Storie.
Elke maand is daar ‘n nuwe storie te lees vir jonk en oud.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS
deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)
Hoofstuk 1: Wie is Sias en wie is Mias?

Sias en Mias se pa is die dominee van die Sendingkerk op Bitterwater, in die Boland. Die dominee se naam is Jan Vijoen (nie ’n moeilike naam om te onthou nie) en sy vrou se naam is Lenie. Jan is nog nie oud nie, net 35 jaar, daarom kan hy kinders verstaan. Sias en Mias dink egter dat hul pa en ma al vreeslik oud is en ’n kind nie kan verstaan nie.
Maar Jan Viljoen kan. Baie dae gaan hy eers eenkant om te gaan lag. As hy klaar is, trek hy ’n ernstige gesig en kom straf dan vir Sias en Mias. Hy doen dit nie omdat dit vir hom lekker is nie, maar Sias is ’n ondeunde mannetjie en Jan wil sy kinders graag goed grootmaak. Moet ook nie vir Mias weggooi nie.
Kom ons begin liewer voor. Bitterwater lê aan die voet van die pragtige Bolandse berg, Boesmansberg. Stel julle ’n pragtige vallei met riviere, landerye, boorde en wingerde voor, en plaashuise met gewels uit die dae van die Hugenote. Julle sal dan ‘n prentjie hê van die omgewing van Bitterwater.
Dis rustig hier. Die grootpad gaan ver onderkant die dorpie verby, die gesnork van die motors kan net veraf gehoor word.
Om Sias en sy trawante se kaskenades te verstaan, moet julle dié dorpie ken. Daar is rustige strate en nog geen teerpaaie nie: amper elke huis het ’n hoë stoep wat laer word berg se kant toe. Daar is balies op die stoepe met varing en malvas of, wie weet, pietersielie. Die huise het ’n bo- en onderdeur, luike voor die vensters en platdakke. Tuintjies en boorde en wingerde ook, want elke man wil mos sy groente en vrugte hê.
Die strate is breed en hobbelrig want daar loop nie skrapers nie. Die strate loop van die berg se kant af in die rigting van die vallei. Daar is dwarstrate ook, en hulle is nouer.
Langs die dorpie is ’n diep sloot of rivier, n dié dra die naam van Pienaarsrivier, waarom weet ons nie. Met donderstorms is Pienaarsrivier ’n derduiwel wat raas en swets dat jy hom waar kan hoor. Hulle vertel daar het al drie kinders verdrink maar of dit waar is sal ons nie kan sê nie.
Dis dan die Pienaarsrivier.
Eers moet ons julle van die pastorie vertel. Die naam is Ebenhaeser en dit lyk half na ’n kerkie. Dit wás ook die eerste kerkie op Bitterwater, maar nadat die nuwe kerk gebou is, het hulle die kerkie in ’n woonhuis omskep. Daar woon Jan en Lenie en die kinders nou.
En dis hier waar ons Sias, Mias en Anna kry. Dan is daar nog die kleinboetie wat deur almal Kleinjan genoem word.
Moet ek met die storie begin of moet ek julle eers van die pastorie se mense vertel? Ons sal by Sias en Mias begin.
Jan Viljoen sê Sias is die oudste van die twee en sy vrou sê Mias is die oudste. Niemand weet verseker nie want Sias en Mias is ’n tweeling. Hulle lyk op ’n druppel water na mekaar. Miskien moet ons liewers sê so eenders soos twee ertjiepitte. As julle Sias gesien het, het julle Mias ook gesien.
Sias en Mias is agt jaar oud toe hierdie storie begin. Elkeen het ’n kroontjie waar die paadjie op die kop moet begin, twee weglê ore, blou oë en ystervarkpenne vir hare, of amper. Lenie trek hulle altyd eenders aan. Dit is ’n blou hemp en ’n kakiebroek, behalwe natuurlik as hulle gaan kuier.
Met hul geboorte het Jan en Lenie glad vergeet om te onthou wie eerste in die wêreld gekom het, Sias of Mias. As hulle poedelnakend is, kan ’n mens sê wie Sias en wie Mias is. Mias het ’n geboortevlek op sy maag en dit lyk soos ’n peer sonder ’n stingel. Maar elkeen het ewe vet boudjies, ewe kort beentjies en ’n stewige bors. Hoe moet ’n mens hulle nou uitmekaar ken as hulle aangetrek is!
Sias is die onhebbelike een. Net wat ’n kwajongstreek is, het hy al aangevang. Nou het hy al agtergekom dat die mense hom uitken aan sy streke en dus sal botter nie in sy mond smelt nie. Stap hy uit die gesig van mense uit, is dit egter ’n ander storie. Maar, julle moet Mias ook nie weggooi nie.
Mias het al pak gekry as Sias dit moes gehad het. Hulle sal mekaar darem nie verklik nie. Die twee baklei soos kat en hond, maar moenie dink hulle sal kwaad bly nie. Sias en Mias speel ook klavier, alles van geheue af.
Hulle het ’n ouer sussie, Anna, wat baie, baie bysiende is. Die lense van haar bril is so dik soos party oumense dra. Selfs dan kan sy nog nie te goed sien nie. Snaaks genoeg ken sy Sias en Mias maklik uitmekaar. Sy is elf jaar, staan eerste in haar klas, het dun beentjies, ’n maer gesig en ’n goeie hart. Nes ’n moeder is sy oor hierde twee gruwelike boeties van haar.
Dan is daar nog die negemaande oue boetie wat deur almal Kleinjan geoem word, want sy pa is ook Jan. Hy is ’n vetsak, bederf en ouderwets met sy blou oë en min hare.
Nou ken julle almal in die pastorie behalwe vir Napoleon, die steekbaard. Waar die storie se mense aan hierdie gedierte kom, weet ons nie. Hy praat, maar kan nie lees en skrywe nie. Een blaf vir asseblief en twee blaffies vir dankie. Hy kan ook hand gee.
Dis ’n lieflike oggend in Julie en niemand sal onheil vermoed nie. Die strate is stil en Kleinjan huil nie. Jan Viljoen is besig met die preek vir Sondagaand.
Girts, breek ’n tak! Toe is daar ’n gekerm van takke en ’n geval van blare.
Jan sit sy pen op die skryftafel neer en kyk na die bome voor die pastorie. Dis yslike bome en baie hoër as die pastorie self. Hy sien hoe die takke nog swaai en die blare piets.
Jan sug en stap na die voordeur. Hy moet sy kop heeltemal agteroor hou om daar te kyk waar die blare roer.
“Wie is daar in die boom?”
“Ek, Pa” kom ’n benoude stemmetjie.
“Wie is ‘ek’”? vra Jan.
“Mias, Pa.”
“Waar is Sias dan?”
“In die ander boom, Pa.”
“Kom dadelik af en na my studeerkamer!” gebied Jan.
“Ja Pa.” sê Mias.
“Ja Pa.” sê Sias.
Maar Jan glimlag toe hy die studeerkamer toemaak. Nou maak hy sy gesig ernstig en wag die twee knapies in.
Een maak die deur op ’n baie klein skrefie oop en skuif in. Hy word hard van agter gestamp en toe kom hy weer ’n slag in. Dis al wat ons kan sê; die mannetjie het twee keer ingekom of, so nie, sien ons dubbel. Kerssregop gaan hulle teen die boekrak staan.
Jan kyk na altwee en ook nie na een nie, as julle verstaan wat ek bedoel. Hy is glad nie seker wie wie is nie. Hy is nooit seker nie, al sê Lenie ook sy ken hulle uitmekaar.
“Sias!” sê Jan in ’n kwaai stem.
“Ja, Pa,” sê die een naaste aan die deur. Jan is baie bly dat hy nou weet wie Sias is.
“Wat het ek vir julle gesê?” wil hy weet.
“Ons mag nie die bome klim nie,” antwoord Sias, maar net hulle sal weet of dit Sias is.
“En wat het julle toe gedoen?”
“Ons het in die boom geklim, Pa,” antwoord hy.
“Wat is die straf vir ongehoorsaamheid?” vra Jan.
“Twee rapse, Pa.”
“Drie, my seun, drie. Twee is vir lelike taal.”
“Ja, Pa.”
“Bring die lat, Mias.”
“Ek sal dit nooit weer doen nie, Pa, sowaar ek sal dit nooit weer nie, Pa,” soebat Mias.
Die een raak aan die huil. Toe weet Jan vir seker wie Sias en wie Mias is. Hy maak een van die boekkaste oop en haal ’n kweperlat uit, ’n droë een, want die kwepertyd is verby.
“Pa, as ons nou die tuin gaan skoffel, sal Pa vir ons elkeen twee houe afslaan? Asseblief, Pa,” sê Mias.
Sias praat nie. Jan gaan voor hulle staan en druk met die kweperlat teen Sias se bors.
“En jy, Sias?” wil hy weet en doen sy bes om nie te lag nie.
“Ek vat liewer my houe, Pa,” sê hy en sy oë bly op sy pa se gesig.
“En as ek julle nie nou slaan nie?” vra hul pa.
“Dan skoffel ons die tuin, Pa,” sê Mias.
“Jislaaik, dan sal ek bly wees,” sê Sias.
“Gaan skoffel dan, Mias,” sê Jan.
Sias bly penregop staan.
“Kom, Sias!” gebied Jan.
Sias kom aangestap, maar neem sy oë nie van sy pa se gesig nie. Hy verbeel hom sy pa is nie te kwaad nie.
“Buk, Sias!” gebied Jan.
Sias buk. Jan slaan ’n hou en wag. Hy twyfel nou of hy die ander twee houe moet gee.
“Vir die ander twee kan jy ’n uur gaan skoffel.”
“Pa kan maar slaan,” sê Sias.
Jan kry Sias so jammer dat hy kamtig hard slaan maar dis nie so baie seer nie. Woep, woep val dit twee houe. Dis meer lawaai as wol.
Toe druk hy eers die seun styf teen sy lyf vas. Daarmee is Sias nie gediend nie. Met mening wikkel hy hom los uit sy pa se arms. Hy is groot en hou nie van ’n drukkery nie.
“Sal jy nie ook maar gaan skoffel nie? Die tuin is baie vuil,” sê sy pa.
Sian staan regop voor sy pa en nou is sy rooi gesiggie nog rooier. Jan sien die kroon voor sy kop, die stewige bene en die parmantige houding en hy kry sy seun sommer lief.
“Ek kan maar, Pa,” antwoord Sias.
“Hoekom het jy nie netnou saam met Mias gegaan nie?” wil sy pa weet.
“’n Mens is nie bang vir slae nie. Dis net lafaards wat bang is,” antwoord hy kontant.
“Kom hier, Sias. Ek wil net seker maak wie ek geslaan het,” sê Jan en toe Sias by sy knieë staan, maak Jan die gordel los, trek die hempie op en kyk of daar nie miskien ’n geboorteplekkie op die magie is nie.
“Stap maar mannetjie,” sê Jan, seker dat dit Sias is wat hy hierdie keer geslaan het.
Buite wag Anna op Sias, want sy het die drie houe gehoor. Anna ken die tweeling uitmekaar en dit is nie vir haar nodig om te vra wie dit is nie. Sy hou drie lekkertjies na hom uit, taai klewerige lekkers op ’n vuil handjie.
Sias vat net een en steek dit in sy kies.
Tussen hierdie twee is daar baie liefde, al is Sias ook nie ’n ou wat dit wys nie. Hy stap nou tuin toe. ’n Entjie agter hom kom Anna, en ’n entjie agter haar weer Napoleon, die steekbaard. Anna hoef nie te vra waarheen hy gaan nie want sy het mos die gesprek in die studeerkamer afgeluister.
Soos altyd voel dominee Viljoen nou baie sleg dat hy Sias moes slaan. Dit voel vir hom of hy ’n wreedaard is. Op sulke tye stap hy maar vir troos na sy vrou.
