Beiteltjie – Jaargang 1 – Volume 8
Wat is Beiteltjie.
Beiteltjie is ‘n gratis aanlyn tydskif spesiaal vir die Afrikaanse kind.
Elke maand is daar nuwe stories, resepte, blokraaisels, interesante feite van ons verlede, doen-dit-self projekte en vele meer.
In hierdie uitgawe:
Die geskiedenis van vlieërs
Bou ‘n vlieër
Alles oor pampoene
Bak die lekkerste
Pampoenkoekies!
Aartappeldruk

Inhoud:
Liedjie: Daar’s ‘n wind wat waai
Ontdek: Windenergie
Hoesê? Woorde en Uitdrukkings
Die Knoffels: Buksie se vlieër
Storie: Sias en Mias Hoofstuk 8: Hul geheim
Bak en Brou: Pampoenkoekies
Toeka se tyd 1: Die geskiedenis van vlieërs
Kom speel saam: Maak jou eie vlieër!
Toeka se tyd 2: Kapstylhuise
Knip en plak: Kapstylhuise
Uit die tuin: Pampoene
Kuns en kunsvlyt: Aartappeldruk
Blokraai
Die raaisel van die drie vlieërs
Brief aan die ouers: Genetiese outisme en virtuele outisme
Volgende maand
____________________________________
Redakteur: Prof. Francois Durand
Medewerker: Ben Raubenheimer
Kontak ons by: beiteltjie@yahoo.com
Daar’s ’n wind wat waai
Daar’s ’n wind wat waai


Ontdek:
WINDENERGIE
Windenergie is ‘n uitstekende wyse hoe mense ‘n natuurverskynsel, naamlik wind, inspan om werk
te verrig en om elektrisiteit op te wek.


Reeds vir duisende jare het mense wind ingespan om werk vir hulle te verrig – dink maar aan die
seilskepe waarmee die Fenisiërs, Egiptenare, Grieke en Romeine gevaar het. Vir eeue lank het
mense windmeule (sien Beiteltjie 1.2) gebruik om koring en ander goed te maal en om water uit kanale te pomp. Vir meer as ‘n eeu gebruik mense in die platteland windpompe om grondwater uit te pomp. Vir die laaste paar dekades gebruik mense windturbines om elektrisiteit op te wek.
In 1883 het Josef Friedländer by die Weense Internasionale Elektriese Uitstalling in Oostenryk, bewys dat elektrisiteit met behulp van ‘n windturbine opgewek kan word.

Friedländer het ‘n windpomp gebruik om ‘n kragopwekker te draai om elektrisiteit op te wek.
Alhoewel almal met sy windturbine beïndruk was, was die kostes van batterye toentertyd so duur,
dat sy ontwerp nooit verder ontwikkel en gekommersialiseer is nie.

Die eerste windturbine wat prakties gebruik is om elektrisiteit vir die beligting in ‘n huis op te wek, is in 1887 deur Prof. James Blythe van Anderson’s College in Glasgow (vandag Strathclyde Universiteit) in Skotland ontwerp. Hierdie windturbine, wat in die tuin by die professor se vakansiehuis in Marykirk in Kincardineshire opgerig is, was 10 m hoog en het vier lapseil-bedekte wieke gehad. Hy het die elektrisiteit gebruik om ‘n vroeë tipe battery, wat deur die Camille Alphonse Faure, van Frankryk, ontwikkel is, te laai. Blythe het die gestoorde elektrisiteit in hierdie batterye gebruik om die ligte van sy huis te laat brand.
Sy aanbod om die surplus energie aan Marykirk te skenk om hul straatligte te laat brand was van die hand gewys omdat dit volgens die mense van Marykirk die werk van die duiwel was. Alhoewel hy later geslaag het om ‘n windturbine te bou wat krag aan die hospitaal in Montrose in Angus, verskaf het, was meeste mense van opinie dat dit ‘n oorbodige en duur uitspattigheid is

Charles Brush van Cleveland in Ohio in die VSA het ‘n heelwat groter windturbine in 1888 gebou.
Die wiekwiel, wat 17 meter in deursneë was, is met 144 sederhoutlemme toegerus en op ‘n 18 m hoë toring gemonteer. Die wiekwiel het deur middel van ratte ‘n dinamo gedraai wat 12 kilowatt elektrisiteit opgewek het. Die elektrisiteit is gebruik om batterye te laai, waarmee Brush ononderbroke krag aan sy herehuis en laboratorium voorsien het.

Brush se ontwerp het bewys dat windenergie ‘n lewensvatbare opsie vir betroubare kragvoorsiening kan wees. Die California Electric Light Company het twee windturbines van Charles Brush se maatskappy in 1879 gekoop en so die eerste geval geword waar windturbines kommersieël ontplooi is om krag aan talle gebruikers te voorsien. Hierdie maatskappy het vinnig uitgebrei om aan ander stede in die VSA, insluitende New York, van krag te voorsien. Brush se kragturbines was ook vanaf 1879 in London, Engeland gebruik.

Kort voor lank het daar oral in die VSA en Eurasië ontdekkers, ingenieurs en maatskappye aan allerlei soorte windturbines en batterye gewerk waaruit die windturbine-bedryf van die 20ste eeu gegroei het. Nuwe ontwikkelings en ontwerpe gedurende die 20ste eeu het met ‘n reeks verskillende

windturbines vorendag gekom, insluitende klein windturbines waarmee krag in gebiede wat verafgeleë van kragnetwerke is aan huise en geboue voorsien kon word tot moderne windplase waar tientalle aaneengeskakelde windturbines opgerig is wat gigawatt hoeveelhede krag aan die nasionale kragnetwerk verskaf.
In 2025 het windplase ongeveer 8% van die wêreld se elekrisiteit opgewek. Windenergie is ‘n volhoubare wyse om krag op te wek en
het ‘n veel kleiner impak op die omgewing as die verbranding van steenkool of diesel. Ongelukkig waai die wind nie altyd wanneer mens elektrisiteit nodig het nie, en dus moet die krag, wat deur windturbines opgewek word, in batterye gestoor word wat om die beurt krag aan die elektrisiteitsnetwerk verskaf. Windplase is die goedkoopste manier om elektrisiteit op te wek en is veel goedkoper om in te rig en te onderhou as steenkoolkragsentrales of kernkragsentrales.

Weens die Suid-Afrikaanse regering se beheer oor kragverskaffing word sekere verbruikers afgepers om al hoe meer vir krag te betaal, terwyl aan ander gratis krag verskaf word. Nog meer miljarde word deur kaderbeheer van die steenkoolmyne, steenkoolvervoerstelsel, kragnetwerk en steenkoolaangedrewe kragsentrales geplunder. Dus is windenergieaanlegte met geweldige teenstand van die regering begroet en eers relatief onlangs in Suid-Afrika ontplooi. Windplase is oor die laaste paar dekades in die winderigste dele van die land opgerig.

Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Antenna is ‘n metaalstaaf, draad of stelsel wat elektromagnetiese golwe uitstraal of opvang vir radio en televisie seinverspreiding en ontvangs, selfone, Wi-Fi en satellietverbinding.
Appel en ‘n ei bedoel spotgoedkoop. Ei is ‘n Kaapse verwerking van ui.
Armsalige verwys na ’n toestand van uiterste armoede, ellende of gebrek.
Battery in hierdie uitgawe van Beiteltjie verwys na ’n toestel wat elektriese energie stoor en verskaf, gewoonlik deur chemiese reaksies binne een of meer elektrochemiese selle. Dit is wat jou selfoon, motor of ander toestelle laat werk wanneer hulle nie direk aan ’n eksterne kragbron gekoppel is nie.
Brandsolder is ‘n brandwerende plafon van klei of bakstene wat bo-oor ‘n riet, of plankplafon gelê is om die mense in die huis te beskerm wanneer die grasdak aan die brand raak. Dit kom algemeen in die ou Kaapse grasdakhuise voor.
Boeddhisme: ‘n religie wat in die 5de–4de eeu v.C. in Indië ontstaan het, waarna dit na Sri Lanka, China, Japan, Korea, Tibet en Suidoos Asië versprei het. Boeddhisme word gebaseer op die leer van Siddhartha Gautama (wat as die Boeddha, of te wel die “Verligte” beskou is). Die kern van Boeddhisme is die strewe na bevryding van lyding en die bereiking van verligting deur insig, etiese lewe en geestelike dissipline. Boeddhisme glo dat geeste bestaan maar nie aan ‘n almagige Skepper wat alles geskape het nie.
Depressie in hierdie uitgawe van Beiteltjie verwys na ‘n ekonomiese insakking wat ’n groot ernstige en langdurige afname in ekonomiese aktiwiteit, wat gewoonlik langer as drie jaar duur of wat aan ’n daling van minstens 10% in ’n land se bruto binnelandse produk (BBP) in een jaar gekenmerk word. Dit is baie erger as ’n resessie, met die Groot Depressie van die 1930’s as die bekendste voorbeeld. Miljoene mense verloor hul werk. Mense hou op spandeer en mense kan nie meer hulle skuld betaal nie. Daar is ‘n gepaardgaande afname in vervaardiging en produktiwiteit. Mense en besighede en selfs sekere banke raak bankrot, daar is nie geld vir onderhoud en nuwe ontwikkeling nie. Geldeenhede verloor waarde en daar is verminderde internasionale handel.
Diesel is ’n vloeibare petroleumdistillaat wat spesifiek ontwerp is vir gebruik in ’n dieselenjin, waar die brandstof deur kompressie-ontsteking ontbrand en nie deur ’n vonkprop nie. Dit word in vragmotors, skepe, treine en industriële toerusting gebruik.
‘n Dinamo is ’n toestel wat meganiese energie in elektriese energie omskakel deur middel van elektromagnetiese induksie. Dit was een van die eerste praktiese elektriese kragopwekkers wat in die 19de eeu ontwikkel is. Sien ook generator.
Edo Tydperk (1603 – 1867 n.C.), ook bekend as die Tokugawa-tydperk, was ’n era van langdurige vrede, politieke stabiliteit en kulturele bloei in Japan onder die bewind van die 9 Tokugawa-shogunaat. Dit het die laaste fase van tradisionele feodale Japan verteenwoordig, net voor die Meiji-hervorming. Regering: Tokugawa Ieyasu het in 1600 by die Slag van Sekigahara oorwin en in 1603 shogun geword. Die Tokugawa familie het vir meer as 250 jaar geheers. Samelewing: ’n Streng feodale orde met vier klasse: samurai, boere, ambagsmanne en handelaars. Sosiale mobiliteit was verbode. Ekonomie: Landbou en vervaardiging, het tot die opkoms van welvarende stede soos Edo (Tokyo) gelei. Buitelandse beleid: Die sakoku (isolasionistiese beleid) het Japan grotendeels van die buitewêreld afgesluit, met beperkte handel via Nagasaki met China, Korea en Nederland. Kultuur: Groot bloei van kuns, literatuur, teater (kabuki), en ukiyo-e houtsneekuns.
Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) was ’n wêreldwye konflik wat ontstaan het ná die sluipmoord op aartshertog Franz Ferdinand van Oostenryk-Hongarye op 28 Junie 1914 in Sarajevo deur die Serwiese nasionalis Gavrilo Princip – ‘n lid van ‘n revolusionere beweging wat Serwië van Oostenryk-Hongarye wou bevry. ’n Kettingreaksie volg: OostenrykHongarye verklaar oorlog teen Serwië, Duitsland steun Oostenryk, Rusland steun Serwië, en binne weke was Europa in ’n totale oorlog betrokke. Uiteindelik veg Serwië, Rusland (tot 1917), Verenigde Koninkryk (Engeland), Frankryk, België, Italië, Japan, die Verenigde State en nog 19 lande – insluitend Suid-Afrika – teen Oostenryk-Hongarye, Duitsland, die Ottomaanse Ryk (Turkye) en Bulgarye. Dit het 9 miljoen soldate en 16 miljoen burgerlikes
se lewens geëis, en teen ‘n enorme ekonomiese koste van sowat $186 miljard toentetyd (3 triljoen Rand vandag), vernietiging van die finansiële stelsels in Europa en groot skade aan die omgewing en infrastruktuur. Die Eerste Wêreldoorlog lê die grondslag vir politieke onstabiliteit in Europa wat aanleiding gee tot die Tweede Wêreldoorlog.
Elektrisiteit is ‘n vorm van energie wat ontstaan uit die beweging of teenwoordigheid van elektriese ladings (soos elektrone en protone). Ons ken elektrisiteit as ‘n stroom van elektrone wat deur geleiers, soos koperdraad beweeg, wat energie aan toestelle soos ligte, stowe, yskaste, verwarmers, kommunikasietoestelle ens. verskaf.
Etnolinguistiese groep verwys na ‘n groep volke wat ‘n gemeenskaplike genetiese herkoms het en aan dieselfde taal en kulturele familie hoort.
Generator is ‘n masjien wat magnetiese velde gebruik om deur elektromagnetiese induksie elektrisiteit te skep. Binne die generator is ’n spoel met koperdraadwindings wat in ’n magnetiese veld, wat deur statiese magnete gevorm word, gedraai word, wat ’n elektriese stroom in die draad opwek.
Grondwater is die water wat onder die aardoppervlak voorkom. Wanneer dit reën syfer water deur die porieë en krake in grond en gesteentes. Grondwater loop by fonteine uit en is die bron van vleilande en riviere. Water wat in gruis, sand of rotse soos dolomiet of sand versamel word waterleiers of akwifere genoem. Mense pomp grondwater met behulp van windpompe uit om te gebruik.
Grootouers is ‘n ander woord vir oupas en oumas.
Hatsuzekku Fees is die viering van ’n baba se eerste seisoenale fees in Japan, wat ’n belangrike mylpaal is om gesondheid, groei en geluk vir die kind te wens. Vir meisies is dit op 3 Maart tydens die Momo no Sekku (Perskeblomfees), en vir seuns op 5 Mei tydens die Tango no Sekku (Seunsdag).
Induksie (in elektrisiteit en magnetisme) verwys na die opwekking van ’n elektriese stroom of spanning in ’n geleier as gevolg van ’n veranderende magnetiese veld. Dit is ’n kernbeginsel van elektromagnetisme wat deur Michael Faraday in die 1830’s ontdek is.
Kader in kommunistiese konteks beteken ’n ideologiese geslypte, lojale en voltydse revolusionêre of administrateur wat die kern van die party se struktuur vorm en die massa lei, mobiliseer en dissiplineer. Dit is nie net ’n gewone lid nie, maar iemand wat deur die party gekies, opgelei en geplaas word om die ideologie te dra en te implementeer.
Katamaran is ‘n seilboot wat twee rompe het wat met ‘n stewige raamwerk met of sonder ‘n platform daaroor verbind is. ‘n Katamaran het gewoonlik een seil, maar soms twee. Die Polinesiërs het oor die Stille Oseaan m.b.v. katamarans versprei.
Kernkragsentrale is ’n aanleg wat elektrisiteit opwek deur kernsplyting – die proses waarin swaar atoomkerne (soos uranium-235 of plutonium-239) in kleiner kerne verdeel word en groot hoeveelhede energie vrystel. Die kernsplyting word gebruik om water te verhit om stoom te vorm wat ‘n turbine draai, wat weer ‘n generator draai wat elektrisiteit opwek.
Komyntjie – ‘n oond met skoorsteen wat teenaan ‘n huis gebou is, met ‘n opening na binne.
Kragnetwerk is ‘n netwerk van kragsentrales, substasies en hoëspanningsdrade wat krag aan ‘n groot gebied voorsien.
Kragopwekker verwys na ‘n masjien wat elektrisiteit opwek. Hierdie tipe masjien het ‘n generator wat deur induksie elektrisiteit opwek. Die generator kan deur natuurlike kragte soos bewegende water of wind aangedryf word of deur ‘n brandstofgedrewe masjien soos ‘n stoomenjin (soos in meeste steenkool- of dieselgedrewe kragsentrales), kernkrag (soos in kernkragsentrales) of petrol- of dieselgedrewe motor (soos in kragopwekkers wat mense tuis of by winkels gebruik) wat die generator draai.
Kuriositeit verwys om na iets wat merkwaardig, vreemd, interessant of eiesoortig is te verwys. Dit is ’n leenwoord uit Frans (curiosité), oorspronklik uit Latyn (curiositas).
‘n Laboratorium is ’n spesiaal ingerigte ruimte of gebou waar wetenskaplike navorsing, eksperimente, metings en tegniese analises onder beheerde omstandighede uitgevoer word. Dit dien as ’n werkplek vir biologie, chemie, fisika, mediese wetenskappe en ander vakgebiede, en is noodsaaklik vir betroubare en herhaalbare resultate.
‘n Lutteltrap is die trappies teen een van die symure of agterste muur van die huis wat na die solder lei (luttel: woord van Nederlandse herkoms wat klein of mindere bedoel).
Maleisië is ’n land in Suidoos-Asië wat uit twee hoofdele bestaan: die Maleise Skiereiland (wes) en Oos-Maleisië op die Eiland Borneo. Godsdiens: Islam is die staatsgodsdiens, maar daar is ook groot Boeddhistiese, Christelike en Hindoe-gemeenskappe. Portugal, Holland en Brittanje het vir tye oor Maleisië geheers, hoofsaaklik om die Spesery-roete en handel in die Indiese Oseaan te beheer (sien Beiteltjie 1.2).
Maneuvreerbaar is ‘n woord wat uit Frans afgelei is wat amper dieselfde as “beweeglik” is, maar dit word algemeen gebruik om na die stuurbaarheid van ‘n voorwerp te verwys.
Maori is die inheemse Polinesiese volk en eerste bewoners van Nieu-Seeland, en hul taal, Te Reo Māori, speel steeds ’n kernrol in die land se kultuur en identiteit. Hulle voorsate het 11 meer as 1 000 jaar gelede vanaf ander Polinesiese Eilande na Nieu-Seeland gemigreer en het ’n ryk tradisie van mitologie, kuns, en sosiale organisasie ontwikkel.
Melanesië: Groot eilande soos Papua Nieu-Guinee, Vanuatu, Solomon-eilande, Fiji wat bewoon word deur mense wat van die suidelike eilande van Suid-Oos Asië oor duisende jare na hierdie eilande gemigreer het. Hulle is ‘n verskillende etnolinguistiese groep as die mense wat in Mikronesië en Polinesië bly.
Mikronesië is ’n substreek van Oseanië, noord van die ewenaar en oos van die Filippyne, bestaande uit sowat 2 000 klein eilande. Hulle is deel van die groot migrasie van mense wat van ongeveer 3000 jaar gelede uit Taiwan en Suid-Oos Asië gemigreer het en is verwant aan dieselfde etnolinguisitese groep as die Polinesiërs.
Militêr verwys na ’n georganiseerde gewapende mag wat ‘n land en sy belange teen eksterne bedreigings verdedig.
Mitologie is die verhale wat ’n volk, kultuur of godsdiens gebruik om die wêreld, die gode, die oorsprong van mense en natuurverskynsels te verduidelik. Dit is dus ’n stelsel van tradisionele stories wat dikwels bonatuurlike wesens, helde en skeppingsgebeure insluit.
Die Mogolryk is deur Babur ná sy oorwinning oor Sultan Ibrahim Lodi by die Eerste Slag van Panipat in 1526 gestig. Teen 1500 was Noord‑Indië deel van die Delhi‑sultanaat en verskeie plaaslike dinastieë, maar die opkoms van ’n nuwe ryk het later oor die grootste deel van die Indiese subkontinent geheers. Regering: ’n Moslem‑ monargie met ’n sterk sentrale administrasie, maar met ruimte vir plaaslike elites en nie‑Moslems in die burokratiese stelsel. Kultuur: ’n Mengsel van Persiese hoftradisies, Islamitiese bestuur, en Indiese kuns en argitektuur (bv. Taj Mahal, Fatehpur Sikri). Ekonomie: Gebaseer op landbou‑belasting en handel in tekstiele (veral Bengal se katoen en sy).
Die Nara Tydperk (710-794 n.C.) was ’n belangrike fase in Japan se geskiedenis waarin die land sy eerste permanente hoofstad, Heijō‑kyō (hedendaagse Nara), gevestig het en ’n sterk invloed van Chinese kultuur en Boeddhisme ervaar het. Dit was ’n tyd van politieke sentralisering, groot tempelbou en literêre skeppings wat die Japanese identiteit gevorm het.
‘n Natuurverskynsel is ’n gebeurtenis of verskynsel wat spontaan in die natuur voorkom, sonder dat dit deur mense veroorsaak word. Dit sluit tsunamis, aardbewings, storms, sneeu, son- en maanverduisterings, weerlig, noorder- en suiderligte ens. in.
Negentiende eeu is die manier wat mens na enige jaar tussen 1801 en 1900 verwys. Agtiende eeu sal na enige jaar tussen 1701 en 1800 verwys. Twintigste eeu is natuurlik dan enige jaar tussen 1901 en 2000. Dit klink nie reg nie, maar dit is hoe dit gedoen word. Oorlogsone is ‘n gebied waar oorlog gemaak word.
Papier is ’n dun, plat vel wat hoofsaaklik uit plantvesel (gewoonlik houtpulp en soms katoenvesels van verpulpte lap) gemaak word, en wat gebruik word om op te skryf, te druk of te verpak. Papier bestaan hoofsaaklik uit die sellulose afkomstig uit die plantweefsel.
Platteland verwys na die nie-stedelike dele van ‘n land. Die term is baie toepaslik vir die Vrystaat en groot dele van die Transvaal en groot dele van die Karoo waar die topografie maar redelik plat is, maar dikwels verwys mense bloot na nie-stedelike dele van die land.
Polinesiërs is ‘n etnolinguistiese groep wat die eilande van die sogenaamde Polinesiese Driehoek in die Stille Oseaan bewoon. Hulle het 3000-1000 jaar gelede, met behulp van katamarans van hulle tuisgebied Taiwan en Suidoos Asië verhuis en oor ‘n duisend eilande in die Stille Oseaan, vanaf Hawaii, tot Nieu Seeland, tot Paaseiland, gekoloniseer. Voor die koms van Europeërs, het hierdie gemeenskappe kontak met mekaar verloor, nie van
mekaar se bestaan (buiten vir naburige eilande) geweet of meer geweet waar hulle oorspronklik vandaan gekom het nie. In meeste gevalle het hulle ook die vermoë verloor om die reuse katamarans te bou waarmee hulle voorouers op die eilande aangekom het.
Radiokommunikasie verwys na wanneer mense met behulp van radiogolwe met mekaar kommunikeer. Dit word algemeen gebruik in lugvaart, seevaart en in ‘n oorlog of militêre oefeninge deur soldate. Burgerbandradio word op afgleë plekke, waar daar nie telefoonverbinding is nie, deur mense vir sekuriteitsredes gebruik.
Religieuse seremonies is seremonies of rituele wat ‘n sekere kulturele en filosofiese betekenis het wat met die geloof in die bonatuurlike te doen het.
’n Siter is ’n snaarinstrument met baie snare wat op ’n plat klankbord gespan is.
Steenkool is die koolstofryke oorblyfsels van plantmateriaal wat oor ‘n baie lang tydperk as deel van rotsformasies versteen. Dit word deur mense gebruik om masjiene, insluitende kragopwekkers, stoomenjins, metaalsmelterye en sementfabrieke se oonde te verhit, maar ook om geboue te verhit en in steenkooloonde kos mee gaar te maak. Allerlei produkte, insluitend plastiek, sintetiese rubber en sekere chemikalieë word uit steenkool vervaardig.
Sy kan na baie verskillende dinge verwys maar in hierdie uitgawe verwys ek na die proteïenoplossing wat die sy-mot Bombyx mori se ruspe (wat algemeen ‘n sywurm genoem word) afgeskei word. Die proteïenoplossing, wat deur die serikterium, ‘n spesiale speekselklier, afgeskei word, bevat twee proteïene: fibroïen (die sterk draad) en serisien (die gom wat dit bind). Die proteïene verhard in die lug om ‘n lang, baie sterk draad te vorm waaruit die kokon gebou word, sodat die ruspe daarbinne kan pupeer. Mense versamel die kokonne (met die papie daarbinne) en sit dit in warm water wat die serisien oplos, sodat die sydraad los kom wat dan versamel en opgerol word. Hierdie sydrade word dan geweef om sy te vorm wat vir allerlei dinge, soos klere, vlieërs en valskerms gebruik is.
Teiken is ‘n voorwerp wat meestal gemerk is om die sigbaarheid daarvan te verbeter waarna oor ‘n afstand geskiet word om te oefen of om wapens te toets. Dit kan ook na iets of iemand wat geteiken word verwys.
‘n Turbine is ’n masjien wat bewegende vloeistof of gas (soos stoom, water of lug) gebruik om ’n rotor met lemme te draai, en so met meganiese energie elektrisiteit opwek.
Die Tweede Anglo-Boereoorlog was ’n gewapende konflik van 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902 tussen Groot Brittanje en die twee Boererepublieke — die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) en die Oranje-Vrystaat. Dit het geëindig met ’n Britse oorwinning en die anneksasie van die republieke. Ongeveer 30 000 Boereplase word afgebrand, insluitende die huise en huisraad, vee is vrekgemaak en die landerye verbrand. Boervroue 13 en kinders is in oop veetrokke na konsentrasiekampe vervoer waar hulle in tente moes bly en waar 26 251 vroue en kinders, waarvan ongeveer 20 000 kinders onder 12 jaar was, van honger, siektes en blootstelling gesterf het. Tiene van duisende plaaswerkers (mans, vrouens en kinders) was ook deur die Britte gevange geneem en in aparte konsentrasiekampe gesit waar hulle ook in tiene van duisende omgekom het. Die oorlog het hoofsaaklik oor die oorname van die Witwatersrand-goudveld gegaan.
Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) was die grootste en dodelikste konflik in geskiedenis, waartydens 50–80 miljoen mense, meeste burgerlikes gesterf hets. Dit begin met NaziDuitsland se inval in Pole op 1 September 1939 en eindig ná die VSA atoombomme op Hiroshima en Nagasaki gooi wat Japan op 2 September 1945 tot totale oorgawe gedwing het. Verskeie faktore gee aanleiding tot die oorlog: Onopgeloste sosiopolitiese en ekonomiese sake na die afloop van die Eerste Wêreldoorlog, insluitende die onmoontlike groot skuldlas wat op Duitsland deur die oorwinnaars na die Eerste Wêreldoorlog afgedwing is om vir skadevergoeding te betaal, terwyl hulle Duitsland boikot. Die Groot Depressie wat volg het ekstremistiese nasionalistiese bewegings versterk. Fasistiese bewegings verskyn in Duitsland, Italië en Japan wat hulself die reg toeëien om hul grondgebied uit te brei. Japan verower Mantsjoerije (1931), Italië val Ethiopië binne (1935), Duitsland sluit Oostenryk by die groter Duitse Ryk (1938) in en val Oos Duitsland, wat na die Eerste Wêreldoorlog aan Pole as skadevergoeding gegee is, op 1 September 1939 binne om dit terug te vat. Brittanje verklaar oorlog teen Duitsland. Die Asmoonthede (Brittanje, Frankryk, VSA, Sowjetunie, China en hul bondgenote van talle ander lande, insluitende Suid-Afrika, veg teen Duitsland, Italië en Japan en hulle bondgenote. Ongeveer 19 miljoen soldate en tot 55 miljoen burgerlikes sterf. Koste: ±$1,000 miljard (ongeveer 100 triljoen Rand vandag). Groot dele van Eurasië moes herbou word, inlsuitende stede soos Dresden, Warskou, Nagasaki, Hiroshima.
‘n Valskermsoldaat is ’n soldaat wat met ’n valskerm uit ’n vliegtuig spring om vinnig en strategies in ’n gevegsones te land. Hulle vorm deel van lugmobiele of luglandingseenhede wat hul spoed en mobiliteit benut om die vyand te verras.
Vyf Dinastie PeriodeTydperk (907–960 n.C.) is ‘n tydperk van groot politieke onstabiliteit en versplintering na die val van die Tang-Dinastie. China het verdeel in ‘n noordelike magsblok wat deur die Vyf Dinastieë bestuur is, en die suide waaroor die Tien Koningkryke geheers het. Daar was groot politieke, sosiale en eknomoniese onstabileit in die noorde wat militêre heersers beheer het. Die koninkryke in die suide was stabiel en het kultureel en ekonomies
vooruitgegaan. Uiteindelik het Zhao Kuangyin, van die Song-dinastie, in 960 n.C. die suide en die noorde van China verenig.
Windenergieaanleg is ‘n ander woord vir windplaas.
‘n Windplaas is ‘n gebied waar daar ‘n groot hoeveelheid aaneengekoppelde windturbines opgerig is. Windplase verskaf elektrisiteit aan munisipaliteite of kragnetwerke.
‘n Windturbine is ’n masjien wat die kinetiese energie van bewegende lug (wind) omskakel na meganiese energie om elektrisiteit op te wek. Windturbines bestaan gewoonlik uit ‘n hoë toring met groot lemme gekoppel aan ‘n rotor wat deur die wind in die rondte gedraai word wat om die beurt ‘n generator draai wat elektrisiteit opwek. Talle aaneengekoppelde windturbines wek krag in windplase op om aan ‘n gebied of ‘n kragnetwerk krag te voorsien.
Die Knoffels

Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS
deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)
Hoofstuk 8: Hul geheim
So ‘n meter of vyftig van ou Wolheim se winkel is die huis van Barry Kantroos. Barry is een van
die ryk mense van Bitterwater en woon in ‘n deftige huis met deftige meubels. Hy hoef nie meer
te werk nie en kan van sy rente leef, maar Barry Kantroos is nie iemand wat ledig kan weees nie,
dus het hy met ‘n motorhawe begin. Dit heet die Kantroos Motor Works.
Barry is ‘n man wat seker 100 kg weeg, maar hy het ‘n groot vermoë om dag en nag te werk. Mense van die omliggende gebiede kom na Bitterwater vir die versiening van hul voertuie. Jan ag hom self baie gelukkig om so ‘n bekwame werktuigkundige op Bitterwater te hê.
Barry het agt kinders, drie seuns en vyf dogters. Die drie seuns werk almal by hom in die motorhawe. Die een dogter behartig die rekeninge in sy kantoor, die ander een, Bettie, is ‘n onderwyseres en die ander drie kinders is nog op skool. Barry Kantroos glo aan onderwys vir sy kinders.
Dis na Barry Kantroos se huis wat Jan so teen vyfuur die volgende dag stap. Hy groet Barry se vrou en verneem of Bettie daar is.
Bettie is ongeveer 24 en skraal. Sy dra ook ‘n bril met ‘n breë, donker raam.
“Sit Dominee Viljoen,” nooi sy vriendelik.
“Bettie, ek het vandag gekom om jou hulp te kry.”
“Ja, Dominee?” vra sy.
“My vrou wil baie graag hê Mias moet musiek neem. Ek het nie baie kennis van hierdie dinge nie, maar die mannetjie het glo talent. Hy speel sommer so van gehoor af. Hier is niemand in die buurt wat hom kan help nie en nou kom ek na jou toe. Hoe lyk dit, sal jy ons kan help?” vra Jan.
“As ek kan, Dominee,” sê sy beskeie.
“Daaroor twyfel ek nie, Bettie. Ek wil net hê jy moet baie streng wees. Die tweeling is nie ywerige leerlinge nie. Moenie skroom om by my of sy ma te kla nie. Hoeveel vra jy en hoeveel lesse per week sal jy aanraai?”
En so word daar die dag besluit dat Mias twee keer per week na Bettie Kantroos sal kom om met sy lesse te begin. Wat Sias en Mias se mening oor die saak is, het niemand gevra nie. Mias het talent en Mias moet musiek neem. So het die ouers besluit.
Toe die tweeling daarvan hoor, is hulle eers gou om die hoek van die huis na die boord.
“Ek wil nie musiek neem nie. Dan moet ek bedags oefen en daar soos ‘n ou meisie voor die klavier sit. Dis ‘n meisie se werk,” meen Mias. Tot Mias se verbasing sê Sias: “Ek wens dit was ek.”
Mias kyk na hom of hy nie mooi verstaan nie. Hy is so verbaas dat ‘n mens hom met ‘n veertjie kan omtik. Sias is dan die een wat nooit ‘n meisie se werk wil doen nie! Sias wat die ou meisies spot, wens nou dat hy musieklese kan neem! Sias kan darem net so goed speel soos hy, en as Sias dan sy plek wil neem, is dit goed so. Wie sal ooit weet as hulle net omruil.
“Jy kan gaan. Niemand sal weet nie,” sê Mias.
“Ons sal altwee gaan en dan spaar ons nog geld vir Pa. Eendag gaan jy en die ander dag
ek. Reg?” vra Sias.
“Reg,” sê Mias wat nou sommer baie lekkerder oor die saak voel. As Sias iets wil doen
kan dit nie so ‘n groot skande wees nie.
“Kom ons stap na Krisjan,” stel Sias voor wat nou nie meer lus het om by die huis te sit
nie.
“En die moordenaars?” vra Mias.
“Dis dag, jong. Hulle kan niks aan ons doen nie,” antwoord Sias.
Hier stap die twee, nog ‘n bietjie skrikkerig, maar hulle stap darem.
“Haai, Sias!” roep Koos Geyer agter hulle.
Die twee gaan staan want Koos is net die man wat hulle graag wil sien. Miskien het hy iets om vir hulle te vertel.
Koos Geyer hét iets om vir hulle te vertel. Toe die skelm vir hom van ‘n tweeling en hul maat vertel het, het hy dadelik alles vermoed. Hier is net een tweeling in die buurt wat daar in die berg sou speel. Koos het sommer baie dinge wat hy hulle wil vertel. Die tweeling het mos goeie koppe en netnou raai hulle die waarheid.
“Hoekom het jy gister weggehardloop toe my maat vir my kom kuier het? Jy weet, daar in die winkel?” vra Koos en kyk na die twee om die beurt. Hy is nie seker wie van hulle dit was nie.
Sias en Mias kyk ewe onskuldig na hom.
“Ek het nie geweet dis ‘n maat van jou nie,” sê Mias na ‘n rukkie.
“En die ander twee?” vra Sias.
“Ook maats van my. Kan julle twee iets vir julle self hou?” vra Koos en kyk die twee aan.
Mias kyk na Sias. Toe besluit hulle om te belowe.
“Dis so. Die polisie hou nie van my vriende nie en die polisie hou nie van my nie, soos julle weet. Nou moet ons vier versigtig wees, want hulle sal sommer sê dis Koos as daar iets in die dorp gebeur. Daarom moet julle tog nie ‘n woord sê nie,” sê Koos.
Mias skud sy kop. Hy sal nie ‘n woord sê nie, as Koos dit vra, en buitendien is hy bang vir
die drie vreemde mans.
“Is hulle nie moordenaars nie?” vra Mias en wil sommer weer bang word. Koos lag. Die twee het hulle seker doodgeskrik.
“Dis drie handelaars wat met ‘n perdekar vis smous. Partykeer met ‘n motor. As julle op Stellenbossie of die Pêrel kom, sal julle hulle in die strate sien as julle gelukkig is. Hulle smous maar so rond. Moordenaars! Moordenaars lyk nie so nie,” sê Koos verontwaardig. Dan voeg hy nog by: “Moordenaars is lelike mense.”
“Ou Wolheim is nie lelik nie en ou Wolheim wou sy vrou vermoor,” sê Sias.
“Nou ja. Dis reg wat jy daar sê. ‘n Moordenaar lyk nie na ‘n moordenaar nie. Ek het een geken en hy was ‘n baie mooi man,” sê Koos en probeer geheimsinnig wees.
“Wat was in die sakke, Koos?” vra Sias.
Dit is iets wat Sias al baie gehinder het. As dit nie drie kwaaddoeners is nie, dan sal hulle mos nie goed in die berg wegsteek nie. Koos moet dit vir hulle sê.
“Kooigoed en kos en voer vir hul perde,” sê Koos en kyk weg. “Hulle slaap baie nagte in die berg, want dis manne wat nie ‘n huis het nie.”
“Hoekom het hulle nie ‘n huis nie?” wil Sias weet.
“Ja, hoekom het hulle nie ‘n huis nie,” beaam Mias.
Koos sien hoe lastig dit gaan wees om die kinders tevrede te stel. Hy dink aan ‘n nuwe plan.
“Ek kry die drie jammer. Hulle het nie ‘n pa of ‘n ma nie. Daarom help ek die manne. Julle sal ook mense help wat nie ouers het nie,” antwoord Koos. “Buitendien moet plantjies in sakke en in die koelte gehou word,” voeg hy by.
Dis op Sias se tong om te vra hoekom die drie nie ouers het nie. Maar dan dink hy dat grootmense ook anders is as kinders. Hulle dink nie aan alles nie.
Toe hulle weer sien, stap Koos haastig aan na ou Wolheim se winkel. Die twee staan so ‘n rukkie besluiteloos en sien toe vir Martin Retief, die sersant van Polisie en konstabel Lotjie Baartman. Sias en Mias het ‘n groot vrees vir almal wat in polisieklere is en hulle is nou kwansuis baie besig met iets en wag dat die twee eers moet verdwyn.
Maar die twee is nie van plan om te verdwyn nie. Martin Retief kom reguit na die tweeling.
“Is jou pa by die huis?” vra hy kortaf.
Mias sluk en knik net sy kop. Daar is nie ‘n enkele dag wat hulle nie kattekwaad doen nie en nou wonder die twee van watter kattekwaad sersant Retief weet.
Sias vat Mias se hand soos hulle maak as die nood hoog is. Haastig stap die sersant en die konstabel na die pastorie.
“Ons moet weet wat hy vir Pa gaan vertel,” sê Sias.
Mias knik net weer met sy kop. Hy reken ook so. As die sersant sy pa wil sien, is daar groot moleste in die dorp en dit beteken dat hulle nou in die moeilikeheid is.
Sias en Mias luister hulle pa af net wanneer hulle wil. Die pastorie het ‘n riet- en brandsolder* en is nie so dig dat ‘n mens nie kan hoor nie. Dis na die brandsolder wat hulle hul nou haas. Versigtig klim hulle met die lutteltrap** op en kruip op hulle knieë tot hulle bokant die studeerkamer is. ‘n Man moet versitig wees want die stoffies sif neer en dus sal hul pa weet daar is mense op die solder. Hy het hulle ook al op ‘n keer so betrap.
“Ek sal die eerste een wees wat weet as hier vreemdelinge in die dorp is, Sersant,’ sê hul pa.
Sias en Mias kyk vir mekaar. Die sersant het dan gelukkig nie oor hulle twee kom kla nie, maar vreemdelinge. Dis seker die drie vriende van Koos.
- * Brandsolder: ‘n brandwerende plafon van klei of bakstene wat bo-oor ‘n riet, of plankplafon gelê is om die mense in die huis te beskerm wanneer die grasdak aan die brand raak. Dit kom algemeen in die ou Kaapse grasdakhuise voor.
** Lutteltrap: Die trappies teen een van die symure of agterste muur van die huis wat na die solder lei (luttel: woord van Nederlandse herkoms wat klein of mindere bedoel).

