Ontdek.
Leer elke maand iets nuuts om so jou algemene kennis te groei.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Die Huismuis
Die huismuis is een van die eerste diere wat saam met mense geleef het. Mense het heel eerste honde makgemaak. Oorspronkik was honde gebruik om mee te jag. Mens het toe heeltyd rondbeweeg agter wild aan en het nie lank op een plek gebly nie. Later, toe mense met graan en skape begin boer het, het hulle huise gebou waarin hulle heeljaar gebly het, want hulle het nie meer nodig gehad om agter wild aan te trek nie.
Toe mense in huise begin bly het, het muise saam met hulle ingetrek. In huise was muise beskerm teen roofdiere soos uile en slange wat hulle wil vang en daar was graan om te eet. Muise, soos baie ander knaagdiere is lief vir graan. Mense gebruik nie baie die woord graan wanneer hulle praat nie, maar jy ken dit eintlik al.

As jy brood, koekies of pap eet, eet jy eintlik graan. Graan is kos soos koring, mielies, rys, hawer en nog baie ander. Graan is die sade van grasse wat mense duisende jare gelede uitgesoek het en vir kos aangeplant het. Baie tipes kos word van graan gemaak – soos mieliepap, hawermout, graanvlokkies, muesli, maltabelapap, gepofte rys, pannekoek en pasta. Brood, koek, koekies, beskuit en pizzas word van koringmeel gemaak en in ’n oond gebak.
Muise is baie lief vir al hierdie kos wat ons van graan maak. Muise, het soos alle knaagdiere, spesiale voortande waarmee hulle knaag. Knaagdiere sluit muise, rotte, hamsters, marmotte, blesmolle, ystervarke, bewers en nog baie, baie ander diere in. Daar is meer knaagdiere as enige ander tipe soogdiere op Aarde. Knaagdiere het almal twee boonste en twee onderste snytande, terwyl jy vier boonste snytande en vier onderste snytande het. Honde het ses boonste en ses onderste snytande. Knaagdiere het nie slagtande nie, terwyl honde en mense slagtande het. Ons noem die slagtande van mense oogtande. Muise het kiestande soos jy. Dit is die tande waarmee gekou word.

Die punte van die snytande van knaagdiere is baie skerp en beitelvormig. Hulle gebruik dit om deur die harde buitenste doppie van sade te knaag. Rotte kan ook gate in hout en selfs in sement knaag om in huise in te kom. Rotte hou daarvan om in die dakke van huise te woon, terwyl muise weer van kombuise hou en dikwels onder of agter kaste bly, of gaatjies in vloerlyste groter kou en so in gapings tussen die bakstene en die vloerlyste hul neste maak.
Muise kan baie vinnig voortplant, omdat daar gewoonlik so ses tot agt babas op ‘n keer gebore word. Nadat die babamuise gespeen is, word die volgende groepie babas omtrent 25 dae later gebore. Die rede hoekom muise so vinnig voortplant, is omdat hulle so erg deur roofdiere in die natuur gejag word. Maar roofdiere kom gewoonlik nie in mense se huise voor nie en dus teel huismuise baie vinnig aan.

Muise en rotte kan siektes aan mense oordra. Vlooie van rotte het ’n dodelike siekte van rotte na mense oorgdra wat die Swart Dood genoem word. Omtrent 100 miljoen mense, ongeveer die helfte van die mense in Eurasië, het daarvan doodgegaan. Muise en rotte kan deur hulle piepie of mis op kos, of oppervlaktes, ook siektes na mense toe oordra.
Uitgawe 2 – Februarie 2026
ONTDEK
Windmeule
Oorspronklik het mense graan met die hand gemaal, maar mettertyd, toe mense in al hoe groter groepe in dorpe en stede begin woon het, het mense maniere ontdek om natuurkragte soos vloeiende water en wind in te span om baie graan op ‘n slag te maal. Windmeule het op hierdie manier eeue gelede ontstaan.
Van die oudste windmeule bekend is die panemones van die Midde Ooste wat vertikale asse het wat deur vertikale vinne aangedryf word. Daar is steeds werkende panemones in Nashtifan in Iran. Die as draai ‘n meulsteen in ‘n meulkamer onder elke panemoon.

Panemones is op plekke in die Midde Ooste bo-op heuwels, waar die wind gereeld sterk en aanhoudend waai, gebou. Panemones bestaan uit ‘n muur met vertikale openinge wat na die heersende windrigting wys, met ’n ry vertikale windkamers daaragter. In die middel van elkeen van die windkamers is ‘n lang, reguit houtpaal, van sowat 6-8 m lank, regop geplaas waarvan die boonste helfte binne die windamer uitgesteek het en die onderste helfte tot in die ondergrondse meulkamertjie gesteek het. Vier vertikale vinne van planke is dan rondom die paal in die windkamer vasgemaak. Wanneer die wind deur die gleuf in die muur tot in die een helfte van die windkamer waai, vang die vinne aan daardie kant die wind en draai die paal in die rondte.

‘n Ry ondergrondse meulkamers, wat met die boonste windkamers ooreenstem, is onder die hierdie muur gebou. In die skets hierlangsaan kan jy sien hoe die paal van die boonste windkamer tot binne die meulkamer gaan om die lopersteen in die rondte te draai wanneer die vinne in die windkamer bogronds deur die wind beweeg word.
Die windmeule wat ons beter ken is dié van Europa wat vertikale wieke het wat ‘n horisontale as draai. Die meule wat in die Kaap deur die Hollanders en later Dirk van Renen gebou is, het soos dié van Europa gelyk en gewerk.
Daar is talle verskillende windmeulontwerpe in Europa, maar almal volg dieselfde beginsel: die wieke van hierdie windmeule kan na die wind gedraai word soos wat die windrigting verander. Die wieke, wat vertikaal rondom ‘n horisontale as gerangskik is, draai met behulp van ratte ‘n vertikale as wat aan die boonste meulsteen, of lopersteen, geheg is en dit teen die stilstaande onderste maalsteen, of lêersteen, draai.
Windmeule word egter nie slegs vir die maal van graan gebruik nie. Die woord saagmeul verwys na windmeule wat saaglemme aandryf waarmee hout gesaag was. Ander windmeule was gebruik om water te pomp, papiermeule waar vodde fyngemaal is om papier te maak, hamermeule waar erts fyn gestamp is, snuif en mostertsade gemaal is, ens.

Windmeule word ook verder aan hul ander unieke kenmerke geken. Die windmeule hieronder in Spanje word toringmeule genoem. Toringmeule soos dié hieronder het ‘n sillindriese romp wat oorspronklik van klip en later van tyd met stene gebou is. Die windmeule van die Kaap was almal toringmeule. Toringmeule is ook almal bo-kruiers.


Toringmeule is egter maar net een windmeulontwerp wat mens in Europa en later in ander lande soos Suid-Afrika en VSA, waar Hollanders bedrywig was, teëkom. Aangesien dit goedkoper en makliker is om strukture uit hout te bou, is talle windmeule in Nederland en België uit hout gebou. Windmeule wissel ook in grootte – die kleinstes word tjaskers genoem en word uitsluitlik vir die pomp van water gebruik.
Tjaskers soos die een hier langsaan bestaan uit ‘n houtraam wat toegerus is met ‘n klein wiekwiel, van ongeveer 2-3 m in deursneë, wat ‘n Archimedes-skroef in ‘n pyp draai. Hierdie tipe meul is ook ‘n onderkruier omdat die hele stellasie op die grond geskuif moet word om die wieke na die wind te rig.
Hoe ‘n windmeul werk:


Die windmeul bestaan hoofsaaklik uit ‘n romp en ‘n kap, of uit ‘n kas op ‘n paal. In die geval van groot meule waarvan die romp uit hout gebou is, of toringmeule, word die wieke met behulp van die kap na die wind gedraai of gekrui. Wanneer slegs die kap van die windmeul gedraai kan word, word dit ‘n bo-kruier genoem. Die grootste windmeul, De Noord in Holland, wat meer as 33 m hoog staan met ‘n wiekkruis wat 27 m in deursneë, is ‘n bo-kruier.
Die hele kas van die paalmeul (standerd- of standaardmolen in Nederlands) moet daarenteen na die wind gedraai word. Die paalmeul besit ‘n baie groot houtpaal (standerd of standaard in Nederlands) van 60 – 80 cm in deursneë, wat in die modderige grond gehamer word sodat slegs die boonste deel uitsteek. ‘n Houtkas word dan staangemaak bo-op hierdie paal, wat as spil dien waarom die kas gedraai kan word om die wieke na die wind te rig.

Die wipmeul, wat ‘n verbetering op die paalmeul is, word ‘n middelkruier genoem. Met ander woorde die boonste kas wat bo-op ‘n gebou opgerig is, word na die wind gekrui terwyl die gebou (gewoonlik uit klip of steen) nie beweeg nie.
Groot toringmeule, of agtkantige houtmeule met ‘n stelling of omloop, waarop die meulenaar rondom die meul kan loop, staan ook as ‘n stellingmeul bekend. Die meulenaar loop op die stelling om die wieke op te seil en om die kap met behulp van die stertbalk die kap na die wind te krui.
In die geval van ‘n klein toringmeul soos Mostert se meul, moet die meulenaar op die grond die stertbalk krui, om die kap te draai tot die wieke in die wind wys. Die meulenaar moet ook van die grond af teen elke wiek opklim om die seil te span. So ‘n meul word ‘n grondseiler genoem.
Die stertbalk is aan twee dwarsbalke, die klein en groot spruitbalke (of in kleiner windmeulens die klein spruitbalk en middelbalk) met behulp van steunbalke gekoppel. Die spruitbalke en middelbalk is aan die vloer van die kap gekoppel. Staalhangers word gebruik om die kort spruitbalke aan die lang steunbalke te koppel om die kruibalkstruktuur te versterk.
Wanneer die meulenaar die windmeul moet krui, trek hy eerstens die vangstok met wat die draaibeweging van die bo-as rem en dus die draai van die wieke ook stop. Dan haak hy ‘n ketting aan ‘n paal langs die windmeul vas in die rigting waarheen die kap moet krui.
Hierdie ketting is aan ‘n windas op die stertbalk vasgemaak wat die meulenaar dan met behulp van ‘n kruiwiel of ‘n slinger opwen, wat veroorsaak dat die stertbalk in die rigting van die paal getrek word. Daar is verskeie van hierdie pale in die grond rondom die windmeul geplant.

