ‘n latere uitgawe van Beiteltjie sal ek julle wys hoe mens ‘n horisontale en ekwatoriale sonwyser maak.
Die foto wys jou hoe die gnomon (die stokkie met die rooi spiraal om) werk en hoe die gonomon se oriëntasie belangrik is vir enige tipe sonwyser wat jy wil maak. Die plate met die syfers se oriëntasie verander, maar die gnomon bly op dieselfde hoek. Die breedtegraad waar die sonwyser opgestel word, bepaal die hoek van die gnomon. Onthou dat die opplervlakte van die aarde rond is en dus van breedtegraad tot breedtegraad verander, terwyl die as van die aarde op dieselfde plek bly. Dit is dus belangrik om uit te vind wat die breedtegraad is waar jy bly voordat jy jou sonwyser maak. Op die ewenaar sal die gnomon horisontaal wees en op die pole sal dit 90° regop staan.

Die breedtegraad waar ek bly is 25,6°. Die staalpen is op daardie hoek aan die voetplaat vasgesweis. Jy kan enigiets vir ‘n gnomon gebruik – ‘n plank of stuk karton wat op die hoek van jou breedtegraad gesaag of gesny is, sal ook werk. As jy dit van staal maak is dit egter permanent en sal die wind en weer trotseer. Nadat jy die gnomon waterpas aan die muur vasgemaak het, moet jy elke uur ‘n kolletjie maak waar die gnomon se punt se skaduwee val.
My sonwyser is in ‘n binnehof en die huis se skaduwee val in die middel van die winter in die namiddag op die sonwyser en dus is my sonwyser net tot vier uur in die middag gemerk. Dieselfde geld vir die oggend, die son skyn eers in die binnehof in teen 8:00 in die oggend. Ek het my gnomon in die middel van die winter opgesit (21 Junie) en dus is die skaduwees die kortste wat dit sal kan wees.

Wanneer die son hoër teen die hemelruim deur die loop van die jaar tot en met Somersonwend (21 Desember) klim, sal die son vroeër opkom, en later sak en die skaduwees teen die muur sal ook langer word. Ek hoop om dan nog ure te kan byvoeg wanneer dit gebeur. Ek gaan regdeur die jaar merkies maak teen die muur soos wat die hoek van die son verander.
Die vierledige sonwyser in die foto en die een hierlangsaan is vir die noordelike halfrond gemaak en dus lees die syfers in volgorde van links na regs, soos wat mens in die Westerse Wêreld lees.
Kyk nou weer na die sonwyser in Kaapstad en my sonwyser – die syfers lees dan van regs na links! Dit is omdat daardie sonwysers in die suidelike halfrond is. Dit is eenvoudig om te verstaan hoe dit werk as jy bietjie konsentreer.

