Toeka Se Tyd.
Elke maand is daar ‘n nuwe storie te lees vir jonk en oud.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Pioniershuis in Pretoria.

Pioniershuis in Pretoria is een van die laaste oorspronklike huise wat deur Voortrekkers gebou is, wat nog staan. In 1846 het David Adolf Machiel Botha met sy gesin uit Ohrigstad in die Laeveld padgegee om van die malaria weg te kom. Hy het ’n mooi staanplek tussen die Magaliesberg se rande langs die Moreletaspruit uitgesoek en daar sy huis in 1848 gebou. Hy het die plaas Hartbeespoort genoem, lank voor Pretoria of die dorp Hartbeespoort tot stand gekom het. Pretoria, was eers in 1855, amper ’n dagreis per ossewa, na die weste van die plaas Hartbeespoort, langs die Apiesrivier gevestig.

Die Voortrekkers wat in Pioniershuis gebly het, was selfversorgend en het die huis en buiteoond self gebou van die klippe, klei, bome en gras wat in die omgewing voorkom. Hulle het ’n groentetuin uitgelê en omdat doringdraad nog nie bestaan het nie, het hulle ’n klipmuur rondom die groentetuin gebou om die diere van hul groente weg te hou.
Al die meubels in die huis was handgemaak, en die meubels wat nie van die Kaap saam met die Voortrekkers gekom het nie, het hulle self uit die bome van die omgewing gemaak.

Hierbo kan mens die stompe sien wat vir dakbalke gebruik is, en die dekgras van die dak.

Hierbo is die binnekant van die vuurherd in die kombuis van Pioniershuis. Voor stowe het mense hul kos in hierdie tipe oop vuurherde in koperpotte en panne gaargemaak. ’n Vuur was op die vloer van die vuurherd gemaak en dan was ketels of die kastrolle wat nie pote gehad het nie, op essies bo-oor die kole staan gemaak. Die potte en panne met pote was net so oor die kole geplaas. Soms was ’n pot aan ’n ketting, met ’n haake, bo-oor die kole gehang.

Brood en beskuit was in die buiteoond op die werf gebak. Die oond was eers vol hout gepak en aan die brand gesteek. Wanneer die hout uitgebrand het en net kole oorbly, was die kole en as uitgekrap en die panne met deeg op die oondvloer geplaas. Die opening van die oond was dan met ’n leiklip toegemaak om die hitte binne te hou. Die stok was gebruik om die leiklip in plek te hou. Die hitte, wat in die oondwande en vloer ingetrek het, bak dan die brood of beskuit gaar. Na ’n uur of so word die leiklip verwyder en die gebakte brood of beskuit word dan uit die oond gehaal.
Baie dinge het in die jare daarna gebeur. Eers het Hans Mundt, ’n Duitse immigrant, die plaas in 1874 by die Botha’s vir 1 400 Pond gekoop en ’n halfweghuis daar vir mense opgerig wat na die goudvelde van die Laeveld gereis het. Tweedens was silwer op die plaas rondom die eeuwenteling ontdek en ’n maatskappy Silver Mining Company het ’n gedeelte van die plaas vir 9 000 pond by die Mundt’s gekoop. Hans Mundt het daarna ’n Victoriaanse huis gebou en Pioniershuis as stoor gebruik.
Mense het tydens die Depressie plakkershuisies van sinkplate langs die Moreletaspruit langs die plaas gebou. Die nedersetting was Blikkiesdorp genom voor dit in 1890 die dorp Silverton geword het. In 1961 het die Mundts die plaas aan die Silverton munisipaliteit geskenk. In 1964 was Silverton by Pretoria ingelyf en so het Silverton ’n woonbuurt van Pretoria geword.
Pioniershuis is op die hoek van Pretoria en Watermeyerstraat geleë, maar die ingang is in Keuningstraat, suid van en parallel aan Pretoriastraat.
Pioniershuis is regdeur die jaar oop vir besoekers – selfs op Kersfees en Nuwejaar.
Navrae: Epos: pioneerm@ditsong.org.za, Telefoon: 012 492 5168 of 012 323 9758.
Uitgawe 2 – Februarie 2026
Windmeule van Suid-Afrika

Die skildery Vue du Cap de Bonne-esperance (Uitsig oor die Kaap van Goeie Hoop) deur Johannes Schumacher (1778). Ten tye van die skildery was daar slegs twee bestaande meule wat mens aan die linkerkant op die vlakte kan sien. Hul voorgangers langs die Soutrivier was reeds bouvalagtig, terwyl ander soos Nieuwe Molen en Mostert se meul, nog nie daar was nie.

Tydens die VOC se beheer oor die Kaap, was die bou en besit van privaatmeule verbied en alle meule het in daardie tyd aan die VOC behoort. Mense, soos bakkers, was gedwing om koring op groot maat by die VOC se meule te maal en moes daarvoor betaal. Baie mense het egter handmeule besit wat hulle vir huishoudelike gebruik aangewend het.
Van die bekende meule in die Kaap was:
- Dwars-in-de-Weg, Dur en Broekman meule langs die Soutrivier (laat 17de eeu).
- Oude Molen (1717) in Pinelands.
- Clapperton se meul (1773) in Mowbray
- Nieuwe Molen (1782) in Maitland
- Mostert se meul (1796) in Mowbray
- Onze Molen (1801) in Durbanville
Al wat van die Kaapse meule oorgeblyhet is Mostert se meul en die toring van Nieuwe Molen.
Mostert se meul

