Uit Die Tuin.

Hou jou hande elke maand besig met dinge uit die tuin. Leer meer van verskillende plante in ons land.

Uitgawe 1 – Januarie 2026

Boontjies.

Boontjies is gesond vir mens en dit is maklik om boontjies in die tuin te kweek.  ’n Mens moet boontjiesade so ’n sentimeter diep, langs ’n stut soos ‘n stok plant sodat die boontjieplant daarteen kan oprank.  Nadat mens die boontjiesaad geplant het, moet mens die grond klam hou waar jy dit geplant het.  Na ’n paar dae sal die boontjiesaad ontkiem en ’n groen stingeltjie sal bo die grond verskyn.

Om te sien hoe ’n boontjiesaad ontkiem, sit dit tussen twee lagies watte in ’n piering.  Maak die watte nat.  Hou dit klam vir ’n paar dae deur om bietjie water so elke dag oor dit te giet.  Die water of watte moet slegs klam wees en nie in ’n poel water dryf nie.


Oor die volgende paar dae gaan die boontjiesaad water opneem en begin opswel totdat die doppie rondom die saad oopbars. Sommer van die staanspoor sien mens die worteltjie wat tussen die saadlobbe begin vorm.

Langsaan is ’n foto van ’n vars saadjie (links) wat nog nie natgemaak is nie, en regs is ’n saad wat tussen die nat watte na ses dae reeds groot opgeswel het en uit sy dop gebars het.

Lig die boonste laag watte  versigtig na so ’n week op en jy sal sien hoe die klein worteltjie uit die saad spruit.  Dit is die penwortel.  Die penworteltjie word langer en sywortels spruit na ’n dag of twee uit.  Die wortels groei ondertoe terwyl die stammetjie na nog ’n dag of twee later regop begin staan

Nadat die stingeltjie uit die grond kom, rank dit op teen enigiets wat naby dit is.  Dit werk die beste om die boontjiesade naby ’n stok te plant of drade naby dit te span waarteen die boontjie kan oprank.  Gewone jakkalsdraad, wat mense in die verlede vir hoenderhokke en grensdrade op stadserwe gebruik het, werk ook baie goed.  Boontjies hou van vol son

Die stingel hou aan groei en maak blare, en later blommetjies wat deur bye, motte en vlinders bestuif word.  Die boontjie groei uit die bevrugte vrugbeginsel.   Mens pluk boontjies wanneer dit nog groen is, voor die sade ryp geword het, om te eet.  As jy boontjies weer wil plant moet mens wag tot die sade ryp en hard geword het en die groen omhulsel uitdroog voor jy dit versamel.

Uitgawe 2 – Februarie 2026

Sade wat deur wind versprei word.


Talle plante se sade word deur die wind versprei.  Aangesien vrugte en sade van eetbare plante groot en swaar is, kan dit nie deur die wind versprei word nie, maar as jy egter bietjie in die tuin rondkyk sal jy wel plante sien wat die wind gebruik om hul sade te versprei.  Sommige van hierdie plante is onkruid soos die perdeblom wie se sade die dogtertjie hier langsaan blaas, terwyl ander struike en bome is.


Die sade wat deur die wind versprei word is dikwels aan ‘n haarsambreeltjie, soos die perdeblom s’n vasgeheg, wat deur die wind opgeskep kan word.  Grasse se sade is aan lang kafnaalde vasgeheg wat deur die wind opgeskep en rondgewaai word.  Ander plante het sade met vinne wat soos helikoptertjies deur die lug tol.  Dit word samaras genoem.

Die tipuana of rooshoutboom van Suid-Amerika, wat in tuine en parke in Suid-Afrika aangeplant is, het samaras wat deur die wind afgewaai word en dan deur die lug spin. 

Die rooi esdoorn van Noord-Amerika, wat wydverspreid in Suid-Afrika as sierplant aangeplant is, het ook samaras wat in groot trosse voorkom soos jy hier langsaan kan sien.  Wanneer die sade ryp is, word dit deur sterk wind losgeruk, opgeskep en weggewaai terwyl dit in die rondte spin.