Lenie kyk met begrip na hom. Sy weet hoe hy voel. Sy kan ook nie die kinders slaan nie.
“Ek moes Sias weer geslaan het, “ sê hy en draai daar om Lenie rond wat met Kleinjan besig is.
“O, hy is so gruwelik,” sê Lenie.
“Nie anders as ander kinders nie,” meen Jan.
“Jy is baie partydig vir hom. Hy het elke dag sy pak nodig,” meen Lenie.
“Ek weet, maar ek kan hom nie slaan nie. Vandag sal Anna my weer met verwytende oë aankyk. Dis wonderlik hoe lief sy vir hom is. Ek wonder hoe sy die twee uitmekaar ken?” vra Jan want hy sukkel maar daarmee.
“Was dit Sias?” vra Lenie.
“Dit was. Ek het sy hempie opgetrek om self te kyk. Wanneer begin die skole weer?” wil hy weet.
“Eers oor veertien dae, Jan.”
Jan sug. ’n Mens kan maar sê dis veertien pakke voor die skole weer begin en hy slaan nie graag kinders nie. Hulle is maar nes klein brakkies en verveel hulle vreeslik by die huis.
Intussen het Sias ’n graaf geneem en skoffel so ’n entjie van Mias af. Sy gedagtes is nie ’n minuut stil nie. Dis planne en planne en planne. Anna sit onder ’n bloekomboom met haar ken in haar hand. Sy wens sy het kinders gehad. Sy sou hulle nooit geslaan het nie.
Ouers, dink Sias, slaan hul kinders tog te graag. ’n Man mag dít nie doen nie en ’n man mag dát nie doen nie. As hy van homself praat, dan praat hy van ’n man. Sias vergeet die drie houe darem gou, want hy het sy pa lief en weet dat sy pa kan nie anders nie. Sy pa is nogal ’n goeie ou en verstaan ’n man.
Mias is flukser as hy en so het hy maar die meeste van die skoffelwerk gedoen. Sias maak al weer groot planne. Hy het ’n ruimtetuig in gedagte, een wat self in die lug kan trek. Maar hoe moet ’n mens dit regkry?
Ag, daar is so baie dinge wat hy en Mias kan doen en nou moet hulle hier staan en skoffel. Dis glad nie lekker nie. Hy wil in die veld wees, daar by die bome, die voëls en die eekhorinkies. Waarom moet daar werk en skool wees? Dis tog nie lekker om skool te gaan en te werk nie. ’n Ou moes liewer ’n vlieënier gewees het wat tussen die wolke vlieg.
Uitgawe 2 – Februarie 2026
Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS
deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)
Hoofstuk 2: Sias word Mias
“Wat maak jy in die badkamer?” vra Lenie agterdogtig.
“Ek was sommer by bene, Ma,” sê Sias.
Lenie het netnou iemand sien ingaan, maar is nie seker of dit Sias of Mias is nie. Die kind bly darem lank daar en dis nie ‘n goeie teken nie.
“Wie is in die badkamer?” vra sy.
Soos blits kom die antwoord: ”Mias, Ma.”
“Hoekom het jy die badkamer toegesluit, Mias?” vra sy en vervolg: “Ek wil inkom.”
“Nou-nou, Ma,” kom die antwoord.
Sias het sake nou twee dae lank oordink. Hy koester nie ‘n wrok teen sy pa wat dominee is nie. ‘n Dominee se kinders, voel Sias, moet tog soet wees. Nee, al die moeilikheid kom omdat hy Sias is en nie Mias is nie. Sias reken dis baie onbillik.
Hy dra geen wrok teen Mias nie. Om die waarheid te sê, Mias is die beste ou in die hele wêreld. Hy het lank oor die saak gedink en ‘n maklike plan gekry. Daar is rooi Indiese ink van Anna en daar is sy maag. ‘n Man sal dit maklik kan doen.
Sias het ‘n volmaakte peer sonder stingel op sy magie geteken. Dis nog net die laaste ietsie inkleur en die werkie sal klaar wees. As hy hom nou nooit weer dáár was nie, sal die merk vir jare hou, reken hy. Hy is darem slim genoeg om die kraan te laat loop sodat sy ma nie iets moet agterkom nie. Sien, hy is mos kamtig sy bene aan die was. Haastig droog hy sy bene af.
Hy sluit die deur oop.
“Ma, die badkamer is nou leeg,” skree hy.
Op sy tone stap hy om die ink te gaan bêre. Anna kyk op toe hy inkom. Daar kom baie liefde in die twee oë agter die dik glase.
“Mias!” roep Lenie na ‘n rukkie.
“Ja, Ma,” antwoord Sias in die beste Mias-stem wat hy voor die dag kan haal.
“Kom hier!”
“Ja, Ma.”
Toe hy uit is, wonder Anna wat Sias weer gedoen het. Sy staan op en stap na die tafel en sien toe die botteltjie Indiese ink. Nou wonder sy wat hy tog met haar Indiese ink wou maak, maar kan glad nie raai nie.
Intussen het Sias tot by sy ma gegaan en wonder tog waarom sy hom geroep het. Hy word nie lank in die duister gehou nie.
“Mias, jy het ink op die teëls gemors. Maak dadelik skoon,” sê sy.
“Ja, Ma,” sê Sias dadelik, te bly dat dit nie iets erger is nie.
Sias het seep geprobeer op die vloerteëls en hy het ‘n lap probeer en later lap, seep en water. Sy ma is nie meer daar nie. Terwyl hy werk, wonder hy waarom hy so ongelukkig is om altyd in die moeilikheid te wees. Die twee, drie vlekkis is wel bleker en valer as netnou, maar dáár is hulle nietemin. Sias gaan haal die skropborsel en was en borsel, was en borsel, maar dit lyk of die ink in die plastiekteëls ingetrek het.
De mannetjie gaan op sy tone na sy ouers se slaapkamer om Kleinjan nie wakker te maak nie. Die handjie gaan uit na die babapoeier en daar stap hy op sy tone weer na die badkamer.
Sias stof ‘n bietjie poeier op die vloer en sit toe voet by. Na ‘n rukkie is hy tevrede, want as ‘n mens nie baie goed oplet nie, sal jy die vlekke nie opmerk nie.
Sias gaan nou vir Mias soek.
Mias is op die oomblik in die pakkamer besig met sy eie sake. Hierdie sake is ‘n motor wat hy van baaldraad bou. Noudat die twee mannetjies bymekaar is en so ‘n bietjie rondgedraai het, sal ons wat saam met Sias pakkamer toe gegaan het, nie meer kan sê wie is wie nie.
“Ek het ‘n vooras nodig,” sê Mias.
“Koos,” sê Sias.
Koos Geyer is die kleinseun van ou Tante Sabien en hy is baie lui. Koos is darem Sias en Mias se held want hy kan dinge met sy hande maak wat geen mens op aarde kan maak nie. Daarby kan hy stories vertel wat jou ond laat oophang. Dis van wolf en jakkals en Gatiepie. Gatiepie is ‘n Maleier wat glo kan toor en iemand wat net in Koos se verbeelding leef. Maar Gatiepie, alhoewel baie lui, kan allerhande dinge doen. Dis geen wonder dat die kinders dink Koos is soos Gatiepie nie.
Koos Geyer werk selde en is die kruis van Tante Sabien en almal op Bitterwater. Dominee Viljoen het al sy invloed gebruik en die polisie het hom al opgesluit, maar Koos Geyer verader nie sy hart nie. Hy het ‘n avontuurlike gees en sal dit vir altyd hê. En dan is hy, soos ons gesê het, te lui om te werk.
Op straat groet die tweeling die mense almal soos hulle pa hulle geleer het. Menigeen onderdruk ‘n glimlag as die twee verby stap. Wie ken dan nie Sias en Mias se streke nie? Almal het ‘n liefde vir die twee woelwaters.
Op pad na Tante Sabien se huis loop hulle Krisjan Jantjies raak wat gestuur is om ‘n boodskap te gee. Krisjan is ‘n jaar ouer as die twee en hul beste maat. Omdat Krisjan Jantjies een van die hooffigure in die verhaal is, moet ons eers kennis maak. Krisjan is ‘n lang skraal kind met donker oë. Die voete is groot en die groottone lê weg en die knieë is so knopperig soos ‘n volstruis s’n. Hy het net een arm. Hy was maar ‘n buksie van drie jaar oud toe die arm eendag deur ‘n verbygaande vragmotor afgeruk is. Krisjan het mos die manier gehad om die arm by die motorvenster uit te hou. Sias en Mias het baie dae gewonder of it baie seer is, want as dit nie is nie, sal dit tog te wonderlik wees om ook ‘n arm te laat afruk.
“Waar gaan jy, Krisjan?” vra een van hulle.
“Na ou Wolheim, Sias,” sê hy, “Ma het my gestuur.”
Pan Wolheim is een van die handelaars op Bitterwater en ons sal nog met hom kennis maak. Sy voorletters is P.A.N., nou noem die mense hom Pan.
“Waar gaan júlle na toe?” vra Krisjan.
“Tante Sabien. Ons gaan Koos soek,” antwoord Mias.
“Stap maar eers saam met my en dan stap ek weer saam met julle,” gee Krisjan aan die hand.
Almal dink dis ‘n baie goeie plan.
Pan Wolheim is ‘n immigrant, rooi in die gesig, groot van lyf, yl hare, wat amper rooi is, en het ‘n haastige humeur. Hy het nie ‘n vrou of kinders nie, dus voer hy maar ‘n eensame lewe. Die kinders van Bitterwater sweer hy kan toor, en Koos Geyer sterk hulle hierin.
“Ja, wat is dit?” vra Wolheim kortaf.
Hy kan hierdie drie mannetjies nie onder sy oë verdra nie. Daarby ken hy die tweeling nie uitmekaar nie en dit maak hom nog kriewelriger.
Sias, Mias en Krisjan se oë rek en hulle wonder of hy hulle nie gaan toor nie. Krisjan sluk en sy gorrel voel so droog. Ou Wolheim is vandag baie kortaf en dan is alles nie pluis nie, sê Koos altyd.
“Ma wil ‘n pak koffie en ‘n steen seep hê,” sê Krisjan benoud.
“Gee daardie boekie!” sê ou Wolheim en hou sy hand uit.
Mias stamp aan Sias en beduie met sy kop na die plek waar die groot wit Siamese kat op die toonbank sit en slaap. Dis ‘n gedierte so groot, so groot soos ‘n konyn – of amper so groot. Koos Geyer sê as ou Wolheim toor, dan sit die kat op sy skoot. Dit is waarom die kinders so ‘n heilige ontsag vir die kat het.
Sias vat Mias se hand. Toe gaan daar koue rillings langs sy rug af. Die kat het mos nou net sy oë oopgemaak, net op skrefies, en na die twee gekyk. Toe gaan lê die groot kat op sy sy en begin sy voorpoot te lek. Dit sê, Koos, doen hy altyd voor hy in ‘n aap verander.
Sias en Mias stap uit die winkel waar die geur van uie met die geur van tabak en soutsnoek meng en gaan op die stoep staan. Hulle kan darem nie hul oë van die kat afhou nie. Wollie, want dit is die kat se naam, stap nou al op die toonbank langs en reguit na Krisjan.
In ‘n japtrap is Krisjan by sy twee maats en dit lyk of sy oë uit hul kaste wil spring.
“Kom vat die seep en die koffie! Die kat sal julle niks maak nie,” sê ou Wolheim en vat Wollie onder sy arm.
Krisjan kom soos ‘n krap nader en gryp die pakkie by Meneer Wolheim.
Pan Wolheim maak ‘n onaardse geluid met sy keel, net om hulle te laat skrik. Toe hardloop die drie dat die voete so klap.