Toe die Britte die Kaap in 1795 oorgeneem het, en die VOC amptenare die Kaap verlaat het, het Dirk Gysbert van Reenen, sy kans waargeneem en sy eie meul op die plaas Welgelegen (nou deel van Kaapstad) gebou om koring te maal. Die meul is in 1796 klaar en Van Reenen het sy naam en die jaartal 1796 op een van die balke van die meul uitgekerf. Uiteindelik verkoop hy die plaas aan sy skoonseun Sybrand Mostert, waar die benaming Mostert se meul, vandaan kom. Dit was die eerste meul in privaatbesit en is tans die enigste werkende meul in Afrika.
Hierdie tipe windmeul word as ‘n toringmeul geklassifiseer. Dit is ook ‘n bo-kruier, wat na die houtkap met die wieke na die wind gedraai kan word, verwys. Mostert se Meul is klein teenoor sekere windmeule in Europa en
aangesien die meulenaar die stertbalk van die grond af draai om die wiekkruis na die wind te rig, en die wiek van die grond af opklim om die seil te span, word hierdie klein tipe windmeul ook ‘n grondseiler genoem.
Die 6.68 m hoë toring van Mostert se Meul is in drie verdiepings verdeel. Die onderste 2.28 m is uit klip gebou en die res is met ongebakte stene gebou. Op grondvak is die toring 7.94 m in deursneë en die mure 1.15 m dik. Die klip en steenstruktuur is gepleister en toe wit gekalk.
Mostert se Meul het mettertyd in onbruik verval en die plaas het van eienaars verwissel tot dit deur Cecil John Rhodes in 1891 gekoop is, wat as dit deel van die groter Groote Schuur landgoed ingesluit het. Met sy afsterwe het Rhodes die landgoed, met die meul daarop, aan die nasie van Suid-Afrika bemaak.
Die Suid-Afrikaanse regering het in 1935 deur die Nederlandse regering die hulp van die organisasie De Hollandsche Molen ingeroep om die vervalle meul te herstel. Die Groningse meulbouersbedryf Th. Bremer was aangestel om die meul te restoureer en die wieke was deur die Nederlandse regering as geskenk aan Suid-Afrika oorhandig. Op 1 Februarie 1936 is die gerestoureerde meul geopen en meel was weer vir die eerste keer in dekades gemaal.
Mettertyd het die meul se toestand weer weens verwaarlosing agteruitgegaan tot die organisasie Vriende van Mostert se Meul in 1993 in die lewe geroep is. Dieselfde Nederlandse firma was weer in 1995 aangestel om die meul te restoureer. Op 18 April 2021 het ‘n bosbrand die houtwerk van die meul vernietig maar gelukkig, danksy die werk van die Vriende van Mostert se Meul, is dit weer ten volle teen April 2024 gerestoureer.

Mostert se meul staan op die hoek van Rhodes-rylaan en Rhodeslaan in Mowbray, oorkant Kirstenbosch Botaniese Tuine. Die Vriende van Mostert se meul hou die meul in werkende toestand en bied vertonings een keer per maand aan waartydens hulle koring maal.
Die haas onbekende windmeul van Olivedale in Johannesburg
Harry Messias, ‘n Nederlandse diamanthandelaar het in 1940 die plaas Oliewenshoutpoort gekoop waar hy ‘n perskeboord van 50 000 bome geplant het. Hy het toe Italiaanse Tweede Wêreldoorlog-prisoniers van Zonderwater gevangenis by Cullinan gekry om vir hom ’n windmeul te bou om water van ‘n boorgat na die leivore na die bome te pomp. Ongelukkig is die wieke tydens ‘n storm in 1980 afgeruk en dit was nog nie weer herstel nie, maar die toring staan nog en is tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die Jasmyn windmeul van Schoemansville
Daar is ’n pragtige replika van ’n seskantige Hollandse houtwindmeul in Jasmyn naby Hartbeespoortdam wat as ’n restaurant dien en waar mens tradisionele Hollandse disse soos wafels, krokette en uitsmyters kan geniet.
Moet ook nie die weens die lekkerste wafels by die windmeul se wafelrestaurant die wonderlikste boekwinkel Jasmyn Boekery langsaan misloop nie! Hier kan mens die grootste verskeidenheid Afrikaanse kinderboeke te koop kry. Miskien moet jy eers na die boekwinkel gaan voor jou hande met wafelstroop besmeer word!

Uitgawe 3 – Maart 2026
TOEKA SE TYD
Britse blokhuise
Toe die Britte agterkom dat hulle nie die Boere-guerillavegters kon baasraak nie, het hulle een van die duurste en uitspattige strategieë vorendag gekom, naamlik die blokhuisstelsel. Met die blokhuise en doringdraad tussen-in wou die Britte eenvoudig die land in kampe opdeel om die Boeremagte se bewegings in te hok om hulle sodoende tydens dryfjagte te vang of uit te wis. Die ander hoofrede vir die blokhuisstelsel was vir die beskerming van die spoorlyn en brue, wat die Boere gedurig opgeblaas het, om sodoende die vervoer van soldate en voorrade te ontwrig.

