Hoesê?
Leer elke maand nuwe Woorde en Uitdrukkings om jou woordeskat te groei.
Uitgawe 1 – Januarie 2026
Agaat is ’n tipe klip wat uit lae van verskillende kleure bestaan. Hierdie baie mooi klip was vanaf die Antieke tye gebruik om juweliersware, ornamente en albasters van te maak.
Alabaster is nie ’n woord wat na spesifieke tipe klip verwys nie, maar word gewoonlik gebruik om sekere sagte gesteentes soos gips of kalsiet, wat lagies van twee verskillende kleure besit te beskryf. Omdat dit so maklik is om te kerf en te poleer was alabaster reeds vir duisende jare gebruik om beeldtjies, juweliersware en albasters (vandaar die woord albaster) te maak.
Beeldetuin is ’n tuin vol beelde wat veral by die paleise van baie ryk mense soos hertoë, prinse en konings was. Dit was veral populêr in die Renaissance. Danksy die feit dat hierdie mense kunswerke van vorige beskawings soos die Grieke en die Romeine versamel het, het hierdie beelde so bewaar gebly in ’n tydperk voor daar museums was.
Brandsolder is die laag van klei, en in sommige gevalle bakstene, wat bo-oor ’n riet of plankplafon gelê was. Die brandsolder was brandbestand en het gekeer dat die mense in die huis verbrand as die grasdak van die huis aan die brand raak en bondels brandende gras na onder val. Dit was ’n algemene kenmerk van ou Kaapse huise.
Essie is ’n klein ysterraamwerk wat van stewige yster gesmee is en in vuurherde of op oop vure gebruik was. Essies bestaan gewoonlik uit ’n driehoekige raam met drie pootjies wat mens tussen die kole staan maak. Die boonste driehoekige raam is breed genoeg vir ’n pot of ketel om op te staan. Ons voorsate het so hulle kos op kole gaargemaak.
Graan sluit in: rys, koring, mielies, sorghum, gars, rog en hawer, wat mense duisende jare gelede uit wilde grasse veredel het. Graan is die stapelvoedsel van meeste mense op aarde.
Kapel is ’n kleiner deel van ‘n kerk of ’n kamer in ‘n gebou soos ’n tronk, hospitaal of skool waar Christene bid, uit die Bybel voorlees, sing of soms kerkdienste hou.
Kaskenades verwys na uitbundige kinderpret of speelse gedrag veral van kinders.
Kiestande is die tande agter die slagtande. Hierdie tande word gewoonlik deur soogdiere gebruik om kos mee fyn te kou. Die kieste keer dat die kos, wat deur die kiestande gekou word, by die mond uitpeul. Kiestande het gewoonlik knobbels of riwwe op wat help om die kos fyn te maal. Kiestande is die versamelnaam vir maaltande en voormaaltande.
Knaagdiere is soogdiere met twee skerp snytande in die bokaak en nog twee in die onderkaak. Hulle het ook kiestande om mee te kou maar geen slagtande. Meeste knaagdiere word deur muise en rotte verteenwoordig, maar daar is ook baie ander vanaf die marmotte, blesmolle, hamsters en eekhorings, tot die grotes soos ystervarke, bewers en capybaras.
Makgemaak is ’n ander woord vir domestiseer. Diere, wat oor eeue, selfs duisende jare deur mense uitgekies is vir hulle nuttige eienskappe, begin naderhand anders te lyk en op te tree as hulle wilde voorsate in die natuur. Beeste kom van die Eurasiese oeros af, maar lyk al heelwat anders, want beeste is kleiner en minder aggressief maar het meer vleis en meer melk vir hulle grootte as hulle voorsate. So het die mens ook skape wat meer vleis en meer wol as hulle wilde voorsate het geteel, en so het ons honde uit wolwe geteel wat minder wreed en makker as wolwe is. Soms is daar diere, soos muise en rotte, wat saam met mense leef, wat ons nie gekies het nie, maar wat ons huise gekies het om in te bly en het so by ons gewoontes en omgewing aangepas.
Marmer is ’n tipe klip wat gewoonlik wit is, maar dit kan ook grys strepe of vlekke in hê. Marmer word dikwels vir plaveisel, muur- en vloerteëls gebruik. Omdat dit sagter as meeste ander tipes klip is, kan dit met beitels en raspers gevorm en daarna glad gepoleer word om pilare, handreëlings en versierings te vorm wat in geboue gebruik word. Marmer was ook vir duisende jare deur, onder andere, Egiptenare, Grieke en Romeine gebruik om beelde van te kerf. Albasters was ook in die verlede uit marmer gemaak en dit is die rede hoekom Engelse dit marble, die Engelse woord vir marmer, noem.
