Hoesê?
Leer elke maand nuwe Woorde en Uitdrukkings om jou woordeskat te groei.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Agaat is ’n tipe klip wat uit lae van verskillende kleure bestaan. Hierdie baie mooi klip was vanaf die Antieke tye gebruik om juweliersware, ornamente en albasters van te maak.
Alabaster is nie ’n woord wat na spesifieke tipe klip verwys nie, maar word gewoonlik gebruik om sekere sagte gesteentes soos gips of kalsiet, wat lagies van twee verskillende kleure besit te beskryf. Omdat dit so maklik is om te kerf en te poleer was alabaster reeds vir duisende jare gebruik om beeldtjies, juweliersware en albasters (vandaar die woord albaster) te maak.
Beeldetuin is ’n tuin vol beelde wat veral by die paleise van baie ryk mense soos hertoë, prinse en konings was. Dit was veral populêr in die Renaissance. Danksy die feit dat hierdie mense kunswerke van vorige beskawings soos die Grieke en die Romeine versamel het, het hierdie beelde so bewaar gebly in ’n tydperk voor daar museums was.
Brandsolder is die laag van klei, en in sommige gevalle bakstene, wat bo-oor ’n riet of plankplafon gelê was. Die brandsolder was brandbestand en het gekeer dat die mense in die huis verbrand as die grasdak van die huis aan die brand raak en bondels brandende gras na onder val. Dit was ’n algemene kenmerk van ou Kaapse huise.
Essie is ’n klein ysterraamwerk wat van stewige yster gesmee is en in vuurherde of op oop vure gebruik was. Essies bestaan gewoonlik uit ’n driehoekige raam met drie pootjies wat mens tussen die kole staan maak. Die boonste driehoekige raam is breed genoeg vir ’n pot of ketel om op te staan. Ons voorsate het so hulle kos op kole gaargemaak.
Graan sluit in: rys, koring, mielies, sorghum, gars, rog en hawer, wat mense duisende jare gelede uit wilde grasse veredel het. Graan is die stapelvoedsel van meeste mense op aarde.
Kapel is ’n kleiner deel van ‘n kerk of ’n kamer in ‘n gebou soos ’n tronk, hospitaal of skool waar Christene bid, uit die Bybel voorlees, sing of soms kerkdienste hou.
Kaskenades verwys na uitbundige kinderpret of speelse gedrag veral van kinders.
Kiestande is die tande agter die slagtande. Hierdie tande word gewoonlik deur soogdiere gebruik om kos mee fyn te kou. Die kieste keer dat die kos, wat deur die kiestande gekou word, by die mond uitpeul. Kiestande het gewoonlik knobbels of riwwe op wat help om die kos fyn te maal. Kiestande is die versamelnaam vir maaltande en voormaaltande.
Knaagdiere is soogdiere met twee skerp snytande in die bokaak en nog twee in die onderkaak. Hulle het ook kiestande om mee te kou maar geen slagtande. Meeste knaagdiere word deur muise en rotte verteenwoordig, maar daar is ook baie ander vanaf die marmotte, blesmolle, hamsters en eekhorings, tot die grotes soos ystervarke, bewers en capybaras.
Makgemaak is ’n ander woord vir domestiseer. Diere, wat oor eeue, selfs duisende jare deur mense uitgekies is vir hulle nuttige eienskappe, begin naderhand anders te lyk en op te tree as hulle wilde voorsate in die natuur. Beeste kom van die Eurasiese oeros af, maar lyk al heelwat anders, want beeste is kleiner en minder aggressief maar het meer vleis en meer melk vir hulle grootte as hulle voorsate. So het die mens ook skape wat meer vleis en meer wol as hulle wilde voorsate het geteel, en so het ons honde uit wolwe geteel wat minder wreed en makker as wolwe is. Soms is daar diere, soos muise en rotte, wat saam met mense leef, wat ons nie gekies het nie, maar wat ons huise gekies het om in te bly en het so by ons gewoontes en omgewing aangepas.
Marmer is ’n tipe klip wat gewoonlik wit is, maar dit kan ook grys strepe of vlekke in hê. Marmer word dikwels vir plaveisel, muur- en vloerteëls gebruik. Omdat dit sagter as meeste ander tipes klip is, kan dit met beitels en raspers gevorm en daarna glad gepoleer word om pilare, handreëlings en versierings te vorm wat in geboue gebruik word. Marmer was ook vir duisende jare deur, onder andere, Egiptenare, Grieke en Romeine gebruik om beelde van te kerf. Albasters was ook in die verlede uit marmer gemaak en dit is die rede hoekom Engelse dit marble, die Engelse woord vir marmer, noem.