Die wiekkruis is aan die bo-as binne die kap gekoppel. Soos wat die wieke draai, draai die bo-as en dit draai weer die aswiel, wat die groot rat is. Die aswiel draai om die beurt die rondsel wat inderwaarheid ‘n vertikale rat is wat dan die koningspil draai wat om die beurt die lopersteen van die maalkoppel op die middelste vloer binne die toring draai. Die lêersteen lê natuurlik stil onder die lopersteen. Aangesien die maalkoppel binne die


kap, direk onder die rondsel van die toringmeule van Consuegra in Spanje is, ontbreek daar ‘n koningspil in hierdie meule. Die maalkamer is ook binne die kap en nie op die tussenvloer soos in die geval van Mostert se meul nie.
Seilvoerings:
Afhangende van die windsterkte of die werksaamhede in die meul, kies die meulenaar aan die begin van die draaidag die seilvoering wat hy nodig het om die wieke te span om sekere take te verrig. Die meulenaar span die seile oor die hekwerk op die volgende maniere:

Gedurende die draaidag kan weersomstandighede verander wat die meulenaar sal noop om die seilvoering daarby aan te pas – soos as daar byvoorbeeld ‘n storm opsteek, of as die windkrag afneem, of as die meul vinniger moet draai om vinniger meer koring te maal. Die wieke kan egter nog steeds sonder seile in baie sterk wind waai. Veral in stormweer, sal die meulenaar die windbord ook uithaal en die wiekkruis vasbind om die wieke te beskerm.
Die maalproses:

Die koningspil draai die staalspil wat met behulp van die druwer die beuelryn, wat in gleuwe onder in die lopersteen vasgeslaan is, te draai.
Die koring val van die kaar of opslagtregter tot in die skudbak of skoen. Die skudbak word met behulp van ‘n nok op die spil geskud soos wat die spil in die rondte draai. Vanaf die skudbak word die koring in die loper se kropgat gestort.
Die koring word dan in die groewe van die lopersteen gevang en tussen die twee draaiende stene gevoer. Die koringkorrels word dan tussen die stene tot meel fyngemaal.
Die meel word van daar met behulp van die groewe na die rand van die maalstene vervoer waar dit in die kuip rondom die maalkoppel versamel waarvandaan dit met ‘n meelpyp na die grondvloer vervoer word waar dit in sakke verpak word.
Die onderste oppervlakte van ‘n lopersteen is sigbaar in die prent hiernaas. Let op die vier arms van die beuelryn wat in groewe rondom die kropgat van die meulsteen vasgekap is. Die druwer, wat vas aan die staalspil is, pas in die vierkantige gat in die middel van die beuelryn.
Die lêersteen het soortgelyke groewe op sy boonste oppervlakte as wat die lopersteen op sy onderste oppervlakte het. Na gelang van tyd verweer die twee maalstene se oppervlaktes en dus word die groewe al vlakker en minder effektief. Wanneer dit gebeur word ‘n klipwerker se hulp ingeroep en sal hy die groewe weer dieper beitel.

Uitgawe 3 – Maart 2026
Voedingswaarde van mielies:
Voedingswaarde van mielies:
Mielies, die hoofbron van stapelvoedsel in Afrika, kom oorspronklik van Mexiko, waar dit reeds vir 9 000 jaar as stapelvoedsel gekweek word. Die voorsaat van mielies is die teosinte-gras, wat groterige styselryke sade in vergeleke met ander grasse het. Oor die jare het die Olmeke en hul opvolgers, die Maya en Asteke, mielies veredel deur om al hoe groter are met meer en groter sade te kies om te plant.

In 1492 ontdek die Spanjaarde eers die Karibbiese Eilande, en in 1513 Noord Amerika. Oorspronklik wou Christophorus Colombus ‘n weswaartse roete oor die oseaan, rondom die aarde, na Indië vind om sodoende Oosterse speserye in die hande te kry, maar toe ontdek hy die Amerikas instede. Dit is terloops hoekom die inboorlinge van die Amerikas Indiane genoem word, want die Spanjaarde het oorspronklik geglo dat hulle Indië ontdek het. Dit is ook hoekom van die Karibbiese Eilande ook die Wes Indiese Eilande genoem word en die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie, wat ‘n kolonie aan die ooskus van Noord Amerika gehad het, waarvan die hoofstad Nieuw Amsterdam (vandag New York) was, so genoem is.

Gelukkig vir die Spanjaarde, maar ook die res van die wêreld, het die Spanjaarde in plaas van speserye, ‘n rykdom van ander kosse ontdek, wat mielies, aartappels, tamaties, pepers, pampoene, avokados, papajas, pynappels, boontjies, verskeie tipes neute, sonneblom, vanilla en sjokolade insluit! Mielies en aartappels, het saam met rys van die Verre Ooste en koring van Eurasië, stapelvoedsels geword wat miljarde mense wêreldwyd voed.
Die Spanjaarde het ontdek dat die mense van die Amerikas dikwels mielies saam met rankboontjies en pampoen geplant het. Die mielies het ‘n stellasie vir die boontjieranke gevorm, terwyl die bakterieë in die knoppies op hulle wortels stikstof tot die grond bygedra het wat die plantgroei van al die plante bevoordeel. Die pampoenblare het die grond verder teen uitdroging beskerm. Hierdie boerderymetode staan as milpa of die “Drie Susters” bekend, en dit word tot vandag toe nog in Noord Amerika beoefen.

Mieliepitte word tradisioneel in die Amerikas in kalkryke water gekook om dit sag te maak en om nog meer voedingstowwe vry te stel. Die proses word niekstamalisasie genoem, na die Asteekse woord daarvoor: nixtamalli . Die geniekstamaliseerde pitte word fyngestamp om ‘n pasta te maak waarvan tortillas, totopos en churritos gemaak word.

Daar is selfs, veral in Mexiko, die gebruik om ‘n swaminfeksie op mielies, genaamd mieliebrand, as lekkerny te eet. Hierdie gesogde swam (Ustilago maydis) kan rou of gaar in slaai, sop, bredies of as ‘n aparte dis geëet word. Blykbaar proe dit soos iets tussen sampioene en truffels.
In Europa was daar toe oor die volgende twee eeue kultivars geselekteer, wat onder die kouer en natter toestande in Europa, in vergeleke met dié van Mexiko,
kon floreer. Aangesien mielies maklik gekweek kan word en so goedkoop is om te produseer en soveel energie verskaf, het dit vinnig saam met koloniste en deur handel wêreldwyd versprei.
Die grootste produsent van mielies is die VSA, gevolg deur Sjina (wat terloops ook die grootste produsent van rys en koring is). Dan volg Brasilië, Argentinië en Meksiko, waar mielies reeds vir duisende jare gekweek is. Die res van die wêreld, wat Suid-Afrika insluit, produseer maar ‘n derde van die wêreld se mielies.
Mielies word hoofsaaklik in Afrika, Mexiko en in Suid-Amerika as voedsel gebruik, terwyl dit in ander lande hoofsaaklik as veevoer gebruik word. Mielies word ook vir die vervaardiging van papier, tekstiele, gom en brandstof gebruik. Veral in die VSA word mielies vir die vervaardiging van etanol gebruik wat vir die vervaardiging van biobrandstof aangewend word.
Mielies in Afrika:
Die Portugese het mielies reeds meer as vyf eeue gelede na hul hawestede langs die ooskus van Afrika gebring, waarvandaan dit na die binneland versprei het. Jan van Riebeeck het in 1655 mieliesaad uit Nederland ontvang en die Vryburgers aan die Kaap het in 1658 mieliesaad uit Nieu-Guinee geplant. Alhoewel die Voortrekkers steeds baie koring geplant het en brood as stapelvoedsel geëet het, het hulle ook mielies saamgeneem en so na die binneland versprei.
In lande soos Mexiko, VSA, Suid-Amerika en Afrika word mielies op verskillende maniere geëet – as groenmielies of as gekookte pitte.

Mense maak ook pap van mieliemeel. Polenta, wat baie soos slappap is, maar met vleis en groente geëet word, word in noordelike Italië as stapelvoedsel geëet.
Mieliepap word as stapelvoedsel in Afrika en Suid-Amerika geëet. Mielies het mettertyd sorghum as die belangrikste stapelvoedsel in Afrika vervang.
Voedingswaarde van mielies:

Mielies is ‘n belangrike bron van koolhidrate. ‘n Droë mieliepit bestaan uit ongeveer 75% stysel. Ongeveer 3-10% van die droë mieliepit bevat proteïene, maar dit het ongelukkig beperkte voedingswaarde, omdat sekere aminosure soos lisien en triptofaan ontbreek. Die vetinhoud van ‘n droë mieliepit wissel tussen 2% tot 5%. Mielies is ook ‘n bron van Vitamien A
en B en bevat fosfor, kalium, yster, kalsium en sink. Die inheemse Amerikaners het reeds duisende jare gelede ontdek dat disse van mielies en bone saam baie voedsaam is. Die tekort aan belangrike aminosure in mielies en boontjies word deur mekaar se aminosure aangevul om volledige proteïene in die liggaam te vervaardig. Danksy hierdie dieët, is kwasiorkor, wat algemeen in Afrika voorkom, baie skaars in die Amerikas.

Mielies is Suid-Afrika se belangrikste landbougewas en word op ongeveer helfte van die land se bewerkbare grond verbou. Alhoewel baie bestaansboere tot kommersiële boere regoor die land mielies verbou, is die gebied waar die meeste mielieplase voorkom die mieliedriehoek wat Noord en Oos Vrystaat, en Suid Transvaal (die suidoostelike deel van Noordwes, Gauteng en die suidwestelike deel van Mpumalanga) insluit.
Mielies word gewoonlik gedurende Desember tot Januarie as groenmielies geoes om deur mense geëet te word. Mielies word ook op die land tot Mei of daarna gelos om heeltemal ryp en hard te word. Hierdie mielies word tot verskillende grade gemaal wat vir onder andere pap en stampmielies gebruik word. Ryp mielies word ook vir voer vir onder andere hoenders, beeste en varke gebruik.
Uitgawe 4 – April 2026
Ontdek:
Speserye
Wat is die verskil tussen kruie en speserye?
Beide kruie en speserye kom van plante, en beide word gebruik om kos te geur, maar
waarteenoor kruie meestal die blare en stamme van sekere plante is, is speserye die wortels,
vrugte, sade, bas en selfs blomme van sekere plante. Speserye smaak en ruik ook baie sterker
as kruie. Mens sal byvoorbeeld baie seldery in ‘n dis soos sop sit, maar net ‘n bietjie peper.
Sekere plante soos koljander in die fotos hieronder, is beide ‘n krui en ‘n spesery – die blare word
as kruie gebruik terwyl die sade ‘n spesery is. Daar is sekere chemiese stowwe in speserye wat
keer dat kos sleg word. Sekere speserye was in die verlede, maar selfs vandag nog, as
tradisionele medisyne gebruik.