Die Britte het meer as 8 000 blokhuise (sommige kenners bereken dat daar meer as 9 000 blokhuise was) tussen 1901 en 1902 opgerig. Daarbenewens was daar tussen die blokhuise ongeveer 6 000 km se doringdraadversperrings gespan om te verhoed dat die Boere kon verbybeweeg. Die koste van hierdie projek het £ 1 000 000 beloop – dit is gelyk aan amper 3,2 miljard Rand vandag!
Die eerste blokhuise was van twee sillinders geriffelde sink gebou waarvan die kleiner een binne die groter een gepas het, met ‘n 15 cm opening tussen die twee wande. Daarna het hulle gruis en klippe tussen-in die twee sinkplaat-wande gegooi om koeëls te stuit. Later het hulle die meer bekende klip en sement blokhuise gebou wat 2 of 3 verdiepings hoog was. Hierdie tipe blokhuis was elk, afhangende van die grootte daarvan, deur 20 of 25 soldate beman. Volgens sekere bronne was hierdie blokhuise altesaam deur amper 100 000 soldate beman. Hierdie soldate het meestal niks anders gedoen as om bedags in die son te bak en snags bang deur die skietgate in die duisternis te loer op soek na ‘n Boer en wanneer hulle gevaar gewaar het hulle paniekerig vir hulp na hul buurblokhuise gesein en wild na die bedreiging geskiet.
Natuurlik was dit vir Boeremagte, soos dié onder generaal Krisjan de Wet, moontlik om snags soos skimme deur die doringdraad van een blokhuiskamp na die ander te glip, so asof dit nie eens daar was nie. De Wet het minagtend na die blokhuisstelsel as die “blockhead system” en wit olifante verwys.
Die Britte het klokke en blikkies met klippies in aan die doringdraad vasgemaak, sodat dit kon lawaai wanneer die Boere snags aan die doringdraad peuter. Dan het hulle woes op die rigting van die geluid begin skiet. Oorspronklik was die blokhuise so een kilometer uitmekaar opgerig, maar later, omdat die Boere so maklik deur die doringdrade gekom het, het die Britte die blokhuise tot so naby as 400 m uitmekaar begin bou. Hulle moes juis die blokhuise in ‘n sig-sag manier bou, sodat die Britte mekaar nie in die donker raakskiet as hulle vir ‘n blikkie se geluid skrik nie.
Natuurlik sou die wind, of ‘n jakkals wat deur die draad kruip, soms ‘n blikkie laat ratel of ‘n chemiese seinfakkel laat afvuur, wat dan ‘n verwoede skietery sou afgee. Die lawaai het die Britse soldate in die naaste blokhuis laat skrik, wat veroorsaak het dat hulle wild in die rigting van die geluid geskiet het. Dit het die buur-blokhuis se soldate ook laat skrik en dan sou hulle ook begin vuur, en dit sou die volgende blokhuis laat skrik en so aan. Volgens een verslag het so ‘n valse alarm veroorsaak dat dit ‘n malle geskietery afgegee wat oor ‘n afstand van 162 km van een blokhuis na die volgende versprei het, sonder om ‘n enkele Boer te tref (Blockhouses of the Boer War https://www.bwm.org.au/blockhouses.php).
Die Britte was ook verkeerdelik onder die indruk dat hulle veilig binne die blokhuise was – net om te ontdek dat Boer-skerpskutters van ver af deur dieselfde skietgate, wat die Britte gebruik het, kon skiet. Deneys Reitz vertel in sy boek Commando hoe hulle, die vier blokhuise by Okiep met geweervuur en tuisgemaakte bomme aangeval het en die oorlewende Britse soldate in hierdie blokhuise tot oorgawe gedwing het. Die Boere het daarna die dooie soldate binne aangetref wat deur die Boere se koeëls neergevel is. Selfs die watertenk, wat in die middel van die blokhuis gestaan het, is vol gate geskiet.
Die rede hoekom die Britte so dapper kon wees om blokhuise op te rig is, omdat die Boere tydens die guerillafase van die oorlog (vanaf 1900) nie meer kanonne by hulle gehad het nie. ‘n Blokhuis sou nie ‘n kans teen ‘n kanon gehad het nie. Dit het steeds nie die Boere gekeer om bomme op dakke van blokhuise te slinger nie. Manie Maritz, het een keer ‘n bom, wat sowat 10 kg geweeg het, vanuit ‘n donga langs ‘n blokhuis, tot bo-op die dak van die blokhuis gegooi.
Vandag kan ons nog van hierdie wit olifante in ons land sien staan – stille getuies van hoe gretig die Britte was om met geweld die vryheid van ‘n klein maar vasberade volk te vertrap.
Uitgawe 4 – April 2026
Seilskepe
Seilskepe
Seilskepe

De Noord Nieuland in Tafelbaai in 1762. Dit is nie die Dromedaris wat hier uitgebeeld word, soos wat baie mense dink, nie. Kyk na die jong Kaapstad wat daar in die verte lê. Hierdie skildery beeld ‘n toneel meer as ‘n eeu na die koms van die Dromedaris uit.
Oor duisende jare heen het die seilskip al hoe groter, beter en vinniger geraak. Die Egiptenare, Grieke en Romeine het oorlogskepe en handelskepe gebou. Hierdie skepe was met beide seile en roeiers uitgerus. Seilskepe het onafhanklik in die Verre Ooste ontstaan. Van die mees indrukwekkende seilskepe was die katamarans van die Polinesiërs waarmee hele gesinne en hulle makgemaakte diere vanaf Suidoos Asië na eilande regoor die Stille Oseaan versprei het.
Europese lande het skepe begin bou wat oor oseane kon reis wat hulle in staat gestel het om ander kontinente te ontdek. Die Vikings het vanaf die Skandinawiese lande na Engeland, Groenland, Ysland en Newfoundland in Kanada gereis. Christophorus Columbus het honderde jare daarna ‘n vloot skepe vanaf Spanje tot by die Nuwe Wêreld – eers die Karibiese Eilande en later die Amerikas – geneem. Ferdinand Magellaan van Portugal se vloot was die eerste mense wat reg rondom die aarde gevaar het en so fisies bewys het dat die aarde rond is
Holland het van die vroegste tye visserskuite en later vragskepe gehad om goedere heen en weer oor die Noorsee te vervoer, maar het in die Goue Eeu die grootste skeepswerwe ter wêreld gehad. Die Verenigde Oosindiese Kompanjie se vloot van honderde fluite het die speseryhandel van die Ooste oorgeneem.

Fluite was goedkoper om te bou, het meer ruimte gehad om goedere te vervoer en kon deur ‘n kleiner bemanning gevaar word as ‘n oorlogskip. Die fluit het ‘n kenmerkende peervorm in deursnit weens die groter vragruim en het ‘n vlak kiel gehad sodat dit in riviere op kon beweeg en in vlak hawens kon vasmeer.

Uitgawe 5 – Mei 2026
Goudmyne in Suid-Afrika
Goudmyne in Suid-Afrika
Waarookal Britte wêreldwyd aangeland het, het hulle, soos Arabiere en Spanjaarde, vir goud gesoek, en dit was ook so in Suid-Afrika, Noord Amerika en Australië. Die Boerevolk het baie boere, onderwysers, prokureurs en predikante, maar bitter weinig geoloë gehad. Ons moes ons geoloë soos Hans Merensky (hier gebore maar in Duitsland getoë) en Dr Gustaaf Adolf Frederik Molengraaff van Holland invoer. Natuurlik was ons op die agtervoet gevang met die ontdekking van goud en so het ons ons land verloor. Die myne en die land was vanaf 1899 nooit weer in ons hande nie (ten spyte van wat jy van die Nasionale Party se heerskappy van 1948 tot 1994 dink).

Kennis is mag, en ons ly aan ‘n geweldige tekort aan kennis. Dit is skandalig dat mense oorsee meer van ons land weet as wat ons self daarvan weet. Neem nou maar die Vredefort Koepel – het jy al ooit daarvan gehoor en weet jy wat dit is? Weet jy waar die grootste goudrafinadery in die wêreld is? Het jy al van Mapungubwe gehoor en weet jy waar hulle goud vandaan gekom het? Weet jy waar die uraan, wat in die atoombomme wat in Nagasaki en Heroshima gebruik is, vandaan gekom het?
Presies – jy het niks daarvan ooit op skool geleer nie al was dit deel van die grootste gebeurtenisse in wêreldgeskiedenis. Daar gebeur goed onder jou neus sonder dat jy daarvan bewus is. Groot goed en klein goed wat ‘n impak op jou lewe het – soos die padteken hier langsaan. Waar sien mens hierdie teken en wat beteken die ontwerp?
Al die groot goudreserwes in die land was deur Britte ontdek. Alles begin gewoonlik met ‘n prospekteerder wat in ‘n stroompie pan vir goud. Natuurlik sal goud, soos enigiets anders, stroomaf spoel. Dit beteken dat mens lae opgehoopte gouddeeltjies of spoelgoud en selfs goudklonte in holtes verder stroomaf sal vind, en dan is daar natuurlik die brongebied waar mens dikwels kwartsare kry waar die gouddeeltjies uitverweer, wat ook gemyn kan word.

