Kom Speel Saam.
Leer elke maand meer van tradisionele speletjies en hoe om dit te speel
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Albasters
Niemand weet waar en wanneer albasters ontstaan het nie. Daar was albasters in Egiptiese en Romeinse ruïnes ontdek, dus is albasters ten minstens duisende jare oud. Die woord albaster is afkomstig van die mineraal alabaster wat ’n tipe gemetamorfiseerde gips is. Die woord marble is afkomstig van Latynse woord vir marmer. Aggie, een van die sinonieme vir albaster in Engels, is afgelei van die woord agate of agaat in Afrikaans. Albasters is vir duisende jare uit alabaster, marmer en agaat gemaak.

Toe ek op Laerskool Delville in Lambton in Germiston was, het die speelgrond van die kinders gedurende pouses gewemel. Ons het nie rondgestaan en oor TV programme gesels nie, want daar was nie TVs nie. Ons het nie oor rekenaarspeletjies gepraat nie, want daar was nie rekenaars nie. Ons het nie op selfone na nonsens gekyk en selfoonspeletjies gespeel nie, want daar was nie selfone nie. Ons het egter aanmekaar gespeel en soms baklei, maar meestal gespeel – net soos in Bruegel se skildery hieronder. Daar was ’n rondgejaery, vroteiertjie, blindemol, giffie, kennetjie en elke nou en dan bok-bok staan styf (totdat dit verbied word, omdat kinders se nekke beseer kan word), maar volgende jaar speel ons maar weer. Daar was ook sulke speletjie-seisoene wanneer seuns karretjies skool toe bring, of albasters, of tolle – en dan speel almal dit vir so ’n maand of twee, voor ’n nuwe speletjie oorhand kry.

Destyds was winter altyd albastertyd op Delville Laerskool. Daar was ’n laning dennebome binne die skoolwerf wat al langs die noordelike grensdraad gestaan het. Net duskant die laning was daar ’n lae klipmuurtjie van ongeveer 50 cm hoog. Dit het lekker sitplek regdeur die jaar gebied, maar gedurende die wintermaande – voor en na die wintervakansie – het ons dit vir albasterspeel gebruik. Ons het die tradisionele kringetjie op die grond met albasters binne-in gehad wat jy met jou ghoen moes uitskiet. Hiervoor het jy die groot glasghoen wat in elke sakkie albasters gekom het gebruik, maar aainies (koeëllaers of “ball bearings”) was verban want aainies het gate in die glasalbasters gepik.
Die lekkerste spel waarvoor ons skool bekend was, was die vuurhoutjiedosie-omgooi speletjie. Ons het nie ’n naam vir die speletjie gehad nie. Daar was ’n gooier en ’n verdediger. Die verdediger het op die muurtjie gesit met ’n vuurhoutjiedosie op die grond tussen sy voete wat so 30 cm uitmekaar geplaas is. Die grond voor die vuurhoutjiedosie was versigtig gelykgemaak. Die aanvaller het dan voor ’n streep so 2 meter weg van die dosie gestaan van waar hy die dosie met ’n albaster moes omgooi.