Koos Geyer dop, maar hy is ‘n ou kalant. Die man wat hom vastrap, sal uitgeslape moet wees.
Nou ja, Dominee, dan sal ons jou nie verder ophou nie,” sê sersant Retief.
“Koos Geyer het darem nou ‘n gereelde werk, Sersant. Ek bearbei hom persoonlik. Hy werk by ou Wolheim en laat ons tog maar hoop hy hou sy werk. Dit sal hom uit die kwaad hou,” sê hul pa.
Sersant Martin Retief lag en dit laat die twee weer na mekaar kyk. Hulle lê eintlik met die ore plat op die solder om mooi te kan hoor.
“Ek kry nou lag,” sê Martin Retief. “Die tweeling van jou, Dominee lyk presies eenders. Ken jy hulle darem uitmekaar uit?”
“Nee, Sersant, dit gaan swaar.”
Plat op die maag lê hulle nou.
“Ek wonder wat ek die twee gedoen het? Hulle is altyd so verskrik as ek met hulle praat.
Netnou weer. Ek sal hulle met lekkers moet koop. Ek hou baie van kinders en die twee lyk vir my na sulke oulike seuns.”
Hul pa lag weer en die twee kan nie verstaan waarom nie. Grootmense is die eienaardigste wesens onder die son. Hulle het mos die gewoonte om vir nonsens te lag. Hier is mos nie iets om oor te lag nie! Dink Sias en Mias.
“Maar onbruikbaar,” sê hul pa, “baie onbruikbaar. Hulle is seker bang vir jou. ‘n Kind is mos bang vir ‘n polisieman.”
Sias snuif vererg. Sy pa moet tog nie dink hy is bang vir ‘n poisieman nie. Waar kom sy pa aan hierdie gedagtes?
“Hulle hoef nie te wees nie. Ek is lief vir kinders. Volgende keer koop ek hulle om met lekkers,” antwoord die sersant.
Toe word daar gegroet en ‘n rukkie later is dit stil in die studeerkamer. Op hulle tone stap die tweetjies baie versigtig na die solderdeur, hou eers die omgewing dop en toe hulle dit veilig ag, klim hulle af. Hierdie saak het oordenking nodig. ‘n Man wil weet wat die sersant bedoel het. Daar is gepraat van vreemdelinge en daarvan weet hulle alles.
Hulle besluit om nie ‘n woord vir iemand te sê nie. Koos Geyer wat die taal van honde, katte en voëls verstaan, moet tog nie in die moeilikheid kom nie. Dis sommer ‘n baie groot geheim wat hulle in hul bors dra. Almal pik mos op Koos, maar hulle twee sal hom nie verklik nie.
“Sweer jy sal nie ‘n woord sê nie,” sê Sias.
Mias lek sy vinger nat en klap toe met sy vingers. Dis hulle manier van sweer. Sias is tevrede. Mias het nou net gesweer.
Maar hulle sal Koos waarsku. So besluit die twee daar en dan. Hy moet niks met die vreemdelinge te doen hê nie. Die sersant is op sy spoor.
Sias en Mias het gehoor dat Koos al een of twee keer in die tronk was en dit is vir julle onbegryplik. Koos is dan die beste mens op aarde. As die sersant net weet hoe ‘n goeie hart Koos het, sal hy nie sulke onwaarhede van Koos vertel nie.
Vandag het Koos twee bondgenote ryker geword. Wat is daar tog wat die tweeling nie vir
hom sal doen nie!
BAK EN BROU
Pampoenkoekies
Bestandele:
• 500 gram pampoen in stukke
gesny en gaargemaak.
• 2 eiers
• 45 ml geel of bruinsuiker
• 5 ml vanillageursel
• 140 g of een koppie (250 ml)
koekmeel
• ¼ teelepel sout
• 10 ml of 2 teelepels bakpoeier
• Genoeg olie of vet om die
pampoenkoekies in te braai
• Kaneelsuiker om oor te strooi.
• Bietjie bruismeel as jou mengsel te slap is.

