Brief Aan Die Ouers.
Inligting spesiaal aan die ouers.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Oor die afgelope 40 jaar het daar ’n groot leemte in ons kinders se taalvaardigheid en leesvermoë ontstaan. Suid-Afrika sit vandag met die laagste geletterdheidskoers ter wêreld. Talle skole het nie meer biblioteke nie. Kinders is verslaaf aan speletjies op selfone en kan nie meer lank genoeg konsentreer om te verstaan wat in die klas aangaan nie en sukkel om ’n boek van voor na agter deur te lees.

In die sestiger tot sewentigerjare van die vorige eeu, toe ek ’n kind was, was daar Jongspan (1936-1969), wat in 1970 deur Vonk vervang is (maar wat na minder as twee jaar daarna doodgeloop het), Bollie, Tina, Patrys en die wetenskaptydskrif vir hoërskoolkinders – Archimedes. My ouers het my, my broer en suster op al hierdie kindertydskrifte ingeteken en ons het gelees dat dit klap.
Die koms van televisie in Suid-Afrika in 1975, was die doodslag vir die Afrikaanse kindertydskrif. Die oorspronklik tweetalige Archimedes het die langste van almal uitgehou. Die leemte aan kindertydskrifte het my die meeste gepla toe my kinders leesstof gesoek het. Natuurlik was daar altyd boeke en strokies soos Asterix en Kuifie, maar dit het nie al die kinders se behoeftes om in hul eie taal te lees en te ontdek en te verstaan, bevredig nie.
Die druk- en verspreidingskostes van tydskrifte is egter baie hoog, wat sonder subsidie of baie advertensies, die koste van die tydskrif te duur vir die gemiddelde huishouding maak. Toe ek op die bestuur van die Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie gedien het (wat Archimedes uitgegee het), het ons gevind dat groot maatskappye gewillig was om Archimedes te borg, mits dit slegs in Engels verskyn en ’n sekere sosio-politieke inslag het.
Met die koms van die internet het dit egter moontlik geword om enigiets – selfs boeke – wêreldwyd te versprei. Daar is ook geen ekstra kostes verbonde aan kleurprente nie, en daar is geen drukkostes nie. En dit is waar Beiteltjie homself bevind – die eerste Afrikaanse kindertydskrif wat digitaal wêreldwyd versprei word. Die inslag van Beiteltjiesal meer met dié van Jongspan vanaf die sestigerjare ooreenstem as die ander jeugtydskrifte. Die inhoud sal ’n mengsel van vermaak, inligting en opvoeding bevat en sal op plekke die laerskoolkurrikulum aanvul, maar ook poog om die reuse gapings in die kurrikulum op te vul.
Beiteltjie sal gratis maandeliks op beiteltjie.co.za verskyn. Mense kan vir honderd rand per jaar op die tydskrif inteken en dit in PDF formaat per epos ontvang, sodat dit dan tuis afgelaai en op ’n rekenaar geberg kan word, of in papierformaat uitgedruk kan word, sodat dit die gevoel van ’n regte tydskrif het. Dit sal veral mense bystaan wat hul kinders van skerms wil speen. Individuele uitgawes kan in PDF formaat teen tien rand stuk bestel word. Stuur ‘n epos aan beiteltjie@yahoo.com as jy op Beiteltjie wil inteken.
Kom ons maak dit weer pret vir ons kinders om te lees.
François Durand
Rig korrespondensie aan: beiteltjie@yahoo.com
Uitgawe 2 – Februarie 2026
BRIEF AAN OUERS
Die kindertydskrif het ‘n baie belangrike rol in die vermaak en opvoeding van die kind tot die onlangse verlede gespeel. Die koms van TV in 1975 het die doodsklok van die kindertydskrif ingelui. Natuurlik was die TV programme van 40 jaar gelede van hoogstaande opvoedkundige gehalte en daar was programme oor wetenskap, kuns en kultuur. Afrikaanse TV dramas het gedy en dramas met geskiedkundige temas het die lig gesien. TV was onweerstaanbaar.