Roofdiere is diere wat ander diere jag om te eet. Dit is anders as aasdiere wat ook vleis eet, maar gewoonlik nie die prooidier doodbyt nie, maar die vleis van diere wat reeds deur ’n roofdier doodgemaak is, eet. Roofdiere en aasdiere is beide vleisvreters.
Slagtande is die twee lang, skerp tande agter die snytande. In meeste soogdiere steek die slagtande verder uit as die res van die tande voor en agter dit. Roofdiere gebruik die slagtande om hulle prooi dood te byt. Dikwels sal plantvreters soos seekoeie en zebras hulle slagtande gebruik om hulself teen aanvallers te beskerm of kompeteerders te byt.
Snytande is die voorste tande in ’n soogdier se mond. Die getal snytande wissel van groep na groep. Knaagdiere het byvoorbeeld twee snytande in hulle bokake en twee in hul onderkake. Hase het weer vier snytande (twee kleintjies agter die twee grotes) in hulle bokake en twee in hul onderkake. Dassies het, net soos olifante, twee snytande in hulle bokake, terwyl hulle vier snytande in hulle onderkake het. Mense het, net soos ape, vier snytande in hulle bokake en vier in hulle onderkake. Honde en katte het ses snytande in hulle bokake en ses in hulle onderkake. Snytande word gebruik om mee te hap of ’n prooidier vas te gryp.
Soogdiere is diere wat hulle kleintjies soog. Met ander woorde die moederdier het melkkliere en die babas drink melk van haar. Hulle is ook warmbloedig, en het hare, al is daar min daarvan op dolfyne en walvisse sigbaar. Die kleinste soogdiere is die wimperspitsmuis en die Thaise varkneusvlermuis wat maar ongeveer 2 gram weeg en in ’n vuurhoutjiedosie kan pas, en die grootste soogdier is die blouwalvis wat tot 30 m lank kan word en tot 180 000 kg weeg.
Swart Dood is die algemene naam vir builepes wat tussen 1346 tot 1353 ongeveer 70 miljoen mense in Europa (ongeveer helfte van die mense wat in daardie tyd in Europa was) se lewens geëis het. Die siekte was veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis, wat deur middel van die rotvlooi van rotte na mense oorgedra is.
Renaissance (“hergeboorte” in Frans) verwys na die tyd na die Middeleeue in Europa van die 14de tot die 17de eeu. Hierdie tydperk word gekenmerk aan die herlewing en ontwikkeling van wetenskap, musiek en kuns.
Ruïnes is die oorblyfsels van ou vervalle geboue.
Selfversorgend is die woord wat mense wat hulself op verskillende gebiede kan versorg, beskryf. Hierdie mense sal byvoorbeeld hulle eie kos maak en preserveer, hulle eie huise bou en hulle eie klere en voertuie maak. Die Voortrekkers was selfversorgend.
Uitgawe 2 – Februarie 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Baaldraad is draad wat gebruik word om hooi, gras, katoen of wol in bondels of bale vas te bind.
Beslag kan verskillende goed beteken. Wanneer dit met bak en kook te doen het, verwys beslag na die aangemaakte deeg voor dit gebak word.
Blomskerm is ‘n tros blomme op ‘n plant waar al die blomstele vanuit ‘n gemeenskaplike punt ontspring en min of meer dieselfde lengte het sodat die blomme saam in ‘n bol of ‘n plat laag gerangskik is. Voorbeelde van plante met blomskerms is keiserskrone, gifbolle, uie, wortels en koljander.
Bo-kruier is ‘n tipe windmeul waarvan slegs die boonste kap, met die wieke, na die wind gekrui of gedraai word. Toringmeule en stellingmeule is bo-kruiers.
Grondseiler is ‘n tipe windmeul wat klein genoeg is dat die meulenaar op die grond rondom die windmeul kan stap om die dak te krui en om van die grond af teen die wieke op kan klim om dit op te seil.
Hamermeul is ‘n meul waar groot meganiese hamers met behulp van elektrisiteit, stoom, water of wind aangedryf word.
Immigrant is iemand wat van ‘n ander land hiernatoe gekom het. Mense wat van hier na ‘n ander land verhuis, word ‘n emigrant genoem.