Alle skaduwees in sonlig in die noordelike halfrond, noord van die Kreefskeerkring sal noord val, net soos wat alle skaduwees in sonlig in die suidelike halfrond, suid van die Steenbokskeerkring suid sal val. Dus sal alle sonwysers in die noordelike halfrond met skaduwees van sonlig suid van die waarnemer werk. Die waarnemer moet dus noord kyk met die sonwyser voor hom. Die son sal dus in die ooste, aan die waarnemer se regterkant oprys, wat ‘n skaduwee na links op die sonwyser sal werp. Deur die dag sal die son dus oor die kop van die waarnemer na LINKS beweeg tot dit aan sy linkerkant in die weste sak. Die skaduwees op die sonwyser sal dus van links na regs beweeg – met ander woorde soos op ‘n horlosie! En daar het jy dit – dit is hoekom horlosies kloksgewys beweeg en nie anti-kloksgewys nie – bloot omdat mense in die Noordelike Halfrond gewoond was daaraan om tyd van links na regs op sonwysers te lees. As horlosies in die Suidelike Halfrond ontdek was, sou dit andersom gewerk het.
Net om op te som: aangesien sonhorlosies in die Suidelike Halfrond met skaduwees werk wat na die suide val, met die son wat in die lug noord, agter die waarnemer is, sal die son in die oggend links van die waarnemer opkom en REGS oor sy kop na die weste beweeg waar dit aan die regterkant van die waarnemer sal sak. Die skaduwees loop van regs na links deur die dag op die sonwyser en die nommers is dus agterstevoor genommer in vergeleke met sonwysers van die noordelike halfrond.
TOEKA SE TYD
Armblankes of te wel Verarmde Boere
Die geskiedenis van die Armblankes is die geskiedenis van die Afrikaner, wat terloops homself (veral in Boererepublieke) nie só ten tye van die Armblanke-kwessie genoem het nie. Die Armblanke-kwessie speel af in die tydperk 1880-1930’s toe meeste Afrikaners hulself nog net as Boere of Cape Dutch geken het. Dit was danksy die werk van die Afrikanerbond en die Afrikaanse Taalbeweging in die Kaapkolonie dat die begrip Afrikaner vroeg in die 20ste eeu gevestig is. Die Afrikanerbond, wat in 1879 in die Paarl gestig is, het die begrip Afrikaner aktief bevorder, maar meer daaroor in ‘n volgende aflewering van Beiteltjie.
Ek gaan in hierdie stuk oor die Armblankes hoofsaaklik na die Verarmde Boere verwys, want mense raak heeltemal opgewerk oor die term blank en dan begin hulle redeneer oor wie nou eintlik armer was – die blankes, bruines of swartes. In elk geval gaan ek nie oor arm Engelse of Portugese in Suid-Afrika praat nie, maar slegs wat met my mense gebeur het. Die term Armblanke is by die Amerikaners geleen wat ‘n soortgelyke probleem met verarmde mense in die suidelike state van die VSA, gehad het – waarskynlik omdat die Carnegie ondersoek na die Armblankevraagstuk in Suid-Afrika (1929 – 1932), Amerikaanse sosioloë ingesluit het.
Wat is ’n Verarmde Boer?
Die term Armblanke het op verskillende tye na verskillende mense verwys, en dit word ook verskillend deur mense van verskillende instellings of groepe gedefinieër en dus wil ek die definisie skerper en meer spesifiek maak deur om na die lot van die Boere, wat later as Afrikaners bekend gestaan het, te verwys. Die N.G. Kerk het hierdie mense gedefinieer as diegene wat nie sonder hulp vir hulle gesin kon sorg nie. In hierdie stuk gaan ek hoofsaaklik kyk na wat met die Boere gebeur het voor, tydens, en veral na die Tweede Anglo Boereoorlog waartydens 10-15 % van die Boerevolk deur volksmoord deur die Britte uitgewis is, 30 000 plase afgebrand is, die diere doodgemaak is en die plaashuise verbrand of opgeblaas is en mense van alle lewensmiddele gestroop was. Dit is dus ‘n baie spesifieke groep mense waarna ek verwys en nie na arm mense oor die algemeen of na arm Afrikaanssprekendes nie.
Alhoewel die getal Boere wat in uiterste armoede geleef het, geweldig tydens en na die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902) toegeneem het (‘n kwart van die bevolking was as armblank in daardie tyd geklassifiseer), was daar reeds lank voor dit Verarmde Boere in die Kaap, Oranje Vrystaat en Transvaal. Daar was verskeie redes vir hierdie verarming en agteruitgang van Boere – in sommige gevalle was dit weens ‘n agterlikheid wat deur die verarmde self veroorsaak is, maar in ander gevalle was dit weens omstandighede wat buite beheer van die slagoffer was.
Die Carnegie ondersoek (1929-1932) het verskeie tipes Armblankes geïdentifiseer. Daar was talle mense wat weens die breuk met die beskawing na die Groot Trek, weens hul afsondering en die gebrek aan skole, biblioteke en leesstof vir hul kinders oor geslagte heen, ten spyte van hul normale intelligensie, ongeletterd en agterlik geraak het. Weens gebrek aan skoling, opleiding, werksgeleenthede en deelname aan die ekonomie, het hulle ook verarm en al hoe meer versukkeld geraak. Dan was daar daardie verarmdes wat weens omstandighede buite hulle beheer, soos die groot griep, droogte, of siektes soos runderpes, perdesiekte, tsetsevlieë en malaria alles verloor het. In sommige gevalle het die broodwinners, wat hul families met die bou van huise en waens en deur boerdery of jag, moes onderhou, weens slaapsiekte of malaria gesterf. Dit het die agtergeblewenes in ‘n benarde posisie in die wildernis agtergelaat met geen vervoer of hulpbronne om weer na die beskawing terug te keer nie. Hierdie mense het oor geslagte net al hoe verder agteruitgegaan, verarm en agterlik geraak.
In die tydperk tussen die totstandkoming van die Boererepublieke en die Tweede Anglo Boereoorlog het dinge vinnig verander. Eerstens was daar die ontdekking van diamante by Hopetown en toe Kimberley vanaf die 1870’s en tweedens was daar die ontdekking van goud in die Laeveld en toe die Witwatersrand vanaf die 1880’s. Skielik het die Boererepublieke se ekonomie vanaf ‘n bestaansboerdery-ekonomie na ‘n geldekonomie verander, want oral waar daar myndorpe was, was plaasprodukte in aanvraag, wat met geld gekoop is. Meeste bestaansboere kon ongelukkig nie by die ekonomiese ontwikkeling aanpas en hierdie geleentheid benut nie, want hulle kon nie met die aanvraag na plaasprodukte tred hou nie. Die meer vermoënde boere het die sukkelende boere se plase opgekoop en ‘n groep ontheemde mense het ander bestaanswyses moes vind en so het die transportryers en bywoners ontstaan.
Die oorlewendes van die Tweede Anglo-Boereoorlog was in dieselfde ekonomiese verknorsing as die Boere wat weens omstandighede buite hul beheer soos droogtes en veevrektes alles verloor het. Weens die feit dat meeste kinders in die Boererepublieke nooit skool toe gegaan het nie, of vroeg die skool moes verlaat, was die vlak van geletterdheid onder die Verarmde Boere baie laag. Bykans niemand het enige opleiding van enige aard gehad nie en kon dus nie met die Engelse in die arbeidsmark meeding nie. Na die verwoesting van die plase tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog, het Verarmde Boere na Johannesburg gestroom met die hoop om as arbeiders werk op die myne en industrieë daaromheen te kry. Hulle was uiters stief deur die Engelsprekendes behandel en het in krotbuurtes en uiterste armoede opgeëindig.
Totius skryf in Trekkersweë oor die lot van ons mense in Johannesburg:
Hulle lewe van ’n hongerloon
in huisies aanmekaar gepas
en jaardjies vol van steenkool-as
Die vroeg’re boere-paradys
Is nou één molshoop, groot en grys
Iemand doen iets.
Die katastrofiese afmetings van verarming en agteruitgang van die Boerebevolking in die Oranje Vrystaat en Transvaal na die Tweede Anglo-Boereoorlog het mense aangegryp en verskeie organisasies is op die been gebring om die Verarmde Boere by te staan.