Die prys wat ons egter vir hierdie “modernisering” van vermaak en opvoeding betaal het, is die dramatiese afname oor die laaste vier dekades in lees, geletterdheid, konsentrasievermoë, kommunikasievaardighede en algemene kennis onder kinders. ‘n Tweede en ewe dringende probleem het oor die laaste 30 jaar sy kop uitgesteek, naamlik ‘n meëdoëlose aanslag op die Afrikaanse taal en kultuur. Dit het vroeër in ons geskiedenis ook onder die Engelse juk van bykans 150 jaar gebeur toe Afrikaanse kinders gedwing was om in Engels te leer, terwyl alles gedoen was om hul taal en kultuur te verkleineer en af te takel.
Dit was teen hierdie agtergrond wat M.E.R., of te wel Maria (Miemie) Elizabeth Rothmann, vanaf 1922 vir Die Huisgenoot bydraes begin skryf het. Sy word later by Die Kleinspan, Die Huisgenoot se bylae vir kinders, ingespan. Sy word die redakteur van Die Kleinspan, wat vanaf 1925 as ‘n los tydskriffie binne Die Huisgenoot verskyn het. M.E.R. was ‘n kampvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur en het talle geskiedkundige verhale vir kinders geskryf.
Die Kleinspan word in 1934 Die Jongspan. Die jare voor en na 1934 was ‘n krisistydperk in die bestaan van die Afrikaner. ‘n Volkskongres, wat die armblankevraagstuk aanspreek, word in 1934 in Kimberley gehou. Die Jongspan het sy deel gedoen om hierdie probleem aan te spreek deur om ‘n opvoedkundige bron vir kinders te wees. Die vermaaklikheidsaspek van die tydskrif was bloot die voertuig waarmee kennis aan die kind oorgedra was.
Die redakteur van Die Jongspan, dr. C.F. Albertyn het die doel van die tydskrif in 1941 só opgesom: ‘As hy die lewe behou, word elke kind die man en vrou van more. Elke kind moet hom dus voorberei om ‘n nuttige lid van sy volk te word. Daarvoor moet ons ons taal goed ken, moet ons ons deeglik vir die beroep wat ons wil gaan volg voorberei en moet ons algemene kennis he. In al daardie dinge wil Die Jongspan julle help. Die Jongspan wil dus die volk dien, want wie die jeug dien, dien die volk.’
In ‘n land waar geskiedenis uit die skoolleerplan verwyder is, waar TV kykers aan oorsese televisieprogramme en eensydige plaaslike politiese verhale en geskiedenisprogramme blootgestel word, waar die Afrikaanse taal en kultuur in opvoedkundige inrigtings aangeval en gedemoniseer word, waar daar wêreldwyd ‘n aanslag op die gesin en gelagsrolle is en waar biblioteke verdwyn, moet daar ‘n alternatiewe bron van kultuur- en kennisoordraging op die been gebring word – en dit is in hierdie bres waar hierdie kindertydskrif homself bevind.
François Durand
Lees ook: Bester, M. (1989). Die Arikaanse kindertydskrif as kultuurhistoriese inligtingsbron. Suid-Afrikaanse Tydskrif vit Kultuur- en Kunsgeskiedenis, 3(1):19-30.Rig alle korrespondensie aan: mywereld01@yahoo.com
Uitgawe 3 – Maart 2026
Hoekom voorlees vir kleuters belangrik is
Ouers se gedrag het ‘n geweldige groot invloed op hul kinders se intellektuele en sosiale ontwikkeling. Dit klink vanselfsprekend en meeste ouers dink seker dat hulle die beste vir hulle kinders doen. Ongelukkig is dit dikwels nie die geval nie en dan is mense verbaas dat hul kinders skielik met leerprobleme op skool sit. Baie sosiale en intellektuele ontwikkelingsprobleme reeds op ouerknie – maar waarskynlik omdat daardie knie nie daar was nie, maar wel ‘n TV- of tablet, wat as kinderoppasser gedien het, omdat ouers met iets belangrikers as kinderopvoeding besig was.