Indiese ink is oorspronklik ‘n tipe swart ink wat 3000 jaar gelede in China ontstaan het. Dit word van lamproet gemaak wat in water gemeng word. Dit word dikwels as ‘n inkstokkie of ‘n tablet verkoop wat mens met water kan oplos om weer vloeibaar te maak. Dit word met penne en kwasse vir skrif, kalligrafie en kuns gebruik. Deesdae kom Indiese ink ook in rooi, blou en groen voor.
Kafnaald is die lang haaragtige struktuur wat aan grassade vasgeheg is waarmee die wind dit opskep en wegwaai en sodoende versprei.
Koester is wanneer jy iemand of iets beskerm en vertroetel.
Krui verwys hier na die dra, stoot of sleep van iets swaar. ‘n Kruier is iemand wat swaar goed dra of stoot. ‘n Kruiwa word gebruik om swaar goed te vervoer. Windmeulens se wieke was na die wind gekrui. Krui kan ook verwys na dele van plante soos tiemie, salie en roosmaryn, wat vir smaak by kos gevoeg word.
Lêersteen is die onderste steen in ‘n maalkoppel. Hierdie steen lë onder die lopersteen wat beweeg. Koring word tussen die twee stene gemaal.
Lopersteen is die boonste steen in ‘n maalkoppel. Hierdie streen word bo-op die leêrsteen in die rondte gedraai om die koring tussen die twee stene te maal.
Maalkoppel verwys na die lêersteen en lopersteen tesaam.
Middelkruier is ‘n tipe windmeul wat bo-op ‘n gebou opgerig is. Die hele romp van die windmeul word na die wind gekrui.
Onderkruier is ‘n klein tipe windmeul soos ‘n tjasker waarvan die hele stellasie na die wind gekrui word.
Opseil is die proses waartydens seile oor die wieke van ‘n windmeul gespan word, sodat dit die wind kan vang en in die rondte draai.
Panemoon is ‘n oudtydse tipe Arabiese meul waarvan die vinne vertikaal rondom ‘n vertikale as in ‘n boonste windkamer gerangskik is. Wanneer die wind deur ‘m gleuf in die windkamer inwaai draai die vinne wat die as draai wat om die beurt die lopersteen in die meulkamer onder die windkamer draai.
Restoureer is die proses waarmee iets wat oud en verwaarloos is, herstel word.
Saagmeul is ‘n meul met saaglemme waarmee stompe in planke gesaag word.
Samara is sade wat aan ‘n vlerkie gekoppel is. Hierdie sade spin in die rondte soos helikoptertjies wanneer hulle afval of deur die wind geskep word.
Soettand is iemand wat baie van soetgoed soos lekkers en koekies hou.
Spil is ‘n metaalstaaf of houtstaaf of paal wat iets in die rondte draai.
Stellingmeul is ‘n groot tipe windmeul wat so halfpad op ‘’n platform het waarop die meulenaar kan loop om die kap met die wieke daarop na die wind te krui. Die meulenaar gebruik ook hierdie platform om die wieke op te seil. Hierdie windmeulens is dan ook bo-kruiers want die romp kan nie gekrui word nie.
Tjasker is die kleinste meul wat ‘n wiekspan van 2-3 m het. Tjaskers word gebruik om water met behulp van ‘n Archimedes skroef te pomp.
Toringmeul is ‘n meul waarvan die romp van klip of stene gebou is. Toringmeule is uiteraard ook bo-kruiers want die romp is onbeweeglik.
Wieke is die regte benaming vir die arms van ‘n windmeul.
Wiekkruis is die vier wieke van ‘n windmeul saam.
Uitgawe 3 – Maart 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Aleuron is die buitenste proteïen- en mineraalryke sellagie van die kiemwit van grassade en graansade, soos mielies, koring en hawer wat onder die saadhuid geleë is.
Bewerkbaar verwys na grond wat vrugbaar genoeg is om landbou te onderhou. Dit bedoel ook dat daar genoeg water moet wees om die plante nat te lei of te besproei.
Biobrandstof is brandstof wat van plante of mis gemaak word. Die plante wat hiervoor gebruik word bevat baie suiker – soos suikerriet, of stysel – soos mielies of olie – soos sonneblom. Etanol word van die suiker of stysel van suikerriet en mielies vervaardig.