Roofdiere is diere wat ander diere jag om te eet. Dit is anders as aasdiere wat ook vleis eet, maar gewoonlik nie die prooidier doodbyt nie, maar die vleis van diere wat reeds deur ’n roofdier doodgemaak is, eet. Roofdiere en aasdiere is beide vleisvreters.
Slagtande is die twee lang, skerp tande agter die snytande. In meeste soogdiere steek die slagtande verder uit as die res van die tande voor en agter dit. Roofdiere gebruik die slagtande om hulle prooi dood te byt. Dikwels sal plantvreters soos seekoeie en zebras hulle slagtande gebruik om hulself teen aanvallers te beskerm of kompeteerders te byt.
Snytande is die voorste tande in ’n soogdier se mond. Die getal snytande wissel van groep na groep. Knaagdiere het byvoorbeeld twee snytande in hulle bokake en twee in hul onderkake. Hase het weer vier snytande (twee kleintjies agter die twee grotes) in hulle bokake en twee in hul onderkake. Dassies het, net soos olifante, twee snytande in hulle bokake, terwyl hulle vier snytande in hulle onderkake het. Mense het, net soos ape, vier snytande in hulle bokake en vier in hulle onderkake. Honde en katte het ses snytande in hulle bokake en ses in hulle onderkake. Snytande word gebruik om mee te hap of ’n prooidier vas te gryp.
Soogdiere is diere wat hulle kleintjies soog. Met ander woorde die moederdier het melkkliere en die babas drink melk van haar. Hulle is ook warmbloedig, en het hare, al is daar min daarvan op dolfyne en walvisse sigbaar. Die kleinste soogdiere is die wimperspitsmuis en die Thaise varkneusvlermuis wat maar ongeveer 2 gram weeg en in ’n vuurhoutjiedosie kan pas, en die grootste soogdier is die blouwalvis wat tot 30 m lank kan word en tot 180 000 kg weeg.
Swart Dood is die algemene naam vir builepes wat tussen 1346 tot 1353 ongeveer 70 miljoen mense in Europa (ongeveer helfte van die mense wat in daardie tyd in Europa was) se lewens geëis het. Die siekte was veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis, wat deur middel van die rotvlooi van rotte na mense oorgedra is.
Renaissance (“hergeboorte” in Frans) verwys na die tyd na die Middeleeue in Europa van die 14de tot die 17de eeu. Hierdie tydperk word gekenmerk aan die herlewing en ontwikkeling van wetenskap, musiek en kuns.
Ruïnes is die oorblyfsels van ou vervalle geboue.
Selfversorgend is die woord wat mense wat hulself op verskillende gebiede kan versorg, beskryf. Hierdie mense sal byvoorbeeld hulle eie kos maak en preserveer, hulle eie huise bou en hulle eie klere en voertuie maak. Die Voortrekkers was selfversorgend.
Uitgawe 2 – Februarie 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Baaldraad is draad wat gebruik word om hooi, gras, katoen of wol in bondels of bale vas te bind.
Beslag kan verskillende goed beteken. Wanneer dit met bak en kook te doen het, verwys beslag na die aangemaakte deeg voor dit gebak word.
Blomskerm is ‘n tros blomme op ‘n plant waar al die blomstele vanuit ‘n gemeenskaplike punt ontspring en min of meer dieselfde lengte het sodat die blomme saam in ‘n bol of ‘n plat laag gerangskik is. Voorbeelde van plante met blomskerms is keiserskrone, gifbolle, uie, wortels en koljander.
Bo-kruier is ‘n tipe windmeul waarvan slegs die boonste kap, met die wieke, na die wind gekrui of gedraai word. Toringmeule en stellingmeule is bo-kruiers.
Grondseiler is ‘n tipe windmeul wat klein genoeg is dat die meulenaar op die grond rondom die windmeul kan stap om die dak te krui en om van die grond af teen die wieke op kan klim om dit op te seil.
Hamermeul is ‘n meul waar groot meganiese hamers met behulp van elektrisiteit, stoom, water of wind aangedryf word.
Immigrant is iemand wat van ‘n ander land hiernatoe gekom het. Mense wat van hier na ‘n ander land verhuis, word ‘n emigrant genoem.
Indiese ink is oorspronklik ‘n tipe swart ink wat 3000 jaar gelede in China ontstaan het. Dit word van lamproet gemaak wat in water gemeng word. Dit word dikwels as ‘n inkstokkie of ‘n tablet verkoop wat mens met water kan oplos om weer vloeibaar te maak. Dit word met penne en kwasse vir skrif, kalligrafie en kuns gebruik. Deesdae kom Indiese ink ook in rooi, blou en groen voor.
Kafnaald is die lang haaragtige struktuur wat aan grassade vasgeheg is waarmee die wind dit opskep en wegwaai en sodoende versprei.
Koester is wanneer jy iemand of iets beskerm en vertroetel.