Nadat hulle die pakkie afgegee het, stap die drie saam na Tante Sabien se huis hoog teen die hang van die berg. Hulle vertel aan mekaar die vreeslikste verhale oor hierdie kat van ou Wolheim. Koos Geyer weet, en Koos het hulle mos vertel.
Tante Sabien is ‘n groot vrou. As ons dit sê, bedoel ons sy is baie groot; groot van voor en groot van agter; maar sy het seker net so ‘n groot hart. In daardie hart het sy baie liefde vir kinders. Die dorp se kinders noem haar almal Tante. Haar kleinkinders noem haar so en toe het almal agter hulle aangesê.
Tante Sabien het ‘n groot gesig en dié lag vriendelik toe sy die drie sien. Maar sy het eers geweet wie dit is toe hulle voor haar staan, want Tante Sabien is baie oud en bysiende. Sy het lang hare en dié is spierwit. Soos altyd het sy ‘n geblomde rok aan. Sy groet hulle vriendelik.
“Nou wie is Sias en wie is Mias?” vra sy en buk om in die gesiggies te kyk.
“Ek is Mias,” antwoord een.
Sy trek hom nader en kyk in die gesig asof sy nou wil onthou hoe Mias lyk. Dan trek sy Sias nader, maar hy lyk vir haar net soos die ander een,
Die kinders se oë is groot want hulle dink Tante is die oudste mens op aarde.
“Toe ek julle nog gebad het, het ek geweet wie Sias en wie Mias is. Het jy nog die vlek op jou magie, Mias?” vra sy.
“Ja, Tante Sabien,” antwoord een.
“Krisjan haal vir Tante die konfytfles uit die muurkassie, dan gee ek vir julle teesuiker,” sê sy.
Daar is die muurkassie met sy stukkende ruit. Tante Sabien het geblomde papier oor die stukkende ruit geplak, geblomde papier waarop meisies in hoepelrokke afgebeeld is.
Elkeen kry sy teesuiker, maar as jy oplet, sal jy sien Sias en Mias s’n is groter as dié van Krisjan. Krisjan gee darem nie om nie. Hy is mos altyd by Tante Sabien en kry dikwels sy klontjie teesuiker.

“Tante, ons soek na Koos,” sê Sias.
“Koos,” sê sy en raak toe ingedagte.
Tante wieg haar lyf stadig heen en weer. Die drie kyk na haar, elkeen met die klontjie teesuiker in die kies. Vir hulle is Tante Sabien mos vreeslik oud, miskien honderd jaar, miskien honderd-en-twintig.
“Koos is nie ‘n goeie man nie. Julle kinders moenie na sy stories luister nie. Koos is lui en sleg,” sê sy.
Ou Tante Sabien vat die groot swart doek wat op haar skoot lê en vee die trane uit haar oë. Die kinders staan verwonderd. Hoe ‘n mens oor Koos kan huil, kan hulle nie verstaan nie.
“Sias en Mias, julle het ‘n goeie pa. Luister na hom. Hy het die mense van sy gemeente lief, maar Koos! Koos is sommer ‘n rondloper en Tante Sabien wil nie hê julle moet na Koos luister nie. Koos is ‘n baie slegte mens.”
Dit kan hulle nie verstaan nie. In hul oë is Koos dan die wonderlikste mens op aarde.
“Maar waar is Koos?” vra Sias.
“Hier is Koos,” sê ‘n bekende stem agter hulle.
Sias hardloop na hom toe en Koos Geyer tel hom in sy arms op en hou hom hoog bokant sy kop. Toe kom Mias nader en Sias word neergesit en Mias word opgetel.
“Ek dag jy werk vandag by Wolheim,” sê Tante.
“Wolheim is ‘n toordenaar,” sê Koos.
“Moet tog nie sulke stories vir die kinders vertel nie, Koos,” waarsku Tante hom.
“Sy kat is van die duiwel besete en het vanoggend soos ‘n mens gepraat,” sê Koos.
“Wat het hy gesê?” vra Mias en Sias, en hulle oë rek.
“Moet tog nie na hom luister nie,” waarsku Tante weer.
“Dis booshede wat Koos julle vertel, my kinders, en hy sal eendag swaar gestraf word. Wolheim se kat kan nie praat nie en is nie van die duiwel besete nie, maar Koos is, daarom moet julle nie na hom luister nie.”
Tante Sabien hou op met praat, want wat sal dit haar ook help! Koos en die kinders is al by die deur uit. Tante Sabien sluit haar oë en die ou liggaam wieg weer stadig heen en weer. Die lig deur die venster val op die wit hare, op die goedige gesig wat so blink. Dan glimlag sy net asof sy nou aan haar kinderjare dink.
Sy is lief vir die dominee en sy vrou, maar nog baie liewer vir klein Anna, Sias en Mias en Kleinjan. In haar goeie hart glo sy dat die sendeling en sy huisgesin nooit ‘n verkeerde ding sal doen nie. Sy is al oud en baie na aan die hemel, al is sy nog nie 120 soos Sias en Mias dink nie.
Nou slaap sy in haar stoel, die Tante Sabien en droom Sias en Mias is by haar en sy bad hulle weer soos sy vroeër gedoen het. Toe glimlag Tante Sabien in haar slaap.
Uitgawe 3 – Maart 2026
Hoofstuk 3: Ou Wolheim se kat
Sias en Mias en Krisjan het baie van Koos Geyer gehou. Dit het Jan en Lenie onrustig gemaak. Hulle het gedink Koos is nie goeie geselskap vir ‘n seun nie want hy wil nie werk nie en is kort-kort in onguns op Bitterwater. Koos is nie so sleg nie, maar omdat hy al berug was, het baie nie van hom gehou nie. Koos het ook nie ‘n flenter omgegee wat mense van hom sê of dink nie. Hy hou van kinders en vertel graag stories.
Nou stap die vier na die heuningkrans bo die dorpie. Die bosse en struike en bome is daar dig en die water raas oor die klippe. Koos vind dit makliker om hier die verhale te vertel wat hy dedurig vir die drie moet vertel.
Koos is ‘n lang man met lang hare. Sias sit nou bo-op sy skouers. Van hierdie troon af gesels hy met Koos.
“Koos vertel vir ons, kan ou Wolheim se kat regtig praat?” vra Sias.
“Hy kan,” bevestig Koos.
“Wat sê hy?” vra Mias.
Hulle gaan nou hoër teen Boesmansberg op en tussen die dennebome deur. Koos gaan staan toe hulle ‘n eekhoring gewaar. Dié het ‘n dennebol gegryp en nou tot hoog tussen die takke gehardloop. Sias en Mias roep na hom. Die eekhoring kyk net ‘n slag en hardloop toe nog hoër teen die boom op.
Koos lag.
“Hy sal nie kom nie, want julle kan nie sy taal praat nie,” sê hy.
“Kan jy, Koos?” wil Mias weet.
“Ek kan. Ek ken die taal van al die diere,” vertel hy.
“Praat vir ons soos die eekhorinkies,” versoek Sias hier van sy skouers af. Koos maak sommer sulke klik- en klakgeluide sommer vir kamtig.
“Wat het jy gesê?” vra Mias en draf om langs Koos te kom.
“’Wat is jou vrou se naam?’ het ek gesê.”
Sias en Mias probeer dit ook sê en Koos help hulle reg. Dit moet só wees.
“En praat hulle ook terug?” vra Sias.
“Ja, maar ‘n mens moet fyn luister anders hoor jy dit nie. Hulle praat ook nie met al die mense nie,” vertel Koos.
Sias word neergesit. Nou kry Mias ‘n kans om op die skouers van die groot Koos te ry. Krisjan se oë rek maar net as Koos van hierdie dinge gesels. Hyself gesels nie juis nie.
Na ‘n halfuur is hulle by die heuningkrans. Hier het Sias en Mias en Krisjan lank gelede vir hulle ‘n skerm gebou. Bokant hulle koppe is die groen lower en voëls. ‘n Entjie van hulle af raas die stroom.
Koos Geyer sit langbeen in die takskerm en die ander hurk om hom neer.
“Vertel ons nou van Wolheim se kat en wat hy vandag gesê het,” versoek hulle.
“Julle sal bang word,” waarsku Koos.
“Nie ek nie,” sê Sias.
“Nie ek nie,” bevestig Mias ook.
Dis nou die verhaal wat Koos hulle vertel. Onder die vertelling het die drie al nader en nader aan Koos gekruip en die oë het al hoe groter en groter gerek. Die voëltjies het bo hulle tekere gegaan en dit is of die stroom se stem al dikker en dikker geword het. Dit is darem net in hul verbeelding.
Jare, jare gelede het Wolheim en sy vrou, ja, hy was getroud, op Wellington gewoon. Hulle was arm en hulle het amper nie kos gehad om te eet nie. Wolheim se vrou was ‘n goeie mens en het baie hard gewerk, maar Wolheim wou nooit werk nie. Daar in die skoorsteen van hul huisie het Wolheim se vrou ‘n bakpoeierblikkie gehou en elke rand het daarin gegaan. Later was daar baie rande en later note.
Wat sy nie geweet het nie, is dat Wolheim van die blikkie bewus was.
“Nee!” sê Sias.
“Die sleg!” sê Mias.
Later het sy, toe die geld baie geword het, dit in ‘n slopie gesteek en dan in die skoorsteen gehou. Wolheim is ‘n slegte man en hy het snags wakker gelê en gewonder hoe hy haar kan vermoor om die geld in die hande te kry.
Die drie versit weer nader aan Koos. Mias kyk agter hom of hy nie iets gewaar nie. Maar daar is niks nie, want dit is net die voëls en die stroom wat hulle kan hoor.
Wolheim se vrou, gaan Koos voort, was baie lief vir haar kat.
“Dieselfde kat?” vra Sias met groot oë.
“Die symde kat, Sias” bevestig Koos.
“Ooo…oo!” sug Mias.
Sy kon die taal van die katte praat en sy kon hom verstaan. Toe Wolheim daar in Wellington vir hom ‘n byl gaan koop, kom die kat na haar.
“Ounooi, Wolheim het ‘n byl gaan koop om jou te vermoor.”
Dis nou die kat wat gepraat het, vertel Koos. “Wat moet ek maak?” vra Wolheim se vrou.
“Ounooi, daar is net een raad. Jy moet verdwyn,” sê die kat in sy kattetaal.
“Maar hoe kan ek dit doen? Hy sal my soek en my kry en dan maak hy my dood.”
“Ounooi, daar is net een manier,” sê die kat, wat baie slim is. “Jy moet ook ‘n kat word nes ekke.”
Sias sug verlig.
“En toe?” vra hy.

Die ounooi is nog nie tevrede nie. As jy in ‘n kat verander, is daar mos twee katte en ou Wolheim het net een. Maar kat se kind is baie slim. As die ounooi eers ‘n kat is, sal hy, wat kat is, verdwyn en dan is daar mos net een kat in die huis en dit is Wolheim se vrou. Ou Wolheim sal nie weet daar is twee van hulle nie.
Toe treur die vrou baie, want sy was baie lief vir daardie einste kat. Weer het kat se kind ‘n plan. Hy sal party nagte vir sy ounooi kom kuier, altyd as die maan snags helder skyn. Toe het Wolheim se vrou in ‘n kat verander en as julle snags mooi luister, sal julle hoor as die ander een kom kuiers, sluit Koos af.
“En die geld?” wil Sias weet.
“Dié het Wolheim vir hom gevat en toe na Bitterwater gekom. Dis wat die kat my self vertel het. Daarom wil ek nie by Wolheim werk nie.”
“Jy moet na die polisie gaan,” sê Mias.
“Hulle sal my nie glo nie. Sê vir jou pappa ‘n kat kan praat en kyk of hy jou sal glo,” sê Koos.
“Is dit swaar om hulle taal te leer?” vra Sias wat só graag kattetaal wil verstaan.