Blokhuis is ‘n klein fort wat deur die Britse weermag in Suid-Afrika tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog tussen 1901 en 1902 opgerig is. Daar was hoofsaaklik twee tipes: ‘n ronde een wat van sink gebou was en reghoekiges van 6×6 met twee of drie verdiepings wat uit sink of uit klip en sement en met ‘n sinkdak gebou is. Die sink blokhuise se wande het uit twee sinkplaat-sillinders bestaan waavan die kleiner een binne die groter een gepas het. Die 15 cm ruimte tussen die twee wande is met gruis opgevul om te keer dat koeëls deur dit gaan. Daar was ongeveer 8 000 blokhuise wat in rye oor die land gebou is gebou is. Die blokhuise was 400m tot 1 000m van mekaar opgerig en daar was doringdraad tussen-in. Dit was bedoel om die beweging van die boerekrygers te stuit.
Britte is mense van die Verenigde Britse Koninkryk of Brittanje. Die meerderheid van hierdie mense is Engelse en dus het ons hulle ook sommer Engelse genoem. Daar is egter ook Skotte, Iere en Walliesers, wat saam met die Engelse die Britse bevolking opmaak, nadat die Engelse hulle oor eeue een vir een verslaan het en hulle lande oorgeneem het. Hierdie ander volke stem egter nie met die Engelse onderdrukking van hulle en ander volke saam nie, en alhoewel daar Skotte was, wat aan die kant van die Engelse teen die Boere geveg het, het Iere saam met die Boere teen die Engelse tydens die Anglo-Boereoorlog geveg.
Etanol is ‘n tipe alkohol wat vir brandstof, veral biobrandstof, gebruik word.
Floreer bedoel gedy of om goed te doen, te groei, voort te plant en aan te was.
Gesogde bedoel iets wat bo ander verkies, uitgesoek of begeer word.
Inboorling is iemand wat oorspronklik in ‘n land gebly het. Boesmans is inboorlinge van Suider Afrika, almal anders is inkommers wat hul oor die laaste 2 000 jaar hier gevestig het.
Kiemwit is die styselbevattende selle in sade. Dit verskaf die energie en voedingstowwe aan die groeiende plantembrio wanneer die saad ontkiem.
Kommando is groep bewapende en gewoonlik berede (te perd) burgers.
Krygsgevangenes is soldate of krygers wat tydens ‘n oorlog gevange geneem is.
Kultivar is ‘n plantvariasie wat deur die mens geselekteer (oor dekades en selfs eeue uitgekies) is, omdat dit sekere kenmerke besit wat gesog is. Soos groter, soeter vrugte, graanare wat groter is en groter sade dra, of groente wat minder bitter smaak.
Kwasiorkor is ‘n dodelike siekte waaraan kindertjies in lande ly waar mense nie verstaan dat klein kindertjies vleis of goggas in plaas van pap moet eet nie. Wanneer ‘n nuwe baba gebore word, word die vorige baba net mielepap gevoer, wat benewens stysel, amper geen ander voedingswaarde het nie en nie die kind se been- en spiergroei kan handhaaf nie. Sonder melk of vleis ontwikkel die kleuter ‘n reuse buik weens die opbou van water in sy lyfie en gaan mettertyd dood van wanvoeding.
Lekkerny is enigiets wat lekker is, dikwels is dit lekkergoed, maar dit kan eintlik enigiets wat lekker is, selfs ‘n tipe vleisgereg, insluit.
Polenta is ‘n mieliegereg wat in Noord Italië as stapelkos geëet word. Dit lyk soos slappap en dit word saam met vleis- en groentegeregte geëet.
Produsent verwys na iemand wat iets produseer. Dit verwys gewoonlik na iemand in landbou soos ‘n boer of koöperasie wat ‘n sekere landbouproduk soos vrugte, groente, eiers, melk, vleis, wol of katoen beskikbaar stel. Dit is nie dieselfde as ‘n vervaardiger en ook nie heeltemal dieselfde as ‘n verskaffer nie.
Saadhuid is die lagie buite-om ‘n saad. Dit beskerm die saad teen goggas, swamme, bakterieë en uitdroging.
Selekteer is die dekade-, tot eeuelange proses waartydens boere sekere gesogde mutasies van plante en diere uitkies en dit gebruik om aan te plant of te teel, terwyl die ander plante en diere wat nie dieselfde kenmerk het nie, geëet word. Sodoende het ons koeie met reuse uiers wat baie meer melk verskaf as wat buffels byvooorbeeld kan verskaf, skape met dikker wol as wat enige ander bok in die natuur nodig het en groente en vrugte wat baie groter en soeter as hulle wilde eweknieë is. Hierdie seleksieproses word ook die veredeling van plante genoem en makmaak van diere genoem.
