Kuns En Kunsvlyt.
Kom leer meer van kuns en die bekendes in die kuns wêreld.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Michelangelo: die seun wat ’n wêreldberoemde beeldhouer geword het.
Michelangelo is op 6 Maart 1475 in die dorpie Caprese in die Florentynse Provinsie van Italië gebore. Michelangelo se regte naam was Michelangelo di Lodovico Buonarroti Simoni, maar almal het hom Michelangelo genoem.
Toe Michelangelo ses was, is sy ma oorlede, en hy het toe by sy oppaster en haar man grootgeword. Hulle huis was by ‘n steengroef en ’n plasie daarnaas, wat aan Michelangelo se pa gehoort het, waar die man marmerblokke uitgekap het om te verkoop. Die marmerblokke was deur bouers en kunstenaars gekoop om mooi afwerkings vir geboue, beelde en grafstene te maak. Dit was hier wat die klein Michelangelo sy liefde vir marmer

ontwikkel het. Van jongs af het hy geleer om beeldjies met ’n hamer en beitel uit te kap.
Die vroegste beeldhouwerk van Michelangelo is die Madonna van die trappe (links) wat hy gemaak het toe hy omtrent sestien jaar oud was.
Aangesien Florence die sentrum was waar die Renaissance ontstaan het,
was Florence in die 15de eeu ook Italië se grootste sentrum vir die kunste en opvoeding.
Kuns was deur die stadsraad, gildes en ryk beskermhere soos die De Medici familie, en hulle handelsgenote geborg. Kunswerke soos beelde en skilderye van groot en talentvolle kunstenaars het orals in paleise, openbare geboue en kerke gepryk.
Toe Michelangelo ’n jong seun was, was hy na Florence gestuur om by Francesco da Urbino klasse in taal en letterkunde te kry. Michelangelo het helaas niks van die klasse gehou nie en verkies om skilderye in die kerke te kopieër en met ander kunstenaars te meng. Michelangelo se pa het Michelangelo op die ouderdom van 13 as vakleerling by die kunsmeester Domenico Ghirlandaio ingeskryf. Ghirlandaio was beroemd vir sy skilderye en tekeninge en het die grootste kunswerkswinkel in Florence gehad. Dit was bitter jonk vir ’n vakleerling, maar nogtans het Ghrilandaio hom in diens geneem en vir hom vir sy werk betaal.

Toe Lorenzo de Medici, die heerser van Forence vir Ghrilandaio vir sy twee mees begaafde studente gevra het, het hy Michelangelo en Francesco Granacci na hom gestuur. Michelangelo was 15 jaar oud toe hy in Lorenzo de Medici se paleis gaan bly het om daar as beeldhouer opgelei te word.
Lorenzo de Medici was baie lief vir kuns en hy het baie skilderye vir sy paleis en beelde vir sy beeldetuin gekoop. Hy het ook jong talentvolle mense, soos Michelangelo, gratis in sy paleis laat bly, terwyl hulle leer om kunstenaars te word. Lorenzo de Medici het ’n skool vir beeldhouers begin waar die ou beeldhouer Bertoldi di Geovanni, die laaste oorlewende leerling van die Grootmeester Donatello, hulle opgelei het.
Toe Michelangelo daar aankom, het hulle hom na die beeldetuin geneem waar hy hulle topstudent Pietro Torrigiani, wat drie jaar ouer as hY
was, ontmoet het. Michelangelo het gesien hoe Pietro kleibeeldtjies maak van die marmer- en bronsstandbeelde in die beeldetuin. Die volgende dag het Michelangelo klei in die hande gekry en baie beter kopieë van die beelde in die beeldetuin gemaak en so het die onmin tussen Michelangelo en Pietro begin.
Van die staanspoor, het Michelangelo en Pietro Torrigani nie van mekaar gehou nie, en alhoewel ek van Michelangelo hou, moet ek erken dat hy maar self stout was. Een dag kon Pietro Torrigiani dit nie meer uitstaan nie en het sy humeur verloor en Michelangelo geslaan. Michelangelo het daarvan gehou om af te wys dat hy beter as die ander studente was en hy het almal aanhoudend oor hulle kunswerke geterg. Michelangelo het veral vir Pietro geterg en verkleineer.