Wat is van die bekendste speserye en waar kom hulle vandaan?
Koljander
Koljander (Coriandrum sativum) is een van die speserye wat algemeen in Boerekos voorkom. Dit
is die spesery wat daardie spesiale geur aan biltong en boerewors verleen. Dit het oorspronklik
in die lande rondom die Middelandse See en in die Midde-Ooste voorgekom, maar word nou wêreldwyd gekweek. Die oudste bewys van die gebruik van koljander was in Egiptiese graftonbes, wat meer as 6 000 jaar oud is, ontdek. Daarna is koljander ook deur mense in Turkye, Persië en Griekeland gebruik.

Benewens koljander, is daar sekere speserye soos mostert, anys en komyn, wat in Europa, Noord Afrika en in die Midde Ooste voorkom, wat al vir duisende jare deur mense gebruik is.
Komyn

Die komynplant (Cuminum cyminum) het
oorspronklik in die lande aan die oostekant van
die Middelandse See voorgekom.
Argeologiese bewyse toon dat komyn reeds in
die Laat Steentydperk, ongeveer 8 600 jaar
gelede, deur mense in die Atlit-Jam blyplek in
die Levant gebruik is. Komyn was algemeen in
disse deur die Antieke Egiptenare, Perse, Grieke
en Romeine gebruik en was een van die
bestanddele wat in die balsem van mummies in
Egipte gebruik is.
Komyn word ook in tradisionele medisyne vir die
behandeling van maagwerking en koliek en
spierspasmas gebruik. Dit is nuttig vir
gewigbeheer, urienevloei en het ‘n antiinflammatoriese effek.
Komyn was in die Antieke Tyd langs die Syroete na Indië en Sjina versprei en was in die sestiende
eeu deur die Spanjaarde en Portugese na die Amerikas versprei. Vandag word komyn
hoofsaaklik in Indië verbou, maar ook in Noord Afrika, die Midde-Ooste, Mexiko, Chili en Sjina.
Komyn is een van die speserye wat wêreldwyd in disse gebruik word.
Anys
Die anysplant (Pimpinella anisum) het
oorspronkik in die lande rondom die
Middelandse See, die Midde Ooste en in
Westelike Asië voorgekom.
Dit word reeds vir duisende jare deur die
Antieke beskawings gekweek en in disse en
tradisionele medisyne gebruik. In Antieke
geskrifte van Egipte is daar verwysings na
die gebruik van anys. Anys word deesdae in
warm streke in Suid-Europa, Noord Afrika
en die Amerikas verbou.
Anys word in talle kosse gebruik. Ons ken
almal karringmelkbeskuit met anys. Anys
kan ook in lekkergoed gebruik word en word
soms gebruik om soethout te vervang

omdat daar smaakooreenkomste is. Anys word ook soms in die vervaardiging van gemmerbier
en wortelbier en sekere dranke soos jenever gebruik. Dit is ‘n bestanddeel van kerriepasta en
word algemeen in vleisdisse van die Midde Ooste en Middelandse See-gebied gebruik.
Vanaf die Antieke tyd word anys ook in medisyne vir die verligting van spysverteringsprobleme,
asemhalingsprobleme en as antidepressant en pynverligting gebruik
Mostert

Mostertsade, waarna in die Bybel verwys word,
word fyngemaal en met water en asyn, wyn of
suurlemoensap gemeng om ‘n pasta te vorm. Mens
eet mostert met vleis. Geel (ook bekend as wit)
mostert word van die sade van die mostertplant
(Sinapis alba) van Europa en die Midde-Ooste
gemaak. Bruin mostert word van die mostertplant
(Brassica juncea), oorspronklik afkomstig van die
voetheuwels van die Himalaja gebergtes gemaak.
Swart mostert word van die sade van die
mostertplant (Rhamphospermum nigrum),
oorspronklik afkomstig van Noord Afrika, Europa en
sekere dele van Wes Asië, gemaak. Die Romeine
was lief vir geel mostert en het dit oral geplant waar
hulle lande in verower het en het so daartoe bygedra dat mostert deur Europa en Noord Afrika
versprei het. Die geel mostert is nie so sterk soos die bruin en swart mostert nie. Dijon mostert,
waarin die saadjies heel gehou word, word van bruin mostert gemaak. Bruin en swart mostert
word dikwels in Indiese geregte gebruik.
Mostert word ook van die Antieke Tyd in tradisionele medisyne vir die behandeling van
hartvatsiektes, spysverteringsprobleme, as anti-inflammatoriese middel en vir pynverligting
gebruik.
Speserye van Indië en die Verre Ooste
Vir duisende jare is speserye vanuit Indië en die Verre Ooste langs die Syroete na Europa deur
middel van Midde Oosterse handelaars ingevoer. Hierdie speserye, het benewens die smaak en
geur wat hulle aan Egiptiese, Griekse, Romeinse en Midde Oosterse disse verleen het, ook twee
baie belangrike kenmerke gehad wat dit allerbelangrik vir mense gemaak het, naamlik hul
medisinale en perserveringseienskappe. Hierdie handelsroete was vanaf die Antieke Tyd tot in
die Middeleeue vanaf die Verre Ooste tot in die uithoeke van Europa deur bevolkings van die
Midde Ooste in stand gehou.
Koningin Isabella van Spanje se magte het in 1492, die Arabiere van Al-Andalus tydens die
Rekonkwista, of Herowering van Al-Andalus, oorwin. Sy het daarna die Arabiere uit Al-Andalus,
wat ons vandag as Spanje ken, verdryf. Kort daarna stort die handelsroete tussen die Verre
Ooste en Europa ineen. Natuurlik het daar ook baie ander goed in duie gestort – soos die enigste
universiteite wat toentertyd in Europa was, die sjirurge, aptekers, bioloë, landbouingenieurs,
wiskundiges en astronome, wat meeste Arabies was, het ook padgegee. ‘n Groot wantroue en
vyhandigheid, wat tot vandag toe heers, het tussen Europa en die Arabiese lande ontstaan.
Die Europeërs, wat vir duisende jare
bloot speserye by die winkel gaan
koop het, het tydens hulle oorlog met
die Arabiere in Al Andalus besef dat
die Arabiere, soos hul voorsate in die
Midde Ooste, vir duisende jare ‘n
totale monopolie op die invoer van
speserye uit die Ooste gehandhaaf
het. Die mense in Europa het skielik
erge probleme in die gesig gestaar –
daar was nie meer medisyne nie en
hulle kos het begin vrot. Min mense
het daardie tyd geweet dat speserye
nie net smaak aan kos verleen nie,
maar ook weens hulle anti-bakteriële
kenmerke, kos bewaar en as medisyne
gebruik kan word.
Daar was Europeërs wat geweet dat
die Arabiere speserye van Indië kry, en
dus was die besluit geneem om bloot
self na Indië te reis om dit daar te kry.
Maar, helaas, elke roete, of dit deur
Turkye, die Levant, of oor die
Middelandse See was, was hul pad
deur kwaai Arabiere geblok.

Uiteindelik nader‘n brawe Italianer genaamd Christoforus Columbus vir Koningin Isabella van
Spanje en bied aan om OM die aarde te vaar om so by Indië uit te kom. Meeste mense dog hy
was mal want hulle het geglo dat hy van die rand van die aarde sal afval, omdat die aarde mos
plat is. Columbus oortuig toe Isabella dat die aarde rond is en sy gee hom drie skepe om die
seeroete na Indië te vind. Op daardie stadium het mense van Eurasië en Afrika net van Eurasië
en Afrika geweet en nie van die bestaan van die Amerikas, Antarktika en Australië nie. Columbus
vaar toe in 1492 weswaarts oor die Atlantiese Oseaan en ontdek toe eers die Karibiese Eilande
en later Suid-Amerika, wat hy dog Indië is, en dit is hoekom die mense daar as Indiane bekend
staan. Alhoewel die Spanjaarde ‘n skatkis van kosse in Suid-Amerika ontdek het (sien Beiteltjie
1.3 Maart 2026), het hulle toe nog nie die speseryroete ontdek nie.
Terwyl Spanje besig was om die beskawings van die Amerikas uit te wis en hulle silwer en goud te
plunder en alle belangstelling in die speseryroete verloor het, besluit die Portugese dat hulle dan
maar die soektog na Indië voort sal sit. Vasco da Gama van Portugal besluit in 1497 om ‘n
suidwaartse seeroete, rondom Afrika, aan te pak. Groot was hul verrassing toe hulle om die
suidpunt van Afrika vaar en in die omgewing van wat ons as Mosambiek vandag ken, in Arabiese
handelskepe vasvaar (in ‘n latere uitgawe van Beiteltjie gaan ek julle meer van daardie reise
vertel). Uiteindelik het die Portugese die seeroete na Indië ontdek en sodoende die weg vir
Europeërs na die Verre Ooste oopgemaak.

Die Verenigde Oosindiese Kompanie (Vereenigde Oostindische Compagnie of VOC) van Holland het die handelsroete om die Kaap en speserymonopolie, wat Portugal vir ongeveer ‘n eeu oorheers het, oorgeneem en vir ongeveer twee eeue (1602-1799) beheer. Uiteindelik is die VOC ontbind en die Britte het die handelsroete en VOC belange, insluitende die Kaap, oorgeneem (maar meer daaroor in ‘n latere uitgawe van Beiteltjie). Tydens die VOC se aktiwiteite in die sewentiende eeu, was Kaapstad as verversingspos gestig waar skepe vars kos kon oplaai vir hul weg na die Verre Ooste of op pad terug vanaf die Verre Ooste na Europa. Met ander woorde, as dit nie vir Europa se afhanklikheid van speserye was nie, en as dit nie vir Europa se vyhandigheid met die Arabiere was nie, sou Kaapstad nooit gevestig geraak het nie, en ons sou nie hier gewees het nie.
Peper
Die peperplant (Piper nigrum) is ‘n rankplant wat oorspronklik in die tropiese woude langs die
Weskus van Indië voorgekom het. Peperplante het helderrooi bessies wat swart word as dit
uitdroog en dit is waar swart peper vandaan kom. Witpeper word van die saadjies wat oorbly, na

die bessie se vleis afgestroop word, gemaak deur om die saadjies te maal of fyn te stamp. Weens die
populariteit van peper word dit wêreldwyd in tropiese gebiede verbou. Viëtnam is tans die wêreld se grootste produsent van peper.
Peper is ‘n gesogde spesery wat in talle disse, meestal vleis- en ander soutdisse gebruik word, maar verbasend ook in sekere soetgebak, lekkergoed en drinkgoed.
Peperkoekies (peperneute in Nederlands of
pfeffernusse in Duits) het peper in. Swart fluweelkoek word soms met peper gemaak. Chai tee en Duitse Glühwein het speserye, onder andere peper, in. Peper beklemtoon die ander speserye soos kaneel, gemmer en naeltjies se geure in hierdie disse.
Peper was van die Antieke Tyd af baie waardevol,
maar het veral in die Middeleeue baie duur geword, en was daarom “swart goud” genoem. Dit is waar die uitdrukking: “peperduur” vandaan kom.
Peper het antibakteriële eienskappe en was vanaf die Antieke Tyd in tradisionele medisyne gebruik. Die Egiptenare het dit ook in die balseming van mummies gebruik. Peper is blykbaar goed vir die spysvertering en help met die absorbering van voedingstowwe.
Gemmer
Gemmer (Zingiber officinale) het op die groot eilande van SuidoosAsië soos Java, Soematra, Borneo en Soelawesi ontstaan en was
reeds vir duisende jare deur die inboorlinge van daardie eilande veredel. Hierdie mense was ook
die voorsate van die Polinesiërs wat gemmer saam met hoenders, varke, piesangs en madumbis, vanaf 5 000 jaar gelede, na oor ‘n
duisend eilande in die Stille Oseaan, insluitend Hawaii, versprei het.