Elke keer as ‘n goudneerslag in Suid-Afrika ontdek is, was daar ‘n toestroming van derduisende desperate werklose mense van regoor die wêreld, veral van Brittanje. Delwerye het in die Wes Kaap, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en die Noordwes Provinsie soos paddastoele verrys. Uiteindelik was daar meer uitlanders – en spesifiek Britte – as Boere in die Transvaal.
Benewens die beperkte goudafsettings by Eersteling Goudmyn naby Makopane in Limpopo wat van 1871 tot 1887 gemyn is en Millwood naby Knysna in die Wes Kaap wat vanaf 1880 tot 1888 gemyn is, was die hooffokus van die myners die goudafsettings van Mpumalanga en die Witwatersrand.
Die goudmyne van Mpumalanga
Na die eerste spoelgoud in riviere rondom Sabie in 1871 ontdek is, is die gebied as die New Caledonian Goldfields geregistreer. Hierdie gebied het mettertyd as MacMac bekend gestaan weens die groot getalle mynwerkers van Skotland wat daar as delwers opgedaag het. Die dorp Pelgrimsrus het in 1873 rondom Pelgrimsspruit verrys toe ongeveer 1500 delwers, hoofsaaklik van Brittanje, op die spoelgoudafsettings wat daar ontdek is, toegesak het.



Verskeie ander goudbronne was in Mpumalanga in die jare wat gevolg het ontdek wat tot die totstandkoming van dorpe soos Barberton in 1884, Steynsdorp en Eureka City in 1885 en Leydsdorp in 1890 gelei het. Benewens Barberton het die ander drie in spookdorpe verander na die delwers na die nog ryker goudneerstettings, wat op die Witwatersrand ontdek is, in die laat 1880’s verhuis het.
Die goudmyn by Pelgrimsrus, wat tot 1971 operasioneel was, het ongeveer 200 ton goud opgelewer terywl die myne rondom Barberton, waarvan drie nog operasioneel is, tot dusver meer as 320 ton goud opgelewer het.
Witwatersrand Supergroep
Die eerste goudneerslag op die Witwatersrand was deur ‘n Britse myner, J.H. Davis, op die plaas Paardekraal, wes van die gebied wat Johannesburg sou word, in 1852 ontdek. Na Davis sy goud aan die tesourie van die Zuid-Afrikaansche Republiek of ZAR vir ₤600 verkoop het, is hy deur die regering van die ZAR gedeporteer in ‘n poging om die ontdekking geheim te hou. Daarna het Pieter Jacob Marais spoelgoud in die Jukskeirivier in 1853 ontdek. Marais was deur die regering van die ZAR tot geheimhouding gesweer in ‘n poging om te keer dat die Britte daarvan uitvind maar dit was van korte duur want in 1884 het Jan Gerrit Bandjes goud op die plaas Vogelstruisfontein ontdek terwyl die broers Fred en Harry Struben goud op die plaas Wilgespruit ontdek het.

Hierdie ontdekkngs was egter oorskadu deur die ontdekking van die Hoofrif in 1886 deur George Harrison (nie die Beatle nie) op die plaas Langlaagte, wat die grootste goudstormloop in geskiedenis ontketen het. Ongeveer 60 000 oorsese myners, hoofsaaklik uit Brittanje, het op die Witwatersrand toegesak toe die goudvelde deur die ZAR geproklameer is. Die feit dat hierdie oormag van buitelanders later hul politieke wil op die ZAR, wat maar 30 000 volwasse manlike burgers gehad het, wou afdwing, het tot die Tweede Anglo-Boereoorlog gelei.
Na die ontdekking van die Hoofrif van die Witwatersrand Supergroep het delwerye al langs die dagsoom verrys en teen die tyd dat die goudveld deur die ZAR in September 1886 geproklameer is, was die hele lengte van 45 km van die dagsoom reeds blootgelê. Hierdie deel van die Witwatersrand Supergroep staan as die Sentraal Rand Goudveld bekend. Prospekteerders het na die weste en die ooste van die Sentraal Rand Goudveld, ander dele van die Witwatersrand Supergroep, wat as die Wes Rand en Oos Rand Goudvelde bekend staan, opgespoor. Dorpe soos Springs, Nigel, Brakpan, Boksburg, Germiston, Johannesburg, Roodepoort, Randfontein, Krugersdorp en Carletonville, het kort na die ontdekking van die goudryke rotslae, soos paddastoele in hierdie drie goudvelde verrys.
Die eerste oopgroefmynwerkers het vroeg al agtergekom dat die geologiese lae, wat die Witwatersrand Supergroep opmaak, meestal teen ‘n hoek van 10 tot 30 grade na die suide hel, alhoewel, die lae met tot 80 grade op die Wes Rand hel. Anders as die spoelgoud, goudklonte en goudare van Mpumalanga, was dit nodig om die gouddraende lae van die Witwatersrand Supergroep met stampmeule fyn te maal en met chemikalieë uit die slik te onttrek.

Die klein delwerye is deur groter mynmaatskappye uitgekoop en die myne was met behulp van gespesialiseerde toerusting en ‘n georganiseerde werksmag bedryf. Die ontwikkeling van ‘n gesofistikeerde infrastruktuur soos spoorwegnetwerk, padnetwerk, betroubare kos- en watervoorsiening en permanente geboue was nodig om die groeiende professionele mynboubedryf te dien. Selfs die Vaaldam was gebou om die groeiende getal mense op die Witwatersrand van water te voorsien. Finansiers, veral dié wat by die diamantbedryf van Kimberley betrokke was, soos Hermann Eckstein, Hans Sauer, George Goch en Cecil John Rhodes het na Johannesburg toe getrek om die mynbedryf daar oor te neem. In 1887 word die Johannesburgse Aandelebeurs – die grootste aandelebeurs in Afrika – gestig, spesifiek om die mynsektor te befonds.