Maak so:
• Stamp die pampoen fyn en laat dit afkoel.
• Roer die eiers, suiker en vanillageursel saam met die afgekoelde pampoen.
• Gebruik ‘n sif om droë bestanddele oor die
pampoenmengsel te sprinkel terwyl jy roer.
• Laat staan vir 10 minute – as jou mengsel
te waterig is kan jy ‘n paar desertlepels
bruismeel byvoeg tot die mengsel slap is maar nie loperig nie.

• Verhit die olie of vet in ‘n diep pan en dompel ‘n groterige lepel van die mengsel in die warm olie en vet en druk die bol plat met
die lepel se agterkant.
• Skep die gaar koekies met ‘n gaatjielepel uit
en sit dit op papierservette om oortollige olie of vet te dreineer.
• Sprinkel kaneelsuiker oor die pampoenkoekies.
• Skep die pampoenkoekies in ‘n bak en dis dit op. Dis lekker verby! Mens kan dit met jou gewone kos eet, of selfs as nagereg geniet.

TOEKA SE TYD 1
Die geskiedenis van Vlieërs
Vlieërs word al vir meer as 2 300 jaar gebruik. Die oudste vlieërs waarvan ons weet, was in Asië gebruik. Die eerste vlieërs was van ligte hout en sy gemaak en het soos valke gelyk en was dus Mu Yuan-vlieërs genoem. Mu is die Chinese woord vir hout en Yuan is die Chinese naam vir ‘n sekere tipe valk.
Vlieërs is oral op Polinesiese Eilande tot by Nieu-Seeland bekend. Dit word beskou as ‘n bewys dat vlieërs reeds bekend was toe die Polinesiërs, met hulle katamarans, 3 000 – 1 000 vC vanuit hulle oorspronggebied, wat vandag as Taiwan en Indonesië bekend staan, vertrek het en hulself op meer as ‘n duisend eilande in die Stille Oseaan gevestig het. Die manu tukutuku of voëlman-vlieër van die Maori van Nieu Seeland hieronder is ‘n voorbeeld van die Polinesiese vlieërs. Hierdie vlieër was tydens religieuse rites gebruik om met gode en voorvadergeeste, wat in die lug bly, te kommunikeer.

Papier is ongeveer 150 vC tydens die Han Dinastie in China ontwikkel, en vlieërs was van toe af met papier, wat oor houtrame gespan is, gemaak. Hierdie tipe vlieër was Zhi Yuan of ”papiervalk” genoem. Zhi is die Chinese woord vir papier.
Die eerste Chinese vlieërs was tydens oorloë deur groepe soldate gebruik om vir mekaar oor lang afstande seine te stuur. Vlieërs was ook gebruik om afstande te bepaal en om die rigting van die wind en die windspoed te bepaal. Volgens antieke Chinese geskrifte was daar selfs groot vlieërs gebou wat sterk genoeg was om soldaat op te lig sodat hy uit die lug die vyand in die verte kan bespied om te sien wat hulle aanvang.
.

Baie soorte vlieërs is na gelang van tyd in China ontwikkel wat vir vermaak en kulturele gebruike aangewend is.
‘n Musikale vlieër was meer as ‘n duisend jaar gelede in die Vyf Dinastie Periode in China ontwikkel. Hierdie vlieër, wat met bamboesfluitjies toegerus was, het in die wind gesing, en was die Fengcheng vlieër of ”windsiter” genoem. Dit is vandag steeds die mees algemene naam wat in China vir ‘n vlieër gebruik word.

Vlieërs speel ‘n belangrike rol in kulturele feeste in China, omdat hulle glo dat vlieërs bose geeste en ongeluk kan verdryf (mens moet egter die vlieër se toutjie los vir dit om te werk). Hulle glo ook dat dit goed vir mens se gesondheid is, ‘n spanningsverligter is en dat dit ‘n verhouding tussen die mens en die natuur vorm.
Daar is vier tipes Chinese vlieërs:
Plat vlieërs: is ‘n enkelvlak plat vlieër met ‘n vierkantige bamboesraam waaroor papier gespan is. Dit is tradisioneel ‘n vierkantige vlieër, maar soms word hulle in ses- of agtkantige of baie ander vorms gemaak. Hierdie vlieërs het gewoonlik lang sterte aan om hulle vlug in die wind te stabiliseer.


Die duisendpoot-vlieër wat uit talle plat vlieërs bestaan wat aanmekaar gekoppel is. Dikwels
word hierdie vlieër met ‘n draak se kop toegerus sodat die vlieër soos ‘n lang kronkelende draak
lyk. Volgens antieke Chinese mitologie het drake op wolke gery en reën gebring.
.

Hardevlerk-vlieërs: is vlieërs met bamboesrame wat met sy of papier bedek word. Hierdie vlieërs is op dieselfde manier, maar meer kompleks as die plat vlieërs gebou. Die papier of lap van die stert word bo deur twee stokkies geanker terwyl die onderste soom van die stert los in die wind wapper.

Sagtevlerk-vlieërs: Buiten vir die bamboesraam langs die boonste rand van die vlerke, bestaan die res van die vlieër uit lap of papier wat in die wind kan beweeg. Hierdie vlieërs wat dikwels in die vorm van diere is, het soms meer as een stel vlerke.