Gemmer word van die wortelstokke van die gemmerplant gemaak en word in disse en medisyne vir duisende jare gebruik. Gemmer is deur handelaars na Indië, China en deur middel van die syroete tot in Europa versprei waar onder andere die Grieke en Romeine dit in hulle kos en tradisionele medisyne gebruik het. Gemmer word in talle Suid-Afrikaanse disse gebruik en is een van die bestanddele van kerrie en natuurlik in gemmerbier. Gemmer word ook as tradisionele medisyne gebruik as anti-inflammatoriese middel, as immuniteitstelsel-versterking en as teennaarheidmiddel. Dit het anti-bakteriële eienskappe en word vir die preservering van kos gebruik.
Borrie

Borrie (Curcuma longa), wat aan dieselfde familie blomplante as die gemmerplant hoort,
kom oorspronklik van die woude van Indië en
Suidoos- Asië.
Argeologiese opgrawings dui daarop dat mense in Indië borrie reeds meer as 4000 jaar gelede gebruik het.
Borrie word van die verdikte wortelstokke van die wortels van die borrieplant gemaak deur om dit te kook, te droog en op te maal.
Borrie word in kos en tradisionele medisyne gebruik, maar ook as ‘n kleurstof om materiaal geel te kleur. Borrie word in baie disse gebruik, soos onder andere in kerrie, bobotie en geelrys. Borrie word vir eeue in tradisionele
medisyne gebruik vir spysverteringsprobleme, vir bloedvatgesondheid en as antiinflammatoriese middel. Dit het anti-bakteriële eienskappe en word vir die preservering van kos gebruik.
Naeltjies
Die naeltjieplant (Syzygium aromaticum) is ‘n klein tipe boom wat op die Molukke Eilandgroep of Speseryeilande in Oos-Indonesië voorkom. Naeltjies word van die uitgedroogte blomknoppe gemaak.
Naeltjies was vir duisende jare ‘n gesogde spesery. Die oudste bewys van die gebruik van naeltjies in die Weste was in ‘n argeologiese vindplek in Sirië ontdek wat 1720 v.C. bewoon is. Daarna het die Grieke en Romeine naeltjies gebruik. Naeltjies was in China voor 200 v.C. as mondverfrisser gebruik.
Naeltjies word in talle disse soos kerrie, gebak soos spekulaas en drankies soos Chai tee en Glüwein gebruik. Naeltjieolie het ook ‘n verdowende effek en word in tradisionele medisyne vir tandpyn gebruik.

Naeltjies was ‘n paar eeue gelede, saam met peper en neutmuskaat, een van die duurste speserye wat net op ‘n klein groepie eilande in die Molukke voorgekom het en dus baie skaars was. Tydens die VOC se beheer oor die speseryeilande was van die bome op die eilande afgekap sodat dit nog skaarser word om die prys van naeltjies te verhoog. ‘n Fransman het jong naeltjieboompies uitgesmokkel en in Mauritius en Zanzibar gaan verbou wat die VOC se monopolie op die handel in naeltjies gebreek het.
Kardamom

Kardamomplante, wat verwant is aan gemmer en borrie, is endemies aan die tropiese woude van Wes Indië. Daar is twee verskillende tipes kardamom speserye naamlik die groen kardamom van Indië en die swart kardamom van die Himalajas. Aangesien die groen kardamom die bekendste een van die twee is, word dit hier bespreek.
Die groen kardemomplant (Elettaria cardamomum) se saadpeule word geoes en gedroog. Die sade binne-in word fyngemaal om ‘n poeier te kry wat in disse en tradisionele medisyne gebruik word en as die spesery kardemom bekend staan.
Kardemom word reeds vir duisende jare, vanaf die Antieke Tyd in die Ooste gebruik en handelaars het dit van daar met die Syroete na die Midde Ooste en Europa versprei.
Kardamom word in talle disse, insluitend kerrie, speserykoekies en roomys gebruik. Dit word ook in tradisionele medisyne gebruik om spysverteringsprobleme, asemhalingsprobleme en bloeddruk te behandel. Dit is ‘n anti-inflammatoriese middel en het antibakteriële
eienskappe en word vir die preservering van kos
gebruik.
Kaneel
Kaneel kom van die binneste bas van verskeie
boomspesies van die Cinnamomum genus wat in Sri Lanka, Indië, Indonesië en Suidoos-Asië voorkom. Die mees algemene kaneel wat gebruik word is die Ceylon kaneel of ware kaneel van die boom Cinnamomum verum wat in Sri Lanka voorkom.
Kaneel word ge-oes deur om die buitenste bas van die boom af te sny om die onderste baslaag te ontbloot wat in repe gesny word en so gelos word om in die son te droog, waarna dit versamel word. Kaneel kan in opgerolde bas-stokkies of as fyngemaalde poeier verkoop word.

Kaneel word in baie sout en soet geregte gebruik en is een van die geliefste speserye in SuidAfrika. Ons gebruik dit op pannekoek, melktert en verskeie ander disse, insluitend kerrie. Dit word in Chai tee en in appeltert en in kruiekoekies soos spekulaas gebruik. Kaneel word in
tradisionele medisyne wat vir die beheer van bloeddruk en bloedskuiker en vir spysverteringsprobleme gebruik. Dit word as anti-inflammatoriese middel gebruik en het antibakteriële eienskappe en word vir die preservering van kos gebruik. Dit was ook in Antieke
Egipte gebruik om mummies te balsem.
Neutmuskaat en foelie

Die neutmuskaatplant (Myristica fragrans) is ‘n tropiese boom is endemies aan die Banda Eilande in die Molukke Eilandgroep in Oos-Indonesië. Die neutmuskaatsaad, wat al vir ten minstens 3 500 jaar as spesery gebruik word, kom in perske-grootte geel vrugte voor. Die vlesige rooi vlies rondom die saad word ook versamel en gedroog en staan as die spesery foelie bekend.
Neutmuskaat en foelie word in talle soet en sout disse gebruik.
Weens die beperkte verspreiding van neutmuskaatbome, wat slegs op sekere van die Banda Eilande, tussen meer as oor die 17 500 eilande van Indonesië, voorgekom het, was dit
uiters skaars en dus uiters waardevol. Sekere inwoners op die Banda Eilande, wat die handel in neutmuskaat met die Chinese en Arabiese handelaars beheer het, het skatryk en magtig geword.
Aanvanklik was die tuiste van neutmuskaat geheim gehou, sodat niemand geweet het waar om dit te vind nie – sodat ander wêreldmoonthede nie die handel of die gebied waar dit natuurlik voorkom, kom oorneem nie. Maar weens neutmuskaat se waarde wou al die Europese magte, wat vanaf die 15de eeu in die Verre Ooste bedrywig was, hierdie spesery in die hande kry en ‘n monopolie op die handel daarin verkry. Eers was dit die Portugese, toe die VOC en laastens die Engelse. Deur omkopery, geweld en geldsug het die waarheid uiteindelik uitgekom en die
Europese moonthede in die gebied het die Banda Eilande ontdek. Die mense van Banda het erg daaronder gely want hulle was in hierdie speseryoorloë gemartel, uitgewis en van hul land beroof. Uiteindelik het die Engelse neutmuskaat na ander plekke, insluitend Sri Lanka, uitgevoer en daar gekweek en so die VOC se monopolie gebreek. Toe neutmuskaat elders in die wêreld gekweek is, het dit spotgoedkoop geword.
Steranys
Die steranysboom (Illicium verum) is endemies aan SuidoosSjina en Noord-Viëtnam. Die steranys spesery is die gedroogte stervormige vrugte van hierdie boom. Die gedroogte vrugte word vir meer as 2000 jaar in sommige disse
gebruik, terwyl ander die fyngemaalde sade, en ander steranysolie, wat baie soos soethout en anys proe en ruik, gebruik. Steranys is oor die laaste 2000 jaar deur handelaars met die Syroete tot in Europa versprei.
Steranysolie word as geurmiddel in kookkuns, parfume, seep en tradisionele medisynes gebruik.

Uitgawe 5 – Mei 2026
Ontdek:
DIE STORIE VAN GOUD Deel 1
Wat is goud?

Goud is ‘n unieke metaal en vir daardie rede baie kenmerkend. Dit is ook baie skaars en dus gesog, wat die hoofrede daarvoor is dat dit baie duur is.
Goud is die enigste geel metaal en baie blink. Weens goud se standhoudende blink glans word dit as ‘n edelmetaal beskou.

Edelmetale se glans word veroorsaak as gevolg daarvan dat hulle redelik chemies inert is en dus nie so maklik soos ander metale oksideer (roes of aanslaan) nie en vir lank blink bly voor dit gepoets moet word om dit weer blink te kry. Ander edelmetale wat jy ken is silwer en koper.
Edelmetale is goeie geleiers van elektrisiteit en dus word koper vir elektriese drade gebruik, maar silwer en goud word ook in sekere elektriese komponente as geleiers gebruik

Goud is baie sag in vergeleke met meeste ander metale en word meestal met die maak van juweliersware met ander metale soos silwer of koper saamgesmelt om ‘n allooi te vorm wat sterker en harder as natuurlike goud is.