⦁ Die NG Kerk het reeds ‘n kongres in 1893 (met ander woorde ses jaar voor die Tweede Anglo Boereoorlog) gehou om die probleem van Verarmde Boere aan te spreek.
⦁ Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) is in 1904 gestig met die hoofdoel om verarmde Boergesinne na die Tweede Anglo-Boereoorlog te help. Hulle het die gebrek aan kos, gebrek aan skole en gebrek aan opleiding en werksgeleenthede aangespreek.
⦁ Die Helpmekaarbeweging is in 1915 gestig, om oorspronklik die families van veroordeelde rebelle van 1914 by te staan, maar het later ‘n beweging geword om alle Afrikaners (teen hierdie tyd was die term Afrikaner in gebruik, al was Afrikaans nog nie deur die Britse heersers as amptelike taal herken nie) te ontwikkel en te bevorder. Hulle fokus was veral opvoedkundig, want die beweging het verstaan dat die opvoeding van die Afrikanerjeug die enigste manier was om ‘n permanente oplossing vir die verarming en agteruitgang van die Afrikaner te kry. Met behoorlike skoling en opleiding kon jong Afrikaners tot die arbeidsmark toetree en die volk help ontwikkel en selfstanding maak.
⦁ Die Nasionale Party onder leierskap van Generaal J.B.M. Hertzog, het ook die armoede van die Afrikaner aangespreek en in 1929 Yskor gestig om vir duisende Afrikaners werk te skep. Ongelukkig, weens die ineenstorting van die Amerikaanse ekonomie in 1929, en die gevolglike Groot Depressie, was daar vir jare ‘n negatiewe impak op die wêreldekonomie.
⦁ Die Nasionale Party het werkloosheid verder verlig deur om die verarmde Afrikaner tydelike werke op openbare projekte te gee soos om paaie en damme te bou. Die positiewe nadraai van hierdie werkskepping was dat die infrastruktuur van die land geweldig uitgebrei het, wat bosboustasies, besproeiingskemas en die uitbreiding en onderhoud van die padnetwerk en spoorwegnetwerk ingesluit het.
⦁ Die NG Kerk het in 1927 by die Carnegie-korporasie in New York aansoek gedoen vir ondersteuning in die vorm van befondsing van ‘n ondersoekspan wat kon navorsing doen en raad gee om die armoedevraagstuk in Suid-Afrika die hoof te bied.
Die Carnegie kommissie
Die Carnegie-kommissie is op die been gebring en het in 1929 en 1930 die land deurkruis en ongeveer 50 000 km afgelê om plase, dorpies, skole en stede te besoek en met honderde mense onderhoude te voer. Die span het uit medici, opvoedkundiges, ekonome en sosioloë bestaan. Die skryfster en redaktrise van die Huisgenoot en Jongspan, M.E. Rothmann (M.E.R.), was die enigste vroulike lid van die span wat ingesluit is om die lot van die vrou te midde van hierdie krisis te ondersoek. Hul bevindinge, wat uit 5 verslae bestaan, is in 1932 gepubliseer.
Die kommissie het bevind dat daar minstens 300 000 Armblankes in Suid-Afrika was, of te wel een uit elke ses blankes in die land, waarvan die oorgrote meerderheid – 250 000 – Afrikaners was. M.a.w. ‘n kwart van die Afrikaners was verarm. Die een verslag meld dat meer as helfte van die kinders op skool uit huise gekom het waar hulle nie behoorlike kos of klere gekry het nie.
Die Carnegie Kommissie het bevind dat die armoede onder hierdie mense nie deur hulle eie toedoen veroorsaak is nie, maar deur redes buite hul beheer. Die droogtes, veesiektes en die Verskroeide Aarde beleid van die Tweede Anglo-Boereoorlog het die grootste rolle gespeel in die verarming van die Afrikaner. Daarbenewens was daar ook die verarming wat in die wildernis gebeur het met mense wat te ver van beskawing af getrek het tot waar hulle nie toegang tot opvoedkundige of mediese dienste gehad het nie en sodoende al hoe meer fisies en intellektueel agteruitgegaan het. Hulle het ‘n bestaansekonomie gevolg en was dus van tegnologie, voorrade, opleiding en werksgeleenthede afgesluit en het sodoende erg verarm.
M.E. Rothmann (M.E.R.) het die volgende geskryf:
“Hoe langer hoe meer lyk dit vir my die hele verarmingsproses was die natuurlikste en onvermydelikste ding in die wêreld: ons het as handjievol witmense kans gesien om met die hele tamaai Suid-Afrika te boer… Maar ons het nooit rekening gehou met die reaksie van die veld – die eensaamheid op onsself nie.
“Veral het ons nooit rekening gehou met die uitwerking van daardie invloede op die huisgesin nie. Begryp jou, geen opvoedende invloede van verkeer, lees, omgang met mense, kennis van wêreldontwikkeling nie, baie min van die Kerk, al opvoedingsmiddel vir daardie boerevolk was die huisgesin, d.w.s. was die moeder …
“En daardie moeder moes ook die helfte van die boerdery dra, ag tot vyftien swangerskappe deurmaak, geboorte gee met min of geen hulp … Te veel! Agteruitgang, behalwe van uitsonderings, was onvermydelik …”
Die kommissie het verskeie aanbevelings gemaak waarvan die belangrikste was dat die jeug beter opvoeding moet ontvang, wat beter werksvoorligting op skool, beter onderwys en beter tegniese opleiding insluit. Hulle het ook voorgestel dat mense verstedelik, want daar was nie ‘n toekoms op die platteland nie, en dat ambagte en beroepe die armoedevraagstuk sal oplos.
Die oplossing
Die Volkskongres van 1934 was in Kimberley deur die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad aangebied om die armoedeprobleem en die Carnegie Verslag se bevindinge te bespreek. Die kongres was na die volgehoue pleidooie van Dominee J.D. Kestell, of Vader Kestell soos ons hom genoem het, aangebied. Vader Kestell het geredeneer dat, eerder as om net nog meer regeringshulp in die vorm van aalmoese vir armes uit te deel, maniere gevind moes word waardeur mense hulself kon ophef, sodat hulle onafhanklik van regeringshulp word. Ook dat die Afrikanergemeenskap self verantwoordelikheid vir hul eie armes moes aanvaar en dat die probleem opgelos sou word as die hele volk saamstaan. Die opleiding van maatskaplike werkers en sosioloë wat armoede en werkloosheid kon aanspreek was van uiterste belang.
In 1939 is ‘n Volkskongres in Bloemfontein gehou om die ekonomiese opheffing van die Armblankes te bespreek. Weereens was mense eens dat opheffing eerder as welsyn verarmde Afrikaners sou help. Die verskynsel dat Engelse banke Afrikaners van ekonomiese ontwikkeling uitgesluit het, en hulle dus nie huise kon koop of ondernemings begin nie was bespreek. Die noodsaaklikheid van tegniese opleiding vir die jeug en beurse vir studies was bespreek. Na hierdie kongres is die Reddingsdaadbond, die Ekonomiese Instituut en Volkskas, waar Afrikaners lenings kon aangaan, gestig.
Teen 1950 is die Armblankeprobleem opgelos en die land het ekonomies gegroei wat tot nog meer werksgeleenthede vir almal in die land gelei het. Vanaf die 1930’s het die Afrikaner grootliks verstedelik wat hulle beter toegang tot opleiding, die ekonomie en opheffing gebied het. Die opkoms van Afrikaner Nasionalisme volg daarna en uiteindelik het die Afrikaner sy vryheid gekry, maar meer daaroor in ‘n volgende uitgawe van Beiteltjie.
Ongelukkig is dit nie waar die storie eindig nie. ‘n Volk is soos ‘n liggaam waar elke orgaan en struktuur en sel sy deel vir die welsyn van die geheel moet doen. Die afgryslike werklikheid is dat ons nou weer in hierdie situasie sit waar al hoe meer Afrikaners ekonomies en maatskaplik agteruitgaan soos wat die Afrikaner intellektuele en rykes oorsee emigreer, na die Wes Kaap semigreer en andersins die mense, wat van hulle vir leiding en werksgeleenthede afhanklik is, versaak. Die gevolg is dat ‘n nuwe geslag van duisende werklose, ontheemde, versukkelde Afrikaners ontstaan het wat nou in die duisende plakkerskampe, wat oral soos paddastoele opspring, bly.
KNIP EN PLAK

