Hoesê?

Leer elke maand nuwe Woorde en Uitdrukkings om jou woordeskat te groei.

Uitgawe 1 – Januarie 2026

Agaat is ’n tipe klip wat uit lae van verskillende kleure bestaan.  Hierdie baie mooi klip was vanaf die Antieke tye gebruik om juweliersware, ornamente en albasters van te maak.

Alabaster is nie ’n woord wat na spesifieke tipe klip verwys nie, maar word gewoonlik gebruik om sekere sagte gesteentes soos gips of kalsiet, wat lagies van twee verskillende kleure besit te beskryf.  Omdat dit so maklik is om te kerf en te poleer was alabaster reeds vir duisende jare gebruik om beeldtjies, juweliersware en albasters (vandaar die woord albaster) te maak.

Beeldetuin is ’n tuin vol beelde wat veral by die paleise van baie ryk mense soos hertoë, prinse en konings was.  Dit was veral populêr in die Renaissance.  Danksy die feit dat hierdie mense kunswerke van vorige beskawings soos die Grieke en die Romeine versamel het, het hierdie beelde so bewaar gebly in ’n tydperk voor daar museums was.

Brandsolder is die laag van klei, en in sommige gevalle bakstene, wat bo-oor ’n riet of plankplafon gelê was.  Die brandsolder was brandbestand en het gekeer dat die mense in die huis verbrand as die grasdak van die huis aan die brand raak en bondels brandende gras na onder val.  Dit was ’n algemene kenmerk van ou Kaapse huise.

Essie is ’n klein ysterraamwerk wat van stewige yster gesmee is en in vuurherde of op oop vure gebruik was.  Essies bestaan gewoonlik uit ’n driehoekige raam met drie pootjies wat mens tussen die kole staan maak.  Die boonste driehoekige raam is breed genoeg vir ’n pot of ketel om op te staan.  Ons voorsate het so hulle kos op kole gaargemaak.

Graan sluit in: rys, koring, mielies, sorghum, gars, rog en hawer, wat mense duisende jare gelede uit wilde grasse veredel het. Graan is die stapelvoedsel van meeste mense op aarde.

Kapel is ’n kleiner deel van ‘n kerk of ’n kamer in ‘n gebou soos ’n tronk, hospitaal of skool waar Christene bid, uit die Bybel voorlees, sing of soms kerkdienste hou.

Kaskenades verwys na uitbundige kinderpret of speelse gedrag veral van kinders.

Kiestande is die tande agter die slagtande.  Hierdie tande word gewoonlik deur soogdiere gebruik om kos mee fyn te kou.  Die kieste keer dat die kos, wat deur die kiestande gekou word, by die mond uitpeul.  Kiestande het gewoonlik knobbels of riwwe op wat help om die kos fyn te maal.  Kiestande is die versamelnaam vir maaltande en voormaaltande.

Knaagdiere is soogdiere met twee skerp snytande in die bokaak en nog twee in die onderkaak.  Hulle het ook kiestande om mee te kou maar geen slagtande.  Meeste knaagdiere word deur muise en rotte verteenwoordig, maar daar is ook baie ander vanaf die marmotte, blesmolle, hamsters en eekhorings, tot die grotes soos ystervarke, bewers en capybaras.  

Makgemaak is ’n ander woord vir domestiseer. Diere, wat oor eeue, selfs duisende jare deur mense uitgekies is vir hulle nuttige eienskappe, begin naderhand anders te lyk en op te tree as hulle wilde voorsate in die natuur.  Beeste kom van die Eurasiese oeros af, maar lyk al heelwat anders, want beeste is kleiner en minder aggressief maar het meer vleis en meer melk vir hulle grootte as hulle voorsate.  So het die mens ook skape wat meer vleis en meer wol as hulle wilde voorsate het geteel, en so het ons honde uit wolwe geteel wat minder wreed en makker as wolwe is.  Soms is daar diere, soos muise en rotte, wat saam met mense leef, wat ons nie gekies het nie, maar wat ons huise gekies het om in te bly en het so by ons gewoontes en omgewing aangepas.