Ek het nog nooit elders van hierdie speletjie gehoor nie en ek vermoed dit was uniek aan Laerskool Delville en was dus ’n nuwe bydrae tot ’n veel ouer kultuur. Natuurlik is vyf tot twaalf-jarige seuns nie taalpuriste nie en die spelers het voor hulle gespeel het, gevra: vanna of keepa? Dit was ons slenterwoord-verbuigings van die woorde “fun” en “keep”. Met ander woorde die spelers het voor die tyd ooreengekom of die albastergooiery net vir die pret of ernstig gaan wees. As jy ernstig kompeteer dan kry jy twee albasters van die verdediger terug as jy die dosie omgooi. As jy die dosie mis, dan hou die verdediger die aanvaller se albaster. As jy egter vir die pret speel dan kon jy jou albaster terugkry as jy misgegooi het en as jy die vuurhoutjiedosie raakgegooi het, sou die verdediger slegs jou albaster teruggegee het. Daar was ook ’n ander speletjie genaamd aaidrops, waar die verdediger ’n albaster op die grond gesit het. Die aanvaller het met sy voete weerskante daarvan gaan staan en dan ’n albaster vanaf sy oog op die ander albaster laat val. As die aanvaller se albaster getref het, was beide albasters syne, en as hy gemis het, was beide albasters die verdediger s’n.
Honderde seuntjies het elke jaar albaster gespeel en sommige was so goed met die spel dat hulle naderhand met bultende twaksakkies, en sommige selfs meelsakkies vol albasters rondgeloop het, soos hulle die minder ervare albasterspelers se voorraad albasters gestroop het. Sommige spelers was so berug dat verdedigers eenvoudig nie met hulle wou keepa nie. Daar was natuurlik dikwels meningsverskille oor ongelyke speelvlakke, klippies in dosies om dit swaarder te maak sodat dit nie omslaan nie – wat as oortreding beskou was. Daar was ook dikwels geskille oor swak geheues rondom die vanna of keepa ooreenkoms en wanneer die verdediger nie enige albasters oor het om die aanvaller te vergoed na dié sy dosie omgegooi het nie. Albasters is meer as ’n spel – dit verg vaardigheid, onderhandeling, selfgelding, kommunikasie en rekeningkunde – dit is ’n kultuur.
In Laerskool Delville se geval was dit ’n kultuur. Die skoolraad het eendag, omtrent 50 jaar gelede, besluit om die dennebome af te kap, die muurtjie af te breek en die skoolgrond, waar ons albasters en giffie gespeel het, met ’n sementblad te bedek. Die res van die skoolgrond was met gras beplant en in twee rugbyvelde omskep – waarop kinders nie mog speel nie, mits hulle dit verniel. So het albasters – saam met giffie en die kol kleigrond waaruit ons klei vir kleiossies gegrawe het – uit die ervaringsveld en kultuur van die kinders van daardie skool verdwyn en so het “voortuitgang” by die skool ’n ses duisend jaar oue tradisie vir die mense van Lambton vir altyd vernietig. Kultuur wat oor dekades, eeue en milennia gevestig was, kan in een geslag vernietig word.

’n Tradisionele alabasterspeletjie

Elke speler moet 10 – 15 albasters en ’n ghoen hê. Hierdie speletjie het nie ‘n vasgestelde getal spelers nie, maar dit werk beste as daar 2 – 4 spelers is. Die ghoen is die groot albaster wat saam met sakkies albasters verkoop word. Mens kan egter, soos in die ou tyd, net ’n gewone albaster gebruik om mee te skiet. Moenie koeëllaers (aainies) gebruik nie. ‘n Aainie skiet baie lekker, maar maak kepe in die albasters, en kan selfs ‘n albaster stukkend skiet.
Teken ’n sirkel op die grond – dit wil sê as jy nog grond iewers kan kry wat nie met gras beplant is of met sement uitgeplavei is nie. Mens kan seker ’n sirkel met kryt op sement teken. Hierdie sirkel moet ongeveer 40 cm tot 1 m (hoe meer albasters mens gebruik, hoe groter moet die sirkel wees) in deursneë wees.
Elke speler moet sy albasters binne-in die sirkel plaas. Soms plaas die spelers hulle albasters sommer in ‘n bondel in die middel van die sirkel, maar spelers kan ook hulle albasters in rye, soos die speke van ’n wiel, of in ander

patrone binne die sirkel plaas.
Die spelers neem nou beurte om die albasters uit die sirkel met hulle ghoen te skiet. Die spelers moet van ’n posisie van ongeveer 1 m van die ring af skiet. Jy mag oor die 1 m posisie leun, maar jou voete of knieë mag nie nader as dit aan die sirkel wees nie. Jou hande mag ook nie binne of bo-oor die sirkel wees nie. Die skieter kan
rondom die sirkel loop om die beste posisie te kry om vandaan te skiet.
Die skieter mag al die albasters, wat uit die sirkel geskiet word, hou. As die albaster nie uit die kring geskiet word nie, mag die skieter dit nie vat nie. Skieters mag natuurlik hul eie albasters ook uitskiet. Elke skieter kry slegs een skietbeurt, maar as die ghoen in die sirkel land en daar bly, en nie uitrol nie, mag die skieter nog ’n skietbeurt kry. As die skieter mis, dan word daardie skietbeurt verbeur en dan is dit die volgende speler se beurt om te skiet.
Die speletjie hou aan tot die laaste albaster uit die kring geskiet is. Die wenner is die speler met die meeste albasters. Die spelers hou natuurlik hul eie ghoens.


Uitgawe 2 – Februarie 2026
Maak jou eie windmeultjie
Met ‘n windmeultjie kan mens sien of die wind waai of nie. Jy kan natuurlik jou eie wind maak deur om met jou windmeultjie rond te hardloop of dit deur die lug swaai om te sien hoe dit draai.
Benodigdhede:
Stuk papier
Stokkie
Duimspyker
Sker
Potlood
Lineaal

Dit is belangrik dat jy stywe papier gebruik, of dun papier soos geskenkpapier of gekleurde papier op ligte karton plak, anders vou die vinne agtertoe en haak aan die stokkie vas wanneer die wind waai.
As jy van ‘n uitdaging hou, kan jy ‘n windmeultjie met meer as vier vinne maak deur om die papier seskantig of agtkantig te sny en dan meer as 4 snitte (soos 6 of 8) te maak, en dus soveel vinne te maak.