Chinese vlieërs kan in grootte tussen 30 cm tot 700 m wissel. In 2015 het ‘n Chinese span die Guiness Wêreldrekord behaal met die langste vlieër ter wêreld. Hierdie duisendpoot-tipe vlieër was 6 kilometer lank en het uit 2000 dele bestaan!
Volgens oorlewering het Boeddistiese monnike van China vlieërs na Japan in die Nara Tydperk (710-794 n.C.) gebring waar dit tydens religieuse rites gebruik was. Hulle het geglo dat hulle met behulp van boodskappe, wat op die vlieër geverf is, met die geeste in die lug kon kommunikeer soos in hierdie skildery hieronder (ek weet nie wat die mans regs op die dak doen nie, want hulle is nie besig om die vlieërs in die agtergrond te vlieg nie).

Vlieërvlieg het egter eers in die Edo Tydperk (1603 – 1867 n.C.) baie gewild in Japan geraak waar mense dit vir sport, vir praktiese doeleindes – soos om vis te vang en en vir religieuse seremonies gebruik het. Grootouers het dikwels vlieërs vir hul kleinkinders persent gegee tydens die Hatsuzekku Fees waar die gesondheid en welvaart van kinders gevier was. Verskillende streke in Japan het hul eie unieke vlieërontwerpe ontwikkel wat volksverhale uitgebeeld het of simboliese betekenis gehad het.
Miniatuur skilderytjies, wat uit die Mogolryk van 1526 – 1857 n.C. dateer, bevat van die oudste uitbeeldings van vlieërs. Volgens ‘n Indiese legende het ‘n verliefde jong man ‘n vlieër gebruik om liefdesbriewe aan sy beminde, wat buite sy bereik gehou was, te stuur.
Op die Mikronesiese Eilande in die Stille Oseaan gebruik vissermanne vlieërs om hulle vislyne ver oor die water uit te neem sodat hulle visse in die diepsee kan vang.
In Thailand stuur mense vlieërs, wat van geweefde blare gemaak is, om die noordoosterlike winde te noop om die jaarlikse monsoenreëns te bring.
Vlieërs het verder in Indië ontwikkel waar die veg-vlieër ontstaan het. Kompeteerders sal mekaar se vlieërs uit die lug probeer stamp of mekaar se toue met die skerp kante van hul vlieërs probeer afsny. Duisende deelnemers neem deel aan hierdie kompetisies tydens feeste soos die Makar Sankranti fees. Vlieërs word ook op ander feesdae in Indië gevlieg soos hieronder tydens die Verwelkoming van die Lente Fees.

Alhoewel Marco Polo, na sy besoek aan China in die dertiende eeu, vir mense in Europa van die vlieërs wat hy in China gesien het, vertel het, was mense nie juis daardeur geïnspireer nie. Later het Europese matrose in die 16de en 17de eeu vlieërs van Japan en Maleisië huis toe gebring, maar dit was as aandenkings en kuriositeite gesien en Europeërs het nie juis daarop ag geslaan nie.

Eers in die 18de en 19de eeu het Europeërs vlieërs vir wetenskaplike navorsing begin gebruik. Een van die bekendste eksperimente waarby ‘n vlieër betrokke was, was toe Benjamin Franklin (later president van die VSA), ‘n vlieër
met ‘n kopersleutel aan die nat tou vasgebind, tydens ‘n donderstorm gebruik het om te bewys dat weerlig uit elektrisiteit bestaan. Weerlig het die vlieër raakgeslaan en die kopersleutel het gegloei. Dit is ‘n baie gevaarlike eksperiment wat mense doodgeskok het wat die eksperiment daarna probeer herhaal het.
Die Amerikaanse vertoonkunstenaar Samuel Franklin Cowdery (later verander na Cody) het teen die einde van die negentiende eeu die Cody Oorlogvlieër ontwerp. Hierdie vlieër, kon soos die oorspronklike Chinese ontwerp, ‘n soldaat in die lug ophys, sodat hy vanuit die hoogte, die terrein, kilometers ver, kan bespied.


Cody het in 1901 sy patent aan die Britse weermag aangebied om in die Tweede AngloBoereoorlog teen die Boere te gebruik. Uiteindelik, na jare se gesloer, en dus na die afloop van die Tweede Anglo-Boereoorlog, het die Britse weermag vier van Cody se Oorlogvlieërs aangeskaf.
Dieselfde mense wat oorlogvlieërs gebou het, was ook by die ontwikkeling van vliegtuie betrokke en die oorgang van die een na die ander was vanselfsprekend. Die eerste vliegtuie was niks anders as groot selfaangedrewe vlieërs nie. Cody was vanaf 1907 betrokke by die ontwikkeling van die eerste vliegtuig – die British Army Aeroplane No 1, maar toe die weermag besluit om nie daarmee voort te gaan nie, het hy met sy eie fondse met die ontwikkeling van vliegtuie aangegaan. Cody het op talle eksperimentele vliegtuie gewerk en onder andere die rekord in 1910 opgestel vir die langste vlug in Engeland van ongeveer 300 km. Cody is in 1913 oorlede toe sy nuutste vliegtuig, die Cody Floatplane op ‘n toetsvlug neergestort het.

Die Madiot Sisteem, wat op die Cody oorlogvlieër ontwerp voortgebou het, is deur Kaptein Louis-Gabriel Madiot van die Franse weermag ontwikkel wat ‘n string groot vlieërs ingespan het om ‘n soldaat met ‘n kamera in ‘n mandjie hoog in die lug op te hys sodat hy fotos van vyandige bewegings en die omliggende terrein kon afneem.
Madiot, is in 1910, soos Cody in ‘n vliegongeluk dood, en sy navorsing en die ontwikkeling van die oorlogvlieër was deur JacquesThéodore Saconney van die Franse weermag oorgeneem. Die Saconney oorlogvlieërs wat ‘n verbetering op die Madiot ontwerp was, was gebruik om bewegings van vyandige troepe waar te neem, dele van die kuslyn van Frankryk te karteer, om fotos van oorlogsones af te neem en om antennas hoog in die lug op te hys om radiokommunikasie oor lang afstande moontlik te maak.
Die Britte, Franse, Italiaanse en Russiese Weermagte het almal oorlogvlieërs vir spioenering en kommunikasie tydens die Eerste Wêreldoorlog gebruik. Die Duitse Vloot se duikbote het oorlogvlieërs vir waarneming gebruik wanneer die duikboot na die oppervlak gekom het.
Mettertyd is oorlogvlieërs deur vliegtuie vervang wat hoër kon vlieg, verder kon sien, bewapen was en veiliger was.
Vlieërs is egter tydens die Tweede Wêreldoorlog deur Amerikaanse magte gebruik om te verhoed dat vyandige vliegtuie te laag oor hulle kon vlieg. Daarvoor was die Harry Saul se Barrage Vlieër aangewend. Pilote wat met hul vliegtuie in die see geval het, het die Gibson-Girl noodvlieër gebruik om vir hulp te sein. Die Paul Gerber Teikenvlieër was weer deur Amerikaanse magte gebruik vir teikenskiet.


Die eerste vliegtuie was nie veel anders as vlieërs ontwerp nie en het ook maar uit ‘n lapbedekte houtraam bestaan. Die grootste verskil tussen ‘n vlieër en die eerste vliegtuie was dat die vliegtuig ‘n enjin en wiele gehad het en nie soos vlieërs met ‘n tou vasgeanker was nie.


Die ontstaan van die vliegtuig was ‘n groot deurbraak en van toe af was vlieërs meestal nie vir militêre doeleindes gebruik nie, maar eerder vir pret, sport en in sekere lande vir religieuse seremonies gebruik.
Spesiale vlieërs soos Francis Rogallo se buigbare
vlerk en Domina Jalbart se stapelvlerk-vlieërs het oorsprong gegee aan hangvlieërs, ski-valskerms, sportvalskerms en moderne maneuvreerbare valskerms wat deur valskermsoldate gebruik word.


Hierbo sien jy seuns met hulle vlieërs tydens die depressie in Duitsland. Tydens die depressie het banknote minder werd geword het as die papier waarop dit gedruk is. Hierdie seun het met ‘n slim plan vorendag gekom – hy het sy vlieër met nikswerd banknote gemaak, omdat dit goedkoper was om dit so te doen as om papier met daardie note te koop (lees meer hieroor in: Waar kom geld vandaan? op: https://wereldomons.co.za/2023/05/22/waar-kom-geldvandaan/).
Gelukkig hoef jy nie so lank te wag tot dit met die Rand gebeur nie, dus, waarvoor wag jy? Gaan na bl. 30 en vind uit hoe jy jou eie vlieërs vir (maar nie met) ‘n appel en ‘n ei kan maak.
KOM SPEEL SAAM
Bou jou eie vlieër!
Almal kan nie bekostig om ‘n vlieër te koop nie (hulle kan tot duisende Rand kos), maar enigeen kan ‘n vlieër maak. Mens hoef nie baie aan ‘n vlieër te spandeer nie en mens kan dit met stokkies en weggooi-papier maak. Al wat mens nodig het is materiaal om die raam van te maak, iets om die raam te bedek, iets vir die stert en lyn om dit mee vas te maak. Natuurlik sal jy ander items soos lyn, draad, gom of kleefband nodig hê om die onderdele mee vas te maak. Ek verkies draad om die dele van die raam mee vas te maak.
Die raamwerk is die eerste en belangrikste deel van die vlieër. Dit moet lig maar sterk wees. Jy
kan rondhout, bamboes, veselglas-stafies of draad gebruik. Ek gebruik bamboes wanneer ek
kan, want vir sy gewig is bamboes die sterkste en goedkoopste materiaal wat jy kan gebruik –
en dit is die oorspronklike materiaal wat vir vlieërs gebruik is. Rondhout is sekerlik die swakste
materiaal wat mens kan gebruik, want die hout se grein loop skuins deur die stokkies en

wanneer jy dit vir pyle of vlieërs gebruik, breek die stokkie sodra dit iets soos die teiken of die grond tref, dus beveel ek dit glad nie aan nie.
Die Eddy-vlieër is die Amerikaanse weergawe van die Javaanse vlieër, maar in plaas daarvan dat dit ‘n geboë dwarslat soos die Javaanse
vlieër het, het dit ‘n vlak Vvormige dwarslat. In my weergawe is die dwarslat reguit maar die materiaal word nie styf oor die raamwerk gespan nie sodat dit steeds in die wind agter
die raamwerk kan uitbol. Mens kan die stert van enige ligte materiaal maak. Die stert verleen stabiliteit aan die vlieër sodat dit nie in die wind rondtol nie.
Mens kan amper enige sterk en ligte lyn vir die stuur van die vlieër gebruik.