Goud is die mees pletbare (sagte, rekbare en smeebare) metaal bekend en kan dus gerek word om dun draad te vorm of uitgehamer word tot ‘n dikte van ‘n honderste van ‘n millimeter.
Die pletbaarheid van goud het ook daartoe bygedra dat dit vir duisende jare, selfs lank voor die koms van smeeoonde, waarin metaal uit erts gesmelt kon word, as juweliersware gebruik is. Vanaf ongeveer 6 000 jaar gelede het mense goue juweliersware en tooisels vir konings gemaak. Hierdie voorwerpe was soortelyk aan die goue renoster van Mapungubwe van stukkies goudplaat gemaak wat van platgehamerde goudklonte gemaak is, Hierdie goudplaat was dan met klein goue spykertjies in ‘n houtkern vasgespyker.
Die oudste goue sierrade bekend is in ‘n argeologiese opgrawing by Varna in Bulgarye ontdek. Honderde grafte is in hierdie opgrawing ontdek waarna die argeoloë dit die Varna Begraafplaas gedoop het. Drie van hierdie grafte het talle goue voorwerpe, insluitende septers, gehad. Graf no. 43, het besonder baie goue voorwerpe opgelewer. Waarskynlik was hierdie mans met septers begrawe is die konings wat oor die antieke beskawing, wat ongeveer 6500 jaar gelede daar voorgekom het, geheers het.
Omdat goud so skaars is, is dit vanselfsprekend dat ‘n magtige heerser soos ‘n koning alleenreg daarop sal kry en belasting in die vorm van goud van sy onderdane sal eis. Mens kry dus baie min goud in die grafte van die onderdane in ‘n koninkryk maar dikwels baie daarvan in ‘n lid van die adel se graf.

Terwyl ons van die pletbaarheid van goud praat, wil ek julle vertel van die dunste tipe goud wat mense al vir baie lank gebruik het, naamlik bladgoud. Bladgoud is die dunste lagie goudplaat of foelie wat mense kon uittimmer en met kliprollers uitrol sodat dit tussen 500 en 1000 keer dunner as ‘n vel papier is! Die dunste bladgoud is amper deursigtig en kan met ‘n ligte uitaseming weggeblaas word.
Die Egiptenare het reeds bladgoud gemaak en grafkamers se mure, sarkofage en ander voorwerpe daarmee bedek. In die Middeleeue, voor die koms van die drukpers, was alle boeke, insluitende die Bybel, met die hand van ouer kopieë gekopieër. Van hierdie handvervaardige Bybels was weliswaar kunswerke wat met spesiale kunsskrif wat kalligrafie genoem word, geskryf. In sekere Bybels was van die eerste hoofletters van elke boek met bladgoud bedek. Die hoofletter was met gom geverf voor die bladgoud daarop geplaas is. Wanneer die gom droog geword het, het die kunstenaar die rande met ‘n dun stilus afgekrap sodat slegs die goue hoofletter oor was. Hierdie tegniek, wat vergulding genoem word, was ook op ander items soos rame van skilderye, porseleinbeeldjies, ornamente en op panele, mure en plafonne in geboue gebruik.
Die oorsprong van die goudindustrie
Goud was reeds vanaf die Kopertydperk (4500–3500 v.C.) in gesogde items in Europa verwerk. Sierrade was uit hierdie goue voorwerpe gemaak, wat volgens alle aanduidings, deur hooggeplaastes in daardie gemeenskappe gebruik is en as statussimbole gedien het.

Vroeë Mesopotamiese vindplekke in die Levant, soos die Wadi Kwana begraafplaas op die Wesoewer in Palestina wat ongeveer 6 500 jaar oud is, het die oudste voorwerpe van gegote goud, wat tot dusver ontdek is, opgelewer. Alhoewel goud sag is, het dit nog steeds ‘n hoë smeltpunt van 1 064° C, wat soortgelyk aan dié van koper van 1084.62° C is. Mense wat oonde kon bou wat koper smelt, kon dus ook goud smelt. Brons is ‘n allooi van koper en tin. Dus in die Bronstydperk het mense ook gegote goue voorwerpe kon maak.

Die goudindustrie wat vanaf die vierde millennium v.C. in die Egeïese gebied gevestig geraak het, het uiteindelik ook Egipte bereik. Egipte het as een van die leiers in die goudindustrie vanaf die derde millennium v.C. te vore getreë. Die eerste goudmyne in Egipte dateer uit die Pre- tot Vroeë Dinastiese Tydperk (3000-2700 v.C.).

Die eerste goudmyners het kalbasvormige kliphamers, wat tot 8 kg geweeg het en tot 40 cm lank was, en wat in beide hande vasgehou was, gebruik om die gouddraende kwarts fyn te hamer (sien: Wat maak jy daar? van hierdie uitgawe). Die rotspoeier was dan gewas om die ligter kwartsdeeltjies van die swaarder gouddeeltjies te skei. Die uitgemynde ruimtes, wat oorspronklik met kwarts gevul was, kom oral in die ooste van Egipte en noord Soedan voor as slote van tot ongeveer 5 m diep en tot 10 m lank.
Die mynbou-tegnologie het stelselmatig verbeter en in die Middel Koninkryk was die kliphamers met 2-5 kg ovaalvormige koppe, wat in die Ou en Middel Koninkryke (2700-1800 v.C.) gebruik was, met ligter hamers met gepunte klipkoppe vervang om die erts uit die kwartsare te kap.

Hierdie erts was dan buite die myn verder in klipvysels fyngemaal. Die permanente klip en moddersteengeboue rondom myne, wat uit hierdie tydperk dateer, dui daarop dat goudmynery as ‘n professionele bedryf in hierdie tydperk gevestig is. Hierdie permanente werkerskorps dui op ‘n spesialisering van arbeid in die groeiende mynboubedryf, wat saam met die uitbreiding van die ekonomiese en politiese mag van Egipte gepaard gegaan het.



Die goudmynbedryf moes uitbrei om die groeiende ekonomiese en politieke mag van Egipte tydens die Nuwe Koninkryk (1550-1070 vC) te onderhou. Ander gouddraende gesteentes wat minder goud as die erts by die oudste myne gehad het, is van toe af gemyn. Verbeterings in mynboutegnologie van hierdie tydperk sluit die gebruik van bronsbeitels – om die erts uit te kap, en ovaalvormige meulstene – om die gouderts op fyn te maal en wastafels – om die gouddeeltjies uit te wan, in.
Aangesien die kwartsare naaste aan die bewoonde gebiede en handelsroetes toe reeds uitgemyn is, moes nuwe goudbronne verder weg gevind word. Tydens die 18de Dinastie van die Nuwe Koninkryk het Egipte die gebied suid van Egipte (die noordelike deel van die hedendaagse Soedan) oorgeneem. Die ontdekking van nuwe goudvelde in Nubië het vir ‘n herlewing in die goudmynbedryf in Egipte gesorg. Goud was een van die belangrikste aspekte van die mag van die Egiptiese Ryk. Dit het beide as ‘n simbool van mag en welstand gedien, maar was ook gebruik as instrument vir internasionale betrekkinge. Reeds in die Ou Koninkryk (2686–2181 vC) was dit gebruik om talle reuse projekte, insluitende die bou van die piramides te befonds.
Die verhouding tussen geld en goud

Metale was nog altyd waardevol aangesien dit moeilik was om die erts te myn, fyn te maal, in ‘n oond te smelt en die onsuiwerhede uit te hamer en dit dan in vorms te hamer of te smelt. Metale soos koper, brons (‘n allooi van koper en tin) en yster was altyd handig want mens kon goed soos êe, skoffels, sekels, byle, hamers, spiese, messe, swaarde, pylpunte, skilde, wawielbande, skarniere, slotte en nog baie meer daaruit vervaardig. Metaal in die vorm van lingots of -stawe of as vervaardige goedere soos messe, byle, swaarde of sekels, was algemeen in die Vroeë Bronstydperk in handel tussen lande rodom die Middelandse See gebruik en so het metale as ruilmiddel, vee en koring as ruilmiddel begin vervang.
Metale soos koper, tin en silwer wat in handel gebruik was, was as ‘n lingot of in die vorm van ‘n staaf in ‘n vorm in nat sand of klei gegiet. Van die oudstes van hierdie metaalplate het die vorm van ‘n oopgevlekte beesvel wat uitgedroog is. Dit was as belasting, geskenke en vir groot transaksies tussen volke, wat uitgevind het hoe om metale te ontgin, vanaf die sewende eeu vC vir munte gebruik. Edelmetale in hierdie onverwerkte rou vorm word muntmetaal (bullion in Engels) genoem. Edelmetale soos goud en silwer en nuttige metale soos koper, tin, brons en yster was vir lank voor munte in die Antieke tyd in Egpite, Babilonië, Indië en China as ruilmiddel gebruik.
Dit was egter belangrik dat ‘n ruilmiddel gevind moes word om met ander lande handel te dryf wat nie aan die plaaslike politiek en sosiale rituele gekoppel was nie. Dit bedoel dat ‘n ruilmiddel gevind moes word wat opsigself iets vir beide lande iets werd was en die ruilmiddels wat mees algemeen gebruik was, was koper, goud en silwer. Die priesters van die tempel het ‘n sisteem uitgewerk wat die garsstandaard, wat die grondslag van hulle ekonomie in Sumerië gevorm het, met die prys van koper en later silwer laat oplyn. Dit was dus moontlik vir mense van die Midde Ooste om van ongeveer vier duisend jaar gelede goedere met gars of silwer te koop. Selfs na die ontstaan van munte was gars nog steeds die monetêre standaard. Die sikkel van Sumerië byvoorbeeld het ‘n sak gars van ‘n sekere gewig verteenwoordig.
Van die oudste munte, was deur die koning Aliattes van Lidië (deel van hedendaagse Turkye), gedurende die einde van die 7de Eeu v.C. gebruik. Hierdie tipe munt wat uit elektrum, ‘n natuurlike allooi van silwer en goud vervaardig is, staan as die Lidiese Leeu bekend weens die feit dat die leeu, wat die simbool van die koningshuis van Lidië was, op die een kant van die munt uitgebeeld word. Die gebruik van munte het stadig deur Griekeland van stad na stad versprei en was ook deur die Persiese Ryk aanvaar na die oorname van Lidië deur die Perse in 547 vC.Van die oudste munte, was deur die koning Aliattes van Lidië (deel van hedendaagse Turkye), gedurende die einde van die 7de Eeu v.C. gebruik. Hierdie tipe munt wat uit elektrum, ‘n natuurlike allooi van silwer en goud vervaardig is, staan as die Lidiese Leeu bekend weens die feit dat die leeu, wat die simbool van die koningshuis van Lidië was, op die een kant van die munt uitgebeeld word. Die gebruik van munte het stadig deur Griekeland van stad na stad versprei en was ook deur die Persiese Ryk aanvaar na die oorname van Lidië deur die Perse in 547 vC.