Navorsing het bevind dat kinders wie se ouers vir hulle elke dag van kleins af, vir ongeveer 20 minute per dag, gelees het, ongeveer 1.4 miljoen woorde meer gehoor het as kinders van huishoudings, waar daar nie voorgelees was nie. Hierdie voorsprong van die een groep en die agterstand van die ander, het ‘n geweldige en permanente impak op beide groepe se lewens. Die kinders vir wie daagliks voorgelees was, het vir die res van hul akademiese ontwikkeling ‘n intellektuele en sosiale voorsprong bo dié kinders wat uit ‘n nie-lees omgewing gekom het. Die kinders vir wie voorgelees was, se vermoë om inligting in te neem en te prosesseer en om te kommunikeer is strate voor dié van ander kinders.
Die deel van die kind se brein wat taal en dus ook woordherkenning en begrip beheer is geweldig aktief tot op 5 jaar. Daarna neem die vermoë om taalvaardigheid te ontwikkel af. Dit is juis in hierdie tydperk van die kind se ontwikkeling, wat hulle baie tyd saam met hulle ouers of grootouers moet deurbring, wat met hulle moet gesels, eerder as wat hulle voor ‘n TV of selfoonskerm te sit, of om toevallig aandag van ‘n oppasser te kry wat haar aandag tussen 10 kleuters by die bewaarskool moet verdeel. Micky Muis se manewales het nie dieselfde positiewe impak op neurologiese ontwikkeling en ontwikkeling van taalvaardigheid, geheue en begripsvermoë as om taal by ‘n ouer te leer nie. Wannneer mens vir ‘n kind voorlees, is dit nie slegs nuwe woorde wat hy hoor nie, maar daar is ook iemand wat vir die kind die betekenisse van nuwe woorde en begrippe kan verduidelik en konteks daaraan kan gee. Die leser sal ook deur middel van stemtoon, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal tot die emosionele impak van die leeservaring bydra. Die kind word ook aan ‘n wyer wêreld van kennis en ervarings, wat in boeke beskryf word, blootgestel. Kinders met beter taalvaardighede het ook beter selfbeheer en die vermoë om beter te verstaan en hulself uit te druk, wat hulle beter sosiale en akademiese vermoeëns en ‘n voorsprong in die lewe gee.
François Durand
Bronne:
Dick F.; Leech R. & Richardson F. (2008). The neuropsychology of language development. In: Reed J., Warner-Rogers J., editors. Child Neuropsychology : Concepts, Theory and Practice. Hoboken, NJ, USA: Wiley Blackwell; pp. 139–182.
Golinkoff, R.M.; Hoff, E.; Rowe, M.L.; Tamis-Le Monda & Hirsh-Pasek, K.(2018). Language Matters: Denying the Existence of the 30-Million-Word Gap Has Serious Consequences. Child Development, 90(3):985–992.Logan, J.A.R.; Justice, L.M.; Yumus, M. & Chaparro-Moreno, L.J. (2019). When Children Are Not Read to at Home: The Million Word Gap. Journal for Developmental and Behavioural Pediatrics, 40(5):383-386.
Uitgawe 4 – April 2026
Die voordele van voorlees
Wanneer mens vir ‘n kleuter voorlees, leer jy hom die verhouding tussen simbole en klanke, wat van kardinale belang is vir die ontwikkeling van sy eie leesvermoë. Maar tydens voorlees ontwikkel die kind se taalvaardigheid, empatie, kommunikasievermoëns, verbeelding en kognitiewe ontwikkeling ook en lê jy die fondasie vir selflees en toekomstige leervermoëns.
Voorlees leer die kleuter nuwe woorde, frases en sintaksis of sinsleer, m.a.w. hoe woorde en sinsdele georganiseer word om ’n sin te vorm. Dit sluit die volgorde van woorde in, die verhouding tussen onderwerp en gesegde en die gebruik van voorwerpe en byvoeglike bepalings. Natuurlik kan die kind hierdie taalvermoëns ook in gemeenskappe leer waar daar nie gelees word nie, maar met voorlees word ouers genoop om kinders aan woorde, wat hulle nie allerdaags gebruik nie, bloot te stel, wat kleuters se woordeskat geweldig uitbrei.