Marmer is ’n tipe klip wat gewoonlik wit is, maar dit kan ook grys strepe of vlekke in hê.  Marmer word dikwels vir plaveisel, muur- en vloerteëls gebruik.  Omdat dit sagter as meeste ander tipes klip is, kan dit met beitels en raspers gevorm en daarna glad gepoleer word om pilare, handreëlings en versierings te vorm wat in geboue gebruik word. Marmer was ook vir duisende jare deur, onder andere, Egiptenare, Grieke en Romeine gebruik om beelde van te kerf.  Albasters was ook in die verlede uit marmer gemaak en dit is die rede hoekom Engelse dit marble, die Engelse woord vir marmer, noem.

Roofdiere is diere wat ander diere jag om te eet.  Dit is anders as aasdiere wat ook vleis eet, maar gewoonlik nie die prooidier doodbyt nie, maar die vleis van diere wat reeds deur ’n roofdier doodgemaak is, eet.  Roofdiere en aasdiere is beide vleisvreters.

Slagtande is die twee lang, skerp tande agter die snytande.  In meeste soogdiere steek die slagtande verder uit as die res van die tande voor en agter dit.  Roofdiere gebruik die slagtande om hulle prooi dood te byt.  Dikwels sal plantvreters soos seekoeie en zebras hulle slagtande gebruik om hulself teen aanvallers te beskerm of kompeteerders te byt. 

Snytande is die voorste tande in ’n soogdier se mond.  Die getal snytande wissel van groep na groep.  Knaagdiere het byvoorbeeld twee snytande in hulle bokake en twee in hul onderkake.  Hase het weer vier snytande (twee kleintjies agter die twee grotes) in hulle bokake en twee in hul onderkake.  Dassies het, net soos olifante, twee snytande in hulle bokake, terwyl hulle vier snytande in hulle onderkake het. Mense het, net soos ape, vier snytande in hulle bokake en vier in hulle onderkake.  Honde en katte het ses snytande in hulle bokake en ses in hulle onderkake.  Snytande word gebruik om mee te hap of ’n prooidier vas te gryp.

Soogdiere is diere wat hulle kleintjies soog.  Met ander woorde die moederdier het melkkliere en die babas drink melk van haar.  Hulle is ook warmbloedig, en het hare, al is daar min daarvan op dolfyne en walvisse sigbaar.  Die kleinste soogdiere is die wimperspitsmuis en die Thaise varkneusvlermuis wat maar ongeveer 2 gram weeg en in ’n vuurhoutjiedosie kan pas, en die grootste soogdier is die blouwalvis wat tot 30 m lank kan word en tot 180 000 kg weeg.

Swart Dood is die algemene naam vir builepes wat tussen 1346 tot 1353 ongeveer 70 miljoen mense in Europa (ongeveer helfte van die mense wat in daardie tyd in Europa was) se lewens geëis het.  Die siekte was veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis, wat deur middel van die rotvlooi van rotte na mense oorgedra is.

Renaissance (“hergeboorte” in Frans) verwys na die tyd na die Middeleeue in Europa van die 14de tot die 17de eeu.  Hierdie tydperk word gekenmerk aan die herlewing en ontwikkeling van wetenskap, musiek en kuns.

Ruïnes is die oorblyfsels van ou vervalle geboue.

Selfversorgend is die woord wat mense wat hulself op verskillende gebiede kan versorg, beskryf.  Hierdie mense sal byvoorbeeld hulle eie kos maak en preserveer, hulle eie huise bou en hulle eie klere en voertuie maak.  Die Voortrekkers was selfversorgend.

Uitgawe 2 – Februarie 2026

Hoesê?

Woorde en Uitdrukkings

Uitgawe 3 – Maart 2026

Hoesê?

Woorde en Uitdrukkings