In die veld sal mens inheemse plante kry wat ook die wind gebruik om hul sade te versprei.  Die pragtige plant met pienk blomme hier langsaan staan as die gifbol, boesmangif of seeroogblom bekend.  Hierdie plant is inheems aan Suider-Afrika.  Die naam gifbol kom van die feit dat hierdie plant ‘n ondergrondse bol het en baie giftig is.  Van die mense in Suider-Afrika het die sap van hierdie plant op hul pylpunte gesmeer sodat hulle diere daarmee kon skiet en met die gif die diere verlam het of doodgemaak het.  Dit is waar die naam boesmansgif vandaan kom.


Na die blomme bevrug is en sade ryp geword het, droog die hele blomskerm uit. Al wat oorbly is die verharde blomskerm met die sade op die punte daarvan soos in die tekening hier langsaan gesien.  Dit ruk los in die wind wat die hele blomskerm soos ‘n bal rondwaai terwyl die sade oral langs die roete versprei.

Wanneer die wind sterk genoeg waai, ruk die droë ryp sade los en word vir ver ente deur die wind gewaai en oor die grond gerol.

Windverspreiding veroorsaak dat sade oor groot afstande versprei sodat plante hul verspreidingsgebied uitbrei wat tot die oorlewing van daardie spesies bydra.  Ander metodes van saadverspreiding word ook deur

Uitgawe 3 – Maart 2026

Kweek jou eie mielies

Dit is baie maklik om mielies in mens se tuin te kweek, mits jy genoeg ruimte daarvoor het.

Voorbereiding:

Kies eerstens die regte plek om jou mielies te plant.  Omdat dit ‘n groot plant word, is die beste plek daarvoor langs ‘n muur of grensdraad waar dit uit die pad is.  Kies ‘n deel van jou tuin waar daar reg deur die dag volle son is.

Die grond moet verkieslik goed gedreineer wees en dus is sanderige grond beter as kleierige of modderige grond.   Spit die grond om en werk kompos in die grond in vir die beste resultate.

Aangesien jy nie gif gaan gebruik soos die kommersiële boere nie, sal jy moet bereid wees om die bossies wat in jou bedding opkom, met die hand te verwyder.


Plant jou pitte:


Mielies is ‘n somergewas en dus moet jy dit in die lente of somer plant.  Die mielies gaan eers na ongeveer 3-4 maande reg wees om te oes en jy sal dus mooi moet dink wanneer jy dit wil plant.  Plant die pitte ongeveer 75 cm uitmekaar sodat daar genoeg ruimte is vir jou plant om te groei.

Die pitte sal na ongeveer 8 tot 10 dae ontkiem en na nog  ‘n paar dae sal dit lyk asof daar ‘n groterige tipe gras uit die grond opkom – dit is jou nuwe mielieplantjie!  As die omstandighede reg is en die mielies genoeg son en water kry groei hulle vinnig en kort voor lank sal jy die jong mieliekoppe sien vorm.

Die vroulike blomme, wat ook die baard genoem word, verskyn bo-aan die punt van die kop soos wat mens in die foto links kan sien.

Elkeen van hierdie draadjies is aan ‘n vrugbeginsel op die stronk gekoppel.  Elke baard moet bestuif word vir ‘n mieliepit om op die stronk te vorm.

Die manlike blomme kom bo-aan die mielieplant voor en word die kwas genoem (sien foto regs).  Wanneer die wind waai versprei die stuifmeel en val op die vroulike blomme wat verder af op die mielieplant en omliggende mieleplante voorkom en bestuiwing vind plaas.

As jy jou mielies aan die stronk wil eet moet jy hulle pluk voor die pitte ryp en hard geword het soos in die foto hierbo.  As jy egter dit as stampmielies of mieliemeel wil gebruik of as voer vir jou hoenders wil gebruik, moet jy wag tot die mieliepitte hard en geel geword het.

Uitgawe 4 – April 2026

Kweek jou eie borrie

Kweek jou eie borrie

Dit is pret om jou eie borrie in die tuin te kweek. Borrie (Curcuma longais) is oorspronklik ‘n oerwoudplant wat onder ‘n blaardak in humusryke grond op die eilande van Suidoos Asië groei. Daar is dus ‘n paar goed wat jy moet doen om suksesvol te wees: jy moet borrie onder bome in die skaduwee in komposryke grond plant en dit gereeld natgooi.