Die skagtoring van die Crown Myn se no. 14 Skag is een van die bes-bewaarde skagtorings van die Witwatersrand. Mens kan dit in Gold Reef City as deel van die opelugmuseum besigtig. Skag no. 14 was oorspronklik op die plaas Langlaagte, sowat 6 km suid van die Johannesburgse middestad geleë.
Dit was eintlik die dertiende skag wat Crown Myn gesink het, maar omdat Engelse bygelowig is, het hulle dit Skag no. 14 genoem.
Die skag is 57 vlakke diep en strek tot ongeveer 3.5 km onder die grond.
Die no. 14 skag en daardie deel van die myn was vanaf 1887 tot 1971 (m.a.w. 84 jaar lank) operasioneel.
Gouderts, wat ongeveer 1.4 miljoen kg goud opgelewer het, was deur hierdie skag opgehys.
As jy bereid is om R320 per persoon te betaal, kan jy op ‘n myntoer van tot 226 m onder die oppervlakte gaan en na van die oorspronklike myntonnels en koekepanspore kyk. Daar sit ook ‘n man wat met ‘n rotsboor ‘n groot gedreun maak asof hy gouderts uit die rotswand boor.
Crown Mines was op sy tyd die grootste en diepste goudmyn ter wêreld en het meer as 28 000 kg goud per jaar tydens topproduksie opgelewer. Op sy hoogtepunt in die 1960’s het ongeveer 30 000 mense daar gewerk.