Krui verwys hier na die dra, stoot of sleep van iets swaar. ‘n Kruier is iemand wat swaar goed dra of stoot. ‘n Kruiwa word gebruik om swaar goed te vervoer. Windmeulens se wieke was na die wind gekrui. Krui kan ook verwys na dele van plante soos tiemie, salie en roosmaryn, wat vir smaak by kos gevoeg word.
Lêersteen is die onderste steen in ‘n maalkoppel. Hierdie steen lë onder die lopersteen wat beweeg. Koring word tussen die twee stene gemaal.
Lopersteen is die boonste steen in ‘n maalkoppel. Hierdie streen word bo-op die leêrsteen in die rondte gedraai om die koring tussen die twee stene te maal.
Maalkoppel verwys na die lêersteen en lopersteen tesaam.
Middelkruier is ‘n tipe windmeul wat bo-op ‘n gebou opgerig is. Die hele romp van die windmeul word na die wind gekrui.
Onderkruier is ‘n klein tipe windmeul soos ‘n tjasker waarvan die hele stellasie na die wind gekrui word.
Opseil is die proses waartydens seile oor die wieke van ‘n windmeul gespan word, sodat dit die wind kan vang en in die rondte draai.
Panemoon is ‘n oudtydse tipe Arabiese meul waarvan die vinne vertikaal rondom ‘n vertikale as in ‘n boonste windkamer gerangskik is. Wanneer die wind deur ‘m gleuf in die windkamer inwaai draai die vinne wat die as draai wat om die beurt die lopersteen in die meulkamer onder die windkamer draai.
Restoureer is die proses waarmee iets wat oud en verwaarloos is, herstel word.
Saagmeul is ‘n meul met saaglemme waarmee stompe in planke gesaag word.
Samara is sade wat aan ‘n vlerkie gekoppel is. Hierdie sade spin in die rondte soos helikoptertjies wanneer hulle afval of deur die wind geskep word.
Soettand is iemand wat baie van soetgoed soos lekkers en koekies hou.
Spil is ‘n metaalstaaf of houtstaaf of paal wat iets in die rondte draai.
Stellingmeul is ‘n groot tipe windmeul wat so halfpad op ‘’n platform het waarop die meulenaar kan loop om die kap met die wieke daarop na die wind te krui. Die meulenaar gebruik ook hierdie platform om die wieke op te seil. Hierdie windmeulens is dan ook bo-kruiers want die romp kan nie gekrui word nie.
Tjasker is die kleinste meul wat ‘n wiekspan van 2-3 m het. Tjaskers word gebruik om water met behulp van ‘n Archimedes skroef te pomp.
Toringmeul is ‘n meul waarvan die romp van klip of stene gebou is. Toringmeule is uiteraard ook bo-kruiers want die romp is onbeweeglik.
Wieke is die regte benaming vir die arms van ‘n windmeul.
Wiekkruis is die vier wieke van ‘n windmeul saam.
Uitgawe 3 – Maart 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Aleuron is die buitenste proteïen- en mineraalryke sellagie van die kiemwit van grassade en graansade, soos mielies, koring en hawer wat onder die saadhuid geleë is.
Bewerkbaar verwys na grond wat vrugbaar genoeg is om landbou te onderhou. Dit bedoel ook dat daar genoeg water moet wees om die plante nat te lei of te besproei.
Biobrandstof is brandstof wat van plante of mis gemaak word. Die plante wat hiervoor gebruik word bevat baie suiker – soos suikerriet, of stysel – soos mielies of olie – soos sonneblom. Etanol word van die suiker of stysel van suikerriet en mielies vervaardig.
Blokhuis is ‘n klein fort wat deur die Britse weermag in Suid-Afrika tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog tussen 1901 en 1902 opgerig is. Daar was hoofsaaklik twee tipes: ‘n ronde een wat van sink gebou was en reghoekiges van 6×6 met twee of drie verdiepings wat uit sink of uit klip en sement en met ‘n sinkdak gebou is. Die sink blokhuise se wande het uit twee sinkplaat-sillinders bestaan waavan die kleiner een binne die groter een gepas het. Die 15 cm ruimte tussen die twee wande is met gruis opgevul om te keer dat koeëls deur dit gaan. Daar was ongeveer 8 000 blokhuise wat in rye oor die land gebou is gebou is. Die blokhuise was 400m tot 1 000m van mekaar opgerig en daar was doringdraad tussen-in. Dit was bedoel om die beweging van die boerekrygers te stuit.