“Dis nie swaar nie, maar ‘n mens kan dit nie verstaan voor jy nie een hele nag alleen in die veld gebly het nie,” vertel Koos wat glad nie dink aan wat hy sê nie.
Hulle glo Koos. Koos kan sulke wonderlike stories vertel. Hy is die enigste man wat ‘n kind ook verstaan en sommer weet hoe hulle voel. Die storie van Wolheim se kat is waar, want hulle was altyd aardig as hulle die kat gesien het. So, die storie moet waar wees. Enige mens kan sien Wolheim se kat was eers ‘n vrou. Maar nou sal hulle bang wees om weer na Wolheim se winkel toe te gaan.
“En toe wou jy nie langer werk nie?” vra Mias, en sit sy twee hande onder sy ken.
“Sou julle langer daar gewerk het?” vra hy net.
Die drie skud hul koppe. Nee, by Wolheim sal ‘n man nie wil werk nie. Hulle het altyd geweet daar is iets verkeerd met die man. Toe rek Sias se oë ineens want hy het nou aan iets anders gedink.
“Sê nou Wolheim kom agter sy is sy vrou en nie sy kat nie!” sê hy saggies en kyk agter hom.
“Wolheim het nog daardie byl,” antwoord Koos.
“Hy sal haar dan vermoor,” sug Mias.
“En as hy dink ons weet, sal hy ons ook vermoor,” sê Sias.
“Daarom moet julle vir niemand sê nie,” waarsku Koos. Hy is bly oor hul vrees want hy vertel hierdie dinge net omdat die drie so graag na sy stories luister. By die huis is daar al weer groot moeilikheid. Sias en Mias het hul tyd met Koos in die berg verspeel en kom eers twee-uur by die huis aan.
“Die kinders is baie ongehoorsaam,” sê Lenie in die slaapkamer aan haar man.
“’n Mens kan nie altyd slaan nie. Sias het vanoggend al drie houe gehad. Dink aan hulle soos aan jong hondjies. ‘n Jong hond speel gedurig, sleep goed rond, begrawe sokkies en hou nooit op met kwaad doen nie,” sê Jan.
“Gaan jy altyd hier op Bitterwater bly, Jan?” vra sy, want sy wil ook so graag beter geleenthede vir haar kinders hê. Hier is hulle afgesonder en het nie die voorregte wat ander kinders het nie.
“Ek is lief vir my gemeente en die werk hier,” antwoord hy.
“En nou wat nou van hul ongehoorsaamheid, Jan?”
“Ek kan hulle nie weer slaan nie. Een keer op ‘n dag is darem genoeg,” antwoord hy.
“As dit net Mias was, sou jy nie so geredeneer het nie. Trek jy Sias nie voor nie, ou man?” vra Lenie.
“Miskien. Ek weet nie. Ek was nes Sias en daarom is ek miskien geduldiger met hom. Daar is nie kwaad in die kinders nie. En onthou vanoggend het ek Sias geslaan en nie vir Mias nie. Ek probeer regverdig wees,” meen Jan.
Toe bly Lenie liewers stil, want sy onthou nou die inkkol op die badkamervloer. Sy glo nog dis Mias wat die ink daar gemors het. Sy moes liewer vir Anna gevra het. Anna weet wie die ink gemors het, maar nes haar pa, het sy ook ‘n teer plekkie vir Sias en sou seker nie gesê het nie. Ons weet nie, en haar ma het haar ook nie gevra nie.
Daar sit die twee nou aan tafel en eet die koue kos. Anna sit naby hulle en vrees hule gaan weer pak kry net so gou hulle van die tafel opstaan. Sias en Mias verwag dit ook, dus eet hulle so stadig as hulle maar kan.
Die huishorlosie speel die koekoekdeuntjie en slaan drie slae.
Anna fluister: “Trek nog ‘n broek bo-oor aan.”
Die twee lyk so eenders vandag dat niemand hulle sou uitken nie. Hulle lyk na mekaar. Wat die een sien, sien die ander een ook. Dis ‘n kroon reg voor die kop, kort, ligte hare, koeëlronde gesiggies met groot blou oë en rooi wange.
“Pa sal weet,” sê Mias.
“Pa weet alles,” sê Sias.
Hul pa kom binne en kyk die twee streng aan. Toe sak hulle moed sommer in die bruin vertrapte skoene.
“Wanneer sal julle klaar geëet wees?” vra hy.
“Nou-nou, Pa,” antwoord hulle.
“Julle gaan self die borde was en dan gaan julle vir jul straf doodstil in die kamer lê,” sê hul pa.
“Ja, Pa, ons sal, Pa,” antwoord hulle soos uit een mond.
Jan het lus om te glimlag, maar hy doen dit darem nie.
“Wie is Sias?” vra hy.
“Ek, Pa,” sê een.
“Nou, Mias, kom jy dan hier na my toe!” gebied hy.
Die stoel skuif agtertoe en ‘n seun kom nader. Met groot vrees bly die ander een op die stoel sit. Hy weet wat sy pa nou gaan doen. Anna sit inmekaar en wonder wat nou gaan gebeur want die een wat nadergaan is mos Sias en nie Mias nie. Sy pa gaan hom vandag betrap.
“Wys jou geboortemerk,” sê Jan.
“Ja, Pa,” sê Sias grootman.
Anna sit haar hand voor haar mond om die vrees te verberg. Die twee klein duiweltjies het mos die gewoonte om name net vir die aardigheid om te ruil. Wat sy nie kan verstaan nie, is waarom Sias so plesierig is. Mias kan dit ook nie begryp nie.
Die klein asjas staan ewe kontant voor sy pa. Hy trek sy hemp so effens op en wys die vlekkie op die maag. Hy het mos vanoggend die peer self geverf.
Jan Viljoen kyk na die geboortevlek soos hy dink.
“Nou ja, gaan sit en eet jou kos, Mias,” sê hy.
Daar om groot verbasing op die ander een se gesig. Hy kan sy oë nie glo nie, maar hy het dit tog self gesien. Sy tweelingbroertjie maak die oog verste van sy pa styf toe terwyl hy die hemp insteek. Toe raai Mias ook. Verlig eet hy verder aan sy kos.
Vir die tweede keer vandag wou hul pa hulle betrap en kon dit nie regkry nie. Dis twee seuntjies met skynheilige gesigte wat nou daar sit en eet. Hulle is tog so bly dat hulle nie weer in die moeilikheid is nie. Die koue kos smaak skielik baie lekker.
Anna glimlag soos watter moeder wat alles verstaan. Die tweeling is so onbruikbaar en tog steek daar nie kwaad in hulle nie, dink Anna. As sy eendag getroud is, sal sy ook graag ‘n tweeling wil hê en dit moet seuntjies wees soos Sias en Mias. Daar huil Kleinjan nou. Anna staan haasig op om met hom te gaan speel.
Die woord pap in gesegdes:
Die pap te dik aanmaak verwys na iemand wat oordryf of grootpraterig is.
Tussen die hand en die mond val die pap op die grond bedoel om ‘n geleentheid te mis, of om iets te verbrou.
Pap en pampoen verwys na iets eenvoudig, oppervlakking, armoedig of nederig. Soos: “Om pap en pampoen” te gesels, wanneer mens rondsit en oor nonsens praat, of: “Pap en pampoen politiek” wanneer daar oor onbenullige, oppervlakkige goed geredekawel word.
Die pap is aan die kook verwys na ’n saak of probleem wat ernstig begin word en spanning is aan die opbou.
Die pap eet is nie so warm soos toe dit opgedis is nie bedoel dat ’n probleem aanvanklik erger lyk as wat dit uiteindelik is.
Papbroek verwys na iemand wat bang, lafhartig of oorversigtig is.
Uitgawe 4 – April 2026
Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS
deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)
Hoofstuk 4: Sias kry ‘n maatjie
Dis Saterdagaand op Bitterwater. Daar is een reël in die Viljoens se huis wat nooit verbreek mag word nie. Dit is dat die kinders dan nie hulle voet uit die huis mag sit nie. Saterdagaande het hul pa ‘n diens in die kerk net om sy lidmate van die straat te hou. Die kinders hoef darem nie te gaan nie.
Saterdagaande is daar ‘n hele lewe op Bitterwater. Ou Wolheim se winkel is tot nege-uur oop, soms tot selfs later. Jongmense, wat gedurende die week elders werk, is dan tuis en daar is lewe… tot Jan Viljoen se verdriet. Hy wil vir gesonde vermaak sorg, maar die jeug het daarvoor geen trek nie.
Na die diens gaan hy en sy vrou na die kerksaal om speletjies daar te lei. Dis net ‘n paar jongmense wat kom. Die ander is in huise rond waar hulle diskodans en ruk-en-rol.
Anna sit vanaand by die eettafel met die Kinderbybel voor haar oop. Sy het die een verhaal na die ander gelees. Sy doen dit soos ‘n moeder.
Sias en Mias het aandagtig geluister.
Sy kyk op. Ja, sy het reg gehoor. Daar is trane in Sias se oë.
Anna verstaan die twee baie goed. Mias is gewoonlik die een wat maklik huil, maar sy weet darem ook van Sias se teer hart wat hy probeer verberg. Waarom die trane in Sias se oë is, weet sy ook. Napoleon, die steekbaard, het gister hondesiekte gekry; hy is toe ingespuit, maar Napoleon is nog siek. Sias is baie, baie lief vir diere, weet Anna.
“Hy sal gesond word, Sias,” sê sy.
Mias kyk vol meegevoel na sy broertjie en die trane kom sommer ook. Dis nie oor Napoleon nie, maar omdat Sias hartseer is. As een huil, huil die ander een gewoonlik saam met hom.
Sias snik. Anna staan op en gaan ‘n groot sakdoek haal.
Buite lawaai die jong mense in die strate, al reën dit ook saggies vanaand. Die reën sal hulle nie demp nie.
Anna druk nou die sakdoek op sy skoot en gaan sit om weer te lees. Sias snuit en snuit en snuit.
Later is hulle in hul kamers. Toe die pastorie donker en stil is, voel Anna iemand op haar bed. Dis Sias weet sy. Sy gooi die komberse oor hom en sit haar arms om sy lyf.
“Sal die Here nie vir my straf om ek so baie stout is nie, Anna?” vra hy.
Dis ‘n moeilike vraag vir Anna, maar Anna is gewoond om uit moeilike vrae te kom. Haar oë is nie te goed nie, maar Anna het ‘n goeie verstand.
“Wie is nie stout nie, Sias?” vra sy.
Dit troos hom nie, want hy weet hy is seker stouter as ander kinders.
“Anna, maar ek wil nie stout wees nie. Dis sommer of iemand vir my së: Klim die boom of steel die koekies of sê jy is Mias,” vertel hy so saggies dat Anna dit amper nie kan hoor nie.
“Liewe Jesus weet dit ook,” sê Anna. “Hy verstaan ‘n mens en Hy weet jy wil nie sleg wees nie.”
Sias lê ‘n rukkies stil. Hieraan het hy nog nie gedink nie. Dis ‘n ele troos as Liewe Jesus dit moet weet, want kyk! Dan is ‘n man darem nie so skuldig nie.
“Ek het vandag na Tante Sabien gestap, Anna, om…om van haar teesuiker te steel, Anna. Dit is wat ek wou doen. Maar ek het nie, Anna. Ek het haar toe gehelp om die stoof skoon te maak,” vertel hy.
“Dit weet Liewe Jesus ook,” sê Anna.
Sias spring amper regop op die bed.
“As Hy dit weet, sal Hy Napoleon seker nie vat nie, nê Anna?” vra Sias.
“Nee, Hy sal Napoleon nie vat nie,” verseker sy hom.
Sias staan op sy knieë in die bed. Vir Anna kan ‘n mens enige ding vertel. Anna is baie, baie slim, reken hy.