Die borrieplant het breë donkergroen blare en maak ‘n aar met pragtige wit blomme met geel, pienk en pers dele. Dit is ‘n plant wat maklik as sierplant aangeplant kan word.


Die heldergeel bolvormige wortelstokkies ondergrond word geoes om as spesery te gebruik, of om die plant te vermeerder deur om dit uit te plant. Om die wortelstokkies as die spesery borrie te gebruik word dit gewas, gedroog en opgemaal.

Borrie, soos gemmer, groei maklik in die warmer dele van die land.

Uitgawe 5 – Mei 2026

Grond – die ware skat

Grond – die ware skat

Sonder grond sou ons nie kon bestaan nie – dit is die begin en onderhouer van lewe.  Baie mense dink kos kom van winkels af, maar dit is verkeerd.  Kos kom van plase af waar boere sade in die grond saai wat die plante voortbring wat ons eet.  Die vleis wat ons eet kom van beeste, varke, skape en hoenders wat plante vreet wat in die grond groei.  Die minerale en al die voedingstowwe wat mens in kos kry, buiten vir stysel, kom uit die grond uit.  Suiker en stysel word uit water en koolsuurgas deur plante vervaardig, maar selfs dan word die water uit die grond uit deur die plante opgeneem.

Mens kan ‘n hele boek oor grond skryf, maar hier gaan ons na die organiese aspekte van grond kyk – beide die lewende organismes wat in die grond voorkom en die dooie oorblyfsels van organismes wat die kompos of humus in die grond vorm.  Die eerste en belangrikste deel van ‘n voedselweb of voedselpiramiede – wat amper nooit gewys word nie is bakterieë.  Dit is die primitiefste organismes op aarde.  Sonder bakterieë sou daar nie grond gewees het nie.  Bakterieë en swamme sorg dat dooie organiese materiaal soos blare, takke, stompe en selfs diere in hul oorspronklike boustowwe afgebreek word, wat dan weer deur plante opgeneem kan word.  Hierdie proses kan ook verrotting of kompostering genoem word.  Hierdie organiese boustowwe verryk die grond wat andersins net dooie sand en modder sou gewees het.  Dit is dan hierdie boustowwe wat plante benodig om te kan bestaan.

Swamme het ‘n baie belangrike rol om te speel en breek dooie organiese materiaal af in dele van die grond wat belug is.  Meeste bakterieë kan nie in lug oorleef nie, want suurstof maak hulle dood, maar swamme het weer suurstof nodig om te kan bestaan.  Swamme besit verskillende ensieme waarmee hulle blare en hout kan afbreek.  Daar is ‘n netwerk van swamhifes ondergronds wat met mekaar, en die wortels van plante verbind is – dit is die risosfeer wat plante help om voedingstowwe op te neem.  Maar meer daaroor in ‘n latere uitgawe van Beiteltjie.

Nog ‘n belangrike feit, wat meeste mense nie weet nie, is dat daar meer lewe onder die grond voorkom as daarop.  Toegegee, meeste van hierdie organismes is mikroskopies klein en dus kan mens hulle nie met die blote oog sien nie, maar weens die belangrike rol wat hierdie organismes in die grond speel, verskoon dit nie die mense wat skoolleerplanne saamstel, om dit uit te laat nie.

Die belangrikste groep diere wat in grond voorkom is nematode of rondewurms.  Rondewurms  is die grootste groep diere op aarde – 80% van alle diere wat op aarde voorkom, is rondewurms – en nie een skoolhandboek noem dit nie.  En as jy dink dat ek oordryf – een teelepel grond kan miljoene rondewurms bevat!  Rondewurms kom meestal in die boonste 15 cm van die grond voor.  Hulle kom egter regoor die aarde voor – daar is selfs rondewurms op die hoogste berge, in water, op die seevloer, in woestyne, in die arktiese sirkel en selfs in die diepste myne – met ander woorde hulle kom tot ten minstens 3 km in die aardkors voor.  Daar is predatoriese rondewurms wat ander diertjies en eensellige organismes vreet en selfs rondewurms wat ander ronderwurms, insluitende lede van hul eie spesies vreet, daar is omnivoriese rondewurms, swamvretende rondewurms, daar is ook ‘n groot persentasie rondewurms wat dooie organiese materiaal eet, maar meeste rondewurms vreet bakterieë, swamme, alge en selfs klein insekte wat goed vir landbou is.   Daar is ook ongelukkig rondewurms wat plante parasiteer en wat van die grootste bedreigings vir landbou is.