Britte is mense van die Verenigde Britse Koninkryk of Brittanje. Die meerderheid van hierdie mense is Engelse en dus het ons hulle ook sommer Engelse genoem. Daar is egter ook Skotte, Iere en Walliesers, wat saam met die Engelse die Britse bevolking opmaak, nadat die Engelse hulle oor eeue een vir een verslaan het en hulle lande oorgeneem het. Hierdie ander volke stem egter nie met die Engelse onderdrukking van hulle en ander volke saam nie, en alhoewel daar Skotte was, wat aan die kant van die Engelse teen die Boere geveg het, het Iere saam met die Boere teen die Engelse tydens die Anglo-Boereoorlog geveg.
Etanol is ‘n tipe alkohol wat vir brandstof, veral biobrandstof, gebruik word.
Floreer bedoel gedy of om goed te doen, te groei, voort te plant en aan te was.
Gesogde bedoel iets wat bo ander verkies, uitgesoek of begeer word.
Inboorling is iemand wat oorspronklik in ‘n land gebly het. Boesmans is inboorlinge van Suider Afrika, almal anders is inkommers wat hul oor die laaste 2 000 jaar hier gevestig het.
Kiemwit is die styselbevattende selle in sade. Dit verskaf die energie en voedingstowwe aan die groeiende plantembrio wanneer die saad ontkiem.
Kommando is groep bewapende en gewoonlik berede (te perd) burgers.
Krygsgevangenes is soldate of krygers wat tydens ‘n oorlog gevange geneem is.
Kultivar is ‘n plantvariasie wat deur die mens geselekteer (oor dekades en selfs eeue uitgekies) is, omdat dit sekere kenmerke besit wat gesog is. Soos groter, soeter vrugte, graanare wat groter is en groter sade dra, of groente wat minder bitter smaak.
Kwasiorkor is ‘n dodelike siekte waaraan kindertjies in lande ly waar mense nie verstaan dat klein kindertjies vleis of goggas in plaas van pap moet eet nie. Wanneer ‘n nuwe baba gebore word, word die vorige baba net mielepap gevoer, wat benewens stysel, amper geen ander voedingswaarde het nie en nie die kind se been- en spiergroei kan handhaaf nie. Sonder melk of vleis ontwikkel die kleuter ‘n reuse buik weens die opbou van water in sy lyfie en gaan mettertyd dood van wanvoeding.
Lekkerny is enigiets wat lekker is, dikwels is dit lekkergoed, maar dit kan eintlik enigiets wat lekker is, selfs ‘n tipe vleisgereg, insluit.
Polenta is ‘n mieliegereg wat in Noord Italië as stapelkos geëet word. Dit lyk soos slappap en dit word saam met vleis- en groentegeregte geëet.
Produsent verwys na iemand wat iets produseer. Dit verwys gewoonlik na iemand in landbou soos ‘n boer of koöperasie wat ‘n sekere landbouproduk soos vrugte, groente, eiers, melk, vleis, wol of katoen beskikbaar stel. Dit is nie dieselfde as ‘n vervaardiger en ook nie heeltemal dieselfde as ‘n verskaffer nie.
Saadhuid is die lagie buite-om ‘n saad. Dit beskerm die saad teen goggas, swamme, bakterieë en uitdroging.
Selekteer is die dekade-, tot eeuelange proses waartydens boere sekere gesogde mutasies van plante en diere uitkies en dit gebruik om aan te plant of te teel, terwyl die ander plante en diere wat nie dieselfde kenmerk het nie, geëet word. Sodoende het ons koeie met reuse uiers wat baie meer melk verskaf as wat buffels byvooorbeeld kan verskaf, skape met dikker wol as wat enige ander bok in die natuur nodig het en groente en vrugte wat baie groter en soeter as hulle wilde eweknieë is. Hierdie seleksieproses word ook die veredeling van plante genoem en makmaak van diere genoem.
Stapelvoedsel is kosse wat die grootse deel van mense se dieët uitmaak. In Asië is dit rys, in Afrika is dit mielies en sorghum, in die Midde Ooste en Europa is dit koring en in die Amerikas is dit mielies en aartappels. Boesmans en Inuïete eet vleis as stapelvoedsel.
Stikstof is ‘n chemiese element. Dit is die stof wat die grootste gedeelte (78%) van ons atmosfeer opmaak. Dit is ook ‘n belangrike bousteen van lewe. Stikstofbindende bakterieë in die grond verskaf stikstof aan plante. Hierdie bakterieë kom ook in knoppies op boontjiewortels voor wat voordelig vir bone, maar ook ander plante in die omgewing is.
Stysel is glukose wat in lang kettings in plante voorkom. Dit is ‘n belangrike voedingstof in plante en verskaf energie en boustene aan die plant. Sekere diere kan die stysel uit plante verteer en as energiebron benut. Stysel word in spesifieke organe in plante, soos in sade en knolle geberg. Hierdie organe word deur mens en dier benut om stysel te kry.