Hier is die res van jou mynskagtoring se onderdele:

Die hele doel van die mynskagtoring was om die hysbak en ertsbak vanuit die dieptes van die myn na die oppervlakte te bring. Myners word in die boonste hysbak-kompartement op en af in die myn vervoer. Die onderste hysbak-kompartement is inderwaarheid ‘n ertsbak waarin die gouddraende erts ondergronds gelaai word.
Die goudmyne in Suid-Afrika is so geweldig diep dat ‘n enkele kabel nie sterk genoeg is om sy eie gewig te kon dra, as dit 3 tot 5 km lank was nie, en dus is daar ‘n paar hysers op verskillende vlakke ondergronds in die myn om die werk te behartig. Die myners moet ondergronds op sekere vlakke van een hyser na die ander hyser te loop om so al hoe dieper in die myn af te sak tot waar die afboukamer is waar die erts gemyn word.
Die hysbak was met kabels weerskante gestabiliseer sodat dit nie in die skag in die rondte tol of heen en weer swaai en aan die kant van die skag bots of skuur nie. Daar was dikwels twee sulke hysbakke in ‘n mynskag sodat die een met erts en of myners na die oppervlakte kan gaan terwyl die ander een volgelaai word, terwyl dit terselfdertyd as ‘n teëwig dien om die hysproses te vergemaklik. In sekere myne was daar ‘n gewig aan die een kant en die hysbak aan die ander kant in die skag, om die ophys van ‘n swaargelaaide hyser uit te balanseer. Die myners klim eerste by die voorkant van die hysbak uit wanneer die hysbak na die oppervlak toe kom, dan word die hysbak nog so 2.5 – 3 m hoër gehys sodat die onderste ertsbak bo die oppervlakte kom. Die erts word by die agterkant uit die ertsbak gelaai. Die erts word dan met ‘n voerband of voertrog agter die mynskagtoring verskuif na waar dit verder fisies en chemies verwerk kan word om die goud te onttrek.