Daar is ook talle insekspesies wat ondergronds woon soos termiete en miere, en ander wat slegs as larwes in die grond voorkom soos die larwes van miskruiers en snywurms wat die larwes van rooskewers is.  Dan is daar nog talle insekte soos kewers wat bedags in die grond wegkruip om snags uit te kom om te voed.  Hierdie insekte maak tonnels in die grond, wat dit poreus maak sodat reënwater deur die grond opgeneem word eerder as wat dit bo-oor gekompakteerde digte grond stroom.  Insek- en erdwurmtonnels belug die grond wat noodsaaklik is vir swamme om ondergronds te gedy, en soos ek genoem het, swamme is allerbelangrik vir die afbraak van organiese materiaal om kompos te vorm.

Die rol van erdwurms is selfs nog belangriker en ek gaan in ‘n volgende Beiteltjie meer oor erdwurms praat.  Benewens die belugting van die grond deur middel van hul tonnels, help hulle om organiese materiaal af te breek,  daar is stikstofbindende bakterieë wat allerbelangrik is vir plantegroei wat saam met erdwurms voorkom en daar is kalkkliere in die spysverteringstelsel van erdwurms wat help om suur grond te neutraliseer.

Dus, wanneer jy weer eendag na die veld kyk – probeer hierdie feit onthou: naamplik dat alles wat bo-op die oppervlakte leef, die mens inkluis, van die voedingstowwe onder die oppervlakte kom.  En hoe die ekologie veel groter en meer verweef is, as wat jy ooit gedink het.  Dan moet jy ook besef dat ons grond en natuurlik water, beter moet bewaar as enige ander skat op aarde, want sonder grond en water is daar geen lewe nie.

Uitgawe 6 – Junie 2026

UIT DIE TUIN

Hoe om ’n vrugteboom te snoei

Herfs tot wintertyd is die regte tyd om bome te snoei, want dan is die boom rustend en sy metaboliese prosesse op hul laagste. Mens moet ‘n goeie en skerp snoeiskêr hê om behoorlik te snoei en om te keer dat die bas nie afskeur rondom die snit nie. In die verlede het mense snoeimessies gebruik om mee te snoei.


Die rede hoekom mens ‘n vrugteboom moet snoei:
⦁ Bevorder boomgesondheid deur die verwydering van siek, beskadigde of dooie takke.
⦁ Bevorder verhoogte vrugte-opbrengs en kwaliteit van vrugte.
⦁ Verseker ‘n sterk struktuur, sodat takke nie met vrugte oorlaai word en afbreek nie.
⦁ Hou die boom kort genoeg sodat jy by die vrugte kan uitkom om dit te pluk. Elke jaar stoot lang nuwe regopgroeiende lote uit. Dit moet teruggesnoei word sodat die boom kort bly.
⦁ Dit maak die boomkroon oop, sodat daar genoeg plek vir die blare is om behoorlik te fotosintetiseer, vir bestuiwers om by die bloeisels uit te kom en vir die vrugte om behoorlik te ontwikkel en vir lig en lug om deur die boomkroon te beweeg.
⦁ Verleng die lewensduur van die boom deurdat die boom gestimuleer word om nuwe lote te vorm.

Wenk: sorg dat jy die snit teen ongeveer 45° bo ‘n groeikop maak. Dit verseker dat die water afloop en nie lank klam bly, soos wanneer dit teen 90° gesny word, wat sal veroorsaak dat swamme die klam deel kan besmet.

As die takkie te lank bo die groeiknop of tussen groeiknoppe is, vrek dit en kan moontlik ook met swamme besmet word wat ‘n bedreiging vir tak en selfs die boom inhou.

Verwyder alle dooie, beskadigde en besmette takke. Snoei al die waterlote af. Dit is die lang, slap regopstaande lote wat deur die jaar uitgegroei het. Snoei die takke wat met die ander groter takke kompeteer of parallel aan groter takke loop, af. Snoei onbelowende takke (dié met minder sytakke as ander en wat nie in ‘n goeie posisie is om optimaal lig en lug te kry nie) en afwaartsgroeiende takke af.