Tortilla lyk soos ‘n pannekoekie wat in Sentraal Amerika ontstaan het. Dit word van mieliemeel gemaak en op ‘n plaat (oorspronklik ‘n plat klip) gebak. Dit word saam met ander kosse bo-op of binne-in ‘n oorgevoude tortilla geëet.
Truffel is ‘n tipe knolswam wat ondergronds voorkom. Hierdie skaars maar gesogde swam is meer werd as goud en word gewoonlik slegs in die duurse restourante opgedis. Spesiaal opgeleide honde en varke word deur truffeljagters gebruik om hulle uit te snuffel.
Uitgawe 4 – April 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Affuit is die onderstel van ‘n kanon. Dit kan wiele hê of nie.
Al-Andalus, ook bekend as Andalusië was die Moslem-beheerde deel van die Iberiese Skiereiland. Arabiere van die Magreb het die Iberiese Skiereiland in 711 n.C. binnegeval en die Visigote, wat daar gebly het verslaan. Hierdie Arabiere van die Omajjadiese Kalifaat het oor die grootste gedeelte van die Iberiese Skiereiland tot 1492 geheers tot hulle uiteindelik, na ‘n reeks oorloë met die Christelike koninkryke van Kastilië, León, Navarre, Aragon en Portugal, uitendelik tydens die Reconquista (Herowering), in 1492 verslaan is. Ongeveer 3 miljoen Arabiere en 200 000 Jode is uit die gebied, wat nou as Spanje en Portugal bekend staan, verdryf.
Anti-bakterieël verwys na iets wat bakterieë doodmaak.
Anti-inflammatories is iets wat keer dat weefsel ontsteek raak, of ontsteking verminder.
Antieke Tyd verwys na ‘n tydperk voor die Romeinse beskawing toe datums nog nie vasgepen was nie. Die Sumeriërs het bv. nie geweet dat hulle 6 500 v.C. leef nie – so hoe sou hulle hul datums bepaal het? Romeine het hul jaartelling op 1 Anno Urbis Conditae (die jaar toe Rome ontstaan het) gebasseer. Die Anno Domini stelsel was eers in die 6de eeu n.C. ingestel. Die tydperk van die Griekse en Romeinse beskawings, staan as die Klassieke Tyd bekend.
Angiosperm is die wetenskaplike naam vir blomplant. Plante wat blomme dra het eers in die Kryt Periode, lank na die naaksadige plante ontstaan. ‘n Blomplant se sade is bedek in ‘n vrugbeginsel en ‘n stamper en meeldrade kom op elke blom voor.
Argeologie is die studie van die oorblyfsels van mensgemaakte goedere van die verlede.
Balsem kan verskeie dinge beteken, afhangende wat die bestanddele is en die doel waarvoor dit gebruik word – dit kan na die welriekende hars van sekere plante verwys, salf wat aan ‘n droeë vel of lippe of wonde gesmeer word of die middel wat gebruik word om mummies te bewaar. In die artikel oor speserye verwys ek na laasgenoemde. Balsem wat vir die bewaring van mummies gebruik was, het allerlei anti-bakteriële middels bevat, onder andere: olie van seder- en jeneverbessiebome, hars van Canarium en Pistacia bome (waaruit terpentyn gekry word), olyfolie, kasterolie, byewas, bitumen, kardamom, neutmuskaat en kaneel.
Barok verwys na ’n kenmerkende oordadige en ornate kunstydperk van die 17de en 18de eeu in Europa populêr was en wat in die argitektuur, musiek, kuns en kleredrag gesien kan word. Huise het allerlei tierlantyntjies gekry – soos die gekrulde gewels van die Kaapshollandse huise, die fleurige handtekeninge, frilletjiekrae, gepoeierde pruike en skoene met silwergespes wat selfs mans gedra het. Van die grootste kunswerke van Europa kom ook uit hierdie tyd.
Bootsman is ‘n senior matroos wat die bootsbemanning bestuur. Hy was ook verantwoordelik vir die toesig oor die onderhoud van die skip en die toerusting aan boord, die opleiding van nuwe matrose en die organisering en toesig oor die bemanning.
Dijon mostert is ‘n tradisionele tipe mosterd wat sy oorsprong in die stad Dijon in Frankryk het. Dijon het reeds vanaf die Middeleeue mostert gemaak en in die 17de eeu het die regering vir hierdie dorp die alleenreg in Frankryk toegeken om mostert te maak. Die hoofbestanddele van Dijon mostert vandag is bruin mostertsade en ‘n mengsel van witwyn, asyn, water en sout.
‘n Eilandgroep of argipel is ‘n ketting of tros van eilande wat vorm wanneer ‘n bergreeks onderwater verdwyn, sodat net hoogliggende dele uitsteek wanneer die seevlak tussen ystydperke styg, bv. Indonesië, Engeland, die Griekse Eilande en Finland. Ander eilandgroepe bestaan uit trosse of reekse vulkaniese eilande wat langs ‘n oseaanrug vorm soos Hawaii.