Pietro vertel self: “Buonarotti en ek, het toe ons seuns was, na die Kerk van die Karmyne Carmine gegaan om tekenoefeninge in die Kapel van Masaccio te doen. Buonrotti het my soos gewoonlik getart, maar op hierdie dag het ek so kwaad vir hom geword dat ek hom op sy neus geslaan het. Ek kon voel hoe die been en kraakbeen van sy neus soos ’n beskuitjie onder my kneukels verkrummel. Hy sal die skend wat ek hom aangedoen het, tot sy dood, dra.” En dit was so. Michelangelo het sy neus normaal laat voorkom in al die skilderye wat hy van homself geskilder het, maar in skilderye en beelde wat ander mense van hom gemaak het, wys dit duidelik dat sy neus platgeslaan was.
Michelangelo se talente was egter nie slegs tot beeldhou beperk nie – hy het uitgeblink as skilder, digter en argitek. Een van sy grootste en bekendste skilderwerke is die skilderye op die plafon van die Sistynse Kapel in Rome waaraan hy oor vier jaar gewerk het en wat meer as 300 figure uitbeeld (sien hiernaas).
Ten spyte daarvan dat Michelangelo een van die grootste en bekendste kunstenaars ter wêreld was en ’n fortuin in die bank gehad het, het hy ’n nederige, selfs armmoedige lewe gelei.
Hy het tot sy oudag gewerk – op die ouderdom van 71, was hy as hoofargitek van die Sint Petruskerk in Rome aangestel en het daaraan gewerk tot hy op die ouderdom van 88 gesterf het. Hy is in sy geliefde Florence begrawe soos hy versoek het.
Sy laaste woorde was “Ancora imparo,” wat Latyn is vir: “ek is steeds besig om te leer.”

Alhoewel Michelangelo weinig studente opgelei het, is hy vir die laaste vyf en ’n half eeue steeds ‘n inspirasie vir beeldhouers, skilders en argitekte.
Uitgawe 2 – Februarie 2026
Kleure

In kuns is daar drie primêre kleure naamlik: blou, geel en rooi (in fisika is dit blou, groen en rooi). Kleure soos oranje, groen en pers kan geskep word deur om waterverf, akriel, olieverf, pastelle of kryt se primêre kleure met mekaar te meng.
Blou en geel maak groen, rooi en geel maak oranje en rooi en blou maak pers. As mens al drie primêre kleure saam meng kry mens bruin wat ‘n tersiêre kleur genoem word.
Mens hoef dus nie groen, oranje, pers of bruin verf te koop nie want mens kan dit sommer self meng soos mens hier langsaan kan sien. Al daardie kleure in die kleurwiel hierbo is ook net slegs met die drie primêre kleure gemeng.

Wanneer jy jou sekondêre kleure klaar gemeng koop en net so uit die potjie of buisie gebruik, dan sal jou prent soos die een hieronder lyk waar alles dieselfde skakering groen en bruin is en dit lyk nie goed nie ne?

Wanneer jy jou eie kleure met die drie primêre kleure en wit meng, dan lyk die prentjie so:

Uitgawe 3 – Maart 2026
Perspektief:
Die tegniek om diepte aan jou kunswerk te gee om dit meer werklik te laat lyk.

Eenpunt perspektief
Die tekening hierbo is ‘n uitstekende voorbeeld van eenpunt perspektief. Dit is waar al die lyne na ‘n punt op die horison saamloop of konvergeer. ‘n Mens kan sommer sien hoe hierdie treinspore tot doer in die verte instrek. Maar eintlik is dit nie werklik nie, maar ‘n illusie wat die kunstenaar op ‘n plat stuk papier reggekry het om ‘n plat tweedimensionele oppervlak in ‘n driedimensionele prent met diepte te skep. Die kunstenaar het ook eintlik net geteken wat hy in die werklikheid waargeneem het.
Die tekening hierbo is ‘n uitstekende voorbeeld van eenpunt perspektief. Dit is waar al die lyne na ‘n punt op die horison saamloop of konvergeer. ‘n Mens kan sommer sien hoe hierdie treinspore tot doer in die verte instrek. Maar eintlik is dit nie werklik nie, maar ‘n illusie wat die kunstenaar op ‘n plat stuk papier reggekry het om ‘n plat tweedimensionele oppervlak in ‘n driedimensionele prent met diepte te skep. Die kunstenaar het ook eintlik net geteken wat hy in die werklikheid waargeneem het.
Voorwerpe se grootte en posisie verander soos wat dit in die verte verder van die kyker is. Die beste manier om perspektief in jou tekening in te bring is om herhalende voorwerpe soos die dwarsleërs, treinspore, pale en elektriese drade hierbo te gebruik. Natuurlik kan en moet mens perspektief ook in ander kunswerke gebruik, maar dit is moeiliker om dit oortuigend te doen as jy byvoorbeeld rotse of bome illustreer, want hulle kan van die staanspoor enige grootte hê en dan moet mens ander tegnieke gebruik om diepte aan jou kunswerk te gee soos om die voorwerpe verder weg dowwer uit te beeld.
Een van die belangrikste vertrekpunte met die uitbeelding van perspektief is die plasing van die kyker se oogpunt wat gewoonlik in die middel van die skildery is. Dit is belangrik om te bepaal waar die horison sal wees voordat jy met jou kunswerk begin. Die verdwynpunt op die horison waarheen al die lyne saamkom of konvergeer is dan in eenpunt-perspektief in die middel van die skildery, regoor die kyker se oogpunt, op die horison. Al die lyne en hoeke en horisontale oppervlaktes sal dan volgens hierdie oogpunt, horison en verdwynpunt oplyn.