Jy kan hierdie mynskagtoring- model met die mynskag-projek van Blits-Elektries kombineer om ‘n werkende model te hê met ‘n hysbak wat regtig op- en afgaan! Sien hulle kontakbesonderhede op die laaste bladsy vir bestellings.
UIT DIE TUIN
Hoe om ’n vrugteboom te snoei
Herfs tot wintertyd is die regte tyd om bome te snoei, want dan is die boom rustend en sy metaboliese prosesse op hul laagste. Mens moet ‘n goeie en skerp snoeiskêr hê om behoorlik te snoei en om te keer dat die bas nie afskeur rondom die snit nie. In die verlede het mense snoeimessies gebruik om mee te snoei.
Die rede hoekom mens ‘n vrugteboom moet snoei:
⦁ Bevorder boomgesondheid deur die verwydering van siek, beskadigde of dooie takke.
⦁ Bevorder verhoogte vrugte-opbrengs en kwaliteit van vrugte.
⦁ Verseker ‘n sterk struktuur, sodat takke nie met vrugte oorlaai word en afbreek nie.
⦁ Hou die boom kort genoeg sodat jy by die vrugte kan uitkom om dit te pluk. Elke jaar stoot lang nuwe regopgroeiende lote uit. Dit moet teruggesnoei word sodat die boom kort bly.
⦁ Dit maak die boomkroon oop, sodat daar genoeg plek vir die blare is om behoorlik te fotosintetiseer, vir bestuiwers om by die bloeisels uit te kom en vir die vrugte om behoorlik te ontwikkel en vir lig en lug om deur die boomkroon te beweeg.
⦁ Verleng die lewensduur van die boom deurdat die boom gestimuleer word om nuwe lote te vorm.

Wenk: sorg dat jy die snit teen ongeveer 45° bo ‘n groeikop maak. Dit verseker dat die water afloop en nie lank klam bly, soos wanneer dit teen 90° gesny word, wat sal veroorsaak dat swamme die klam deel kan besmet.

As die takkie te lank bo die groeiknop of tussen groeiknoppe is, vrek dit en kan moontlik ook met swamme besmet word wat ‘n bedreiging vir tak en selfs die boom inhou.
Verwyder alle dooie, beskadigde en besmette takke. Snoei al die waterlote af. Dit is die lang, slap regopstaande lote wat deur die jaar uitgegroei het. Snoei die takke wat met die ander groter takke kompeteer of parallel aan groter takke loop, af. Snoei onbelowende takke (dié met minder sytakke as ander en wat nie in ‘n goeie posisie is om optimaal lig en lug te kry nie) en afwaartsgroeiende takke af.
KOM SPEEL SAAM
Maak ‘n waterbom
Natuurlik is waterbomme op skool verbied. Natuurlik is dit nie goed om onskuldige mense met waterbomme te bestook nie. Maar wat daarvan as jy nie by die skool is nie en die persoon wat die waterbom verdien, nie onskuldig is nie? Ek is bevrees ek begin soos Sias te klink… maar ai tog, mens kan ook nie ‘n goeie tradisie soos waterbomme en kleilat laat verdwyn net omdat iemand wat nooit ‘n kind was wat gespeel het, so sê nie. Nou goed – kom ons onderhandel: ek sal julle wys hoe om ‘n waterbom uit papier te maak wat julle in reserwe kan hou vir ingeval julle deur iemand anders met waterbomme bestook word – en net as julle belowe dat julle nie daardie mense gaan wees wat eerste die waterbomme gaan gooi nie.



Stap 1:
Begin met ‘n vierkantige papier. As jy ‘n reghoekige A4-grootte papier het, knip dit om ‘n vierkant te maak.
Stap 2:
Vou die een hoek oor na die teenoorstaande hoek soos hier regs om ‘n driehoek te maak.
Stap 3:
Vou die driehoek oop en herhaal die proses maar met die ander twee hoeke. Vou die papier oop. Jy moet nou twee gekruiste voue he wat heen en weer oor die papier loop.