Endemies verwys na spesies wat slegs in ‘n spesifieke gebied voorkom en nerens anders nie. Die oewerkonyn is endemies aan Suid-Afrika en kom slegs hier in die Karoo voor, terwyl die vaalboskat, wydverspreid in Afrika en die Midde-Ooste voorkom, inheems aan Suid-Afrika is.
Foelie kan na verskillende goed verwys. Die foelie wat meeste mense ken is ‘n dun metaalvel. Daar is egter ‘n sekere spesery wat foelie genoem word – dit is die donkerrooi laag tussen die dop en die pit van neutmuskaat wat gedroog en gemaal word en as ‘n spesery gebruik word.
Klassiek verwys gewoonlik na iets wat ‘n besondere voorbeeld van stylvolle tradisie soos kuns, musiek of boukuns verwys. Dit kan ook na die Griekse of Romeinse tyd en kultuur verwys.
Kruie is die aromatiese groen blare of stingels van sekere plante wat by kos gesit word om dit te geur. Dit verskil van speserye wat gewoonlik die aromatiese bas, sade, vrugte of blomme van sekere plante is. Sekere kruie het, soos sekere speserye, medisinale eienskappe.
Iberiese Skiereiland of Iberië is die gedeelte van Wes Europa wat mens maklik bloot Spanje wil noem, maar dit sluit ook Portugal, Andorra en ‘n stukkie van suidelike Frankryk in.
Lae lande is die gebied in Noordwes Europa suid van die Noordsee wat vandag die lande Nederland, België en Luxemburg insluit. Die gebied is bekend vir sy plat, lae streke wat net ‘n paar meter bo seevlak is en die moerasse en rivierdeltas wat rondom die groot riviere, die Ryn, Maas en Schelde voorkom. Groot dele van hierdie laagliggende gebiede is tot in die Noordsee vergroot deur die bou van dyke en die uitpomp van water om polders droog te lê om daarop te boer. Die mense wat in die Lae Lande gebly het, het ‘n unieke taal- en kultuurgroep gevorm.
Levant is ‘n gebied in die Midde Ooste wat aan die oostekant van die Middelandse See geleë is. Dit was die tuiste van talle kulture en beskawings vanaf die laaste ystydperk.
Loofblaarboom het breë plat blare, in teenstelling met die naaldvormige blare van meeste naaldbome. Dikwels is loofblaarbome bladwisselend in teenstelling met naaldbome. Loofblaarbome is gewoonlik blomplante. Loofblaarboom-hout is duur omdat dit stadig groei en net sekere dele reguit planke oplewer, maar dit is uiters gesog in die meubelmakersbedryf.
Middeleeue verwys na ‘n tydperk (5de – 15de eeu n.C.) in Europa waar die Romeinse Ryk in klein koninkryke verbrokkel het, wat deur konings en hul ridders beheer is en waar die Katolieke Kerk die sentrale rol in gesag en kultuur gespeel het. Die Kruistogte het in hierdie tydperk plaasgevind. Daar was ‘n stagnasie en agteruitgang van kuns, wetenskaplike kennis en tegnologiese ontwikkeling in hierdie tydperk.
Midde Ooste is die gebied tussen Europa en die Verre Ooste. Dit sluit die Levant, die Arabiese Skiereiland, deel van Noord Afrika, Turkye en Mesopotamië in.
Monopolie is wanneer ‘n regering, maatskappy, organisasie of persoon uitsluitlike beheer het oor die verskaffing van ’n produk of diens, wat beteken dat verbruikers geen alternatiewe het nie en pryse en voorwaardes deur daardie aanbieder bepaal word. Dit gee die monopoliehouer ’n groot mag oor die mark en kan tot hoë winste vir die onderneming lei, maar dikwels tot nadeel van die verbruiker. Die VOC het ‘n monopolie op die speseryhandel met die Verre Ooste gehad, net soos De Beers ‘n monopolie op diamanthandel het.
Mummie is die uitgedroogte liggaam van ‘n afgestorwene. Daar is talle kulture wat mummies van afgestorwenes maak. Die Egiptenare het van die omslagtigste prosesse bekend gevolg om hulle faraos en hooggeplaastes te mummifiseer. In Egipte is mummies se organe verwyder, die weefsel gebalsem en dan gewoonlik in verbande toegedraai voordat hulle in ‘n sarkofaag of kis in ‘n grafkelder geplaas is.
Naaldbome is lede van die gimnosperme of naaksadiges. Spesies naaldbome, soos dennebome, wat vinnig groei en ‘n reguit sentrale stam met min sytakke het, word gewoonlik gekies om in plantasies te kweek vir timmerhout en die papierindustrie. Aangesien hierdie bome vinniger groei as loofblaarbome en plaaslike gekweek word, is naaldboomhout goedkoper as loofblaarboomhout.