Die kognitiewe vaardighede van die kleuter word ontwikkel deurdat die kleuter deur stories en vertellings blootgestel word aan oorsaak en gevolg, volgorde van gebeure en verhoudings tussen karakters. Dit dra alles by tot latere probleemoplossing en geheueontwikkeling. Kognitiewe ontwikkeling gee die kleuter ook ‘n kennisbasis wat die kind meer geneë maak om nuwe inligting in te neem en bydra dat leer en selflees moeitevry verder kan ontwikkel.
Kommunikasievaardighede word ontwikkel deurdat die kleuter leer om te luister en die woordeskat ontwikkel om homself behoorlik te kan uitdruk wat allerbelangrik is vir sosiale interaksie en om te kan leer.
Empatie ontwikkel wanneer mens vir ‘n kleuter stories voorlees of vertel. Deur middel van stories word die kind blootgestel aan situasies wat uit verskillende perspektiewe gesien word en gee die geleentheid om empatie met karakters te ontwikkel. Empatie is van kardinale belang in ’n kind se ontwikkeling, omdat dit sosiale interaksie bevorder, die vermoë om effektief te kommunikeer versterk, en die vorming van persoonlike verhoudings ondersteun.
Voorlees skep ‘n omgewing van vertroue en sekuriteit wat belangrik is vir die ontwikkeling van die kleuter-ouer band. Daarbenewens het voorlees in ‘n gesellige bekende omgewing ‘n kalmerende effek op ‘n kind wat angs en spanning verminder wat die oordra van kennis en vaardighede vergemaklik.
Voorlees skep ook ‘n verwysingsraamwerk waar boeke nie vreemde voorwerpe is nie en lees nie ‘n vreemde aktiwiteit is nie. Kinders leer dat boeke bronne van kennis en vermaak is. Dit vergemaklik die oorgang van voorlees na selflees en selflees is ‘n kritiese vaardigheid vir die leerproses. ‘n Kleuter wat van kleins af aan boeke blootgestel was, sal ‘n liefde vir boeke ontwikkel en self verder wil lees, teenoor ‘n kind wat vir die eerste keer aan boeke op skool bekend gestel word. Laasgenoemde sal met angs gevul word en nie die nodige vaardighede hê om die geskrewe woord maklik baas te raak nie, wat maklik na ‘n lewenslange onwilligheid om te wil lees kan lei, wat geweldige leerprobleme en akademiese agterstand kan veroorsaak.
François Durand
Uitgawe 5 – Mei 2026
Lees is een van die belangrikste vaardighede waarop akademiese sukses en lewenslange leer berus. Mens moet egter die stappe van leesontwikkeling verstaan sodat ouers en onderwysers kinders kan bystaan sodat hulle in gemotiveerde en vaardige lesers kan ontwikkel.
Leesontwikkeling is ‘n komplekse proses wat verskeidenheid vaardighede behels. Die belangrikste van hierdie vaardighede is fonetiese bewustheid, woordeskat, vlotheid en begrip. Mens moet eerstens verstaan dat die gedrukte woord, simbole vir die gesproke woord is. Sonder ‘n goed ontwikkelde taalvermoë is lees onmoontlik.

Kinders vorder tipes deur vyf ontwikkelingsfases soos hulle leesvaardigheid ontwikkel en elke fase bou op die voorafgaande fase. As een fase ontbreek word die kind se leesvaardigheid net daar belemmer, en dikwels is die effek hiervan permanent. Dit is dus verskriklik belangrik vir ouers en opvoeders om te verstaan hoe hierdie fases op mekaar volg en hoe om die kind op hierdie fases van sy ontwikkeling te ondersteun. Die vyf fases is voor-lees, dekodering, bevestiging en vlotheid, lees om te leer en laastens lees vir lewenslange leer.
Die voor-lees fase (moenie dit met voorlees verwar nie) vind plaas in die heel eerste jare van ‘n kind se lewe voor hulle skool toe gaan. Dit is die allerbelangrikste tyd waartydens ‘n kind se taalvaardighede ontwikkel, wat deel van ‘n neurologiese ontwikkelingsproses is wat nie later herhaal of ingehaal kan word nie. Saam met die kind se taalvermoëns ontwikkel sy fonetiese bewustheid, woordeskat, begripsvermoëns en kommunikasievermoëns – maar slegs as daar met hom gepraat word. Wanneer kinders op hierdie stadium van ontwikkeling aan boeke blootgestel word, word hulle aan die begrip dat gedrukte letters klanke en woorde voorstel, blootgestel. Voorlees is van kardinale belang in hierdie ontwikkelingsfase (sien Beiteltjie 1.4).