Stap 4:
Druk twee teenoorstaande indukings van die papier na mekaar. En vou die ander twee driehoekige oppervlaktes plat teenaan die binneste twee voue. Jy moet nou iets he wat lyk soos die gevoude papier hieronder. As jy mooi kyk sal jy twee gevoude dubbeldriehoeke he wat tussen die twee groot driehoeke lê.


Stap 5:
Vou die twee verste punte van die buitenste driekhoek oor en vou dit plat om twee kleiner driehoeke te maak soos links bo.
Stap 6:
Draai die papier om en herhaal soos hierbo middel.
Stap 7:
Vou die verste twee punte na die middellyn soos in die foto bo regs.



Stap 8:
Draai die papier om en herhaal soos links gesien.
Stap 9:
Vou die losstaande punte terug soos regs gesien. Druk die punte in die holte van die middelste driehoekies. Herhaal vir agter.
Stap 10:
Blaas lug deur die gaatjie sodat die waterbom ontplooi soos bo.
Stap 11:
Gooi water deur die gaatjie in die middel van die waterbom.
Werk dit? Ja! Solank jy dit gooi voordat die papier sag van die water word, dan werk dit soos ‘n bom!
BLOKRAAI

1: Makgemaakte
2: Koninkryk in noorde van Zimbabwe
3: Arabiese seilskip
4: Stuk stabiele aardkors
5: Vermindering van waarde van geld
6: Gesteente van saamgeperste klippe en sand
7: Landvorm wat by riviermonding vorm
8: Hoofstad van Shona koninkryk 1000 jaar gelede duskant die Limpopo
9: Uitbreiding van koninkryk of ryk
10: Streek suid van die Sahara
11: Proses waartydens sedimente afgeset word
12: Kultuur wat Islam aanhang
13: Proses waartydens metale aan kwik verbind
14: Seisoenale reën in Indië
15: Verwysing na ’n bepaalde groep mense se gedeelde kultuur, taal of oorsprong.
16: Vou in die aardkors
17: Die koninkryk van ‘n sultan
18: Rommel wat tydens ‘n katastrofe ontstaan
19: Die gebied in Afrika suid van die Middelandse See en wes van Egipte
20: Die kleinste maar digbevolkste provinsie in Suid-Afrika
21: ‘n Duisend miljoen
22: ‘n Metaalkundige
23: Een van die oudste beskawings op aarde.
Die raaisel van die 12 stawe goud

Jy wil in goud belê omdat die waarde van geld so verwater, maar jy weet nie wie om te vertrou nie. Jy is ook bewus van ‘n skelmstreek waar bedrieërs ‘n holte die middel van ‘n goudstaaf uitboor om dan gesmelte lood in die holte te giet en daarna die gat met gesmelte goud op te vul. Dus lyk dit soos ‘n soliede staaf goud, maar dit weeg effens swaarder as ‘n normale staaf goud.
Jy het ‘n ou balanseerskaal, maar die gewigte wat oorspronklik daarmee saamgekom het is al lankal weg. Jy kan dus net twee voorwerpe of groepe voorwerpe se gewig met mekaar vergelyk.
Iemand wil 10 goudstawe aan jou verkoop, maar jy het uitgevind dat een van die stawe vervals is en jy moet uitvind watter een dit is. Wat is die minimum aantal weegpogings wat jy nodig het om uit te vind watter een vervals is?