Polinesiërs is mense wat op die Polinesiese Eilande in die Stille Oseaan bly. Hulle het oorspronklik van Taiwan en Indonesië in dubbelkiel-skepe of katamarans gereis en meer as ‘n duisend eilande in die Stille Oseaan vanaf Hawaii in die Noorde, Paaseiland in die Ooste en Nieu Seeland in die Suide gaan beset.
Preservering verwys na die verwerking van kos om dit langer te laat hou voor dit sleg word. Dit kan uitdroging, behandeling met sout of pekel, kook met suiker of speserye behels.
Rekonkwista, of Herowering van Al-Andalus, was ’n reeks oorloë wat soms die Iberiese Kruistogte genoem word, wat tussen die Christelike volke in Wes Europa teen die Moslem besetters plaasgevind het. Dit het kort na die verowering van die suide van die Iberiese Peninsula in 711 begin en geëindig met die val van Granada in 1492.
Renaissance beteken hergeboorte in Frans en verwys na die herlewing van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie in die 16de eeu in Europa, na die onderdrukking en verwaarlosing daarvan tydens die Middeleeue. Die Middeleeue (5de-15de eeu n.C.) verwys juis na hierdie gaping tussen die Klassieke Tydperk waar die Grieke en Romeinse se kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie ‘n hoogtepunt bereik het, en die Renaissance wat ‘n duisend jaar daarna weer dit sou herontdek en daarmee sou voortgaan. ‘n Voorbeeld om die stand van wetenskap tydens die drie tydperke te illustreer: die Grieke het reeds in die 240 v.C. bepaal dat die aarde rond is en die omtrek van die aarde bereken. In die Middeleeue het Europeërs geglo dat die aarde plat is. Inligting oor die ronde aarde is weer tydens die Renaissance herontdek en in 1799 was die omtrek van die aarde weer bereken.
Skiereiland is ‘n landmassa wat vir die grootste deel deur water omring word maar wat steeds ‘n verbinding met nog ‘n groter landmassa het.
Soethout is die plant waarvan drop gemaak word. Ek verkies dit om die lekkergoed drop te noem en die plant soethout te noem. Drop word uit die wortel van die soethoutplant Glycyrrhiza glabra gemaak deur om dit te kook tot die sap uitkom. Die sap word verdik en met salmiak (ammoniumchloried), sout of suiker, heuning, melasse, anys of ander geurmiddels, gelatien (oorspronklik Arabiese gom – eetbare hars van doringbome in Arabiese lande) gemeng om die bekende swart lekkergoed met verskillende geure te maak. Wat grillerig is, is dat die natuurlike bruin kleur van drop tradisioneel met koolstof swart verkleur word.
Speserye kan gedefinieer word as die aromatiese dele (soos sade, bas, wortels, vrugte of gedroogde blomme) van sekere plante wat gebruik word om geur, aroma of kleur aan kos te gee. Anders as kruie, wat meestal uit die groen blare van plante kom, word speserye gewoonlik uit die droë, harde dele van ’n plant verkry. Die anti-bakteriële en antioksiderende kenmerke van sekere speserye word vir kospreservering en in tradisionele medisyne gebruik.
Steentydperk is die tydperk waartydens mense steenwerktuie gebruik het. Die oudste steenwerktuie is ongeveer 2.5 miljoen jaar oud. In sekere gebiede soos die Midde Ooste en die Verre Ooste is metaal in die vorm van koper en toe brons ontdek wat die einde van die steentydperk en steengereedskap-kultuur in daardie gebiede ingelui het. Die oorgang van steen na metaal is egter nie so skerp nie. Metaal was ‘n luukse-item en dus skaars. Ötzi Man van 5000 jaar gelede het bv. ‘n koperblytjie by hom gehad, maar ook pyle met steenpunte.
Syroete verwys na die antieke handelsnetwerk wat Sjina met die Midde Ooste verbind het. Dit was ongeveer 130 v.C. deur tydens die Han Dinastie gevestig om sy en speserye met die Weste te verhandel. Die syroete het tot in die 1453 n.C. bestaan tot die Ottamaanse Ryk hierdie handelsroete met die Ooste gesluit het. Die Syroete is egter langs reeds bestaande handelsroetes, wat verskeie stede in verskeie lande insluit, ontwikkel. Daar was reeds handel tussen die Midde Ooste en die Verre Ooste ongeveer 3000 jaar gelede. Sekere speserye wat deur die Egiptenare vir balsem en medisyne gebruik is, is van die Verre Ooste afkomstig. Graan soos koring en gars, wat in die Midde Ooste veredel is, het reeds ongeveer 5 000-4 000 jaar gelede hul weg tot in die Verre Ooste gevind.