Die Kisvlieër
Die kisvlieër is ‘n sterk, stabiele vlieër wat die beste in sterk wind vlieg. Dit is ‘n interessante
vlieër wat van die eerste vliegtuie geïnspireer
het. Dit is ook lekker om te sien hoe so ‘n groot
bonkige en redelike swaar voorwerp wat glad nie vaartbelyn is, so goed kan vlieg. Die kisvlieër was ook vir verskeie militêre toepassings vanaf die die begin van die vorige eeu gebruik (sien die artikel oor die Geskiedenis van Vlieërs).
Maak eers die twee kruise uit vier 550 mm stokkies of bamboese wat die kante van die kis gaan vorm. Maak dan die punte van vier 1,2m stokkies of bamboese aan die punte van die kruise vas.
Om te keer dat die raam van die kis skeef trek moet jy dit met toutjies wat oorkruis gespan word regstel. Daar is 2 diagonaal-gespande toutjies aan elke sy van die kis (die groen en pers toutjies in die tekening) en vier toutjies wat diagonaal aan binnekant die vlieër van een
teenoorstaande hoek van die kis na die ander
teenoorstaande hoek gespan is (die blou toutjies in die tekening).
Span ‘n toutjie aan elke kant rondom die buitenste rand van die kis. Span nog twee toutjies 400 mm van die kante, aan elke kant,
Gebruik hierdie toutjies om ‘n strook papier of
baie dun lap, wat bietjie langer as 1,2 m is
(sodat mens die las kan gom of vaswerk) en wat 400 mm breed oor die linker en regterkantste derde van die raam sodat dit soos die prentjie hiernaas lyk. Gebruik die toutjies om die papier of lap aan vas te maak.
Maak die toom 100 mm van die linkersy en 300mm van die regtersy vas. Die doel hiervan is om te verseker dat die kisvlieër skuins teen die wind hang sodat die wind deur die raam kan beweeg.
Lekker vlieg!
TOEKA SE TYD 2
Die Kapstylhuis

Kapstylhuise is reeds vir duisende jare in Europa gebou en dit is logies dat hierdie kundigheid deur die eerste Hollanders na die Kaap gebring is. Die oudste afbeelding wat ons van ‘n kapstylhuis het is ‘n rotstekening in die La Mouthe Grot naby Les Eyzies in die Dordogne-Streek in Frankryk, wat uit die Ystydperk dateer.
Daar is voorbeelde van kapstylhuise oral in Europa wat in skilderye oor die eeue uitgebeeld is. Die kapstylhuis was een van die heel eerste tipe huise wat deur die Hollanders aan die Kaap gebou is.
Die kapstylhuis is as tydelike woning deur talle trekboere gebruik. Boere het dikwels eers ‘n kapstylhuis gebou om tydelik in te bly terwyl hulle langsaan ‘n meer permanente huis uit klip
en klei gebou het, om later die oorspronklike kapstylhuis as ‘n stoorplek te gebruik wanneer
hulle in hul nuwe muurhuis ingetrek het.


Ander mense het permanent in kapstylhuise gebly, of ten minstens vir so lank as wat hulle op ‘n plek moes bly voor hulle aanbeweeg het.
Die oudste opgetekende voorbeeld van ‘n kapstylhuis in Suid-Afrika is op ‘n kaart van
Dasseneiland, wat uit 1656 dateer, te sien. Hierdie kapstylhuis was waarskynlik reeds in 1654, toe Jan van

Riebeeck mense na Dasseneiland gestuur het, gebou. Trouens, volgens beskrywings, het Jan en
Maria van Riebeeck self tydelik in ‘n kapstylhuis gebly toe die bouwerk aan die Fort nog aan die
gang was.
Mense het dikwels in ‘n kapstylhuis gebly, terwyl hulle die groter en meer permanente huis van klei en steen langsaan gebou het, wat mens ook op die
Dasseneiland-kaart kan sien. Die feit dat ‘n kapstylhuis veel goedkoper is en vinniger was om te bou as enige ander tipe permanente woning, is die hoofredes hoekom dit vir meer as drie eeue deur die volk gebou is. ‘n Kapstylhuis is basies soortgelyk aan die grasdak van ‘n gebou sonder die mure.
Die raamwerk bestaan uit 8 of meer pale of kapbalke wat in pare op hul bopunte met rieme vasgemaak is. Die kapbalke word so ‘n meter van hul boonste punte aan ‘n dwarslopende hanebalk vasgemaak. In sommige kapstylhuise is die kapbalke boaan ‘n nokpaal vasgemaak. Verskeie dwarslatte is aan lengtegewys aan die
kapbalke vasgemaak. Die vloerspasie onder die raamwerk is gewoonlik ongeveer 5 m breed by 7,5 m lank. Hierdie raamwerk is

dan met gras bedek wat met riempies aan die dwarslatte vasgemaak is. In sekere kapstylhuise was ‘n skuins windlat weerskante van die kapbalke aangebring wat die struktuur verstewig het en dit meer bestand teen verwringing tydens ‘n windstorm maak.
Die voor- en agterkante van die oorspronklike kapstylhuis was meestal konkaaf met ‘n inham waarin ‘n deur aangebring is – soos mens in talle van die kapstylhuise van Puntjie hierbo kan sien. Van die latere weergawes het voorste en agterste gewel gehad wat met planke of klip- en kleimure gebou is, waarbinne die deure en vensters ingebou is. Hierdie tipe verbouiing het dit ook moontlik gemaak om ‘n abba-oond of ‘n komyntjie met ‘n skoorsteen teenaan die kombuiskant van die huis te bou, meestal langs die voordeur wat na die ander kant van die
gewel geskuif is. Voorbeelde van hierdie tipe verbouiing is ook by Puntjie en Vermaaklikheid te sien. Mense het ook dikwels rame in die sykant van die kapstylhuis vir vensters of luike ingebou. Voorbeelde hiervan is ook in sommige van die kapstylhuise by Puntjie te sien.

Dit was ook algemeen dat mense ‘n lae muurtjie van sooie of klei en stene aan die binnekant van die kapstylhuis aan die kante aangebring het, wat dit sekerlik makliker gemaak het om die vloer te vee en die huis skoon te hou.

Daar is ook kapstylhuise wat ten minstens tot die laaste helfte van die vorige eeu as store op plase in die Heidelberg-Riversdale gebied in die Wes-Kaap, in die George-Oudshoorn gebied in die Oos-Kaap, in die Ladybrand Distrik in die Oos Vrystaat en in die Gatsrand-gebied (Carletonville gebied) in Suid-Transvaal gebruik is. Kapstylhuise is as wonings by Groenland in die Kranskop gebied in Natal tot so onlangs as 1875 gebruik. Vandag kan mens nog kapstylhuise in Vermaaklikheid en in Puntjie langs die Duiwenshoksrivier in die Wes-Kaap, sien.
Alhoewel hierdie beskrywing van ‘n kapstylhuis baie logies en eenvoudig klink, is daar mense wat nie met die terme saamstem nie. Die persoon wat die Wikipedia-artikel oor kapstylhuise geskryf het, glo dat die kapstylhuis net ‘n ander woord vir hartbeeshuis is wat heeltemal verkeerd is (sien die artikel oor die hartbeeshuis in die volgende uitgawe van Beiteltjie). Hannes Raath skryf in die SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 18(2) November 2004 dat die term kapstylhuis verkeerd is en verwys daarna as dakhuis en soms hartbeeshuis. Ek, soos meeste ander Afrikaanssprekendes, gebruik egter die term kapstylhuis aangesien dit is hoe dit in die volksmond bekend staan.
Bronne:
Walton, J. (1961). Homes of the Trekboers – The vernacular architecture of South Africa.
Lantern, Jaargang 11 (1) pp. 8-21.
Walton, J. (1981) The South African Kapstylhuis and some European Counterparts. Restorica,
Stigting Simon van der Stel. Jaargang 10, pp. 2-8.
KNIP EN PLAK
KAPSTYLHUISE

UIT DIE TUIN
Alles oor Pampoene
Pampoen verwys na die vrugte van sekere kultivars van skorsies (die oorkoepelende term) van die spesie Cucurbita pepo. Pampoene word gekenmerk deur hul dik, gladde tot geriffelde skille en dik vleis wat diep geel tot oranje van kleur is. Die vleis is besonder voedsaam en bevat Vitamiene A, B1, B2, B3, B6, C, E en K en minerale soos kalsium,
yster, magnesium, fosfor, kalium, natrium en sink. Oondgebakte pitte is ook eetbaar.
Pampoene en skorsies kom oorspronklik van Amerika. Na die ontdekking van die Amerikas, het Europeërs pampoene saam met ‘n spul ander groente (sien Beiteltjie 1.3)

van Amerika na Europa geneem waar dit verder veredel is. Pampoene het wêreldwyd saam met Europeërs versprei en nuwe kultivars het oral verskyn. Daar is tans ongeveer 200 pampoenkultivars bekend.
In Suid-Afrika is ‘n paar pampoenkultivars baie gewild en mens kan hulle orals op groentemarkte, plaasstalletjies, groentewinkels en kruidenierswinkels raakloop.
Die plat wit boerpampoen, soos hier langsaan, het blykbaar in SuidAfrika ontstaan. Dit staan selfs oorsee as boer-pumpkin bekend. Dit is spesiaal omdat mens hulle opmekaar kan stapel en so baie pampoene in ‘n beperkte ruimte kan berg.
Die Hubbard pampoen (sien die foto hieronder) het ‘n dik groen growwe skil en diep oranje vleis.
Die pampoen wat ek egter die meeste van hou is die botterskorsie, want dit is ‘n kleiner, langwerpige pampoen, maar het meer vleis per volume as die groter pampoene, omdat die binnste holte relatief kleiner is en daar dus meer vleis per volume is, terwyl die vaalpienk skil ook dunner as die ander pampoene se skille is, wat dit makliker maak om te oes, berg, op te sny en voor te berei as ander pampoene.