Die gebruik van munte was ‘n belangrike deurbraak in die ekonomiese ontwikkeling en uitbreiding van die beskawings in die Midde Ooste. Alhoewel silwer en goud reeds vanaf die derde millenium v.C. as ruilmiddel gebruik was, is die eerste munte eers tydens die sesde eeu v.C. geslaan. Die gebruik van munte dui op die staat se oorname en beheer van die land se ekonomie. Die munte word deur die regering van die goud, silwer en brons in hul skatkamers vervaardig. Hierdie edelmetale is dan hoofsaaklik afkomstig van myne, wat dikwels deur die regering beheer word, belasting en die plunder van naburige lande se skatte. Dit is dan ook die rede hoekom munte meestal die afbeelding van die heerser van die land, waar die munte gemunt en gebruik word, vertoon. Die gebruik van munte het van Lidië na Persië versprei en van daar na gelang van tyd, na die res van die wêreld.
Dit is egter ook noemenswaardig dat in tye wanneer edelmetale skaars was, of ‘n sekere politieke mening afgedwing is, sekere lande se munte uit yster geslaan is. Een so ‘n voorbeeld was die Spartane wat daarmee hul onafhanklikheid van ander volke, wat edelmetale gehad het, wou wys. Dit het hulle ook ontmoedig om met buitelanders handel te dryf.
Mynboutegnologie wat tydens die Ptolemeïese Ryk (305 v.C. tot 40 n.C.) ontwikkel was en wat tot vandag toe nog in gebruik word sluit koepelvormige dakke en pilare, wat die dak van die myn stut, in. Die goudmynbedryf in Egipte en die Midde-Ooste het in die Romeinse tot Bisantynse Tydperk (30vC – 641n.C.) begin agteruitgaan weens die politieke onruste in daardie tydperk wat die Romeine genoop het om eerder aan die bou van fortifikasies vir die beskerming van handelsroetes en die verbouing van kos aandag te gee as om die goudmynbedryf te bevorder.
Die goudmynbedryf in die Oostelike Woestyn het eers weer tydens die heerskappy van Ahmad Ibn Tulun (835-884 n.C.) herleef na ‘n tydperk van politieke en ekonomiese onstabileit toe daar ‘n magstryd tussen die plaaslike Bedoeïene, Egiptenare, Nubiërs en Arabiere gewoed het. Politieke en ekonomiese stabiliteit het eers na die oorname van die Arabiere oor die Oostelike Woestyn en Nubië gekom en tot met die nuwe politieke onstabiliteit en die uitbraak van die kruistogte geduur.

Die ontdekking en ontginning van die groot goudvelde in Wes Afrika in die veertiende eeu nC, het verder tot die agteruitgang van die Midde Oosterse ekonomie, wat van die goudmyne in die Oostelike Woestyn afhanklik was, bygedra. Die rykdom van Wes Afrika in daardie tyd word deur die besoek van Mansa Musa aan Egipte geïllustreer. Mansa Musa, die heerser van die Ryk van Mali, het in 1324 op sy hajj na Mekka, met ‘n kameeltrein van amper 100 kamele en duisende mense in Egipte aangekom en daar vir ‘n ruk vertoef. Hy het tydens sy verblyf en deurtog deur Egipte soveel goud onder die mense daar uitgedeel dat dit tot die devaluasie van goud in Egipte gelei het en Egipte vir 12 jaar in inflasie gedompel het.
Goud was sekerlik die metaal wat die meeste rykdom en mag vir sommige en armoede, onderdrukking en hartseer vir ander wêreldwyd veroorsaak het. Die enigste rede hoekom goud ‘n hulpbronvloek kon word, is omdat mense waarde aan goud heg. As mense goud net as ‘n vreemde en redelike nuttelose metaal in vergeleke met yster en koper kon sien, sou goud sy waarde verloor het en die geskiedenis sou heeltemal anders daar uitgesien het. Die verdeling van mag en rykdom en vestigingspatrone van mense sou ook heeltemal anders gewees het.
Lees meer oor die goud in Afrika in die volgende aflewering van Beiteltjie.
Uitgawe 6 – Junie 2026
Ontdek:
DIE STORIE VAN GOUD Deel 2
Waar kom goud voor?


Alhoewel goud wêreldwyd voorkom, word die grootste konsentrasie goud hier in Suid-Afrika aangetref. Omtrent 22% van die goud wat ooit gemyn is, is afkomstig van die geologiese eenheid wat as die Witwatersrand Supergroep bekend staan. Die Witwatersrand Supergroep kom in die suide van die ou Transvaal (suid Gauteng en Noordwes) en in die noordweste van die Vrystaat voor.
Die Vredefort Koepel is een van die grootste en bes bewaarde meteorietimpak-oorblyfsels op aarde (lees meer daaroor in: https://wereldomons.co.za/2021/05/31/ 883/). Parys lê langs die Vaalrivier op die rand van die Vredefort Koepel, terwyl die dorpie Vredefort in die middel daarvan geleë is. Dit is nie toevallig dat die goudmyne noord en noordwes van die Vredefort Koepel voorkom nie (die wit blokkies op die foto op die vorige bladsy is die slikdamme van goudmyne).

Oorspronklik het mense gedink dat die goud van die Witwatersrand Supergroep, dalk uit die uitskot van die meteoriet gevorm is, maar dit is nie waar nie. Die uitskot van die meteoriet het egter ‘n dik laag puin gevorm wat die goudryke lae, wat reeds lank voor die tyd, op die rand van in ‘n vlak see afgeset was, van verwering bewaar het.
Trouens, die goudryke lae van die Witwatersrand Supergroep kan in die kraag van die Vredefort Koepel gesien word, waar dit weens die impak, boontoe gebuig het. Verder weg van die impakkrater hel die Witwatersrand Supergroep se lae na die Vredefortkoepel toe omdat die meteorietimpak die aardkors gebuig het. Hierdie helling van die goudryke lae het ‘n groot invloed op die aard van die goudmyne rondom die Vredefort Koepel, want die enigste manier om die goud te bekom is met behulp van skagte en tonnels wat tot drie kilometer, en op die Wes Rand selfs oor die vier kilometer diep is. Hierdie is van die diepste myne op aarde.
Elders in Afrika, word goud in van die oudste korsgesteentes op aarde aangetref. Herhalende siklusse van verhitting en verkoeling, waaraan die gesteentes in hierdie geologiese gebiede blootgestel is, het tot die infusie van goud in hierdie gesteentes bygedra. In hierdie gebiede kom die goud in kwartsare van ‘n paar sentimeter tot 1.5 m in deursneë voor.
Arabiese Afrika
Wat my opval is die onkunde, of die totale geheueverlies, of eerder die moedswillige ignorering van Arabiese ekspansionisme wat ‘n direkte impak op die ontwikkeling en geskiedenis van Afrika, en Suid-Afrika gehad het en steeds het.

Iets wat mense ook verwar is dat die woord Arabier, net soos die woorde Jood of Christen, ‘n kulturele en geloofsbetekenis het en nie na ‘n etnisiteit verwys nie. Wanneer ek die woord Arabies hier gebruik verwys ek na die taal, kultuur en godsdiens van ‘n groep mense en nie slegs hul etniese herkoms nie.

Arabiere het ook nie een en ‘n half duisend jaar gelede uit die lug geval nie, hulle oorsprong was uit die volkere van die Midde-Ooste – die nasate van die Sumeriërs, Hettiete, Babiloniërs, Perse,

Fenisiërs en Egiptenare, om maar net ‘n paar te noem. Die Arabiese kultuur het na vore gekom na die geboorte van die Profeet Mohammed in 570 en die daaropvolgende verspreiding van Islam vanaf 610 tot vandag. Die Arabiese identiteit word gekenmerk aan die aanhang van Islam wat ‘n gemeenskaplike godsdiens, taal, kultuur en regstelsel insluit.
Die kulturele en tegnologiese invloed van die Midde Ooste het oor millenia, lank voor die koms van Islam, na Europa, Afrika en Asië versprei en sodoende landbou, veeteelt en metaalverwerking na die drie kontinente oorgedra. Hierdie invloede van die Midde Ooste het met die aanvang van landbou 9000 jaar gelede begin, wat tot die verspreiding van die Indo- Germaanse taal, kultuur en religieë en die verspreiding van gedomestiseerde diere in die vorm van vee en die verbouiing van graangewasse gelei het.

Die Midde-Oosterse kultuur en goedere het makliker en vinniger na Noord-Afrika, Europa en Indië versprei as wat dit na die binneland van Afrika suid van die Sahara versprei het. Van die grootste hindernisse, wat die verspreiding van beeste, en dus beesboere en die gepaardgaande tegnologiese, kulturele en ekonomiese invloed, insluitende mynbou en metallurgie, vanaf die Arabiese Peninsula na sub-Sahara Afrika vertaag het, was die tsetsevlieg. Anders as in Andalusië, die Maghreb, Mashrek en Indië, sien mens nie ‘n massa-verhuising van Perse en Arabiere in tropiese Afrika nie, maar eerder die vestiging van hawestede langs die Ooskus van Afrika. Die Arabiere, soos die Perse voor hulle, was hoofsaaklik bemoeid met die verkryging van goedere uit sub-Sahara Afrika en die vervoer daarvan na Arabië en Indië waar dit verhandel is. Oos Afrika, suid van die Horing van Afrika, waar slawe en ivoor verkry is, het as die Zanj bekend gestaan, terwyl die goud-produserende land in die suide as Sofala bekend gestaan het. Arabiese seevaarders vanuit die Persiese Golf het reeds teen die agste eeu die Ooskus van Afrika so ver as die Zambesi en waarskynlik so ver suid as die Limpopo verken. Die eerste geskrewe rekord wat Sofala vermeld is die geskrifte van die Arabiese geleerde Al-Masudi wat in die tiende eeu geleef het.

Na gelang van tyd was die hawestede, handelsentrums en sultanate soos Chibuene, Sofala, Kilwa en Modadisjoe langs die Ooskus van Arika gevestig. Dikwels was sultanate op eilande soos Zanzibar, Mombasa, Pemba, Mafia en Mosambiek Eiland gevestig – juis om die veiligheid van die Arabiese heerserklas van die etniese Afrikane te verseker.
Danksy duisende jare se blootstelling aan eers die Persiese, en later die Arabiese handelaars, het ‘n handelselite tussen die inheemse bevolking langs die Ooskus van Afrika ontstaan wat ‘n lingua franca bekend as Swahli gebruik om met mekaar te kommunikeer. Swahili bestaan uit ’n mengsel van hoofsaaklik Bantoe en Arabiese woorde. Die voorkoms van Persiese woorde in Swahili dui egter op ‘n blootstelling aan Perse wat reeds eeue voor Christus moes plaasgevind het. Die invloed van die Arabiese kolonialisasie word ook in die Swahili-sprekende mense se bekering tot die Islam, hul argitektuur, boerderymetodes, kleredrag, wette, skrif en politiese en familiestrukture weerspieël.