Stapelvoedsel is kosse wat die grootse deel van mense se dieët uitmaak. In Asië is dit rys, in Afrika is dit mielies en sorghum, in die Midde Ooste en Europa is dit koring en in die Amerikas is dit mielies en aartappels. Boesmans en Inuïete eet vleis as stapelvoedsel.
Stikstof is ‘n chemiese element. Dit is die stof wat die grootste gedeelte (78%) van ons atmosfeer opmaak. Dit is ook ‘n belangrike bousteen van lewe. Stikstofbindende bakterieë in die grond verskaf stikstof aan plante. Hierdie bakterieë kom ook in knoppies op boontjiewortels voor wat voordelig vir bone, maar ook ander plante in die omgewing is.
Stysel is glukose wat in lang kettings in plante voorkom. Dit is ‘n belangrike voedingstof in plante en verskaf energie en boustene aan die plant. Sekere diere kan die stysel uit plante verteer en as energiebron benut. Stysel word in spesifieke organe in plante, soos in sade en knolle geberg. Hierdie organe word deur mens en dier benut om stysel te kry.
Tortilla lyk soos ‘n pannekoekie wat in Sentraal Amerika ontstaan het. Dit word van mieliemeel gemaak en op ‘n plaat (oorspronklik ‘n plat klip) gebak. Dit word saam met ander kosse bo-op of binne-in ‘n oorgevoude tortilla geëet.
Truffel is ‘n tipe knolswam wat ondergronds voorkom. Hierdie skaars maar gesogde swam is meer werd as goud en word gewoonlik slegs in die duurse restourante opgedis. Spesiaal opgeleide honde en varke word deur truffeljagters gebruik om hulle uit te snuffel.
Uitgawe 4 – April 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Affuit is die onderstel van ‘n kanon. Dit kan wiele hê of nie.
Al-Andalus, ook bekend as Andalusië was die Moslem-beheerde deel van die Iberiese Skiereiland. Arabiere van die Magreb het die Iberiese Skiereiland in 711 n.C. binnegeval en die Visigote, wat daar gebly het verslaan. Hierdie Arabiere van die Omajjadiese Kalifaat het oor die grootste gedeelte van die Iberiese Skiereiland tot 1492 geheers tot hulle uiteindelik, na ‘n reeks oorloë met die Christelike koninkryke van Kastilië, León, Navarre, Aragon en Portugal, uitendelik tydens die Reconquista (Herowering), in 1492 verslaan is. Ongeveer 3 miljoen Arabiere en 200 000 Jode is uit die gebied, wat nou as Spanje en Portugal bekend staan, verdryf.
Anti-bakterieël verwys na iets wat bakterieë doodmaak.
Anti-inflammatories is iets wat keer dat weefsel ontsteek raak, of ontsteking verminder.
Antieke Tyd verwys na ‘n tydperk voor die Romeinse beskawing toe datums nog nie vasgepen was nie. Die Sumeriërs het bv. nie geweet dat hulle 6 500 v.C. leef nie – so hoe sou hulle hul datums bepaal het? Romeine het hul jaartelling op 1 Anno Urbis Conditae (die jaar toe Rome ontstaan het) gebasseer. Die Anno Domini stelsel was eers in die 6de eeu n.C. ingestel. Die tydperk van die Griekse en Romeinse beskawings, staan as die Klassieke Tyd bekend.
Angiosperm is die wetenskaplike naam vir blomplant. Plante wat blomme dra het eers in die Kryt Periode, lank na die naaksadige plante ontstaan. ‘n Blomplant se sade is bedek in ‘n vrugbeginsel en ‘n stamper en meeldrade kom op elke blom voor.
Argeologie is die studie van die oorblyfsels van mensgemaakte goedere van die verlede.
Balsem kan verskeie dinge beteken, afhangende wat die bestanddele is en die doel waarvoor dit gebruik word – dit kan na die welriekende hars van sekere plante verwys, salf wat aan ‘n droeë vel of lippe of wonde gesmeer word of die middel wat gebruik word om mummies te bewaar. In die artikel oor speserye verwys ek na laasgenoemde. Balsem wat vir die bewaring van mummies gebruik was, het allerlei anti-bakteriële middels bevat, onder andere: olie van seder- en jeneverbessiebome, hars van Canarium en Pistacia bome (waaruit terpentyn gekry word), olyfolie, kasterolie, byewas, bitumen, kardamom, neutmuskaat en kaneel.
