Brief Aan Die Ouers.
Inligting spesiaal aan die ouers.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Oor die afgelope 40 jaar het daar ’n groot leemte in ons kinders se taalvaardigheid en leesvermoë ontstaan. Suid-Afrika sit vandag met die laagste geletterdheidskoers ter wêreld. Talle skole het nie meer biblioteke nie. Kinders is verslaaf aan speletjies op selfone en kan nie meer lank genoeg konsentreer om te verstaan wat in die klas aangaan nie en sukkel om ’n boek van voor na agter deur te lees.

In die sestiger tot sewentigerjare van die vorige eeu, toe ek ’n kind was, was daar Jongspan (1936-1969), wat in 1970 deur Vonk vervang is (maar wat na minder as twee jaar daarna doodgeloop het), Bollie, Tina, Patrys en die wetenskaptydskrif vir hoërskoolkinders – Archimedes. My ouers het my, my broer en suster op al hierdie kindertydskrifte ingeteken en ons het gelees dat dit klap.
Die koms van televisie in Suid-Afrika in 1975, was die doodslag vir die Afrikaanse kindertydskrif. Die oorspronklik tweetalige Archimedes het die langste van almal uitgehou. Die leemte aan kindertydskrifte het my die meeste gepla toe my kinders leesstof gesoek het. Natuurlik was daar altyd boeke en strokies soos Asterix en Kuifie, maar dit het nie al die kinders se behoeftes om in hul eie taal te lees en te ontdek en te verstaan, bevredig nie.
Die druk- en verspreidingskostes van tydskrifte is egter baie hoog, wat sonder subsidie of baie advertensies, die koste van die tydskrif te duur vir die gemiddelde huishouding maak. Toe ek op die bestuur van die Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie gedien het (wat Archimedes uitgegee het), het ons gevind dat groot maatskappye gewillig was om Archimedes te borg, mits dit slegs in Engels verskyn en ’n sekere sosio-politieke inslag het.
Met die koms van die internet het dit egter moontlik geword om enigiets – selfs boeke – wêreldwyd te versprei. Daar is ook geen ekstra kostes verbonde aan kleurprente nie, en daar is geen drukkostes nie. En dit is waar Beiteltjie homself bevind – die eerste Afrikaanse kindertydskrif wat digitaal wêreldwyd versprei word. Die inslag van Beiteltjiesal meer met dié van Jongspan vanaf die sestigerjare ooreenstem as die ander jeugtydskrifte. Die inhoud sal ’n mengsel van vermaak, inligting en opvoeding bevat en sal op plekke die laerskoolkurrikulum aanvul, maar ook poog om die reuse gapings in die kurrikulum op te vul.
Beiteltjie sal gratis maandeliks op beiteltjie.co.za verskyn. Mense kan vir honderd rand per jaar op die tydskrif inteken en dit in PDF formaat per epos ontvang, sodat dit dan tuis afgelaai en op ’n rekenaar geberg kan word, of in papierformaat uitgedruk kan word, sodat dit die gevoel van ’n regte tydskrif het. Dit sal veral mense bystaan wat hul kinders van skerms wil speen. Individuele uitgawes kan in PDF formaat teen tien rand stuk bestel word. Stuur ‘n epos aan beiteltjie@yahoo.com as jy op Beiteltjie wil inteken.
Kom ons maak dit weer pret vir ons kinders om te lees.
François Durand
Rig korrespondensie aan: beiteltjie@yahoo.com
Uitgawe 2 – Februarie 2026
BRIEF AAN OUERS
Die kindertydskrif het ‘n baie belangrike rol in die vermaak en opvoeding van die kind tot die onlangse verlede gespeel. Die koms van TV in 1975 het die doodsklok van die kindertydskrif ingelui. Natuurlik was die TV programme van 40 jaar gelede van hoogstaande opvoedkundige gehalte en daar was programme oor wetenskap, kuns en kultuur. Afrikaanse TV dramas het gedy en dramas met geskiedkundige temas het die lig gesien. TV was onweerstaanbaar.
Die prys wat ons egter vir hierdie “modernisering” van vermaak en opvoeding betaal het, is die dramatiese afname oor die laaste vier dekades in lees, geletterdheid, konsentrasievermoë, kommunikasievaardighede en algemene kennis onder kinders. ‘n Tweede en ewe dringende probleem het oor die laaste 30 jaar sy kop uitgesteek, naamlik ‘n meëdoëlose aanslag op die Afrikaanse taal en kultuur. Dit het vroeër in ons geskiedenis ook onder die Engelse juk van bykans 150 jaar gebeur toe Afrikaanse kinders gedwing was om in Engels te leer, terwyl alles gedoen was om hul taal en kultuur te verkleineer en af te takel.
