Raaisel.
Hoe slim is jy? Elke maand bied ‘n nuwe raaisel vir kou om op te los.

Buksie Knoffel was by die sirkus waar ‘n gawe sirkusbestuurder vir hom ‘n afgetrede leeu gegee het – hy kon nie meer toertjies doen nie, en wou net eet en slaap. Oppad na sy roeibootjie, loop hy verby ‘n plaas en daar gee ‘n gawe boer vir hom ‘n ou bokram geskenk – die ou bok wou nie meer doen wat bokke doen nie, en wou net eet en slaap. Die boer gee Buksie sommer ook ‘n groot koolkop en verduidelik vir hom dat dit die bok se kos is, maar dat hy dit eers by die huis vir die bok moet gee om te eet.
Buksie stap toe verder na sy bootjie toe waarmee hy oor die rivier moet roei om by die huis te kom. Toe hy by sy bootjie aankom besef hy dat hy ‘n groot probleem het. Sy bootjie is slegs groot genoeg om een van die nuwe items op ‘n slag te vervoer – of die kool, of die bok, of die leeu. Die probleem is egter dat as hy die kool oorneem en die leeu met die bok los, sal die leeu die bok vreet, en as hy eers die bok oorneem en dan die kool, dan sal die bok die kool vreet wanneer hy die leeu gaan haal. In watter volgorde moet Buksie die leeu, die bok en die kool oorneem sodat die een nie die ander vreet as hy nie by hulle is nie?

Die brug-en-lantern raaisel

Die Knoffels is in die knyp. Hulle was op ‘n uitstappie en die donker het hulle ingehaal en hulle moet oor die brug loop om huis toe te gaan. Ongelukkig kan daar slegs twee persone op ‘n slag op die lendelam brug wees, anders breek dit. Nog erger is die feit dat elkeen teen ‘n verskillende spoed beweeg. Maar nog erger as dit, is die feit dat hulle net een lantern het, wat hulle nodig het om in die donker te sien sodat hulle nie van die brug afval nie. Nog die ergste van als is dat die brug net daar vir 20 minute sal wees, vandat hulle begin, voor die vloedwater dit meesleur. Pa Knoffel kan binne ‘n minuut oor die brug stap. Buksie kan dit binne 2 minute doen. Knippe gaan 5 minute vat, maar Oupa Knoffel het ‘n volle 10 minute nodig om oor te stap. Wanneer 2 mense oorstap moet die vinnger persoon teen die spoed van die stadiger een stap. Onthou dat iemand elke keer die lantern na die ander moet terugneem, sodat hulle ook oor die brug kan kom. Help hulle om te besluit in watter orde hulle moet oorstap sodat hulle nie met die brug wegspoel, of van hulle gestrand aan die ander kant van die rivier bly nie.

Die raaisel van die drie sakke naeltjies
Die koopman tel die sakke speserye wat in die vragruim gelaai word, terwyl die bootsman die totale gewig van sy vrag optel nadat elke sak geweeg is. Die skip kan nie meer as 400 ton speserye in sy vragruim dra nie. Die skip lê al swaar in die water en hulle het amper die maksimum lading bereik.
Net voor hulle die laaste sak naeltjies kan inlaai, breek die skaal. Die bootsman se telling staan op 3960 kg. Hy kan dus nog net 40 kg naeltjies inlaai, as hy te veel inlaai, staan die skip die gevaar om te sink met miljoene Gulden se speserye aan boord. Naeltjies is baie waardevol en vir elke kilogram wat hy te min laai, verloor hulle ‘n duisend Gulden.

Hy soek op die dek rond vir ‘n oplossing – en daar kry hy toe drie leë sakke wat hulle voorheen vir die vervoer van naeltjies gebruik het. Die grootste is gemerk 50 kg, die tweede is gemerk 30 kg en die kleinste is gemerk 20 kg. Hoe kan die bootsman die sakke gebruik om presies 40 kg af te meet sonder om die naeltjies op die nat dek uit te gooi of om ‘n ander houer te gebruik?

Die raaisel van die twee myntonnels

Jy is ‘n geoloog wat by ‘n myn werk. Aan die einde van ‘n skof, hoor jy iemand iets in die verbygaan sê dat hulle vandag die grootste goudaar ooit in die diepste deel van die myn gevind het en jy besluit om ondersoek in te stel. Ongelukkig is daar zama zamas wat ‘n deel van die myn oorgeneem het en dit is lewensgevaarlik om in daardie gekaapte deel van die myn in te gaan.
Jy kom op die onderste vlak van die myn aan en sien twee tonnels. Jy weet nie watter een na die gekaapte deel van die myn toe loop nie en watter een die toegang na die groot goudaar is nie. Elke tonnel word deur ‘n mynwerker bewaak. Een van hulle werk waarskynlik saam met die zama zamas. Die ander een is waarskynlik een van jou mense. Jy weet die zama zama gaan vir jou lieg en die ander een gaan die waarheid praat, maar jy weet nie wie is wie nie. Jy weet ook dat die zama zamas die goudaar in die hande sal wil kry en jou eerder sal wil stilmaak as om jou toe te laat om eerste by die goudaar uit te kom. Jy mag net een vraag vra voor humeure opvlam en dus moet jy jou woorde reg kies. Watter vraag moet jy vra om die regte tonnel te kies?

Die raaisel van die 12 stawe goud

Jy wil in goud belê omdat die waarde van geld so verwater, maar jy weet nie wie om te vertrou nie. Jy is ook bewus van ‘n skelmstreek waar bedrieërs ‘n holte die middel van ‘n goudstaaf uitboor om dan gesmelte lood in die holte te giet en daarna die gat met gesmelte goud op te vul. Dus lyk dit soos ‘n soliede staaf goud, maar dit weeg effens swaarder as ‘n normale staaf goud.
Jy het ‘n ou balanseerskaal, maar die gewigte wat oorspronklik daarmee saamgekom het is al lankal weg. Jy kan dus net twee voorwerpe of groepe voorwerpe se gewig met mekaar vergelyk.
Iemand wil 10 goudstawe aan jou verkoop, maar jy het uitgevind dat een van die stawe vervals is en jy moet uitvind watter een dit is. Wat is die minimum aantal weegpogings wat jy nodig het om uit te vind watter een vervals is?


