Knip En Plak.

Hou jou hande elke maand besig.

Uitgawe 1 – Januarie 2026

Die Pioniershuis

Druk die bladsy met die uitknip-Pioniershuis uit.  As jy ’n sterker model wil hê kan jy die bladsy op dun karton (byvoorbeeld ’n leë kitspap doos) plak.  Wag tot die gom heeltemal droog is voor jy die dele begin uitknip.  Koue lym werk beter as kleefstiffies, maar dan moet mens net geduldig wag dat die gom droog word voor mens met die volgende stap begin.

Stap 1: knip die dele vir die hoofhuis uit.

Stap 2: Plak die hoofhuis aanmekaar.

Stap 3: Knip die kombuis en vuurherd se dele uit.

Stap 4: Plak die dele van die kombuis aanmekaar.

Stap 5: Druk die dak van die kombuis deur die oop driehoek in die hoofhuis se dak wanneer jy die kombuis aan die hoofhuis vasplak.

Stap 6: Plak die vuurherd aan die kombuis vas.

Stap 7: Maak die buiteoond

En siedaar – jou huisie is klaar!

Uitgawe 2 – Februarie 2026

Mostert se Meul

Stap 1: Bou die toring

Plak die bouplanne (buiten die kapdak s’n) op karton en wag laat dit droog word.  Papier is nie sterk genoeg vir hierdie model nie.  Maak die kapdak uit papier sodat dit meer buigbaar is.  Dit dra geen gewig nie en hoef dus nie so sterk soos die res van die model te wees nie. 

Plak die toringdeksel aan die binneste rand van die boonste deel van die toring vas.  Steek ‘n gaatjie met ‘n duimdrukker deur die merkie in die middel.

Stap 2: Bou die kap

Knip die kapdak uit (links) en plak dit vas (regs).

Knip volgende die kapvloer, die middelbalkstut en die kapstut uit.  Sny ook dun sosatiestokkies vir die middelbalk (15 cm) en die kort spruitbalk (7.5 cm).  Sny ‘n 8 cm lengte rondhout van 4 mm dik vir die bo-as.  Druk ‘n duimspyker deur die middel van die kapvloer waar die merkie is.


Plak nou hierdie dele in die volgende orde vas: 

Plak die middelbalk op die merkie van die middelbalkstut vas – wag dat dit droog word voor jy die middelbalkstut oor die stokkie vou en vasplak soos in die foto.

Stap 3: Bou die wiekkruis

Stap 4: Bou die kruiwerk

Wenk:  Gebruik wasgoedpennetjies  om alles in plek te hou tot die gom droog is.  As alles droog is, druk ‘n duimspyker deur die onderste deel van die stertbalk om die  kruiwiel te verteenwoordig.

Uitgawe 3 – Maart 2026

KNIP EN PLAK

Maak ‘n Britse blokhuis

Hierbo is een van die twee blokhuise wat mens by Burgersdorp in die Kaap kan sien. Die papiermodel is op hierdie blokhuis geskoei.


Om ‘n sterker model te maak kan jy die bouplan op ‘n stuk ligte karton (soos die tipe waarin kitspap verpak word) plak. Wag dat die gom droog word voordat jy die dele begin uitknip.

Knip al die stukke uit.

Vou al die dele en plak die vuurhoutjies in hul posisies vas.  Die vuurhoutjies moet 11 mm bo die rand van die muur uitsteek. Laat alles net so staan vir ongeveer ‘n uur sodat die gom droogword.

Plak volgende die uitkykbalkonne vas en smeer gom op die punte van die vuurhoutjies en die flappies van die uitkykbalkonne se dakke.  Jy kan nou ook jou Britse soldaat binne een van die uitkykbalkonne vasplak

Plak die groot dak op die vuurhoutjies se punte vas.  Die plat punte van die dak moet binne die uitkykbalkonne wees.

Plak volgende die skuinsdakkie aan die uitkykbalkonne vas, en siedaar – jou Britse blokhuis is klaar!

Uitgawe 4 – April 2026

KNIP EN PLAK

Maak ’n model van die Dromedaris

Buig die flappies voor en agter op die romp rond en plak die voorste en agterste dele van die skip daaraan vas. Gebruik wasgoedpennetjies om dit vas te hou tot dit droog is.

Die anker maak jy van twee stukkies draad wat jy met supergom aanmekaarplak. Voor jy dit doen moet jy eers ‘n gaatjie in die houtjie wat jy vir die dwarsbalk van die anker wil gebruik, maak en dit oor die skag van die anker skuif.

Saag of sny die lope (15 mm lank) van die kanonne uit die 3 mm dik rondhout en verf dit swart en wag tot dit droog is. Vou die affuite van die kanonne en sit ‘n klein bolletjie Pratley’s putty in die middel en druk die loop daarop vas. Plak die kanonne by elke kanonpoort vas en plak die roeiboot op sy plek op die dek vas.
Maak die reëlings, trappies en stuur van die skip volgende.
Maak die maste van 5 mm dik rondhout
Maak ra’s en vlagpale van 3 mm dik rondhout

Hoofmas: 26 cm lank
Voormas: 24 cm lank
Besaanmas: 17 cm lank
Boegspriet: 15 cm lank plus 6.5 cm vertikale arm.
Maak ra’s van 3 mm dik rondhout. Elke ra moet ongeveer 5 mm verby die seile steek.
Die vlagpale moet 7 cm lank wees, buiten die hoofmas en agterkasteel se vlagplale wat 8.5 cm lank is.

Plak die boonste rand van die seile op die ra’s vas.
Plak die ra’s op die maste vas. Dit sal help as jy ‘n reghoekige kepie uithol in die middel van die ra en op die regte plek op die mas sodat jy ‘n beter plakplek kan skep sodat jou ra’s stewig aan die maste kan vaskleef. Buig die seile om dit te laat lyk asof die wind dit laat uitbol. Onthou dat die vlae vorentoe moet wapper.

Sny of boor ‘n gaatjie in die doppies en maak ‘n snit van die gat tot op die rand en druk dit oor die maste. Gebruik Pratley’s putty om dit vas te plak.

Druk die prent van die water uit en knip dit in twee A5 grootte stukke. Las dit sodat dit ‘n lang strook vorm vir ‘n realistiese voetstuk vir jou skip. En so is jou Dromedaris-model klaar!

Mens kan natuurlik aanhou en aanhou om die skip te verfyn om dit nog meer realisties te maak. Ek het juis die takelwerk nie ingesit nie want dit sal dae neem om dit behoorlik te doen. Hier is ‘n voorbeeld van hoe dit kan lyk – dit was deel van ‘n model van die Hollandse fluit wat my broer gebou het toe hy nog op skool was. Niks keer jou om dit ook te probeer nie.