Dit was teen hierdie agtergrond wat M.E.R., of te wel Maria (Miemie) Elizabeth Rothmann, vanaf 1922 vir Die Huisgenoot bydraes begin skryf het. Sy word later by Die Kleinspan, Die Huisgenoot se bylae vir kinders, ingespan. Sy word die redakteur van Die Kleinspan, wat vanaf 1925 as ‘n los tydskriffie binne Die Huisgenoot verskyn het. M.E.R. was ‘n kampvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur en het talle geskiedkundige verhale vir kinders geskryf.
Die Kleinspan word in 1934 Die Jongspan. Die jare voor en na 1934 was ‘n krisistydperk in die bestaan van die Afrikaner. ‘n Volkskongres, wat die armblankevraagstuk aanspreek, word in 1934 in Kimberley gehou. Die Jongspan het sy deel gedoen om hierdie probleem aan te spreek deur om ‘n opvoedkundige bron vir kinders te wees. Die vermaaklikheidsaspek van die tydskrif was bloot die voertuig waarmee kennis aan die kind oorgedra was.
Die redakteur van Die Jongspan, dr. C.F. Albertyn het die doel van die tydskrif in 1941 só opgesom: ‘As hy die lewe behou, word elke kind die man en vrou van more. Elke kind moet hom dus voorberei om ‘n nuttige lid van sy volk te word. Daarvoor moet ons ons taal goed ken, moet ons ons deeglik vir die beroep wat ons wil gaan volg voorberei en moet ons algemene kennis he. In al daardie dinge wil Die Jongspan julle help. Die Jongspan wil dus die volk dien, want wie die jeug dien, dien die volk.’
In ‘n land waar geskiedenis uit die skoolleerplan verwyder is, waar TV kykers aan oorsese televisieprogramme en eensydige plaaslike politiese verhale en geskiedenisprogramme blootgestel word, waar die Afrikaanse taal en kultuur in opvoedkundige inrigtings aangeval en gedemoniseer word, waar daar wêreldwyd ‘n aanslag op die gesin en gelagsrolle is en waar biblioteke verdwyn, moet daar ‘n alternatiewe bron van kultuur- en kennisoordraging op die been gebring word – en dit is in hierdie bres waar hierdie kindertydskrif homself bevind.
François Durand
Lees ook: Bester, M. (1989). Die Arikaanse kindertydskrif as kultuurhistoriese inligtingsbron. Suid-Afrikaanse Tydskrif vit Kultuur- en Kunsgeskiedenis, 3(1):19-30.Rig alle korrespondensie aan: mywereld01@yahoo.com
Uitgawe 3 – Maart 2026
Hoekom voorlees vir kleuters belangrik is
Ouers se gedrag het ‘n geweldige groot invloed op hul kinders se intellektuele en sosiale ontwikkeling. Dit klink vanselfsprekend en meeste ouers dink seker dat hulle die beste vir hulle kinders doen. Ongelukkig is dit dikwels nie die geval nie en dan is mense verbaas dat hul kinders skielik met leerprobleme op skool sit. Baie sosiale en intellektuele ontwikkelingsprobleme reeds op ouerknie – maar waarskynlik omdat daardie knie nie daar was nie, maar wel ‘n TV- of tablet, wat as kinderoppasser gedien het, omdat ouers met iets belangrikers as kinderopvoeding besig was.
Navorsing het bevind dat kinders wie se ouers vir hulle elke dag van kleins af, vir ongeveer 20 minute per dag, gelees het, ongeveer 1.4 miljoen woorde meer gehoor het as kinders van huishoudings, waar daar nie voorgelees was nie. Hierdie voorsprong van die een groep en die agterstand van die ander, het ‘n geweldige en permanente impak op beide groepe se lewens. Die kinders vir wie daagliks voorgelees was, het vir die res van hul akademiese ontwikkeling ‘n intellektuele en sosiale voorsprong bo dié kinders wat uit ‘n nie-lees omgewing gekom het. Die kinders vir wie voorgelees was, se vermoë om inligting in te neem en te prosesseer en om te kommunikeer is strate voor dié van ander kinders.
Die deel van die kind se brein wat taal en dus ook woordherkenning en begrip beheer is geweldig aktief tot op 5 jaar. Daarna neem die vermoë om taalvaardigheid te ontwikkel af. Dit is juis in hierdie tydperk van die kind se ontwikkeling, wat hulle baie tyd saam met hulle ouers of grootouers moet deurbring, wat met hulle moet gesels, eerder as wat hulle voor ‘n TV of selfoonskerm te sit, of om toevallig aandag van ‘n oppasser te kry wat haar aandag tussen 10 kleuters by die bewaarskool moet verdeel. Micky Muis se manewales het nie dieselfde positiewe impak op neurologiese ontwikkeling en ontwikkeling van taalvaardigheid, geheue en begripsvermoë as om taal by ‘n ouer te leer nie. Wannneer mens vir ‘n kind voorlees, is dit nie slegs nuwe woorde wat hy hoor nie, maar daar is ook iemand wat vir die kind die betekenisse van nuwe woorde en begrippe kan verduidelik en konteks daaraan kan gee. Die leser sal ook deur middel van stemtoon, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal tot die emosionele impak van die leeservaring bydra. Die kind word ook aan ‘n wyer wêreld van kennis en ervarings, wat in boeke beskryf word, blootgestel. Kinders met beter taalvaardighede het ook beter selfbeheer en die vermoë om beter te verstaan en hulself uit te druk, wat hulle beter sosiale en akademiese vermoeëns en ‘n voorsprong in die lewe gee.