“Ek gaan baie goed wees, Anna, en soos Josef my hart aan die Here gee, of soos Samuel. Sal ‘n mens weet as Hy roep?” wil hy weet.
“O, ja,” antwoord Anna, “jy sal dit hier weet,” en sy druk op sy hart.
“Ek gaan probeer om goed te wees en nooit weer stout te wees nie. Ek gaan net so goed soos Mias wees. As ek nie by is nie, sal Mias seker nooit stout wees nie. Maar sê nou ek kry sommer skielik weer lus om kwaad te doen,” vra hy want dit is ‘n lastige sakie.
“Dan sê jy net: Ek is goed, ek is goed,” antwoord sy.
Sias staan nou op sy knieë en oordink die saak.
‘Dink jy dit sal help, Anna?”
“Kom ons probeer dit. Jy sê net kort-kort: ‘Ek gaan nie weer kwaad doen nie.’”
“Ek gaan nie weer kwaad doen nie, ek gaan die weer kwaad doen nie,” sê hy ‘n paar keer, net om te proe hoe dit is.
“Ek dink dit sal help as ek dit vir Liewe Jesus sê. Miskien dink Hy ek wil more weer kwaad doen. En Napoleon sal nie nou doodgaan nie?” vra hy eers weer ‘n slag.
Tevrede met al die antwoorde hardloop hy nou op sy kaal voete na sy kamer en spring in die bed. ‘n Rukkie later is hy vas aan die slaap. Hy het nie in sy bed gaan lê nie. Sy arm is styf om Mias se lyf en altwee lê met die bolywe oop. Die asemhaling is diep en rustig en die slaap goed, want die twee aspatatte was baie besig vandag.
Daar in ‘n hoek van die kamer, en langs die klein boekrakkie, lê Napoleon styf gewikkel in ‘n babakombers. Wat Ma sal sê as sy huis toe kom, weet ons nie, want Sias en Mias het een van Kleinjan se kombersies vasgelê.
Alles sal seker nou rustiger by die pastorie gaan, want kyk hoe onskuldig lyk hulle in die bedjie. Sias het hom mos voorgeneem om nie weer kwaad te doen nie.
Die volgende oggend staan hy op, was hom en trek sy kisklere aan. Hy en Mias maak hulle koppe sopnat want hulle kort penne wil nie lê nie. Soos twee nat hoenders kom hulle nou uit die badkamer.
Dis Sondag op Bitterwater.
“Julle twee moet vanoggend na Kleinjan kyk want Katryn kom eers later,” sê Ma.
“Ja, Ma,” sê Sias, gedagtig aan sy besluit.
‘n Kombersie word op die grond in die koelte van die huis gegooi, en Kleinjan word sit gemaak. Tolletjies en blikkies en klippies word voor hom neergegooi om mee te speel.
Toe ontdek Ma eers dat Napoleon verlede nag in een van Kleinjan se beste komberse geslaap het. Daar is weer onvrede.

Maar Napoleon is darem beter en Sias het hom styf om sy nek gevat en gedruk. Sias het selfs gesê hoe spyt hy oor die kombersie is en dat hy dit nooit weer sal doen nie.
Sondae is besonderse dae op Bitterwater. Almal is oënskynlik uitgejol en daar is vrede op straat en vrede in die huise. Dis al amper nege-uur en daar is nie juis mense op straat nie. Jan Viljoen is in die studeerkamer en Lenie en Anna is besig om die huis aan die kant te maak. ‘n Mens sal sê daar rus ‘n Sabbatsvrede or Bitterwater, en ‘n mens is reg.
Dis Sondag en Dominee Viljoen laat nie toe dat een van sy gemeentelede dan werk nie. Bokant elke huis draai ‘n rokie boontoe.
Krisjan Jantjies, met sy een arm, kom sit hier by Sias en Mias.
“Wat het jy daar?” vra Sias.
Sias, as ons jou raad skuldig is, sal ons sê jy moet nou die raad probeer wat jy gisteraand van Anna gekry het. Krisjan het naamlik ‘n dikdei* in sy sak.
n Dikdei is ‘n groot soort akkedis, glad en blink en vet. Dis ‘n mooi diertjie en geel soos goud. Sias en Mias, wat baie lief vir diertjies is, soek dikdeie al die laaste maand want dit word weer tyd vir die goed om rond te loop. Waarom Krisjan so gelukkig is, weet hulle nie, maar hy loop altyd die mooiste diertjies op die lyf. Soek hulle spinnekoppe sal hy die grootste ene kry, jag hulle skerpioene, is dit Krisjan wat die bul-ene raakloop.
“Waar kry jy hom?” vra Sias na Krisjan sy vonds gewys het.
“Net hier onderkant vas teen die rivier,” vertel Krisjan.
“Ek gee jou ‘n ghoen en vyf ellies** vir hom,” sê Sias en sy mond water amper.
Die woord dikdei is van die Nama woord dghikghei afgelei. Die gh lettergroep verteenwoordig ‘n klikklank. Die dikdei verwys na ’n vet, geelbruin akkedis – waarskynlik die Kaapse skink Trachylepis capensis.
** Ellie is ’n albaster. Ander meer bekende sinonieme is alie en malie (sien die artikel oor albasters in Beiteltjie van Januarie 2026).
‘n Ghoen en vyf ellies is sommer baie geld. Sias kry sy dikdei en Krisjan sy albasters. Sias hou die dikdei tussen sy vingers, maar so dat die diertjie nie seerkry nie. Met sy wysvingers streel hy saggies oor die kop en snoet van die diertjie.
“Boesman,” sê hy. Dit moet sy naam wees.
Die ogies blink soos twee kraletjies en die vel is so skoon en geel soos ‘n nuwe goue muntstuk. Nou bring hy Boesman na sy gesig en soen sommer die skoon keelvel.
‘n Dikdei vestaan vertroeteling. Dis nie ‘n uur later nie of die diertjie stap selfs oor Sias se lyf. Gooi hy hom by sy nek in verdwyn hy haastig onder die hemp en sal daar op ‘n warm plekkie sit tot Sias hom uithaal.
Intussen het Kleinjan tot op die rand van die kombers gevorder en eet nou heerlik sand. Sias, Mias en Krisjan speel so lekker dat hulle dit nie gewaar nie. Boesman is sommer ‘n baie groot aardigheid.
Die eerste gelui lui en kort daarna kruie die eerste mense aan na die kerk. Daar by die ringmuur om die kerk vergader hulle en gesels of hulle mekaar nooit die afgelope week gesien het nie. Hulle praat nie hard nie want Dominee hou nie daarvan nie. Sondae is almal op Bitterwater beter mense as op ander dae.
Hier kom die mense van die pastorie nou. Dominee loop altyd ‘n bietjie later, maar Mevrou Viljoen het Anna en Sias en Mias by haar. Elkeen het ‘n Bybel en gesangboek by hom.
Ou Koos Meintjies haal sy hoed af. Die ander gemeentelede volg sy voorbeeld. Elkeen wil more sê.
Sias en Mias moet voor loop, dan volg Anna en Mevrou Viljoen. Hulle stap tot by die derde bank van voor. Daar skuif Sias eerste in.
Sias onthou om sy oë te sluit wanneer hulle bid, want hy het skielik gisteraand onthou. Daar is nog die vaste voornemens by hom on nie weer kwaad te doen nie. As jy na hom kyk, sal jy ook nie vandag stoutigheid verwag nie. Die gesig is so skoon, die hare so netjies gekam en as die das ‘n bietjie windskeef staan, moet ‘n mens onthou die dikdei moet daar by die hemp in en uit gaan.
Sias en Mias het nog nooit gewoond geraak aan Bitterwater se kerk nie. Dis nog altyd vir hulle interesant om na die balke te kyk waar die baie swaelneste is, en na die blou en oranje ruite van die vensters.
Die kerkie is lank gelede gebou. Daar is nie ‘n toring nie. Die kerk is in die vorm van ‘n kruis en het ‘n hoë preekstoel. Sias dink altyd dis van so ‘n plek waar Eli afgeval het toe hy sy nek gebreek het. Onder die Bybel op die kansel is ‘n purperkleed en daarop is die woorde: God is liefde.
Die derde gelui lui en Dominee Jan Viljoen en sy kerkraad kom binne. Sias en Mias se ogies blink eintlik. Dis tog te mooi om die ou bekendes in hul kerkgewaad te sien. Gedurende die week het hulle werksklere of verslete klere aan, maar nou pakke. Party se pakke is al groen van die ouderdom, of ‘n bietjie kort, en ander s’n is weer gans te groot.
Baie waardig kom die kerkraad binne: Koos Meintjies met sy pankop, Manel Geyer, Stoffel Boos, Abraham Naal, almal. Daar is hulle, die mense wat Sias en Mias ken en liefhet.
Ou Pan Wolheim wikkel en wieg voor die orrel met die geel pype soos hy op die orrel speel. Sias en Mias se oë is groot want hulle onthou mos nou hoe ou Wolheim sy vrou wou vermoor en hoe sy nou snags wag vir ou Wolheim se ander kat om te kom kuier. Hulle sal maar altyd ‘n groot vrees vir ou Wolheim en sy groot kat hê. Gelukkig is ou Wolheim nou ver van hulle daar doer op die orrelgalery. Nietemin kry die twee so ‘n aardige gevoel as hulle na hom kyk.
Uitgawe 5 – Mei 2026
Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS
deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)
Hoofstuk 5: Moleste met die ouderling
Dominee Viljoen se gesin sit reg agter die ouderlinge. Dit is elke Sondag so, maar vandag moet Sias nou skielik die blink kop van Oom Koos Meintjies hier voor hom oplet. Sias het ‘n slag goed gekyk en toe gewonder of hy ook sulke nate in sy kop het. Hier loop een reg oor Oom Koos se kop en twee dwars van die ore na die naat daar bo.
Sias vat sy kop in sy hande en voel onder die hare. Dan kyk hy na Mias se kop en steek sy hand uit. Mevrou Viljoen steek haar hand uit en beduie vir hom om stil te sit.

Sias sug. Dis so vervelig om te wag tot die kollekte verby is, die doop, die gebed en dan die preek. Sy oë volg die swaeltjie wat om en om vlieg en hy wonder wanneer die voëltjie moeg gaan wees en op een van hul koppe sal val.
Alles sou daardie dag goed verloop het as dit nie was vir Koos Meintjies nie. Koos het die manier om sodra die diens begin, heerlik aan die slaap te raak. Die arms word gevou, die kop vooroor knik en dan slaap hy die slaap van die regverdige.
Sias het na sy pa geluister, Sias het ou Wolheim dopgehou, Sias het na Krisjan Jantjies gekyk – en sy pa preek nog. Hy en Mias het toe hulle bene geswaai en gekyk of hulle Ouderling Stoffel Boos teen die kuit kan skop. Ouderling Boos trek net sy bene weg.
Mevrou Viljoen het Mias, wat naaste aan haar sit, ‘n slag geknyp. Toe het dit vir vyf minute goed gegaan.
‘n Vlieg stap stadig oor Koos Meintjies se nek, maak ‘n draai by die oor en kom dan weer na die stywe boordjie. Sias glimlag. Koos kan sy gesig so snaaks roer, dan roer die neus en die grys snor, en sommer die ore ook. Boesman, dink Sias, Boesman sal daardie vlieg vang. Sias, dis nou jou kans om te sê jy sal nie kwaad doen nie. Maar Sias doen dit nie. Hy kyk na sy pa.
Jan Viljoen het die gewoonte om baie erstig te raak en dan kyk hy oor die koppe van sy mense. As hy so ernstig raak, swaai hy die arms en kyk dan na ‘n plek iewers in die dak. So dink die tweeling in elk geval.
Sias haal skaars asem. Hy hou sy oë op sy pa se gesig en knoop sy hemp versigtig oop. Boesman se dik, gladde lyfie word tussen sy vingers gevat.