BRIEF AAN OUERS

Taalontwikkeling in kleuters

Taalontwikkeling vind tydens ‘n kritiese tydperk in die kleuter se neurologiese ontwikkeling tussen die ouderdom van 2 en 5 jaar plaas. Hierdie ontwikkeling vind in die linkerkantste deel van die brein in en rondom die temporale lob en die prefrontale korteks van die kleuter plaas wanneer die senuweebane in die boogbundel ontwikkel wat die Sentrums van Broca en Wernicke verbind.
Die Sentrum van Broca in die linker frontale lob is verantwoordelik vir spraakproduksie en grammatika, terwyl die Sentrum van Wernicke in die linker temporale lob vir taalbegrip en semantiek verantwoordelik is. Uitvoerende funksies soos beplanning, probleemoplossing en impulsbeheer ontwikkel en word beheer in die prefrontale korteks langs die Sentrum van Broca. Die temporopariëtale streek, aangrensend aan die Sentrum van Wernicke, is betrokke by woordeskat, sintaksis en die integrasie van taal met sensoriese inligting. In die middel van die brein is die amygdala en hippokampus geleë wat vir emosionele regulering en geheue, wat taalgebruik en leer, verantwoordelik is.
Hierdie versameling strukture in die brein is nie slegs vir die ontwikkeling van taal verantwoordelik nie, maar ook vir probleemoplossing en die uitvoerende funksie van ‘n persoon. Dit is dan ook duidelik dat die regte omgewing met die regte stimulasie absoluut noodsaaklik is vir die breinontwikkeling van die kleuter. Dit is ewe belangrik vir die kleuter om sy bewegings-mylpale te bereik soos die omrol en kruipbeweging en later loop, spring en huppel vir die behoorlike en korrekte ontwikkeling van die senuweebane in die brein (meer daaroor in ‘n latere uitgawe van Beiteltjie). Beweging stimuleer dele van die brein en versterk die koördinasie tussen sensoriese waarneming en motoriese reaksies, wat vir spraakontwikkeling, kognitiewe denke en probleemoplossing gebruik word. Beheer van asemhaling en die spraakorgane word ook deur die motoriese korteks hanteer.
Kritiese Ouderdom vir Taalontwikkeling:
0–12 maande: Babas herken klanke en begin babbel.
1–3 jaar: Vinnige uitbreiding van woordeskat en eenvoudige sinne word gepraat.
3–5 jaar: Sintaksis, narratief en komplekse taalvaardighede ontwikkel.
Na 5 jaar: Plastisiteit verminder; nuwe taal kan nog geleer word, maar met baie meer moeite.
Wanneer kinders verwaarloos word deurdat hulle nie genoeg aandag kry nie, mee gespeel word, of mee gesels word nie, of as ouers elektroniese media gebruik om ‘n “lastige” kleuter besig te hou, word die neurologiese ontwikkeling van die kind gestrem wat onherroeplike skade aan die kind se brein aanrig (meer daaroor in ‘n volgende uitgawe van Beiteltjie).
Korttermyn skade aan die brein weens verwaarlosing veroorsaak:
Vertraagde spraak en beperkte woordeskat.
Swak taalbegrip en kommunikasievaardighede.
Langtermyn skade aan die brein weens verwaarlosing veroorsaak:
Kognitiewe tekorte: laer IK, probleme met abstrakte denke.
Uitvoerende funksie‑probleme: swak aandag, impulsbeheer, beplanning.
Gedragsuitdagings: verhoogde risiko vir angs, depressie, aggressie.
Sosiale en akademiese gevolge: leerprobleme, swak prestasie, isolasie.
Dit is van uiterste belang vir ouers om direk betrokke by hul baba en kleuter se ontwikkeling te wees. Dit is die tyd en die plek waar die kind se brein en kognitiewe vermoëns ontwikkel word.
Bronne:
⦁ Teëspoed tydens kleuterontwikkeling verander die brein se ontwikkelingsbane en lei tot permanente neurobiologiese skade. (Nelson, C.A. & Gabard-Durnam, L. (2020) (Early Adversity and Critical Periods: Neurodevelopmental Consequences of Violating the Expectable Environment. Trends in Neuroscience 43(3):133–143 ).
⦁ Kleuters wat verwaarloos word, toon laer taal- en kognitiewe ontwikkeling en meer gedragsprobleme. (Spratt et al. (2012) (The Effects of Early Neglect on Cognitive, Language, and Behavioral Functioning in Childhood, Psychology (Irvine) 3(2):175–182).
⦁ Verwaarlosing van kleuters ontwrig die ontwikkeling van die prefrontale korteks en amygdala, wat uitvoerende funksies soos werkgeheue en kognitiewe funksionering benadeel. (HerreroRoldán, S. & MartínRodríguez, A. (2025) (Neglect and Neurodevelopment: A Narrative Review Understanding the Link Between Child Neglect and Executive Function Deficits. Biomedicines 13(7), 1565).
François Durand
Rig alle korrespondensie aan: beiteltjie@yahoo.com
Volgende maand in Beiteltjie

Leer alles onder die son oor die son
Maak jou eie sonstoof vir goedkoop en kook jou kos gratis vir altyd!
Bou ‘n vuurtoring wat lig maak!
Leer hoe om melktert soos ouma s’n te bak.
Die Knoffels het groot nuus!







Bestel direk van die uitgewers: https://naledi.co.za/boekwinkel/