François Durand
Bronne:
Dick F.; Leech R. & Richardson F. (2008). The neuropsychology of language development. In: Reed J., Warner-Rogers J., editors. Child Neuropsychology : Concepts, Theory and Practice. Hoboken, NJ, USA: Wiley Blackwell; pp. 139–182.
Golinkoff, R.M.; Hoff, E.; Rowe, M.L.; Tamis-Le Monda & Hirsh-Pasek, K.(2018). Language Matters: Denying the Existence of the 30-Million-Word Gap Has Serious Consequences. Child Development, 90(3):985–992.Logan, J.A.R.; Justice, L.M.; Yumus, M. & Chaparro-Moreno, L.J. (2019). When Children Are Not Read to at Home: The Million Word Gap. Journal for Developmental and Behavioural Pediatrics, 40(5):383-386.
Uitgawe 4 – April 2026
Die voordele van voorlees
Wanneer mens vir ‘n kleuter voorlees, leer jy hom die verhouding tussen simbole en klanke, wat van kardinale belang is vir die ontwikkeling van sy eie leesvermoë. Maar tydens voorlees ontwikkel die kind se taalvaardigheid, empatie, kommunikasievermoëns, verbeelding en kognitiewe ontwikkeling ook en lê jy die fondasie vir selflees en toekomstige leervermoëns.
Voorlees leer die kleuter nuwe woorde, frases en sintaksis of sinsleer, m.a.w. hoe woorde en sinsdele georganiseer word om ’n sin te vorm. Dit sluit die volgorde van woorde in, die verhouding tussen onderwerp en gesegde en die gebruik van voorwerpe en byvoeglike bepalings. Natuurlik kan die kind hierdie taalvermoëns ook in gemeenskappe leer waar daar nie gelees word nie, maar met voorlees word ouers genoop om kinders aan woorde, wat hulle nie allerdaags gebruik nie, bloot te stel, wat kleuters se woordeskat geweldig uitbrei.
Die kognitiewe vaardighede van die kleuter word ontwikkel deurdat die kleuter deur stories en vertellings blootgestel word aan oorsaak en gevolg, volgorde van gebeure en verhoudings tussen karakters. Dit dra alles by tot latere probleemoplossing en geheueontwikkeling. Kognitiewe ontwikkeling gee die kleuter ook ‘n kennisbasis wat die kind meer geneë maak om nuwe inligting in te neem en bydra dat leer en selflees moeitevry verder kan ontwikkel.
Kommunikasievaardighede word ontwikkel deurdat die kleuter leer om te luister en die woordeskat ontwikkel om homself behoorlik te kan uitdruk wat allerbelangrik is vir sosiale interaksie en om te kan leer.
Empatie ontwikkel wanneer mens vir ‘n kleuter stories voorlees of vertel. Deur middel van stories word die kind blootgestel aan situasies wat uit verskillende perspektiewe gesien word en gee die geleentheid om empatie met karakters te ontwikkel. Empatie is van kardinale belang in ’n kind se ontwikkeling, omdat dit sosiale interaksie bevorder, die vermoë om effektief te kommunikeer versterk, en die vorming van persoonlike verhoudings ondersteun.
Voorlees skep ‘n omgewing van vertroue en sekuriteit wat belangrik is vir die ontwikkeling van die kleuter-ouer band. Daarbenewens het voorlees in ‘n gesellige bekende omgewing ‘n kalmerende effek op ‘n kind wat angs en spanning verminder wat die oordra van kennis en vaardighede vergemaklik.
Voorlees skep ook ‘n verwysingsraamwerk waar boeke nie vreemde voorwerpe is nie en lees nie ‘n vreemde aktiwiteit is nie. Kinders leer dat boeke bronne van kennis en vermaak is. Dit vergemaklik die oorgang van voorlees na selflees en selflees is ‘n kritiese vaardigheid vir die leerproses. ‘n Kleuter wat van kleins af aan boeke blootgestel was, sal ‘n liefde vir boeke ontwikkel en self verder wil lees, teenoor ‘n kind wat vir die eerste keer aan boeke op skool bekend gestel word. Laasgenoemde sal met angs gevul word en nie die nodige vaardighede hê om die geskrewe woord maklik baas te raak nie, wat maklik na ‘n lewenslange onwilligheid om te wil lees kan lei, wat geweldige leerprobleme en akademiese agterstand kan veroorsaak.
François Durand