Kort na die ontdekking van die Hoofrif het dit duidelik geword dat die logistiese probleme rondom die uitmyn van die geologiese lae, wat vir kilometers onder die oppervlak inhel, bo die vuurmaakplek van die oudtydse delwerspraktyke was. Prospekteerders het nuwe boortegnieke vanaf 1889 ingespan om te bevestig dat die gouddraende gesteentes etlike kilometers verder na die suide van die dagsoom voorkom. Mynmagnate soos Hermann Eckstein en Cecil John Rhodes het toe die plase suid van die dagsoom begin opkoop om diep skagmyne daar te vestig.
Rotse van die Witwatersrand Supergroep is verder suid in Gauteng, Noordwes en in die Vrystaat ontdek waar dit in ‘n boog rondom die Vredefort Koepel voorkom en myne en dorpe het oral rondom die dagsome daar opgespring. Daar was 68 mynmaatskappye tussen September 1886 en die einde van 1887 op die Witwatersrand geregistreer, waarvan die grootste een Randfontein Estates Gold Mining Company was, wat ongeveer 20 000 mynwerkers in diens gehad het. ‘n Tydperk van oornames het gevolg en so het, na die oorname en samesmelting van sewe kleiner myne, Crown Mines Ltd., die grootste verskaffer van goud in die wêreld geword. Hierdie myn, wat eens 28 000 mynwerkers in diens gehad het, het 1400 ton goud gelewer.

Moderne diepmyn-tegnieke, wat tans wêreldwyd gebruik word, was vir die eerste keer vir die myne op die Witwatersrand ontwikkel en gebruik. Vertikale skagte, wat tot by die gouddraende lae gesink is was vir die eerste keer deur Jubilee Gold Mining Company in 1887 gebruik. Kort daarna het J.B. Robinson vyf skagte op die plaas Langlaagte gesink, wat met sytonnels verbind is, om die Hoofrif met behulp van afbouing te myn. Die diepste myn in die wêreld vandag, is Mponeng Goudmyn (voorheen bekend as Western Deep Levels Goudmyn) naby Carletonville. Hierdie myn is reeds 4 km diep en daar is planne om die myn tot ten minstens 5 km ondergronds te sink.
Die regering van die ZAR het met groeiende kommer na die instroming van uitlanders, veral die Britte gekyk wat al hoe meer aggressief geraak het en stemreg geeis het. Die regering het die gety probeer keer deur om die verkope van dinamiet aan hierdie immigrante swaar te belas, wat teëstand van die mynmagnate ontlok het. Uiteindelik het die mynmagnate, onder leiding van Cecil John Rhodes, saamgesweer en die Jameson inval beplan en gefinansier. ‘n Groep van ongeveer 400 lede van die Rhodes-gefinansierde British South Africa Company polisie en 200 vrywilligers het oor Nuwejaar van 1895–1896 die ZAR binnegeval. Hulle het van Suid-Rhodesië (Zimbabwe vandag), deur Betsjoeanaland (Botswana vandag) onder leiding van Dr. Leander Starr Jameson suidwaarts te perd gery, maar naby Krugersdorp was hulle deur die Boere gestuit. Daar was regsake, skuldigbevindings en tronkstrawwe opgelê. Jameson is na ‘n paar maande uit die tronk in Engeland waar hy aangehou is vrygelaat. Hy was later as die hoof van die British South Africa Company aangestel.
Na die Jameson debakel het Rhodes, wat Kruger gehaat het, beelde van twee leeus aan hom geskenk, wat mens nou nog by Krugerhuis kan sien. Die een slaap en die ander is wakker. Sommige mense dink dat dit ‘n sinistere boodskap van Rhodes aan Kruger was – die Boererepubliek slaap, maar die Britse Ryk is wakker.

Dinge het gou na die Jameson inval vererger tot President Paul Kruger genoop was om op 10 Oktober 1899 oorlog teen Brittanje te verklaar.
Die Britse Ryk het, na die Tweede Anglo-Boereoorlog, wat die duurste oorlog wat hulle tot op daardie tydstip geveg het en ongeveer ₤ 20 Miljard en die lewens van 22 000 Britse soldate gekos het, finaal beheer oor die ZAR en Vrystaat en die goudmyne oorgeneem. Getrou aan die segregasiebeleid van die Britse Ryk, was aparte behuising vir swart mynwerkers opgerig en so het woonbuurtes soos Kliptown en Orlando (wat later woonbuurtes binne Soweto sou word), Thembisa en Katlehong langs bestaande blanke gebiede verrys. Brittanje het, danksy die goudmyne, die rykste land in die wêreld geword, maar mettertyd het multinasionale maatskappye, deur die loop van die 20ste eeu, die myne oorgeneem.
Die opbloei van die goudmyne het ‘n hele omwenteling in die vestiging van mense in die suide van die ZAR teweeggebring. Die bevolking van ongeveer 600 Boere wat in die Witwatersrand gebied gewoon en geboer het, is vinnig deur die duisende inkommers van oorsee verswelg. Meeste het hul plase vir ‘n appel en ‘n ei aan prospekteerders en mynontwikkelaars verkoop, terwyl ander dit gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog verloor het. Voor die ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1886 was die ZAR die tuiste van ongeveer 300 000 Boere en tot ‘n mindere mate ander mense van Europese herkoms, en ongeveer 800 000 swart mense, hoofsaaklik van die Pedi, Tswana, Ndebele, Venda en Tsonga stamme. Binne ‘n jaar na die ontdekking van goud was daar na beraming reeds 7 000 mense, hoofsaaklik Brits wat op die Witwatersrand gevestig het, waarvan ongeveer 3 000 in Johannesburg self gewoon en gewerk het. Die bevolking van die Witwatersrand, maar veral Johannesburg, het vir ‘n paar jaar eksponensieël gegroei, vir ‘n paar jaar tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog gekrimp, maar toe daarna net nog vinniger aangewas.
Die mynbase het ‘n onversadigbare drang gehad om nog meer en nog groter myne te ontwikkel en meer en meer werkers was daarvoor nodig. Hulle het dus in 1904 ongeveer 64 000 Chinese gebonde arbeiders (“indentured labourers” – weliswaar niks minder as ekonomiese slawe van Brittanje nie) in die land ingebring om op die myne te werk. Nadat die regering besluit het om hierdie Chinese in 1910 te repatrieër, het hulle meer swart arbeiders begin werf. Hulle het van wyd en syd van naburige lande soos Mosambiek, maar later van Brits-beheerde gebiede soos Lesotho, Botswana en destydse Rhodesië, honderde duisende migrant-werkers ingevoer, want daar was nie genoeg plaaslike swart arbeiders nie.