Hierbo kan mens sien hoe ‘n skildery lyk waar die kunstenaar geen begrip van perspektief gehad het nie. Dit was hoe kunswerke in die Middeleeue tussen die Romeinse tydperk en die Renaissance gelyk het. Selfs die bekers is van die kant uitgebeeld, terwyl die borde van bo uitgebeeld is. Alhoewel die skildery baie inligting oordra, lyk dit glad nie werklik nie.

In hierdie muurskildery by Çatalhöyük in Turkye kan mens sien dat mense 9000 jaar gelede ook nie perspektief verstaan het nie. Die oeros wat hulle gejag het, was groot, maar nie so groot nie. Die oeros het 2 m hoog gestaan. Die mans, wat veronderstel is om agter die oeros te staan, is net so groot soos die mans in die voorgrond.

Tweepunt perspektief
Dit word algemeen in tekeninge van dorpe en stede, soos hierbo, gebruik waar mens twee strate of ‘n blok geboue het wat na beide kante in die verte uitstrek. Die geboue in die voorgrond blok die horison uit, maar in werklikheid bestaan dit nog. Die twee verdwynpunte aan die kante sal nog steeds op die horison lê, maar dit is gewoonlik buite die sig van die kyker.
Driepunt perspektief
Dit is die mees ingewikkelde vorm van perspektief met twee verdwynpunte weerskante van die kyker op die horisonlyn en ‘n derde of bo, of onder die horisonlyn.
Dit is die perspektief wat ‘n kyker sal hê as hy bo-op ‘n berg, ‘n wolkekrabber, uit ‘n vliegtuig of uit die ruimte sal hê en afkyk, of as hy voor geboue staan wat ver bo sy kop uitstrek en opkyk. In die tekening hieronder, wat die grootte van die geboue belkemtoon is daar ‘n verwynpunt baie hoog in die lug waar die vertikale lyne ontmoet.

Die horisonlyn hoef nie in die middel van die driepunt-perspektief kunswerk te wees nie – vir dramatiese effek, wat die grootte van die geboue hierbo beklemtoon, is die horisonlyn laag in die tekening.
Uitgawe 4 – April 2026
KUNS & KUNSVLYT
Kuns tydens die Hollandse Goue Eeu
Die Hollandse Goue Eeu was ‘n tydperk wat vanaf ongeveer 1588 (die stigting van die Sewe Verenigde Nederlande) tot 1672 (die Rampjaar), geheers het. Gedurende hierdie tydperk het die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande die grootste skeepsvarende, kommersiële en intellektuele mag in Europa geword. Daar is baie verwarring oor die verskil tussen Holland en Nederland onder Afrikaanssprekendes. Toe die verversingspos in Kaapstad deur die VOC tot stand gebring is, het almal na Holland, Hollands en Hollanders verwys.