Meeste van die verkryging en vervoer van goedere vanuit die binneland van Afrika na die kusdorpe was deur die Swahilis van Sentraal Afrika beheer. Die Swahilis se kennis van die tale, kulturele gebruike en regeringstelsels van die Bantoe-sprekende volke van Afrika was allerbelangrik in die totstandkoming van ‘n reuse handelsnetwerk wat oor Afrika gespan het en selfs die mees afgeleë gehuggies, tot die belangrikste stede van die interieur met die Arabiese hawestede verbind het.

Terwyl die Arabies-beheerde hawestede op die eilande Zanzibar, Kilwa, Mafia, Pate, Manda, Pemba, Komores en Madagaskar in die tiende eeu gevestig is, het Swahili-beheerde dorpe binnelands vanaf die kus allangs die handelstroetes in Somalië, Tanzanië, Kenia en Mosambiek verrys.

Terwyl die Arabies-beheerde hawestede op die eilande Zanzibar, Kilwa, Mafia, Pate, Manda, Pemba, Komores en Madagaskar in die tiende eeu gevestig is, het Swahili-beheerde dorpe binnelands vanaf die kus allangs die handelstroetes in Somalië, Tanzanië, Kenia en Mosambiek verrys.
Nadat die sultan van Kilwa die goudinvoer van Sofala oorgeneem het, het dit teen die 12de eeu tot dit die grootste en belangrikste hawestand aan die Ooskus van Afrika geword. Kilwa het steeds magtiger in die 13de eeu geword soos die aanvraag na goud in die Midde Ooste en Verre Ooste toegeneem het. Die paleis van Sultan Husini Kubwa en die Groot Moskee van Kilwa was tydens hierdie bloeitydperk in die 14de eeu gebou voor die prys van goud gedevalueer het weens die instroming van groot hoeveelhede goud vanaf Wes Afrika na die Midde Ooste.
Ons sal waarskynlik nooit weet wie die eerste geoloë was wat die goudvelde van die Zimbabwe Kraton ontdek het nie, maar ek vermoed dit was Arabiese geoloë. Die mynboutegnieke wat toegepas is, is duidelik dieselfde wat vir duisende jare in die Arabiese Peninsula en in Egipte gebruik is. Dit is ook nie toevallig dat die ontwikkeling van die Zimbabwiese goudvelde presies met Arabiese ekspansionisme saamval nie. Daar was geen ontginning van goud, goue voorwerpe in grafte of goudmyne in Suider-Afrika voor die koms van die Arabiere langs die Ooskus van Afrika nie. Wat wel duidelik blyk is dat mynboukulture en die Mapungubwe, Groot Zimbabwe, Mutapa, Torwa en Rozwi Koninkryke in die hedendaagse Zimbabwe tussen 1000-1900 jaar gelede rondom hierdie goudvelde ontstaan het. Die totstandkoming van hierdie koningkryke het met die suidwaartse uitbreiding van die Arabiese handelsroete en die totstandkoming van die Arabies-beheerde hawestede Chibuene en Sofala gepaard gegaan.
Ysterverwerking het vanaf Noord Afrika en die Arabiese Peninsula vanaf ongeveer 2000 v.C. na Afrika suid van die Sahara versprei en het aan die Afrika Ystertydperk oorsprong gegee. Ystergereedskap was deur die Zimbabwese kulture gebruik om gouderts vanuit die kwartsare in die graniet te myn waarna die erts buite die myn fyn gestamp en gemaal is.

Die Koninkryk van Mapungubwe (1075-1220 nC) was die mees suidelike vesting van ‘n groot Arabiese handelsnetwerk wat regoor Afrika gestrek het en wat met hawestede op die Ooskus van Afrika verbind was. Arabiese skepe het met goedere uit Afrika – hoofsaaklik slawe, ivoor, pelse en goud – vanaf hierdie hawestede na bestemmings op die Arabiese Peninsula, Indië en die Verre Ooste vertrek.
Goedere van Suid-Afrika was met handelsroetes, langs die groot riviere, vanaf die binnelandse Bantoe-sprekende stede na die Arabies-beheerde kusstede vervoer. Die suidelike handelsroete het vir ‘n gedeelte langs die Limpopo vanaf Mapungube tot by Chibuene aan die ooskus van die hedendagse Mosambiek geloop. Die sentrale handelsroete het vanaf Groot Zimbabwe gedeeltelik langs die Runde en Save Riviere geloop tot dit noordwaarts tot by die destydse hawestad Sofala (wat na Beira deur die Portugese herdoop is) op die ooskus gestrek het. Die noordelike handelsroete het vanaf Mutapa, in die noordelike deel van die hedendaagse Zimbabwe, al langs die Zambesi Rivier tot by Angoche en Quimane op die ooskus van die hedendaagse Mosambiek gestrek.
Die goedere was vanaf hierdie kusdorpe met dhows noordwaards al langs die kus na Kilwa vervoer. Arabiese handelaars het die handelsware met behulp van die somer-monsoenstrome, vanaf Mei tot September, vanaf Kilwa na die Midde Ooste en Indië vervoer, en dit daar vir glaskrale, geglasuurde keramiek en katoen verhandel. Die Arabiese handelaars het die winter-monsoenstrome tussen November tot Februarie gebruik om met hul skepe vol handelsware van die Ooste na Kilwa terug te keer.
Zimbabwe (1100-1550 nC) was oorspronklik ‘n vasalstaat van die Mapungube Koninkryk en het eers na die ondergang van Mapungubwe aan bewind gekom. Die Koninkryk van Zimbabwe het oor ‘n groter goudryke gebied as sy voorganger geheers en het tot die grootste streeksmoontheid ontwikkel danksy hul verbintenis met die Arabiese Ooskus handelsroete. Daar word gespekuleer dat die ondergang van die Koningkryk van Zimbabwe veroorsaak was deur die uitputting van die goudreserwes in hul ryk, maar dit is onwaarskynlik want die ineenstorting van die Koninkryk van Zimbabwe kan eerder met die koms van die Portugese aan die Ooskus van Afrika verbind word.
Ten spyte van die oorname van Sofala en Kilwa deur die Portugese, was die oorname van die speseryhandelsroete na die Verre Ooste die Portugese se hoofdoel en het hulle min of geen belangstelling in die binneland getoon nie. Dit is ook hoekom Mosambiek so ‘n lang, uitgerekte land langs die ooskus is want die Portugese het die kusgebied beheer en in die naasliggende goudryke gebied – Zimbabwe – belangestel nie. Die teenwoordigheid van Portuguese in Sofala en Kilwa het nie die vloei van goud vanaf Suid-Afrika na die Midde Ooste belemmer nie. Die goud was steeds vanaf Zimbabwe met behulp van ‘n netwerk van binneslandse handelsroetes en per dhow kuslangs vervoer. Na die ineenstorting van Groot Zimababwe, het die Koningkryke van Mutapa en Rozwi, verder noord, met goudmynery aangegaan. Danksy die Swahilis was die handelsroetes van Afrika na Arabië in stand gehou terwyl die Portugese die beheer oor die handelsroetes in die Indiese Oseaan oorgeneem het.
Suid-Afrika
Die goudmyne van Mpumalanga
Na die nederige sukses van die goudmyn in Millwood in Knysna en Eersteling Myn die noorde van die ZAR, was spoelgoud in riviere rondom Sabie in 1871 ontdek wat tot ‘n goudstormloop gelei het. Verskeie dorpe soos Pelgrimsrus en Barberton het rondom die goudvelde ontstaan, insluitende verskeie ander soos Steynsdorp, Leydsdorp en Eureka City wat kort na die goudbronne uitgeput is, verval en verdwyn het (sien Beiteltjie 1.5). ‘n Massa-uittog van mynwerkers het van die goudmyne van Mpumalanga na die Witwatersrand plaasgevind toe dit duidelik geword het dat daar nog meer goud as in Mpumalanga is.
Witwatersrand Supergroep
Ongeveer 3 miljard jaar gelede was die Kaapvaal Kraton met ‘n see bedek waarna ‘n tydperk van sedimentasie gevolg het. Soos die see al dieper geraak het was die oorspronklike laag sand wat die Kaapvaal Kraton bedek het, deur modder vervang, waarna ‘n tydperk van chemiese presipitasie gevolg het. Hierdie sedimente staan as die Hospitaalheuwel Subgroep van die Witwatersrand Supergroep bekend en vorm die onderste en oudste laag van die Witwatersrand Supergroep.
Die opeenvolgende lae van moddersteen, konglomeraat en sandsteen wat die Witwatersrand Supergroep opmaak, dui op ‘n tydperk van wisselende seevlakke. Sand en gruis was op sekere tye op strande uitgespoel en op ander tye, wanneer die seevlak verdiep het, was modder op die seebodem afgeset. Hierdie sedimente was afkomstig van brongebiede op hooglande na die noorde en die weste van die Witwatersrand Kom. Die gouddraende konglomerate van die Witwatersrand Supergroep is as kwartsgruis, geronde piriet en klein swaarmetaal korrels vanaf hoërliggende brongebiede uitverweer en met riviere tot by die oersee wat die Witwatersrand Kom gevul het, vervoer. Die gruis, piriet en swaarmetale was in deltas langs die kus afgeset, terwyl modder, wat langer in suspensie gebly het, verder deur die seewater vervoer is en op die seebodem afgeset is.

Rotse van die Witwatersrand Supergroep is verder suid in Gauteng, Noordwes en in die Vrystaat ontdek waar dit in ‘n boog rondom die Vredefort Koepel voorkom. Deur boormonsters is daar bepaal dat die tot 7500 m dik Witwatersrand Supergroep in ‘n sinklien rondom die Vredefortkoepel voorkom.
Moderne diepmyn-tegnieke, wat tans wêreldwyd gebruik word, was vir die eerste keer vir die myne op die Witwatersrand ontwikkel en gebruik. Vertikale skagte, wat tot by die gouddraende lae gesink is was vir die eerste keer deur Jubilee Gold Mining Company in 1887 gebruik. Kort daarna het J.B. Robinson vyf skagte op die plaas Langlaagte gesink, wat met sytonnels verbind is, om die Hoofrif met behulp van afbouing te myn. Die diepste myn in die wêreld is Mponeng Goudmyn (voorheen bekend as Western Deep Levels Goudmyn) naby Carletonville. Hierdie myn is reeds 4 km diep en daar is planne om die myn tot ten minstens 5 km ondergronds te sink.