Dit is belangrik om hierdie feite te ken, want almal blameer ons vir hierdie gemors omdat ons die sak patats van die Britte in 1948 geërf het – ons het nog steeds nie die myne na 1948 besit nie, maar moes pa staan vir al die sosioekonomiese en politieke gemors wat die Britte vir ons nagelaat het juis om daardie myne te vestig en te bedryf. Die goudmyne was die enkele grootste ding wat met Suid-Afrika gebeur het. Dit het reuse rykdom vir sekere oorsese mense geskep, dit het grootliks tot die ontwikkeling van infrastruktuur in die land en veral die stede en industrieë op die Witwatersrand bygedra, dit het ‘n reuse impak op die mense se vestigingspatrone en die politiese en sosioekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika gehad. Die opbrengs van die goudmyne, en tot ‘n mindere mate die diamantmyne, het die koffers van die Britse Ryk so vol gemaak dat hulle die Eerste en Tweede Wêreldoorloë aanvankik daarmee kon finansier. Myne speel tot vandag toe ‘n groot rol in die politiek en ekonomie van die land.
Die goudindustrie is ook een van die beste voorbeelde van ‘n hulpbronvloek. Desondanks die rykdom wat dit vir sommiges soos die Randlords, internasionale bankiers en Brittanje geskep het, het dit die Suid-Afrikaanse bevolking tot ‘n arbeidersklas afgegradeer. Talle Boere-krygsgevangenes moes na hul terugkeer na Suid-Afrika van die konsentrasiekampe in Ceylon (Sri Lanka vandag) en St. Helena, agterkom dat daar niks van hul plase oor was nie. Hulle het kinders en selfs in sommige gevalle, hul vrouens, in die plaaslike konsentrasiekampe verloor, hul huise is afgebrand of opgeblaas en hul vee is doodgeskiet of met bajonette doodgesteek en hul lande is afgebrand. Hierdie ekonomies-verslane mense het deel van die al hoe groter wordende groep Armblankes geword. In baie gevalle was die enigste uitkoms vir die Armblankes om op die myne te gaan werk. Die politieke oorwinning in 1948 het niks aan hierdie feit verander nie – die politieke landskap was wel deur die Afrikaner oorgeneem, maar nie die myne of industrieë van die land nie – dié was en is nog steeds in die hande van oorsese konglomerate, maatskappye en individue, presies soos wat die situasie vandag nog steeds is.
‘n Hulpbronvloek is wanneer ‘n hulpbron, soos in die geval van olie, goud of ander minerale, veroorsaak dat ‘n land politieke, sosioekonomiese en omgewingsontwrigting beleef wat die plaaslike mense erg benadeel, terwyl dit die plunderaars van daardie land se hulpbronne grootliks bevoordeel. Dit is ook die geval in die Midde Ooste. Niemand sou ‘n duit omgegee het wat daar aangegaan het nie as dit nie vir die olie was nie. Niks gaan oorsese moonthede en individue keer om ander lande se hulpbronne te plunder as hulle dit begeer nie. As die regering nie wil saamwerk nie, sal daardie lande geld of wapens vir die opponente van die regering gee om te sorg vir politieke onstabiliteit en selfs ‘n magsoorname in die land, wat die buitelanders ten gunste is. Dit sal ook verklaar hoekom regerings nie hierdie plunderaars forseer om die skade wat hulle aan die omgewing doen te rehabiliteer nie, omdat hulle kop in een mus met hierdie plunderaars is, maar meer oor die skade wat die mynbedryf aan die ekologie, landbou en mense se gesondheid aanrig in ‘n volgende uitgawe van Beiteltjie.
Uitgawe 6 – Junie 2026
TOEKA SE TYD
Armblankes of te wel Verarmde Boere
Die geskiedenis van die Armblankes is die geskiedenis van die Afrikaner, wat terloops homself (veral in Boererepublieke) nie só ten tye van die Armblanke-kwessie genoem het nie. Die Armblanke-kwessie speel af in die tydperk 1880-1930’s toe meeste Afrikaners hulself nog net as Boere of Cape Dutch geken het. Dit was danksy die werk van die Afrikanerbond en die Afrikaanse Taalbeweging in die Kaapkolonie dat die begrip Afrikaner vroeg in die 20ste eeu gevestig is. Die Afrikanerbond, wat in 1879 in die Paarl gestig is, het die begrip Afrikaner aktief bevorder, maar meer daaroor in ‘n volgende aflewering van Beiteltjie.
Ek gaan in hierdie stuk oor die Armblankes hoofsaaklik na die Verarmde Boere verwys, want mense raak heeltemal opgewerk oor die term blank en dan begin hulle redeneer oor wie nou eintlik armer was – die blankes, bruines of swartes. In elk geval gaan ek nie oor arm Engelse of Portugese in Suid-Afrika praat nie, maar slegs wat met my mense gebeur het. Die term Armblanke is by die Amerikaners geleen wat ‘n soortgelyke probleem met verarmde mense in die suidelike state van die VSA, gehad het – waarskynlik omdat die Carnegie ondersoek na die Armblankevraagstuk in Suid-Afrika (1929 – 1932), Amerikaanse sosioloë ingesluit het.
Wat is ’n Verarmde Boer?
Die term Armblanke het op verskillende tye na verskillende mense verwys, en dit word ook verskillend deur mense van verskillende instellings of groepe gedefinieër en dus wil ek die definisie skerper en meer spesifiek maak deur om na die lot van die Boere, wat later as Afrikaners bekend gestaan het, te verwys. Die N.G. Kerk het hierdie mense gedefinieer as diegene wat nie sonder hulp vir hulle gesin kon sorg nie. In hierdie stuk gaan ek hoofsaaklik kyk na wat met die Boere gebeur het voor, tydens, en veral na die Tweede Anglo Boereoorlog waartydens 10-15 % van die Boerevolk deur volksmoord deur die Britte uitgewis is, 30 000 plase afgebrand is, die diere doodgemaak is en die plaashuise verbrand of opgeblaas is en mense van alle lewensmiddele gestroop was. Dit is dus ‘n baie spesifieke groep mense waarna ek verwys en nie na arm mense oor die algemeen of na arm Afrikaanssprekendes nie.