Dominee Viljoen slaan met sy vuis net toe Sias vir Boesman teen Koos Meintjies se nek hou. ‘n Paar dinge gebeur tegelyk. Koos Meintjies skrik met ‘n ruk wakker en wip regop. Sias haal sy oë van Boesman af en kyk na sy pa. En Boesman gly soos ‘n paling tussen Sias se vingers uit en spring teen Koos se nek!
Sias wou nog red wat verlore is, maar daar was nie so ‘n kans nie. Koos voel ‘n koue, grillerige ding teen sy nek, onthou van die baie geitjies wat in die dak van die kerk is, toe gee hy een groot gil.
Maar dis nie al nie! Ouderling Meintjies het ‘n groot vrees vir alle viervoetige gediertes, dus spring hy regop en vee met sy hand na sy nek.
Boesman is ‘n vredeliewende dikdei en is sulke behandeling nie gewoond nie. As hy gehinder word, verdwyn hy in die naaste gat, en nou is die naaste gat tussen Koos se nek en die stywe boordjie.
Dominee Viljoen hou in die middel van ‘n sin op. Nog so met die hand in die lug, kyk hy na Ouderling Meintjies. Hy wou hom net berispe toe Koos letterlik bo-oor Manel Geyer, Abraham Naal en die ander ouderlinge spring op om by die konsistorie te kom!
Jan Viljoen kyk na Sias, en Sias hou hom dom. Vir die hoeveelste keer wens Jan hy kon die twee uitmekaar ken. Waaraan kan hy die twee mannetjies onthou? Daar sit die twee met groot oë en botter sal nie in hul monde smelt nie.
Sias word sommer dronk in sy kop en sluit sy oë ‘n oomblik. Hy het verlede week pak gekry. Dis nou Mias se beurt om deur te loop. Dis ‘n ongeskrewe wet tussen hulle. Maar nou wonder hy wat van Boesman geword het. Hy sien Boesman seker nie weer nie…
‘n Groot weemoed sak oor sy hart. Koos sal die dikdei vang en doodmaak. Groot, blink trane kom in sy oë. Hierdie keer wou hy eerlikwaar nie stout wees nie. Dit het sommer oor hom gekom nog voor hy kon dink.
Toe Koos weer die konsistoriedeur oopmaak en op sy tone na sy plek kom, kyk Sias met groot oë na hom. Hy sal vanmiddag se poeding wil gee net om Boesman weer te kry. Maar nou sit hy doodstil, want daar wag nog die afrekening. Vandag sal hy nie ‘n leuen kan vertel nie. Hy sal sê dit is hy. Laat sy pa hom dan maar slaan. Hy gee glad nie om nie.
Toe die diens verby is, stap hulle na die pastorie. Sy ma is stil. As sy tog maar wil praat! Sy ma vat hulle na hul kamer en druk die deur oe.
“Wat het gebeur?” vra sy.
Sias huil. Toe Mias dit sien, raak hy ook aan die huil en vat Sias se hand.
“Daar was ‘n vlieg op Oom Meintjies se nek” snik Sias.
“Ja, en toe?” wil Lenie weet.
“Toe hou ek Boesman nader om die vlieg te vang, Ma.”
“Wie is Boesman?”
“Die dikdei.”
“Ja, en toe?”
“Net toe slaan Pa op die preekstoel en Boesman spring op Oom Koos se nek, Ma,” vertel Sias.
“En jy het dit gedoen? Vra sy ma.
“Ja, Ma.”
Lenie Viljoen sug. Sy vat Sias aan sy hand, lei hom na die studeerkamer en trek die deur agter hom toe. Die ander een sal sy nie uit die oog verloor nie, want niemand weet wat die twee kan aanvang nie. Sy wonder of hulle mekaar nie soms uit die moeilikheid help nie, miskien mekaar se slae dra nie. Jan moet maar self afreken. Haar raad is al op.
Anna het gesorg dat sy naby bly. Eers het sy by die kamerdeur geluister en noudat sy weet wat die moeilkheid is, draai sy die deur van die studeerkamer oop en stap in. Daar gaan sy op ‘n stoel sit.
Dis eers stil in die studeerkamer. Sy wil Sias so graag, so graag help. Maar hy was stout gewees, reken sy. Dis darem vir haar so begryplik, maar sy weet ook dat grootmense nooit verstaan nie. Sy sal haar kinders nie eendag slaan nie. Sy sal ‘n stout kind in haar arms neem en dan moet hy haar alles vertel.
“Sias,” sê sy.
“Ja, Anna?”
“Oom Koos het geslaap?” vra sy soos een wat alles begryp.
“Ja, Anna.”
“Oom Koos slaap altyd. Ek het eendag reg agter hom in die kerk gesit en het sommer so baie lus geword om hom skrik te maak,” vertel sy.
Sias kyk op. Dis wonderlik hoe goed Anna verstaan en nie soos Pa en Ma wat nooit vestaan nie. Hy snik.
“Jy huil oor jou dikdei,” sê Anna soos een wat groot wysheid het. “Jy huil nie oor die slae nie. Net soos ons klaar geëet het, stap ons na Koster Le Roux en ons vra die sleutel van die kerk. Ek sal saamgaan.”
Al antwoord wat sy kry, is ‘n harde snik van Sias.
Maar Dominee Viljoen het reeds die saak lank en goed oordink. Stoutigheid in die kerk sal hy nooit toelaat nie, maar voor hy tug, sal hy darem eers graag die waarheid wil weet. Dis twee woelige knapies, maar sover het hulle nog nie stoutigheid in die kerk gehad nie. Die enigste persoon wat hom alles dal kan sê, is Anna.
Terwyl hy huis toe stap, wonder hy hoe Anna altyd alles weet. Die kind het die gebrek vanaan die oë en tog weet sy altyd alles.
Nadat hy alles by Anna verneem het, stap hy na die studeerkamer. Eers staan hy ‘n rukkie voor die deur om sy gesig op ‘n ernstige plooi te kry. Sias moet geleer word om die kerk te eerbiedig.
Hy draai die deur oop en stap in. Skielik kry hy die mannetjie jammer, want hy sit so verwese op een van die regopstoele.
“Sias?”
Hy wil seker maak met wie hy nou praat.
“Ja, Pa?”
“Jy is mos Sias, nê?”
“Ja, Pa.”
“Sias daar is een plek in die wêreld waar ‘n mens nie stout is nie en dit is in die kerk. As jy eendag groot is, sal jy weet hoekom Pa dit sê. Dis die plek waar ons gaan om die Here te ontmoet. Dit is Sy huis.”
Sias verbaas hom met sy antwoord. Sou die knapie tog hierdie dinge verstaan, so klein soos hy is?
“Ek weet, Pa.”
Dominee Jan Viljoen kyk lank na die mannetjie en toe kom daar ‘n begeerte in sy hart op om hom styf teen hom vas te druk. Hy was ook jonk en onhebbelik. Hy gaan by die mannetjie staan en druk sy kop vas teen sy lyf. Die woorde van Langehoven gaan deur sy siel: “Bly tog maar klein en bly dit maar langetjies.”
“Jy sal jou straf darem moet kry, Sias. As ‘n mens stout is, moet jy gestraf word.”
“Ja, Pa. Ek weet, Pa,” sê Sias en snik.
“Ek sal jou nie slaan nie, maar jy sal vandag in die huis moet bly. Jy sal alleen in jou kamer moet bly en geen poeding vandag nie.”
“Ja, Pa.”
“Nou toe stap nou reguit na jou kamer. Anna sal jou kos bring,” sê Jan Viljoen.
Sias stap verwese en verstote by die deur uit. Sy pa wonder waarom dit die swaar plig van ‘n ouer is om sy kinders te straf. Dit moet gedoen word, maar dis darem nooit aangenaam nie.
Sias gaan op sy bed sit. Dis ‘n eenvoudige bedjie want daar is nie geld vir weelde in sy huis nie. Dis ‘n klapperhaarmaras, wit lakens en ‘n bont kombers. Sias doen nie eintlik iets nie, behalwe om te sit en voor hom op die vloer te staar.
‘n Pak sou niks wees nie, en om nie nagereg te kry nie, is ook nie so vreeslik as die verlies van Boesman, die dikdei, nie.
Sias snik en wonder wat van Boesman geword het.
Aan die eettafel is die mense vanmiddag ook nie gelukkig nie. Daar word nie juis gepraat nie. Mias voel so ongelukkig, want straf vir Sias is maar straf vir hom ook. Anna maak planne om nagereg vir Sias te bêre en om weer die dikdei in die hande te kry, as hy nog net in die kerk is.
“Mias, gaan roep vir Sias,” sê Lenie.
“Nee, vrou, ons kan dit nie toelaat nie,” antwoord Jan.
Die kinders kyk na hom.
“Dis vir my so vreeslik om die kind so te straf,” sê Lenie.
“Kwaad moet gestraf word. Dis nie lekker om te straf nie. Skep vir hom ‘n bietjie nagereg in en bêre dit in die spens,” sê Jan.
Dis of daar siekte in die huis is. Lenie wonder of ‘n mens maar altyd so oor die kinders sal voel. Om twee sulke woelwaters groot te maak, is ook nie kinderspeletjies nie. Sy wonder baie dae of hulle nie nog eendag gaan verongeluk nie. Maar hulle is tog ook sulke liewe kinders. Kyk net na Mias. Nou is hy ‘n engeltjie, maar môre sal hy weer ‘n duiweltjie wees, want Mias het ‘n humeur wat Sias weer nie het nie.
Daar is nog die baba in die slaapkamer, dink Lenie. Gaan hy ook so ‘n woelwater wees? Maar dan weet sy ook, of hulle engeltjies of duiweltjies is, ‘n mens het hulle altyd lief en sal hierdie pyn in die hart gedurig met jou saamdra. Wat sal die lewe tog sonder haar vier kinders wees? Party dae is sy so moeg, so moeg, maar sonder hulle wil sy ook nie wees nie.
In elkeen se gedagtes rondom die tafel is daar net een vraag: Waar sou die dikdei tog wees? Want hulle vermoed almal dat Sias nie stout was net om stout te wees nie, maar ‘n seun bly mos maar ‘n seun. Die versoeking om met die dikdei te speel en hom die vlieg te laat vang, was seker net te groot vir Sias.
In die slaapkamer wens Sias, o hy wens dit so baie, dat hy Boesman, die dikdei weer moet sien. Hy speel so graag met diertjies, want diertjies is vir hom die mooiste goed op aarde. Sy ma hou nie van paddas en sprinkane en skerpioene nie, maar ‘n dikdei sal tog niemand kwaad aandoen nie.
Nou kyk hy na die venster. Nee, hy sal nie ongehoorsaam wees nie. Dit het hy Anna tog belowe en dit sal hy altyd probeer onthou. Hy sal maar in hul kamer bly.
“Waar is die dikdei?” is in Anna se gedagtes toe sy die voordeur saggies agter haar toetrek en ‘n rukkie bly staan.
Anna is lank vir haar jare. Toe sy nege maande oud was, het sy ‘n kiem in die maag gekry, so het die dokter gesê, en na ‘n lang en ernstige siekte was sy nie meer die mensie van vroeër nie. Net soos die ander drie was sy as baba groot en gesond, maar nou is sy maer en tingerig. Sy is darem baie intelligent en die gunsteling by die skool. Dis nog altyd vir haar ouers ‘n groot jammerte dat sy so swak sien en die dokter het nie veel hoop dat dit sal verbeter nie. Miskien sal sy eendag glad nie meer kan sien nie. Dit verberg hulle darem van haar.
Anna dink nou hard. ‘n Mens het hulp nodig, veral as ‘n mens nie goed kan sien nie. Sondae, na die ete, moet almal rus en sy wil Mias tog nie in die moeilkheid bring nie, daarom wil sy hom nie saamneem nie.