Die dekoderingsfase is die eerste bewustelike deelname van die kind in die leesproses. Die deurbraak vind plaas as die kind nou intens bewus word van die feit dat letters klanke voorstel en hulle nuuskierig word om uit te vind wat dit beteken en woorde self probeer ontsyfer. Die kind ontdek dan dat hulle die vermoë het om eenvoudige woorde te lees. Hierdie fase kan nie bemeester word as die kind nie ‘n begrip het van die fonetiese aard van letters en woorde nie. Wanneer die kind ontdek dat hulle sigwoorde (woorde wat hulle met ‘n oogopslag herken sonder om dit uit te spel) herken, bou dit hulle selfvertroue en word lees ‘n aangename en opwindende ervaring.
Die bevestigingsfase vind gewoonlik in die eerste jare op skool plaas, maar dit is slegs suksesvol as die vorige twee fases in plek is. Dit verklaar wat die oorsaak van die ongeletterdheid in Suid-Afrikaanse skole is want meeste huise het nie boeke nie en voorlees vind glad nie plaas nie – die kind sien vir die eerste keer ‘n boek op skool. Tydens hierdie fase leer die kind om woorde vinniger te kan uitspel en herken en begin onafhanklik al hoe vlotter te lees. Dit is ook nou wat die kind meer op begrip eerder as slegs die ontsyfering van woorde begin fokus. Kinders se woordeskat en begrip ontwikkel nog verder tydens hierdie fase.
Die lees om te leer fase wat veronderstel is om in graad vier tot agt plaas te vind, gee die kind die noodsaaklike vermoëns om akademies vaardig te word. Aangesien alle kennis eerstens en hoofsaaklik in gedrukte vorm bestaan, kan ‘n kind nie akademies vorder as hy nie goed kan lees nie. Belangrike aspekte van hierdie fase is dat die kind leer om komplekse inhoud te kan lees en verstaan wat gevorderde woordeskat en begripsvermoëns vereis. Kritiese denke ontwikkel in hierdie fase wat nodig is vir die kind om dit wat hy lees te kan analiseer en evalueer en met ander bronne van inligting te kan vergelyk wat die grondslag vir navorsing is. Kinders leer om inligting te integreer en op te som en hul kennis vir probleemoplossing aan te wend.
Die lees vir lewenslange leer fase is noodsaaklik om ‘n voorliefde vir lees te ontwikkel. Hierdie fase begin gewoonlik op hoërskool, maar duur vir die res van die persoon se lewe. Gedurende hierdie ontwikkelingsfase ontwikkel mense ‘n voorliefde vir lees as deel van hul persoonlike verryking en professionele ontwikkeling. Hierdie ontwikkelingsfase sluit die blootstelling aan verskillende genres, die integrasie van inligting en die opbou van ‘n persoonlike biblioteek in.
François Durand
Rig alle korrespondensie aan: beiteltjie@yahoo.com
Uitgawe 6 – Junie 2026
BRIEF AAN OUERS

Taalontwikkeling in kleuters

Taalontwikkeling vind tydens ‘n kritiese tydperk in die kleuter se neurologiese ontwikkeling tussen die ouderdom van 2 en 5 jaar plaas. Hierdie ontwikkeling vind in die linkerkantste deel van die brein in en rondom die temporale lob en die prefrontale korteks van die kleuter plaas wanneer die senuweebane in die boogbundel ontwikkel wat die Sentrums van Broca en Wernicke verbind.
Die Sentrum van Broca in die linker frontale lob is verantwoordelik vir spraakproduksie en grammatika, terwyl die Sentrum van Wernicke in die linker temporale lob vir taalbegrip en semantiek verantwoordelik is. Uitvoerende funksies soos beplanning, probleemoplossing en impulsbeheer ontwikkel en word beheer in die prefrontale korteks langs die Sentrum van Broca. Die temporopariëtale streek, aangrensend aan die Sentrum van Wernicke, is betrokke by woordeskat, sintaksis en die integrasie van taal met sensoriese inligting. In die middel van die brein is die amygdala en hippokampus geleë wat vir emosionele regulering en geheue, wat taalgebruik en leer, verantwoordelik is.