Alhoewel die getal Boere wat in uiterste armoede geleef het, geweldig tydens en na die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902) toegeneem het (‘n kwart van die bevolking was as armblank in daardie tyd geklassifiseer), was daar reeds lank voor dit Verarmde Boere in die Kaap, Oranje Vrystaat en Transvaal. Daar was verskeie redes vir hierdie verarming en agteruitgang van Boere – in sommige gevalle was dit weens ‘n agterlikheid wat deur die verarmde self veroorsaak is, maar in ander gevalle was dit weens omstandighede wat buite beheer van die slagoffer was.
Die Carnegie ondersoek (1929-1932) het verskeie tipes Armblankes geïdentifiseer. Daar was talle mense wat weens die breuk met die beskawing na die Groot Trek, weens hul afsondering en die gebrek aan skole, biblioteke en leesstof vir hul kinders oor geslagte heen, ten spyte van hul normale intelligensie, ongeletterd en agterlik geraak het. Weens gebrek aan skoling, opleiding, werksgeleenthede en deelname aan die ekonomie, het hulle ook verarm en al hoe meer versukkeld geraak. Dan was daar daardie verarmdes wat weens omstandighede buite hulle beheer, soos die groot griep, droogte, of siektes soos runderpes, perdesiekte, tsetsevlieë en malaria alles verloor het. In sommige gevalle het die broodwinners, wat hul families met die bou van huise en waens en deur boerdery of jag, moes onderhou, weens slaapsiekte of malaria gesterf. Dit het die agtergeblewenes in ‘n benarde posisie in die wildernis agtergelaat met geen vervoer of hulpbronne om weer na die beskawing terug te keer nie. Hierdie mense het oor geslagte net al hoe verder agteruitgegaan, verarm en agterlik geraak.
In die tydperk tussen die totstandkoming van die Boererepublieke en die Tweede Anglo Boereoorlog het dinge vinnig verander. Eerstens was daar die ontdekking van diamante by Hopetown en toe Kimberley vanaf die 1870’s en tweedens was daar die ontdekking van goud in die Laeveld en toe die Witwatersrand vanaf die 1880’s. Skielik het die Boererepublieke se ekonomie vanaf ‘n bestaansboerdery-ekonomie na ‘n geldekonomie verander, want oral waar daar myndorpe was, was plaasprodukte in aanvraag, wat met geld gekoop is. Meeste bestaansboere kon ongelukkig nie by die ekonomiese ontwikkeling aanpas en hierdie geleentheid benut nie, want hulle kon nie met die aanvraag na plaasprodukte tred hou nie. Die meer vermoënde boere het die sukkelende boere se plase opgekoop en ‘n groep ontheemde mense het ander bestaanswyses moes vind en so het die transportryers en bywoners ontstaan.
Die oorlewendes van die Tweede Anglo-Boereoorlog was in dieselfde ekonomiese verknorsing as die Boere wat weens omstandighede buite hul beheer soos droogtes en veevrektes alles verloor het. Weens die feit dat meeste kinders in die Boererepublieke nooit skool toe gegaan het nie, of vroeg die skool moes verlaat, was die vlak van geletterdheid onder die Verarmde Boere baie laag. Bykans niemand het enige opleiding van enige aard gehad nie en kon dus nie met die Engelse in die arbeidsmark meeding nie. Na die verwoesting van die plase tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog, het Verarmde Boere na Johannesburg gestroom met die hoop om as arbeiders werk op die myne en industrieë daaromheen te kry. Hulle was uiters stief deur die Engelsprekendes behandel en het in krotbuurtes en uiterste armoede opgeëindig.
Totius skryf in Trekkersweë oor die lot van ons mense in Johannesburg:
Hulle lewe van ’n hongerloon
in huisies aanmekaar gepas
en jaardjies vol van steenkool-as
Die vroeg’re boere-paradys
Is nou één molshoop, groot en grys
Iemand doen iets.
Die katastrofiese afmetings van verarming en agteruitgang van die Boerebevolking in die Oranje Vrystaat en Transvaal na die Tweede Anglo-Boereoorlog het mense aangegryp en verskeie organisasies is op die been gebring om die Verarmde Boere by te staan.
⦁ Die NG Kerk het reeds ‘n kongres in 1893 (met ander woorde ses jaar voor die Tweede Anglo Boereoorlog) gehou om die probleem van Verarmde Boere aan te spreek.
⦁ Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) is in 1904 gestig met die hoofdoel om verarmde Boergesinne na die Tweede Anglo-Boereoorlog te help. Hulle het die gebrek aan kos, gebrek aan skole en gebrek aan opleiding en werksgeleenthede aangespreek.
⦁ Die Helpmekaarbeweging is in 1915 gestig, om oorspronklik die families van veroordeelde rebelle van 1914 by te staan, maar het later ‘n beweging geword om alle Afrikaners (teen hierdie tyd was die term Afrikaner in gebruik, al was Afrikaans nog nie deur die Britse heersers as amptelike taal herken nie) te ontwikkel en te bevorder. Hulle fokus was veral opvoedkundig, want die beweging het verstaan dat die opvoeding van die Afrikanerjeug die enigste manier was om ‘n permanente oplossing vir die verarming en agteruitgang van die Afrikaner te kry. Met behoorlike skoling en opleiding kon jong Afrikaners tot die arbeidsmark toetree en die volk help ontwikkel en selfstanding maak.
⦁ Die Nasionale Party onder leierskap van Generaal J.B.M. Hertzog, het ook die armoede van die Afrikaner aangespreek en in 1929 Yskor gestig om vir duisende Afrikaners werk te skep. Ongelukkig, weens die ineenstorting van die Amerikaanse ekonomie in 1929, en die gevolglike Groot Depressie, was daar vir jare ‘n negatiewe impak op die wêreldekonomie.
⦁ Die Nasionale Party het werkloosheid verder verlig deur om die verarmde Afrikaner tydelike werke op openbare projekte te gee soos om paaie en damme te bou. Die positiewe nadraai van hierdie werkskepping was dat die infrastruktuur van die land geweldig uitgebrei het, wat bosboustasies, besproeiingskemas en die uitbreiding en onderhoud van die padnetwerk en spoorwegnetwerk ingesluit het.