Toe onthou sy. Sy het mos baie vriende wat haar sal help. Veral dink sy aan twee; Koos Geyer en Krisjan Jantjies.
Sy stap met die gruispad waar die modderpoeletjies oral lê na gister se reën. Mense groet haar, kinders praat met haar. Sy herken elkeen se stem en het vir elkeen ‘n vriendelike woord. By Tante Sabien se huis klop sy nie, maar draai sommer die deur oop en stap binne. Aan die geklink van die skottelgoed weet sy Tante Sabien is in die kombuis.
“Middag, Tante Sabien,” sê sy viendelik.
Daar kom baie liefde in Sabien se gesig toe sy Anna sien. Sy droog haar groot hande aan ‘n afdroogdoek af.
“Waarom slaap jy nie vanmiddag nie, Anna?” vra Tante Sabien.
“Sjuut!” sê Anna. “Ek het weggeloop, Tante Sabien. Is Koos en Krisjan hier?”
Sabien kyk na Anna en vat dan Anna se wang tussen haar duim en wysvinger.
“Wat wil jy met hulle maak?” vra sy.
“Hulle moet my help. Ons moet Sias se dikdei gaan soek, tante Sabien. Hy moet nog daar in die kerk wees, miskien in die konsistoriekamer.”
Sabien lag. Sy het die petalje vanoggend in die kerk gesien en Koos Meintjies het hulle daarna vertel wat gebeur het.
“Dis ‘n heilige plek en Koos Geyer se voete is nie goed genoeg vir daardie plek nie. Koos Geyer is ‘n baie slegte mens en hy gaan met die duiwel om,” vertel Sabien, maar dan sien sy Anna se gesig en kry haar jammer. “Ons sal dan maar ‘n plan moet maak,”
Sy wikkel en wieg tot by die kombuisdeur en roep dat Boesmansberg antwoord gee. ‘n Rukkie later gee Krisjan en Koos antwoord.
“Altyd bymekaar, hierdie twee. Dis nie ‘n goeie ding nie. Koos Geyer leer die kinders net booshede,” sê sy. Toe Koos en Krisjan in die kombuis is, vervolg sy: “Koos, jy moet hoor wat Anna wil hê en dan gaan help julle haar. En was vir jou voor jy kerk toe gaan. Jy sit nooit jou voete in die kerk nie, maar ek hoop Anna van Dominee sal jou vandag in die kerk kry, al is dit ook net om ‘n dikdei te gaan vang. Mag my sonde vergewe word. Om jou na die kerk te stuur, is ‘n sonde. Toe, Krisjan, loop haal die sleutel by Oompie Gys le Roux, en mag my sondes vergewe word.”
Dit sê sy alles in een asem. Vir Anna Viljoen sal sy darem niks weier nie. Sabien reël graag ander mense se lewens, maar met Koos Geyer, haar kleinseun, kon sy nog nie veel uitrig nie.
Anna is nie die enigste een wat die plan gekry het om die dikdei te gaan soek nie. Jan Viljoen het die sleutel van die konsistorie geneem en is nou op pad soontoe. Vir homself voer hy allerhande verskonings aan waarom hy moet gaan. ‘n Rukkie later glip Mias ook uit die huis uit.
Nou gaan ‘n hele stoet na die kerk, want Gys le Roux, die koster, sal niemand in die kerk toelaat as hy nie ook daar is nie. Toe hy gaan, tou ‘n hele klomp van sy kleinkinders saam.
Baie waardig stap Gys le Roux. Om ‘n koster te wees is iets besonders in sy oë. Langs hom stap Koos Geyer en gesels soos ‘n beterweter. Koos het al weer ‘n paar stories uitgehaal om die kinders te vermaak.
“Ek doen vandag ‘n verkeerde ding,” sê Gys, maar sluit die deur van die kerk nietemin oop. “Voor ons binnegaan, moet julle eers na my luister. G’n kind mag aan ‘n ding vat nie en niemand op die preekstoel nie.”
Belangrik stoot hy die deur oop. Toe borrel Krisjan en die ander in. Daar gaan die klomp met die paadjie op en dan by die konsistoriedeur in.
‘n Rukkie later is Mias ook daar.
“Aan daardie kas raak niemand nie. Daar is net die doopskottel en die kollektebordies,” sê Gys.
“Maar dis waar die dikdei sal wees, Oompie Gys. Kyk, die deur is nie mooi dig nie,” sê Koos Geyer.
In die hoek van die konsistorie is ‘n muurplank en gordyn. Hier hang Dominee sy toga. Katryn het die gordyn haastig weggepluk en is op haar knieë. Dis toe dat sy ‘n paar skone ontdek wat aan Dominee behoort. Ja, en daar is ook ‘n paar voete in en die behoort ook aan Dominee. Hoër op die die broek en bene van Dominee. Dit lyk of dit Dominee moet wees!
Katryn staan op en is so bleek as wat ‘n meisie maar kan wees. Sy wil praat, maar kan nie ‘n woord uitkry nie. Sy gryp Oupa Gys aan die baadjie en beduie vir al wat sy werd is.
Dominee Jan Viljoen kom agter die gordyn uit. Daar is verslaentheid op almal se gesigte. Dis net Koos Geyyer wat nog kans sien om te gesels.
“Middag, Dominee. Ai, Dominee het ons nou lekker gevang, maar ons is agter ‘n dikdei aan. So ‘n ding, Dominee, “ beduie Koos en hy wys hoe groot die dikdei is.
Ek is bly om jou ook ‘n slag in die kerk te sien, Koos,” sê Jan.Toe word Koos baie benoud. Dominee sêՙ dit op so ‘n snaakse manier, amper asof Dominee iets in gedagte het.
“Dominee, ek is nie bang vir die kerk nie. Dis net dat ‘n mense nie aldae ‘n kans het om te kom nie. Dominee het nie ‘n dikdei gesien nie? Dis so ‘n goudgele en omtrent so lank.”
“Soos hierdie een?” vra Dominee Viljoen en haal die dikdei uit sy sak.
“Omtrent soos daardie een. Maar dit is mos Sias se dikdei!” roep Koos verbaas uit.
“Gaan julle nou almal. Ek wil met Koos gesels. Dis nie aldae wat ek die kans kry om met om in die kerk te gesels nie,” sê Jan Viljoen.
Koos se oë rek.
“Kan ons dit nie ‘n ander dag maak nie?” vra hy.
“Nee , vandag, Koos.”
“Nes Dominee sê,” antwoord Koos maar hy is nie gerus nie. Dominee het die gewoonte om saam met ‘n mens te bid.
Jan gee die dikdei vir Anna en stuur almal uit die kerk uit.
“Ai, Dominee, dit was seker ‘n gedoente met ou Koos Meintjies en die dikdei. As ek hier was het ek so sweerlik gelag. Dominee het darem seker nie vir hom geslaan nie? Dis nou Sias.”
Dominee kyk lank na Koos totdat Koos later sy kop laat sak. Die son skyn deur die venster en Koos wens hy was daar buite in die natuur en nie by Dominee nie.
“Weet jy, Koos, jy het ‘n goeie hart in jou binneste,” sê Jan.
“Dis waar Dominee die mistaaik maak. Ek het nie,” antwoord Koos benoud, want hy weet nie wat Dominee se plan is nie.
“Koos, as kinders van iemand hou, kan hy nie sleg wees nie. Ek hou jou lankal dop en ek wens die kinders was vir my ook so lief. Wat maak jy dat hulle so lief vir jou is?”
“Niks nie, Dominee, ‘n kind is ‘n snaakse ding. Hy het die een mens lief en die ander een nie. Jy kan daar niks aan doen nie,” vertel Koos.
Koos gesels sonder om asem te skep, want hy weet as hy ophou met gesels, kry Dominee weer ‘n kans. Dit moet nie gebeur nie. Hy gee selfs vir Dominee Viljoen ‘n preek oor die opvoeding van kinders.
“Koos!” val Dominee hom in die rede.
“Ja, Dominee?” vra Koos benoud.
“Koos, my kerkraad is onrustig oor jou,” begin Jan.
“Hulle hoef nie te wees nie, Dominee. Nou wil ek vir Dominee vandag iets vertel…,” gaan hy voort, maar Dominee val hom in die rede.
“Koos, maar dis ek wat vir jou iets wil vertel. Die polisie hou jou ook dop. Hulle sê my jy smokkel met dagga. Nee, moenie nou praat nie. Jy het ‘n goeie hart en jy kan so baie vir die gemeente beteken. Jy stam uit ‘n goeie en eerbare familie. Almal het respek vir jou oorlede vader gehad en jou ouma, ou Tante Sabien, is ‘n goeie mens en ‘n Christen. Jou paadjie sal jou net in die tronk beland. Bekeer jou van jou sondige weë. Kom kerk toe en wys vir ons jy wil ‘n ander lewe lei. Ek sal jou help, Koos. Almal sal jou help want hulle hou van jou. Jy weet dit miskien nie. Ek is onrustig omdat jy nooit ‘n werk kan hou nie. Jy was ‘n week by ou Wolheim en het die werk weer net so gelos. Daar is ‘n ander lewe en een wat jy miskien nog nooit aan gedink het nie. As jy begin werk, sal jy die respek van almal hê en, wie weet, straks nog hier in die kerkraadbanke sit.”
Jan Viljoen besef dit nie, maar hy het nou ‘n verkeerde snaar aangeroer. As daar een plek is waarvoor Koos wild is, dan is dit juis die kerkraadbanke. Daar gaan letterlik ‘n koue rilling langs sy lyf af. Koos Geyer wil vlug, hy wil sommer baie ver vlug; daar teen die berg waar Sias en Mias en Krisjan hul skerm opgeslaan het, daar in die nabyheid is nou juis ‘n paar sakke dagga. Dis baie geld wat daar lê.
“Ek sal weer na ou Wolheim toe gaan en met hom praat. As ek met om praat, sal hy jou weer terugneem, maaar hy sê vir my daar het goed ook uit sy winkel weggeraak,:” sê Jan ernstig.
Koos wil lag. Ou Wolheim se kat. Hy dink aan die stories van die kat, stories wat die kinders glo. Dinge kan vir hom so snaaks wees, dan wil hy sommer lag. Hy en die kinders glo tog dat katte kan praat. Dominee sal dit nie glo nie.
“Ek sal more met hom praat,” sê Jan Viljoen.
“Ja, Dominee,” antwoord Koos, te bly oor hierdie oplossing. Hy het iets ergers verwag. Hy is heeltemal gewillig om Dominee enige ding te belowe.
Maar die ergste kom nou. Toe Dominee dit sê, word Koos sommer koud.
“Kom ons kniel, Koos.”
Koos kniel saam met Dominee Viljoen, maar besluit om nie te luister nie. Hy sal aan ander dinge dink en die baie geld wat hy eendag sal hê, ja, en aan ou Wolheim se kat. Koos glimlag. Dominee het hom geprys, maar hy sal nie luister wat Dominee daar bid nie. Bo alles wil hy tog nie eendag in die kerkraadbanke sit nie.
Hulle staan op.
“More kan jy weer by ou Wolheim begin, Koos. En nou kan jy maar gaan.”
“Dankie, Dominee, baie dankie. Tot siens, Dominee.”
Koos Geyer vlug. Hy vlug sommer na Boesmansberg, die vriendelike bome en die stroom daar in die buurt. Hy weet nie waarom hy so bang vir die kerk en die Dominee is nie, want Dominee is tog ‘n goeie en regverdige man en almal se vriend. Maar Koos wil nog nie aan sy siel dink nie, want hy wil nog eendag baie geld maak en dit kan ‘n mens nie besit as jy met die goeie dinge besig is nie. Hy wil nie sleg wees nie, maar die smokkelaars het sy hulp nodig en hulle sal hom baie geld gee.