Holland was ten tye van die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande die grootste provinsie en dus het almal dit so begin noem. Die suidelike Nederlandse provinsies was in die Prinsbisdom Luik en die Oostenrykse Nederlande verdeel. Aangesien ek ‘n baie belangrike onderskeid tussen die Katolieke suide en die Protestantse noorde wil maak, en mense nie verder wil verwar met die term Nederland (wat eers as politieke eenheid aan die einde van die agtiende eeu tot stand gekom het), gaan ek van nou af na Holland verwys, want hierdie stuk gaan glad nie oor die Goue Eeu van die Suide nie, maar eerder die ongekende groei en welvaart van die Protestantse Noorde.
Die Reformasie, wat ongeveer 500 jaar gelede in Europa begin is, was sterk deur die Europese middelklas gesteun. Regdeur Europa was die Protestante erg deur die Katolieke heersers vervolg. Hierdie vervolging van die middelklas, wat kundiges, entrepeneurs en werkgewers ingesluit het, was entoesiasties deur die ongeletterde gepeupel ondersteun. Die stigting van ‘n Protestantse land wat hierdie mense beskerming teen vervolging gebied het, was die rede hoekom duisende hoogs-opgeleide, geleerde mense, soos die Hugenote, hulle lande van herkoms verlaat en hoofsaaklik na Holland, en tot ‘n mate na Engeland verhuis het. Verskeie kunstenaars soos Frans Hals en Pieter Claesz het van die suide na die noorde verhuis om vervolging vry te spring. Oornag het Holland vanaf ‘n klein landelike gebied wat min minerale hulpbronne en baie moerasse gehad het, en wie se ekonomie hoofsaaklik van visserye en boerdery afhanklik was, tot die sterkste politieke, militêre en ekonomiese moontheid in die wêreld verander. In hierdie milieu het die wetenskap en die kunste gedy – Hollanders het in die Goue Eeu vir talle wetenskaplike en tegnologiese deurbrake gesorg – vanaf verbeterde teleskope, die eerste mikroskoop en die eerste pendulum-horlosie, maar dit is egter in die beeldende kunste waar die Hollanders uitgeblink het.
Holland was voor die Goue Eeu nie juis bekend vir sy kunstenaars nie. Vroeë Nederlandse kunstenaars soos Jheronimus Bosch was van Brabant en Pieter Breughel die Ouere was van Vlaandere. Die breuk met die Katolieke kulturele samelewing het Holland gedwing om hul eie kulturele tradisies te ontwikkel en dus, al kan mens die Hollandse skilderkuns as deel van die Barok tradisie beskryf, het hulle skilderkuns ‘n unieke styl wat dit onmiskenbaar maak.
Een van die groot redes vir hierdie verandering is dat die kunswerke in Spanje en Italië deur hooggeplaastes in die kerk of regeerders aangevra is, terwyl in Holland kunstenaars deur die burgerlike samelewing ondersteun was en danksy die welvaart wat Hollanders beleef het, kon gegoede lede van die publiek portrette van hulself, groepsportrette (soos die Nagwag) en hul huise laat skilder. Hierdie verskynsel beklemtoon die trots van die middelklas en belang wat die burgerlike kultuur in Holland tydens die Goue Eeu gespeel het. Die voorwerpe in stillewes het dikwels wetenskaplike instrumente, duur items soos silwerware en eksotiese ware van die Ooste ingesluit wat die middelklas se kennis, handel en kultuur gevier het.

Mens kan die realisme wat die kunswerke van die Goue Eeu kenmerk in hierdie skildery van die Hollandse Ridder van Hals duidelik sien. Elke detail van die hare, kantvalletjies en tekstuur van die lap is in die fynste besonderhede geskilder. Die glas en metaalvoorwerpe in stillewes was met dieselfde sorg geskilder soos mens in die skildery van Claesz hieronder kan sien. Die skilderye van hierdie tydperk was so realisties soos fotos.
Soos ‘n mens in Die Nagwag kan sien word lig en skadu subtiel gebruik om atmosfeer te skep, eerder as groot dramatiese kontraste wat tipes van die Barok skilderye van daardie tyd elders in Europa was.
Landskappe was ook baie populêr en skilderye met windmeule, riviere en plaastonele was baie algemeen in die Goue Eeu (sien Beiteltjie 1.2). Hierdie skilderye beklemtoon die eenvoudige lewenstyl en hardwerkende aard van die plattelanders, maar dit dien ook as dokumentasie van hoe Holland in die sewentiende eeu daar uitgesien het.
Skilderye van seetonele met skepe was ook in hierdie tyd gewild. Hieredie skilderye het die mag van die Hollandse vloot en hul handelsnetwerk uitgebeeld.
Die Hollandse skilders van die 17de eeu het kuns gedemokratiseer deur dit uit die paleise en kerke na die huise van gewone mense te bring. Die allerdaagse was vir die eerste keer met dieselfde respek as die skouspelagtige hanteer. Van die grootste bydraes van hierdie skilders is hul gebruik van lig en donker en dat hulle detail en realisme in skilderkuns vervolmaak het.