⦁ Die NG Kerk het in 1927 by die Carnegie-korporasie in New York aansoek gedoen vir ondersteuning in die vorm van befondsing van ‘n ondersoekspan wat kon navorsing doen en raad gee om die armoedevraagstuk in Suid-Afrika die hoof te bied.
Die Carnegie kommissie
Die Carnegie-kommissie is op die been gebring en het in 1929 en 1930 die land deurkruis en ongeveer 50 000 km afgelê om plase, dorpies, skole en stede te besoek en met honderde mense onderhoude te voer. Die span het uit medici, opvoedkundiges, ekonome en sosioloë bestaan. Die skryfster en redaktrise van die Huisgenoot en Jongspan, M.E. Rothmann (M.E.R.), was die enigste vroulike lid van die span wat ingesluit is om die lot van die vrou te midde van hierdie krisis te ondersoek. Hul bevindinge, wat uit 5 verslae bestaan, is in 1932 gepubliseer.
Die kommissie het bevind dat daar minstens 300 000 Armblankes in Suid-Afrika was, of te wel een uit elke ses blankes in die land, waarvan die oorgrote meerderheid – 250 000 – Afrikaners was. M.a.w. ‘n kwart van die Afrikaners was verarm. Die een verslag meld dat meer as helfte van die kinders op skool uit huise gekom het waar hulle nie behoorlike kos of klere gekry het nie.
Die Carnegie Kommissie het bevind dat die armoede onder hierdie mense nie deur hulle eie toedoen veroorsaak is nie, maar deur redes buite hul beheer. Die droogtes, veesiektes en die Verskroeide Aarde beleid van die Tweede Anglo-Boereoorlog het die grootste rolle gespeel in die verarming van die Afrikaner. Daarbenewens was daar ook die verarming wat in die wildernis gebeur het met mense wat te ver van beskawing af getrek het tot waar hulle nie toegang tot opvoedkundige of mediese dienste gehad het nie en sodoende al hoe meer fisies en intellektueel agteruitgegaan het. Hulle het ‘n bestaansekonomie gevolg en was dus van tegnologie, voorrade, opleiding en werksgeleenthede afgesluit en het sodoende erg verarm.
M.E. Rothmann (M.E.R.) het die volgende geskryf:
“Hoe langer hoe meer lyk dit vir my die hele verarmingsproses was die natuurlikste en onvermydelikste ding in die wêreld: ons het as handjievol witmense kans gesien om met die hele tamaai Suid-Afrika te boer… Maar ons het nooit rekening gehou met die reaksie van die veld – die eensaamheid op onsself nie.
“Veral het ons nooit rekening gehou met die uitwerking van daardie invloede op die huisgesin nie. Begryp jou, geen opvoedende invloede van verkeer, lees, omgang met mense, kennis van wêreldontwikkeling nie, baie min van die Kerk, al opvoedingsmiddel vir daardie boerevolk was die huisgesin, d.w.s. was die moeder …
“En daardie moeder moes ook die helfte van die boerdery dra, ag tot vyftien swangerskappe deurmaak, geboorte gee met min of geen hulp … Te veel! Agteruitgang, behalwe van uitsonderings, was onvermydelik …”
Die kommissie het verskeie aanbevelings gemaak waarvan die belangrikste was dat die jeug beter opvoeding moet ontvang, wat beter werksvoorligting op skool, beter onderwys en beter tegniese opleiding insluit. Hulle het ook voorgestel dat mense verstedelik, want daar was nie ‘n toekoms op die platteland nie, en dat ambagte en beroepe die armoedevraagstuk sal oplos.
Die oplossing
Die Volkskongres van 1934 was in Kimberley deur die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad aangebied om die armoedeprobleem en die Carnegie Verslag se bevindinge te bespreek. Die kongres was na die volgehoue pleidooie van Dominee J.D. Kestell, of Vader Kestell soos ons hom genoem het, aangebied. Vader Kestell het geredeneer dat, eerder as om net nog meer regeringshulp in die vorm van aalmoese vir armes uit te deel, maniere gevind moes word waardeur mense hulself kon ophef, sodat hulle onafhanklik van regeringshulp word. Ook dat die Afrikanergemeenskap self verantwoordelikheid vir hul eie armes moes aanvaar en dat die probleem opgelos sou word as die hele volk saamstaan. Die opleiding van maatskaplike werkers en sosioloë wat armoede en werkloosheid kon aanspreek was van uiterste belang.
In 1939 is ‘n Volkskongres in Bloemfontein gehou om die ekonomiese opheffing van die Armblankes te bespreek. Weereens was mense eens dat opheffing eerder as welsyn verarmde Afrikaners sou help. Die verskynsel dat Engelse banke Afrikaners van ekonomiese ontwikkeling uitgesluit het, en hulle dus nie huise kon koop of ondernemings begin nie was bespreek. Die noodsaaklikheid van tegniese opleiding vir die jeug en beurse vir studies was bespreek. Na hierdie kongres is die Reddingsdaadbond, die Ekonomiese Instituut en Volkskas, waar Afrikaners lenings kon aangaan, gestig.
Teen 1950 is die Armblankeprobleem opgelos en die land het ekonomies gegroei wat tot nog meer werksgeleenthede vir almal in die land gelei het. Vanaf die 1930’s het die Afrikaner grootliks verstedelik wat hulle beter toegang tot opleiding, die ekonomie en opheffing gebied het. Die opkoms van Afrikaner Nasionalisme volg daarna en uiteindelik het die Afrikaner sy vryheid gekry, maar meer daaroor in ‘n volgende uitgawe van Beiteltjie.
Ongelukkig is dit nie waar die storie eindig nie. ‘n Volk is soos ‘n liggaam waar elke orgaan en struktuur en sel sy deel vir die welsyn van die geheel moet doen. Die afgryslike werklikheid is dat ons nou weer in hierdie situasie sit waar al hoe meer Afrikaners ekonomies en maatskaplik agteruitgaan soos wat die Afrikaner intellektuele en rykes oorsee emigreer, na die Wes Kaap semigreer en andersins die mense, wat van hulle vir leiding en werksgeleenthede afhanklik is, versaak. Die gevolg is dat ‘n nuwe geslag van duisende werklose, ontheemde, versukkelde Afrikaners ontstaan het wat nou in die duisende plakkerskampe, wat oral soos paddastoele opspring, bly.