Barok verwys na ’n kenmerkende oordadige en ornate kunstydperk van die 17de en 18de eeu in Europa populêr was en wat in die argitektuur, musiek, kuns en kleredrag gesien kan word. Huise het allerlei tierlantyntjies gekry – soos die gekrulde gewels van die Kaapshollandse huise, die fleurige handtekeninge, frilletjiekrae, gepoeierde pruike en skoene met silwergespes wat selfs mans gedra het. Van die grootste kunswerke van Europa kom ook uit hierdie tyd.
Bootsman is ‘n senior matroos wat die bootsbemanning bestuur. Hy was ook verantwoordelik vir die toesig oor die onderhoud van die skip en die toerusting aan boord, die opleiding van nuwe matrose en die organisering en toesig oor die bemanning.
Dijon mostert is ‘n tradisionele tipe mosterd wat sy oorsprong in die stad Dijon in Frankryk het. Dijon het reeds vanaf die Middeleeue mostert gemaak en in die 17de eeu het die regering vir hierdie dorp die alleenreg in Frankryk toegeken om mostert te maak. Die hoofbestanddele van Dijon mostert vandag is bruin mostertsade en ‘n mengsel van witwyn, asyn, water en sout.
‘n Eilandgroep of argipel is ‘n ketting of tros van eilande wat vorm wanneer ‘n bergreeks onderwater verdwyn, sodat net hoogliggende dele uitsteek wanneer die seevlak tussen ystydperke styg, bv. Indonesië, Engeland, die Griekse Eilande en Finland. Ander eilandgroepe bestaan uit trosse of reekse vulkaniese eilande wat langs ‘n oseaanrug vorm soos Hawaii.
Endemies verwys na spesies wat slegs in ‘n spesifieke gebied voorkom en nerens anders nie. Die oewerkonyn is endemies aan Suid-Afrika en kom slegs hier in die Karoo voor, terwyl die vaalboskat, wydverspreid in Afrika en die Midde-Ooste voorkom, inheems aan Suid-Afrika is.
Foelie kan na verskillende goed verwys. Die foelie wat meeste mense ken is ‘n dun metaalvel. Daar is egter ‘n sekere spesery wat foelie genoem word – dit is die donkerrooi laag tussen die dop en die pit van neutmuskaat wat gedroog en gemaal word en as ‘n spesery gebruik word.
Klassiek verwys gewoonlik na iets wat ‘n besondere voorbeeld van stylvolle tradisie soos kuns, musiek of boukuns verwys. Dit kan ook na die Griekse of Romeinse tyd en kultuur verwys.
Kruie is die aromatiese groen blare of stingels van sekere plante wat by kos gesit word om dit te geur. Dit verskil van speserye wat gewoonlik die aromatiese bas, sade, vrugte of blomme van sekere plante is. Sekere kruie het, soos sekere speserye, medisinale eienskappe.
Iberiese Skiereiland of Iberië is die gedeelte van Wes Europa wat mens maklik bloot Spanje wil noem, maar dit sluit ook Portugal, Andorra en ‘n stukkie van suidelike Frankryk in.
Lae lande is die gebied in Noordwes Europa suid van die Noordsee wat vandag die lande Nederland, België en Luxemburg insluit. Die gebied is bekend vir sy plat, lae streke wat net ‘n paar meter bo seevlak is en die moerasse en rivierdeltas wat rondom die groot riviere, die Ryn, Maas en Schelde voorkom. Groot dele van hierdie laagliggende gebiede is tot in die Noordsee vergroot deur die bou van dyke en die uitpomp van water om polders droog te lê om daarop te boer. Die mense wat in die Lae Lande gebly het, het ‘n unieke taal- en kultuurgroep gevorm.
Levant is ‘n gebied in die Midde Ooste wat aan die oostekant van die Middelandse See geleë is. Dit was die tuiste van talle kulture en beskawings vanaf die laaste ystydperk.
Loofblaarboom het breë plat blare, in teenstelling met die naaldvormige blare van meeste naaldbome. Dikwels is loofblaarbome bladwisselend in teenstelling met naaldbome. Loofblaarbome is gewoonlik blomplante. Loofblaarboom-hout is duur omdat dit stadig groei en net sekere dele reguit planke oplewer, maar dit is uiters gesog in die meubelmakersbedryf.