Jy kan ook geskenkpapier in plaas van gewone papier gebruik om ‘n mooi bont windmeultjie te maak.
Jy kan ook vier kleiner papiervierkante van verskillende kleure op ‘n groter vierkantige vel papier plak om verskillende kleur vinne te maak.
Vir jou gerief het ek ‘n blok met verskillende kleure gedruk. Druk hierdie bladsy op ‘n A4 grootte papier uit en knip dit uit om dit vir jou windmeultjie te gebruik. Laat my weet watter kleur sien jy as jou windmeultjie baie vinnig draai.







Uitgawe 3 – Maart 2026
Maak ‘n Toktokkie


Benodigdhede (tradisioneel):
Garetolletjie van hout,
Twee stokkies (25 mm en 80 mm),
Stukkie kers (20 mm lank),
Rekkie,
Kort spykertjie en ‘n hamer.


Maak so:
Slaan die spykertjie in die een kant van die tolletjie. As jy nie ‘n houttolletjie in die hande kan kry nie, maar ‘n plastiektolletjie, druk ‘n houtjie in een van die gaatjies en wig die spykertjie daarteen vas.
Maak die gaatjie in die kers versigtig groter met behulp van ‘n klein skroewedraaier. Moenie te vinnig werk nie anders breek die stukkie kers.
Druk die rekkie deur die gaatjie en pen dit met die kort stokkie aan die kant met die spykertjie vas.

Druk die ander punt van die rekkie deur die gaatjie in die stukkie kers en druk die lang stokkie deur die lus van die rekkie aan die ander kant van kers. Jou toktokkie is nou klaar.
Wen die rekkie met behulp van die lang stokkie op en sit jou toktokkie op die vloer of buite op ‘n plat stuk grond en sien hoe jou toktokkie hardloop! Selfs die een van plastiek werk.
Uitgawe 4 – April 2026
KOM SPEEL SAAM
Maak ’n seilbootjie
Ek gaan jou wys hoe om ‘n eenvoudige bootjie te maak wat as badspeelding kan dien en wat klein kindertjies sal geniet, en ‘n groter bootjie wat op ‘n visdammetjie of swembad sal seil.
Benodigdhede:
Vel papier (selfs koerantpapier sal werk)
Afvalplankies
Rondhout vir die mas (kies self die dikte wat by die grootte
van jou bootjie sal pas)
Stukkies lap, lyn en naald en gare vir die seile
Binddraad
Portretogies
Leë blikkie (verkieslik ‘n plat visblikkie)
Brons of koperskarniertjie en skroefies
Koue lym
Gewiggie: sinker, dakwassers of groot moer onder aan die bootjie om te keer dat dit omslaan
Pratley Putty
Vernis, kwas en terpentyn (om die kwas te was).
Gereedskap:
Hamer
Saag
Rasper, vyl en skuurpapier
Boor
Tang
Blikskêr of fris skêr wat
deur blik kan sny
Potlood
Wasgoedpennetjies
Bootjie 1: Maak so:

Kyk hoe groot jou plankies is en werk volgens dit die grootte van jou bootjie uit. Ek het ‘n stukkie daklat gekies. Sit dit op jou papier en trek die buitelyn af. Jou boot se romp moet binne daardie afmetings val. Meet en trek ‘n streep in die middel lengtegewys oor die papier.

Teken ‘n mooi ronding op die een helfte van die papier wat met ‘n skerp punt voor op die vou eindig. Die sye van jou boot kan maar reguit wees, buiten as jy ‘n kranige kunstenaar is ‘n mooi egalige kurwe kan teken – dit is moontlik om so ‘n bootjie te maak, maar dit verg net meer rasper- en vylwerk om dit behoorlik af te rond.


Vou die papier langs die middelstreep en knip die patroon op die potloodstreep uit. Vou die patroon oop en plaas dit op jou plankie. Gebruik die patroon om dit op die plankie oor te dra.


Saag nou so goed as wat jy kan die hout aan die buitekant van die vorm af. Die vorm gaan nou puntig en grof wees totdat jy dit glad rasper en vyl en skuur.


Nou het jy die romp van jou bootjie. Jy kan hier stop met die kante wat vertikaal af is. Mens kan selfs nou wieletjies op sit as jy ‘n speelding wil maak wat ‘n kleuter agter hom kan aantrek met ‘n toutjie.