Hierdie versameling strukture in die brein is nie slegs vir die ontwikkeling van taal verantwoordelik nie, maar ook vir probleemoplossing en die uitvoerende funksie van ‘n persoon. Dit is dan ook duidelik dat die regte omgewing met die regte stimulasie absoluut noodsaaklik is vir die breinontwikkeling van die kleuter. Dit is ewe belangrik vir die kleuter om sy bewegings-mylpale te bereik soos die omrol en kruipbeweging en later loop, spring en huppel vir die behoorlike en korrekte ontwikkeling van die senuweebane in die brein (meer daaroor in ‘n latere uitgawe van Beiteltjie). Beweging stimuleer dele van die brein en versterk die koördinasie tussen sensoriese waarneming en motoriese reaksies, wat vir spraakontwikkeling, kognitiewe denke en probleemoplossing gebruik word. Beheer van asemhaling en die spraakorgane word ook deur die motoriese korteks hanteer.
Kritiese Ouderdom vir Taalontwikkeling:
0–12 maande: Babas herken klanke en begin babbel.
1–3 jaar: Vinnige uitbreiding van woordeskat en eenvoudige sinne word gepraat.
3–5 jaar: Sintaksis, narratief en komplekse taalvaardighede ontwikkel.
Na 5 jaar: Plastisiteit verminder; nuwe taal kan nog geleer word, maar met baie meer moeite.
Wanneer kinders verwaarloos word deurdat hulle nie genoeg aandag kry nie, mee gespeel word, of mee gesels word nie, of as ouers elektroniese media gebruik om ‘n “lastige” kleuter besig te hou, word die neurologiese ontwikkeling van die kind gestrem wat onherroeplike skade aan die kind se brein aanrig (meer daaroor in ‘n volgende uitgawe van Beiteltjie).
Korttermyn skade aan die brein weens verwaarlosing veroorsaak:
Vertraagde spraak en beperkte woordeskat.
Swak taalbegrip en kommunikasievaardighede.
Langtermyn skade aan die brein weens verwaarlosing veroorsaak:
Kognitiewe tekorte: laer IK, probleme met abstrakte denke.
Uitvoerende funksie‑probleme: swak aandag, impulsbeheer, beplanning.
Gedragsuitdagings: verhoogde risiko vir angs, depressie, aggressie.
Sosiale en akademiese gevolge: leerprobleme, swak prestasie, isolasie.
Dit is van uiterste belang vir ouers om direk betrokke by hul baba en kleuter se ontwikkeling te wees. Dit is die tyd en die plek waar die kind se brein en kognitiewe vermoëns ontwikkel word.
Bronne:
⦁ Teëspoed tydens kleuterontwikkeling verander die brein se ontwikkelingsbane en lei tot permanente neurobiologiese skade. (Nelson, C.A. & Gabard-Durnam, L. (2020) (Early Adversity and Critical Periods: Neurodevelopmental Consequences of Violating the Expectable Environment. Trends in Neuroscience 43(3):133–143 ).
⦁ Kleuters wat verwaarloos word, toon laer taal- en kognitiewe ontwikkeling en meer gedragsprobleme. (Spratt et al. (2012) (The Effects of Early Neglect on Cognitive, Language, and Behavioral Functioning in Childhood, Psychology (Irvine) 3(2):175–182).
⦁ Verwaarlosing van kleuters ontwrig die ontwikkeling van die prefrontale korteks en amygdala, wat uitvoerende funksies soos werkgeheue en kognitiewe funksionering benadeel. (HerreroRoldán, S. & MartínRodríguez, A. (2025) (Neglect and Neurodevelopment: A Narrative Review Understanding the Link Between Child Neglect and Executive Function Deficits. Biomedicines 13(7), 1565).
François Durand
Rig alle korrespondensie aan: beiteltjie@yahoo.com