Daarom vlug Koos nou eers. Toe hy daar tussen die bome is, belowe hy sy hart om eendag ‘n goeie mens te wees en in die kerkraadbanke te sit. Darem nie nou al nie. Sias en Mias sal vir hom lag en die manne van Bitterwater sal dink sy hart het nou sag geword.
Koos begeer ook om goed te wees, maar dan eers later as hy genoeg geld het.
Uitgawe 6 – Junie 2026
Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS
deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)
Hoofstuk 6: Die groot skrik
Koos Geyer het die gewoonte gehad om sy eie stories te maak. Oor alles wat sy oë sien, het hy ‘n storie gemaak en hy was ‘n baasverteller. Op ‘n dag het hy en die kinders ‘n donkie met haar wolhaarvulletjie in die veld raakgeloop en toe het Koos eers weer gaan sit om ‘n storie te vertel. Daar was ook die storie van die stinkmuishondjie, ‘n muishond wat meer as ander muishonde gestink het. En Koos kon vertel! Die kinders se monde het dan oopgehang. Dis vir hulle of die dinge werklik gebeur het.
So het hulle lief vir die natuur geword, want kyk! Die wolke van die hemel is dan kwansuis die meubels van die reëngod en as die weer dreun, dan stoot hy sy meubels rond. Die diere, so het hy vretel, het almal ’n siel en ‘n taal. So weet hy te vertel dat Boesman, Sias se dikdei, van skone goud gemaak is en toe is lewe in hom geblaas. Die kinders het die stories graag geglo.
Die skool het nog nie weer heropen nie. Vandag is Sias, Mias en Krisjan drie jagters in die oerwoud. Elkeen het ‘n velmus op die kop, musse wat Koos Geyer van hasievelle gebrei het. Die dennebome teen die hange van Boesmansberg is ‘n woud in ‘n ver land, en die geroep van die duiwe en ander voëls is die geluide van ‘n oerwoud.
Waar hulle nou loop, is die bos dig. Net hier en daar val ‘n sonstraal deur die takke van die bome. Ons jagters is op die spoor van ‘n yslike beer en voor dit aand is, wil hulle sy vel hê. Elkeen het ‘n boog in die hand en ‘n pylkoker om die lyf. Dis alles dinge wat Koos vir hulle gemaak het.
Koos het hulle geleer om nie voëltjies te skiet nie, want voëltjies is dan kwansuis die boodskappers van die reëngod, en eekhorings is die karperde van die reëngod. Hase en springhase kan hulle maar skiet. Dis goed wat die groente van die mense vreet.
Net so ywerig soos hulle, jag Napoleon, die steekbaard. Dan is hy voor hulle, en dan hardloop hy sommer sy eie koers.
Skielik is daar ‘n geluid. Ons drie jagters val plat op die maag en die harte klop onstuimig. Sias druk Napoleon hier by hom op die grond vas. Dis mensestemme, maar vir ons drie jagters is dit die stemme van mensvreters, of Rooihuide.
“Sjuut!” sê Sias en Krisjan se oë draai beangs in sy kop.
Die mense kom uit die koers van die groot plaas van die Engelsman wat naby Bitterwater boer. Mense kom selde na die dennebos hier teen Boesmansberg. Die drie jagters kry hond se gedagtes.
“Dis rowers,” sê Mias en sy hart slaan doef-doef teen die grond.
“Ons moet weet wie dit is,” sê Sias en lig sy bolyf op.
“Hulle sal ons doodmaak,” sê die derde lid van die geselskap.
Krisjan was miskien nie so ver verkeerd nie. Dis drie skelms en hulle gesigte sal enige mens die skrik op die lyf jaag. Hulle stap nou ‘n entjie van die drie jagters verby en is nie bewus van die kinders nie. Die een het ‘n aaklikge gesig wat deur lelike merke ontsier is. Die tweede een het ore amper soos ‘n bobbeaan en ‘n nek soos ‘n gorilla. Dis altans soos dit vir die drie hier lyk.

“Ons moet hoor waar die water raas. Koos het gesê dis naby die stroompie,” sê die een met die groot ore.
Die kinders kyk vir mekaar en bid maar dat die skelms hulle nie sal sien nie. Koos is ‘n bekende naam vir hulle en hulle wonder of dit Koos Geyer is.
“Daar is glo ‘n skerm van takke,” sê die een met die lelike gesig.
“Dit moet hoër op teen die berg wees” sê die derde ene, wat ook maar lelik lyk en effens mank loop.
Die drie mans stap nou weer aan en weg van die drie jagters af.
“Dis diewe” sê Mias.
“Ons moet kyk wat hulle maak,” meen Sias, maar is doodbang om op te staan. Dis mense daardie wat jou sal vermoor.
“Napoleon sal blaf,” sê Mias.
“Ek het ‘n plan. Krisjan bly jy hier en hou Napoleon vas. Kom, Mias,” gebied Sias.
So gesê so gedaan. Dit geskied alles in stilte, want die kinders vertrou die vrede nie. Hulle is ook heeltemal reg, want die drie is daggasmokkelaars. Hulle gaan nou eers in die daglig verken waar die plek is en vannag kom hulle die dagga haal.
Met harte wat klop van angs gaan Sias en Mias van boom tot boom. Hulle maak nie eens ‘n geluidjie nie. Die drie boewe weet nie van hulle nie en hoewel hulle nie baie hard gesels nie, kan die twee tog hoor waar hulle is.
Die drie het nou die skuilplek ontdek en staan ‘n rukkie daar. Sias en Mias hou hulle dop. Die man met die groot ore lig een van die sakke orent en maak dit oop. Sias en Mias kyk na mekaar. Toe sien elkeen hoe bang die ander een is. Sias sluk en Mias sluk. Hulle het mos vandag self gesien hoe skelms lyk dit is net te vreeslik.
Gedagtes van moord kom in hul koppe. Hulle kan vermoor word en dan sal die drie hulle hier iewers begrawe en hulle ouers sal hulle nooit weer sien nie.
“Koos Geyer sê die goed is veilig hier. Een van ons moet darem hier bly tot die ander twee vannag kom. Willie jy kan hier bly, maar nie hierso nie, daar hoër op teen die berg. Ek sal nou vir Koos gaan soek,” sê die een met die aaklikge gesig.
Sias en Mias wil juis haastig padgee toe dit gebeur. Napoleon is nie gewoond om sonder sy maatjies te wees nie en hy raak nou woes aan die tjank.
Die een man sê: “Wat is dit?”
Nou wag Sias en Mias nie langer nie en hardloop dat hul voete dreun oor die aarde. Een van die skelms hardloop ook. Dis genoeg vir hulle om aan die huil te gaan. Maar die skelm het net geskrik en is eintlik aan die weghardloop. Toe hy so ‘n entjie gehardloop het, kom hy weer versigtig terug na sy maats. Dis mos maar net kinders, dus is hy weer gerus.
Die drie jagters weet dit darem nie en nou hardloop hulle vir al wat hulle werd is. Krisjan Jantjies met sy een arm kan nie so vinnig hardloop nie, maar vandag bly hy by die ander twee. Hulle kom Bitterwater ingenael en sit die stuk in na die skuur van ou Jantjie Arries. Hier het hulle al baie dae rotte gejag, of sommer net gespeel.
Uitasem staan hulle ‘n rukkie naby mekaar. Die oë is nog groot van vrees. Nou praat hulle nog nie, maar as dit moontlik was, sou die hare regop gestaan het.
Mias loer by die deur uit en Sias en Krisjan staan kort agter hom.
“Waar is hulle?” vra Sias.
“Ek sien hulle nie,” antwoord Mias.
“Dis drie moordenaars,” sê Mias ‘n rukkie later.
“Wat gaan ons nou maak?” vra Sias.
Dis ‘n groot probleem. Nie een weet raad nie. Vir hulle is die drie skelms baie leliker en groter as wat hulle werklik is. Hulle glo vas dat hulle vandag baie na aan hul einde was.
“Hulle het van ons Koos Geyer gepraat,” sê Mias.
“Die een kom vir Koos sien en as hy ons in die dorp sien, sal hy ons vermoor. Hy moet ons nie sien nie,” is Sias se mening.
Hulle gaan op sakke sit om hierdie probleem eers uit te pluis. Hoe gaan hulle nou maak? Die skelms het Sias en Mias gesien en een van hulle kom vandag na Koos Geyer.
“Ons moet vandag net in die huis bly en jy moenie vandag weer na ons huis toe kom nie, Krisjan,” sê Sias. “Hulle sal nie weet in watter huise ons bly nie. Wag, ons moet nog nie gaan nie,” sê Sias toe Krisjan opstaan.
“Wat sou in die sakke wees?” vra Mias.
“Ons weet nie,” antwoord Sias, wat altyd meen hy weet meer as ander kinders. Hierdie keer weet hy darem ook nie.
“Ons moet vir niemand iets sê nie, want dan kom hulle agter wie ons drie is,” sê Mias en sluk om sy keel nat te maak.
“Nee, ons mag vir geen mens sê nie,” beaam Sias en gaan voort. “Krisjan, as jy jou mond oopmaak, sny hulle jou keel af. Het jy al gevoel hoe voel dit as hulle jou keel afsny?” Krisjan skud sy kop en sy oë trek nog groter. Hy weet hoe dit voel as ‘n mens se arm afgeruk word en dit was vreeslik.
‘n Halfuur later glip die drie uit Oom Arries se skuur en sluip, dis al wat ‘n mens dit kan noem, na die huis. Hulle ken darem al die mense van Bitterwater en sal dadelik weet as daar ‘n vreemde gesig op die dorp is. Sover het hulle nog nie een van die moordenaars in die dorp gesien nie.
So soet was Sias en Mias lanklaas. Hulle het doodstil na die slaapkamer gegaan, die deur toegedruk en gaan sit. Kort-kort is een by die venster om te sien of een van die moordenaars nog nie in die dorp is nie.
“Ons is ‘n tweeling. Hulle sal ‘n tweeling soek,” sê Sias.
Vir die eerte keer is dit ‘n groot nadeel om ‘n tweeling te wees. Sias kyk vir Mias en Mias kyk vir Sias.
“Kom ons bid,” sê Sias.
Saam kniel die twee en Mias vat Sias se hand. Wat hulle gesê het, weet ons nie, maar na ‘n rukkie staan die twee op en stap na die venster.
“Ons moenie weer saam gesien word nie,” sê Mias.
“Ons moenie weer uit die huis gaan nie,” is Sias se mening.
Mias knik. Miskien het die moordenaars nie eens vir Krisjan gesien nie, maar ‘n tweeling vergeet ‘n mens nie.
Die kamerdeur gaan oop en Lenie Viljoen kom in. Sy het die twee hoor inkom en kan nie verstaan waarom hulle so stil is nie. As hulle stil is, is dit gewoonlik ‘n slegte teken.
Wat maak julle?” vra sy.
“Niks nie Ma,” antwoord hulle. Sulke onskuldige gesiggies sien ‘n mens nie aldag nie.
“Ek wil hê julle moet na ou Wolheim se winkel gaan en twee stene seep en ‘n rolletjie garing gaan koop.”
“Ja, Ma. Ma, kan Anna nie gaan nie? Ons is op die oomblik besig,” sê een van hulle.
“Julle was nog nooit ongehoorsaam nie, “ sê Lenie en frons haar wenkbroue. “Gaan dadelik. Ek het die goed nodig. Hier is die geld.”
“Ja, Ma,” sê die ander een weer, maar nie een is lus om te gaan nie.
Toe die kamerdeur weer toegaan, sê Sias: “Ons kan nie altwee gaan nie. Dis te gevaarlik.”
“Ons sal lootjies trek,” gee Mias aan die hand.
“En die een sal hom moet vermom,” sê Sias.
Mias knik. Sias het altyd raad. In Mias se oë is sy broertjie ‘n baie slim man, amper so slim soos die skoolhoof en net ‘n rapsie dommer as Koos Geyer.