Middeleeue verwys na ‘n tydperk (5de – 15de eeu n.C.) in Europa waar die Romeinse Ryk in klein koninkryke verbrokkel het, wat deur konings en hul ridders beheer is en waar die Katolieke Kerk die sentrale rol in gesag en kultuur gespeel het. Die Kruistogte het in hierdie tydperk plaasgevind. Daar was ‘n stagnasie en agteruitgang van kuns, wetenskaplike kennis en tegnologiese ontwikkeling in hierdie tydperk.
Midde Ooste is die gebied tussen Europa en die Verre Ooste. Dit sluit die Levant, die Arabiese Skiereiland, deel van Noord Afrika, Turkye en Mesopotamië in.
Monopolie is wanneer ‘n regering, maatskappy, organisasie of persoon uitsluitlike beheer het oor die verskaffing van ’n produk of diens, wat beteken dat verbruikers geen alternatiewe het nie en pryse en voorwaardes deur daardie aanbieder bepaal word. Dit gee die monopoliehouer ’n groot mag oor die mark en kan tot hoë winste vir die onderneming lei, maar dikwels tot nadeel van die verbruiker. Die VOC het ‘n monopolie op die speseryhandel met die Verre Ooste gehad, net soos De Beers ‘n monopolie op diamanthandel het.
Mummie is die uitgedroogte liggaam van ‘n afgestorwene. Daar is talle kulture wat mummies van afgestorwenes maak. Die Egiptenare het van die omslagtigste prosesse bekend gevolg om hulle faraos en hooggeplaastes te mummifiseer. In Egipte is mummies se organe verwyder, die weefsel gebalsem en dan gewoonlik in verbande toegedraai voordat hulle in ‘n sarkofaag of kis in ‘n grafkelder geplaas is.
Naaldbome is lede van die gimnosperme of naaksadiges. Spesies naaldbome, soos dennebome, wat vinnig groei en ‘n reguit sentrale stam met min sytakke het, word gewoonlik gekies om in plantasies te kweek vir timmerhout en die papierindustrie. Aangesien hierdie bome vinniger groei as loofblaarbome en plaaslike gekweek word, is naaldboomhout goedkoper as loofblaarboomhout.
Polinesiërs is mense wat op die Polinesiese Eilande in die Stille Oseaan bly. Hulle het oorspronklik van Taiwan en Indonesië in dubbelkiel-skepe of katamarans gereis en meer as ‘n duisend eilande in die Stille Oseaan vanaf Hawaii in die Noorde, Paaseiland in die Ooste en Nieu Seeland in die Suide gaan beset.
Preservering verwys na die verwerking van kos om dit langer te laat hou voor dit sleg word. Dit kan uitdroging, behandeling met sout of pekel, kook met suiker of speserye behels.
Rekonkwista, of Herowering van Al-Andalus, was ’n reeks oorloë wat soms die Iberiese Kruistogte genoem word, wat tussen die Christelike volke in Wes Europa teen die Moslem besetters plaasgevind het. Dit het kort na die verowering van die suide van die Iberiese Peninsula in 711 begin en geëindig met die val van Granada in 1492.
Renaissance beteken hergeboorte in Frans en verwys na die herlewing van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie in die 16de eeu in Europa, na die onderdrukking en verwaarlosing daarvan tydens die Middeleeue. Die Middeleeue (5de-15de eeu n.C.) verwys juis na hierdie gaping tussen die Klassieke Tydperk waar die Grieke en Romeinse se kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie ‘n hoogtepunt bereik het, en die Renaissance wat ‘n duisend jaar daarna weer dit sou herontdek en daarmee sou voortgaan. ‘n Voorbeeld om die stand van wetenskap tydens die drie tydperke te illustreer: die Grieke het reeds in die 240 v.C. bepaal dat die aarde rond is en die omtrek van die aarde bereken. In die Middeleeue het Europeërs geglo dat die aarde plat is. Inligting oor die ronde aarde is weer tydens die Renaissance herontdek en in 1799 was die omtrek van die aarde weer bereken.
Skiereiland is ‘n landmassa wat vir die grootste deel deur water omring word maar wat steeds ‘n verbinding met nog ‘n groter landmassa het.