Of jy kan die romp verder afrasper en met ‘n vyl en skuurpapier glad skuur om ‘n ronder en meer vaartbelynde romp te maak. Slaan met ‘n spyker ‘n moer, wassers of sinker in die middel onder die romp vas, of boor ‘n holte om die gewiggie met Pratley Putty daarin vas te plak.

Maak die mas: boor ‘n gaatjie (so dik soos jou stukkie rondhout) – 10 tot 20 mm diep in die middel van die bokant van die romp. Die mas moet omtrent dieselfde lengte as die bootjie wees plus dan 10 tot 20 mm vir die deel wat in die gaatjie moet pas. Sit ‘n bietjie koue lym in die gaatjie en druk die mas in die gaatjie.

Maak die seile: knip die lappe in die gewenste vorm en grootte uit. Werk lyn in die buitekantse soompies van beide seile vas. Maak ‘n lang dun slopie op die hoofseil se vertikale kant en trek dit oor die mas. Werk ‘n stukkie lyn in die vertikale soom van die kleiner seil vas om dit bo en onder aan die mas vas te bind. Bind die seile se buitenste lyne se onderpunte aan voor en agter aan portretogies op die romp vas.

Bootjie 2: Maak so
Hierdie bootjie gaan groter as Bootjie 1 wees en dit moet op water met ‘n ligte bries kan seil. Kies ‘n stuk afvalhout van tussen 200 en 300 mm. Ek het twee stukke afvalhout – een van 240 cm lank en ‘n tweede van 210 mm lank gekies. Beide stukke was 90 mm breed en 35 mm dik. Dit is egter nie ‘n vaste reël nie – jou bootjie kan eintlik enige grootte wees.


Trek die patroon van die skip op dieselfde manier af as wat in die deel oor Bootjie 1 beskryf is. Lym die boonste en onderste planke aanmekaar vas – behalwe as jy van die staanspoor ‘n stuk hout van die regte dikte gekies het. Saag die vorm uit en rasper vyl en skuur jou bootjie tot dit die regte vorm het.

Boor ‘n holte in die middel van die onderste oppervlakte van die romp vir die gewig wat jy daarin met Pratley Putty gaan vasplak. Boor ‘n gat van so 10 – 20 mm diep en so breed soos die rondhout wat jy vir die mas gaan gebruik, in die middel van die dek.

Maak die mas: saag of sny die mas dieselfde lengte as die bootjie plus 30-40 mm. Sit gom in die gat in die middel van die dek en druk die mas daarin.
Maak die dwarslat: saag of sny die dwarslat – dit moet ook dieselfde lengte as die bootjie wees. Rol ‘n stukkie binddraad rondom die dwarslat, 4 mm links van die middel, maak ‘n lussie wat om die mas gaan pas en rol nog ‘n stukkie rondom die dwarslat 4 mm regs van die middel. Pas die lussie bo-oor die mas en skuif dit tot so 20 mm af van die bopunt. Nou is daar ‘n stukkie mas wat jy vir ‘n vlaggie kan gebruik.

Maak die seil: knip ‘n stukkie lap so breed soos die dwarslat, en so lank soos die mas wat bo die dek uitsteek uit. Werk die boonste rand om die dwarslat vas en werk ‘n stukkie tou in die onderste soom van die seil vas. Dit gaan jy gebruik om die onderpunte van die seil aan die romp met behulp van die portretogies agter op die dek vas te bind.


Maak ‘n roer van ‘n stukkie binddraad, ‘n brons of koper skarniertjie en ‘n stukkie blik. Slaan eerste die pennetjie uit die skarnier en druk die draad daardeur. Buig die draad soos in die foto. Sny dan ‘n stukkie blike uit jou blikkie en slaan dit plat. Buig en rol die rante om die draad soos in die foto.
Die enigste deel van die roer wat regtig in die water werk is die deel wat onder die romp uitsteek. Die ander oorweging wat jy in gedagte moet hou is dat die roer wat onder die romp uitsteek gaan verhoed dat jy die bootjie iewers op ‘n plat vlak kan neersit. Ek het hierdie roer ontwerp dat jy dit kan optrek wanneer die bootjie iewers op ‘n rak moet plat staan, maar dat dit kan afsak as die bootjie in die water gesit word. Vernis jou bootjie sodat dit waterdig is.
Jou bootjie is klaar! Neem jou bootjie na ‘n dammetjie (wat nie diep genoeg is dat jy daarin verdrink nie) op ‘n dag wat daar ‘n briesie (nie ‘n sterk wind) waai.