My pampoene kom dikwels in die komposhoop op, en dis verstaanbaar want pampoene hou van komposryke, goed-gedreineerde grond. Pampoene het egter baie sonlig en lugbeweging nodig en moet elke paar dae natgegooi word as dit nie reën nie.

Pampoene vrot maklik as die grond te nat word en en vir te lank nat bly en as daar nie behoorlike lugbeweging is nie.
Hou van die pitte volgende keer wanneer jy ‘n pampoen skoonmaak om gaar te maak. Berei ‘n oop lappie grond voor wat baie sonlig kry en waar die wind lekker kan deurwaai deur om dit om te spit en baie kompos in te werk. Plant jou
pitte daar en gooi jou lappie grond elke paar dae nat. Binne ‘n week of twee sal jy die jong pampoenplantjies sien opkom.

Wanneer die ranke lekker uitgroei begin dit blomme vorm. Daar is twee tipe blomme – die manlike blomme wat gewoonlik voor op die rank verskyn en die vroulike blomme met die dik vrugbeginsel onderaan.
Hieronder kan jy sien hoe die botterskorsie ontwikkel vanaf die blom se bevrugting tot wanneer die pampoen met sy dowwe vaaloranje skil reg is om te pluk.

KUNS & KUNSVLYT
Aartappeldruk

Al wat mens vir hierdie prettige en baie bevredigende aktiwiteit nodig het is: aartappels, ‘n skerp mes (passop – hierdie aktiwiteit moet met ouer-toesig plaasvind), verf, kwasse en papier.
Sny die aartappel in die helfte deur, maar sorg dat die snit presies reguit is anders maak die oppervlak van die aartappel nie oral kontak met die papier nie. Sny dan ‘n ontwerp op die gesnyde oppervlakte van die aartappel uit. Gebruik ‘n kwas om die plakkaatverf of akrielverf op
jou ontwerp te smeer voordat jy dit op die papier druk. Jy moet elke nou en dan weer verf opsit.
Gebruik wit of bruin papier of ongedrukte koerantpapier vir die drukwerk. Het jy geweet dat jy
nou die papier met jou drukwerk kan gebruik om geskenke toe te draai? Jy kan dus unieke en
baie spesiale geskenkpapier vir enige geleentheid maak!
Hieronder is ‘n paar voorbeelde wat ons vir die pret gemaak het om vir julle te wys hoe dit lyk.
Soos jy in die foto van die liewenheerbesies sien, kan mens jou ontwerp verder met ‘n pen,
kleurkryt of verf versier. Ek het kolle, ogies en voelers bygesit.



BLOKRAAI

1. Voorwerpe in huise waaruit water kom.
2. Insinking in die ekonomie.
3. Die versamelterm vir al die kragsentrales, substasies en hoëspanningsdrade in die land.
4. ‘n Dubbelromp seilskip waarmee die Polinesiërs die Stille Oseaan Eilande gekoloniseer het.
5. Metaalvoorwerp waarmee radioseine opgevang word.
6. ‘n Voorwerp waarmee ‘n elektriese lading gestoor kan word.
7. Die inboorlinge van Nieu Seeland.
8. Water wat onder die grond voorkom.
9. Beweeglik.
10. Outydse snaarinstrument.
11. Iets wat gevra word.
12. ‘n Speelding wat met behulp van die wind in die lug vlieg.
13. ‘n Aanleg waar elektrisiteit met behulp van die splyting van atome opgewek word.
14. ‘n Instrument wat met behulp van induksie elektrisiteit opwek.
15. ‘n Dun vel van sellilose waarop mense kan skryf.
16. Die trap aan die kant of agter die huis wat na die solder lei.
17. ‘n Inboorling van eilande in die Stille Oseaan soos Hawaii, Paaseiland en Nieu Seeland.
18. ‘n Skaars of eiesoortige voorwerp.
19. Die toestel waarmee grondwater op plase uitgepomp word.
20. Brandstof wat algemeen in vragmotors, trekkers en skepe gebruik word.
21. ‘n Ander woord vir gedagtes.
22. ‘n Instrument waarmee koring en gars tradisioneel afgesny is.
23. Die tipe kragopwekker wat met wind aangedryf word.
24. Die voorwerp waarna mense skiet om te oefen.
25. Iets of iemand wat nie wil saamwerk nie.
26. ‘n Groot versameling aaneengeskakelde windturbines.
27. Iets wat swaar is.
28. Wanneer mense met behulp van radios met mekaar praat.
29. Die sterk draad wat deur sywurms vervaardig word en wat, veral in die verlede, voor die
koms van moderne tekstiele, vir klere, vlieërs en valskerms gebruik is..
Die Raaisel van die Drie Vlieërs

Drie neefs vlieg hul vlieers in ‘n oop veld.
Elke vlieer het ’n ander kleur: rooi, blou en geel. Die wind waai sterk en veroorsaak dat die vlieers se drade verstrengel en die vlieërs val op die grond.
Jy hoor die kinders praat, terwyl hulle die drade probeer ontkoek:
Die neef van Boksburg sê: “Ek het nie die rooi vlieër nie.”
Die neef van Benoni sê: “My vlieër is die gele.”
Die neef van Germiston sê: “Die rooi vlieër is myne.”
Maar een van hulle jok altyd, terwyl die ander twee altyd die waarheid praat.
Wie s’n is die bloue?

BRIEF AAN OUERS

Genetiese outisme en virtuele outisme
Outisme onder kinders in die VSA het van 4 in 10 000 in die 1970’s tot 1 uit 36 in 2025 gestyg. Sommige mense probeer ander oortuig dat dit bloot danksy beter moderne diagnosemetodes is, wat baie meer gevalle van outisme kan identifiseer as wat in die 1970’s moontlik was, maar dit verklaar nie die jaar-na-jaar styging in outisme oor die laaste dekade, waartydens die sogenaamde “meer inklusiewe, genuanseerde diagnosemetodes” gebruik is, nie. Iets is besig om met ons kinders te gebeur en meeste mense is te oningelig, moedswillig of te bang om die ooglopende rede daarvoor uit te wys.
Die rede vir hierdie dramatiese toename van outisme in mense wat na 2000 gebore is, is die kinders se blootstelling aan digitale toestelle wat vanaf 2000 toenemend meer algemeen in huishoudings en skole geword het. Kinders, en veral kleuters, se blootstelling aan digitale toestelle, veroorsaak permanente breinskade wat fisies in breinskanderings waargeneem kan word en in hierdie kinders se beperkte vermoëns om te kommunikeer, met probleemoplossing, uitvoerende funksie en impulsbeheer waargeneem kan word (sien Beiteltjie 1-7).
Hierdie simptome van neurologiese disfunskie is identies aan dié in kinders wat met genetiese outisme gediagnoseer is. Die term wat vir digitaal-veroorsaakte outisme gebruik word is virtuele outisme. Wêreldwyd verkeer die onderwysstelsel in ‘n krisis weens hierdie verskynsel. Navorsing toon dat skoliere in die VSA en Europa al vir meer as ‘n dekade al hoe slegter in alle vakke doen, al hoe minder geletterd is, swakker in wetenskap en wiskunde doen en selfs swakker in IK toetse doen as ooit vantevore. Weens hierdie krisis het Finland en Swede besluit om alle digitale toestelle, selfs vir opvoedkundige programme, uit skole te verwyder, maar meer hieroor in ‘n volgende uitgawe van Beiteltjie.
In my opinie is virtuele outisme die grootste bedreiging vir beskawing en die voortbestaan van die mens en veel erger as besoedeling of klimaatsverandering is.
François Durand
Rig alle korrespondensie aan: beiteltjie@yahoo.com
Bronne:
Bongurala, A.R. & Kadam, S.J. (2025). Virtual Autism: The Digital Dilemma for Child Development. International Journal of Early Childhood Special Education (INT-JECSE), Vol 17, Issue 01 2025.
Kushima, M.; Kojima, R.; Shinohara, R., et al. (2022). Association between screen time exposure in children at 1 year of age and autism spectrum disorder at 3 years of age: The Japan environment and children’s study. JAMA Pediatrics, 176(4), 384–391.
Ozyazici, K. (2026). Screen time and autism-like symptoms in early childhood: Examining the concept of virtual autism. Acta Physiologica, 268 (2026) 107285.
Volgende maand in Beiteltjie
Vind alles uit oor wind en windenergie.

Vind alles uit oor blomme!
Sias wil die eerste
persoon van Bitterwater
word wat na die maan
gaan…
Leer meer oor
Voortrekkerhuise
Leer hoe om Giffie te
speel!

Vind uit hoe belangrik goggas vir jou tuin is.







Bestel direk van die uitgewers: https://naledi.co.za/boekwinkel/