Soethout is die plant waarvan drop gemaak word. Ek verkies dit om die lekkergoed drop te noem en die plant soethout te noem. Drop word uit die wortel van die soethoutplant Glycyrrhiza glabra gemaak deur om dit te kook tot die sap uitkom. Die sap word verdik en met salmiak (ammoniumchloried), sout of suiker, heuning, melasse, anys of ander geurmiddels, gelatien (oorspronklik Arabiese gom – eetbare hars van doringbome in Arabiese lande) gemeng om die bekende swart lekkergoed met verskillende geure te maak. Wat grillerig is, is dat die natuurlike bruin kleur van drop tradisioneel met koolstof swart verkleur word.
Speserye kan gedefinieer word as die aromatiese dele (soos sade, bas, wortels, vrugte of gedroogde blomme) van sekere plante wat gebruik word om geur, aroma of kleur aan kos te gee. Anders as kruie, wat meestal uit die groen blare van plante kom, word speserye gewoonlik uit die droë, harde dele van ’n plant verkry. Die anti-bakteriële en antioksiderende kenmerke van sekere speserye word vir kospreservering en in tradisionele medisyne gebruik.
Steentydperk is die tydperk waartydens mense steenwerktuie gebruik het. Die oudste steenwerktuie is ongeveer 2.5 miljoen jaar oud. In sekere gebiede soos die Midde Ooste en die Verre Ooste is metaal in die vorm van koper en toe brons ontdek wat die einde van die steentydperk en steengereedskap-kultuur in daardie gebiede ingelui het. Die oorgang van steen na metaal is egter nie so skerp nie. Metaal was ‘n luukse-item en dus skaars. Ötzi Man van 5000 jaar gelede het bv. ‘n koperblytjie by hom gehad, maar ook pyle met steenpunte.
Syroete verwys na die antieke handelsnetwerk wat Sjina met die Midde Ooste verbind het. Dit was ongeveer 130 v.C. deur tydens die Han Dinastie gevestig om sy en speserye met die Weste te verhandel. Die syroete het tot in die 1453 n.C. bestaan tot die Ottamaanse Ryk hierdie handelsroete met die Ooste gesluit het. Die Syroete is egter langs reeds bestaande handelsroetes, wat verskeie stede in verskeie lande insluit, ontwikkel. Daar was reeds handel tussen die Midde Ooste en die Verre Ooste ongeveer 3000 jaar gelede. Sekere speserye wat deur die Egiptenare vir balsem en medisyne gebruik is, is van die Verre Ooste afkomstig. Graan soos koring en gars, wat in die Midde Ooste veredel is, het reeds ongeveer 5 000-4 000 jaar gelede hul weg tot in die Verre Ooste gevind.
Takelwerk is die toulere, toue, kabels, kettings en katrolle, wat gebruik is om die maste, sparre en seile van ‘n ou seilskip te span, op te bind en vas te maak.
Verbou verwys na boerdery met plante. Bosbou is ‘n soortgelyke woord.
Verenigde Oostindische Compagnie of VOC was ‘n besigheid wat in Holland in 1601 gestig is en onder die direksie van die Here XVII gestaan het. Die VOC het die verversingspos in Kaap de Goede Hoop (Kaapstad vandag) in 6 April1652 gestig en bestuur. Die VOC was na twee eeue korrup, wanbestuur bankrot. Hierdie onstabiliteit het gelei daartoe dat Brittanje die Kaap in 1795 van die VOC oorgeneem het. Die VOC is in 1796 deur die Bataafse Republiek genasionaliseer en al hul laste en bates, insluitende die buiteposte soos die Kaap de Goede Hoop en die gebiede in die Verre Ooste oorgeneem. Die VOC is op 31 Desember 1799 bankrot verklaar en ontbind.
Verversingspos is ‘n plek waar skepe kan aandoen om voorrade aan boord te neem om met genoeg kos en water die res van die tog aan te pak. Kaapstad was ‘n VOC verversingspos.
Vloot is ‘n groep skepe wat onder beheer van ‘n organisasie, regering of besigheid is.
Voetheuwels is die reeks heuwels wat rondom sekere berge voorkom. Dit is veral opmerklik wanneer berge soos die Andes en die Himalaja Gebergtes wat deur tektoniese kragte gevorm word. Voetheuwels word gewoonlik al hoe hoër hoe nader dit aan die berg geleë is.
Wortelstok verwys na die ondergrondse voedselstoororgaan van sekere plante. Dit is gewoonlik horisontaal maar het, nes bogrondse stingels, litte waaruit wortels en lote spruit.