Diepmyn-tegnieke sluit die ondersteuning van die tonnel- en afboudakke met behulp van betonpilare, houtkonstruksies en natuurlike rotspilare wat behou word terwyl die gouderts rondom dit heen deur afbouing uitgemyn word. Koekepanne word op spore gebruik om die erts na die skagte te vervoer waarvandaan dit met die mynskaghysers na die oppervlakte gebring word. Die koekepanspore word teen ‘n helling gebou sodat die volgelaaide koekepanne, met behulp van swaartekrag, vanaf die goudrif na die mynskag sonder aandrywing kan beweeg. Die leë koekepanne word gewoonlik met die hand na die afbou, waar die myners erts uithaal, teruggestoot.
Die fisiese en chemiese aard van die gouderts verander na gelang van die diepte in die kors waarop dit voorkom. Oorspronklik was die amalgamasieproses gebruik om die goud uit die fyngestampte gouderts te verwyder, maar hierdie proses het al hoe duurder en minder effektief geword hoe dieper die erts ondergronds voorkom. Die MacArthur-Forrest sianiedproses was in 1890 ontwikkel om hierdie probleem te oorkom en word nog steeds vandag gebruik om goud uit die fyngestampte erts te kry. Die outydse mynhope van sand, was die eindproduk van die amalgamasieproses. Die slikdamme daarenteen is die eindproduk van die sianiedproses. Die koolstof-in-pulp en koolstof-in-loog prosesse is ontwikkel om die oorblywende goud uit die ou sandmynhope te ontgin. Die Randse Rafinadery, wat in 1922 in Germiston opgerig is, is steeds die grootste goudrafinadery ter wêreld.
Die belangrikste goudriwwe van die Witwatersrand Supergroep is die Basale Rif wat in die Vrystaatse goudmyne voorkom, die Koolstofgidslaag (Carletonville), Kimberleyrif (Evander), Hoofrif (Wes Rand, Sentraal Rand en Oos Rand), Hoofrifgidslaag (Sentraal Rand en Oos Rand), Middelvleirif (Carletonville), Suidrif (Sentraal Rand en Wes Rand), Vaalrif (Klerksdorp) en Ventersdorpkontakrif (Carletonville en Klerksdorp).
Die goudmyne aan die Sentraal Rand het hulle produksielimiet teen die einde van die Twintigste Eeu bereik en was verlaat. Kort daarna het die myne op die Oos Rand en Wes Rand in hul voetspore gevolg. Meer as 50 000 ton goud was tussen 1887 en 2019 deur die myne op die Witwatersrand onttrek (sien Beiteltjie 1.5 oor hierdie deel van die geskiedenis van goudmyne).

Daar word bereken dat daar egter nog 48 000 ton goud ondergronds nog nie uitgemyn is nie, meer as 1600 ton goud in die mynhope en slikdamme gestort is en dat daar nog ‘n onbekende hoeveelheid goud in rotshope rondom die myne voorkom. Weens die diepte van die oorblywende goudneerslae op die Witwatersrand moet daar egter nuwe mynboumetodes ontwikkel word om dit te ontgin.
Suid-Afrika het vanaf die wêreld se grootste goudprodusent teruggesak na ver onder ander lande soos China, Austalië, Rusland en die VSA. Ghana is tans die grootste goudprodusent in Afrika, gevolg deur Mali, Burkina Faso, Suid-Afrika, Soedan, Guineë, Tanzanië en Zimbabwe. Hierdie agteruitgang van die mynboubedryf het egter niks met die beskikbaarheid van goud te doen nie, want daar is ongeveer nog soveel onontginde goud in die Witwatersrand Supergroep oor as wat reeds gemyn is.
Hierdie verskynsel vorm eerder deel van die onttrekking van beleggers en besighede uit die land in reaksie op die huidige politieke agteruitgang, onrealistiese arbeidsregulasies, verbrokkeling van die pad- en spoornetwerke, ineenstorting van die kragnetwerk en agteruitgang van sekuriteit in die land. Ten spyte van die afname van operasionele goudmyne in Suid-Afrika vanaf 2006, is daar nog steeds hoogs produktiewe myne in Suid-Afrika, insluitende ses van die diepste myne in die wêreld.
Vanaf 1990, na die ontbanning van die ANC, maar veral na 1994 met die magsoorname van die ANC, het beleggers en mynhuise uit die land onttrek. Die regering het vanaf 1994 al hoe meer met die prosessering van duisende mynreg- en prospeksieaansoeke begin sloer en min tot geen rehabilitasie van die verlate myne was gedoen of deur die staat afgedwing nie. Die gevolg is dat honderde verlate myne regdeur die land ryp was om geplunder te word, terwyl daar ‘n instroming van onwettige immigrante is en die getal oud-mynwerkers, wat weens die sluiting van myne werkloos is, groei. Hierdie arm en werklose mense, insluitende duisende oud-myners bly tussen of naby ou myne. In die lig van swak instromingsbeheer en polisiëring, het onwettige mynbou tot ‘n epidemie in Suid-Afrika gegroei.

Daar is tans na beraming meer as 30 000 onwettige myners, ook bekend as zama-zamas (Zulu vir “vat-‘n-kans”) wat deur ongeveer 200 swaar gewapende kriminele sindikate beheer word. Hierdie zama-zamas het honderde verlate en operasionele goud, yster, steenkool en mangaanmyne in Gauteng Mpumalanga, Limpopo, Vrystaat en Noordwes Provinsie oorgeneem. Dit is opvallend dat die meeste geweld en sosiale probleme rondom die geskaakte goudmyne op die Sentraal Rand, maar ook sekeres op die Wes Rand plaasvind waar hierdie kriminele sindikate betrokke is by die terrorisering van plaaslike gemeenskappe, teregstellings, geldwassery, wapensmokkelary, afpersing en georganiseerde misdaad. Die zama-zamas is egter slagoffers van kriminele sindikate en nie self in beheer van die onwettige mynbou nie. Hulle word gedwing om selfs vir maande aanmekaar ondergronds vir hierdie kriminele sindikate te werk en moet ten duurste kos en benodigdhede met goudstof, wat hulle uitgrawe, koop. In sommige gevalle is zama-zamas kinders wat deur mensehandel in die myne beland. Zama-zamas is ‘n moderne weergawe van slawe.
Die onwettige myners het nie die elektrisiteit, infrastruktuur en toerusing om die grondwater, wat die myne oorstroom het na dit verlaat is, uit te pomp nie. Die reslutaat is dat hulle mynaktiwiteite hoofsaaklik gefokus word op die pilare, wat die dak van die uitgemynde gallerye en tonnels stut, wat bo die wateroppervlakte bereikbaar is. Hierdie gevaarlike bedryf het tot talle instortings, ontploffings en verdrinkings gelei, wat die dood van talle onwettige myners veroorsaak het.

Onwettinge mynbou het ‘n groot sosio-ekonomiese en sekuriteitsprobleem in Suid-Afrika geword. Onwettige mynbou is ‘n aanduiding tot watter mate die Suid-Afrikaanse regering sy beheer oor die instroming van onwettige immigrante, beheer oor kriminele sindikate en hulle bedrywighede, beheer oor sy minerale bronne en die uitsmokkel van waardevolle minerale bates verloor het en erger nog, selfs deelneem daarin. Onwettige mynbou kos Suid-Afrika jaarliks ongeveer R21 miljard.
Selfs al word die onwettige myners genoop om eenvoudige toerusting soos pikke, grawe, hamers en beitels te gebruik, en al is hul aktiwiteite tot die boonste lae van die mynruimte beperk, kry hulle dit steeds reg om tonne goud uit te myn. Tussen 2012 en 2016, het onwettige myners reeds 34 ton goud van die verlate goudmyne in Gauteng gemyn. Hierdie goud word hoofsaaklik al langs die ou Arabiese Ooskus hadelsroete na Dubai per skip vervoer – soos wat die geval vir ‘n duisend jaar was. Dit is terloops ook die roete waarlangs renosterhoring uit die land gesmokkel word en mensehandel (lees slawerny) bedryf word.
Hoe kan mens so ‘n verwronge sin van die waarheid aanhang dat jy kolonialisme en die gepaardgaande plundery van die land se hulpbronne en onderdrukking van die inheemse mense wat deur oorsese mense gepleeg was, op die Afrikaner afsmeer? Vir een of ander rede word die Afrikaner en Jan van Riebeeck deur sekere groepe in Suid-Afrika as die groot koloniale sondebokke voorgehou. Jan van Riebeeck, wat die verversingstasie aan die Kaap vir die Hollandse besigheid, bekend as die VOC, bestuur het en maar vir 10 jaar in Suid-Afrika gebly het, het gemengde huwelike tussen Hollanders en die Khoi voorgestaan. Die laaste VOC goewerneur in die Kaap, Willem Adriaan van der Stel, se ma was ‘n Maleise vrou en hy was dus van gemengde etniese herkoms. Hollanders het nie segregasie tussen rasse ingebring of afgedwing nie – die Britte het. Ongelukkig vertel mense jou nie hierdie dinge op skool nie.
Dus, as enigeen vir jou ‘n storie oor kolonialisme vertel en jou as Afrikaner wil beskuldig daarvan, vertel hom hierdie feite. ‘n Mens kan slegs ‘n kolonialis wees as jy die belange van ‘n ander land bo die land waarin jy jou bevind bevorder en al kom Afrikaans van Hollands af, was en is die Afrikaner nie ‘n Hollander nie en was hulle ook nie lojaal teenoor Holland nie. En as jy ‘n inheemse burger is, wat ander lande en hulle belange bo jou land en sy mense sit, is jy ‘n verraaier – soos as jy jou land plunder ter wille van ‘n ander land, of toelaat dat jou land geplunder word deur buitelanders soos Britte, Arabiere, Indiërs of Chinese.
Kolonialiste word gekenmerk aan ‘n onversadigbare drang na minerale – onder andere goud, diamante, steenkool, yster ens. waarmee die hul mag internasionaal behou, ander lande en hul ekonomieë oorneem en die volke van daardie lande uitbuit en onderdruk. Die eienaars van die goudmyne, die invoerders van mensearbeid en die ontvangers van die goud is die werklike kolonialiste – en dit hulle tale, godsdienste, kulture wat die wêreld oorheers – en dit is nie Afrikaans, die Susterskerke of jukskei nie.