Takelwerk is die toulere, toue, kabels, kettings en katrolle, wat gebruik is om die maste, sparre en seile van ‘n ou seilskip te span, op te bind en vas te maak.
Verbou verwys na boerdery met plante. Bosbou is ‘n soortgelyke woord.
Verenigde Oostindische Compagnie of VOC was ‘n besigheid wat in Holland in 1601 gestig is en onder die direksie van die Here XVII gestaan het. Die VOC het die verversingspos in Kaap de Goede Hoop (Kaapstad vandag) in 6 April1652 gestig en bestuur. Die VOC was na twee eeue korrup, wanbestuur bankrot. Hierdie onstabiliteit het gelei daartoe dat Brittanje die Kaap in 1795 van die VOC oorgeneem het. Die VOC is in 1796 deur die Bataafse Republiek genasionaliseer en al hul laste en bates, insluitende die buiteposte soos die Kaap de Goede Hoop en die gebiede in die Verre Ooste oorgeneem. Die VOC is op 31 Desember 1799 bankrot verklaar en ontbind.
Verversingspos is ‘n plek waar skepe kan aandoen om voorrade aan boord te neem om met genoeg kos en water die res van die tog aan te pak. Kaapstad was ‘n VOC verversingspos.
Vloot is ‘n groep skepe wat onder beheer van ‘n organisasie, regering of besigheid is.
Voetheuwels is die reeks heuwels wat rondom sekere berge voorkom. Dit is veral opmerklik wanneer berge soos die Andes en die Himalaja Gebergtes wat deur tektoniese kragte gevorm word. Voetheuwels word gewoonlik al hoe hoër hoe nader dit aan die berg geleë is.
Wortelstok verwys na die ondergrondse voedselstoororgaan van sekere plante. Dit is gewoonlik horisontaal maar het, nes bogrondse stingels, litte waaruit wortels en lote spruit.
Uitgawe 5 – Mei 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Aandeel is een van die dele waarin ‘n maatskappy se kapitaal opgedeel is.
Aandelebeurs is die gebou waar makelaars en handelaars aandele koop en verkoop.
Aardkors is die buitenste 40 km dik rotslaag wat die aarde bedek. Dit lê bo-op die mantel.
Afbouing verwys na ‘n myntegniek waar ‘n geologiese laag soos ‘n goudryke laag vir kilometers diep in die aardkors uitgemyn word. Die uitgeholde ruimte word ‘n afboukamer genoem.
Allooi is die metaal wat gevorm word as twee of meer metale saam gesmelt word.
Armblankes is die nasate van die Voortrekkers wat na hul vestiging in die binneland al hoe meer agterlik en behoeftig geword het en uiteindelik die grond waarop hulle gewoon het verloor het. Alhoewel hierdie verskynsel dikwels as die gevolg van die Tweede Anglo-Boereoorlog beskou word, was daar reeds ontheemde armlastige mense voor die oorlog.
Die Runderpes in 1896-1897 en weer in 1918, die Anglo-Boereoorlog 1899-1901, die Groot Griep van 1914 en 1918, die droogte van 1919-1920, die Depressie van 1921 en onderdrukking en diskriminasie teen Afrikaanssprekendes na die afloop van die Tweede Anglo-Boereoorlog, het bygedra tot die groeiende getal Armblankes in Suid-Afrka. Die probleem was aangespreek en grootliks opgelos deur die stigting van die Helpmekaarbeweging, die Vrouefederasie, die N.G. Kerk, die Broederbond en die Nasionale Party.
Bedoeïene is nomadiese woestynbewonende Arabiere.
Beskawing is ‘n samelewing wat gekenmerk word aan sy kompleksiteit wat sosiale stratifikasie, verstedeliking, tegnologiese ontwikkeling en die gebruik van gesofistikeerde sisteme wat ekonomie (geld, belasting), kommunikasie (skrif, boekhouding, argivering van rekords, geskrewe wette, ens.) en ‘n formele, gereguleerde regstelsel insluit.
Bisantyns verwys na die Bisantynse Ryk waar die Oostelike Ortodokse Kerk ontstaan het. Hierdie kultuur, wat aan die einde van die Romeinse Ryk in die nabye ooste, vandag Turkye, ontstaan het, word gekenmerk aan ornate religieuse kunswerke soos ikone en muurskilderye en mosaïke en bouwerke soos kerke met talle koepels, wat van daar na Rusland en Italië versprei het.
Bladgoud is goudfoelie wat so dun uitgeslaan en gerol is dat dit vyfhonderd tot ‘n duisendste van ‘n millimeter dik is. Dit is so dun dat dit begin deursigtig word. Dit was gebruik om letters, soos die hoofletter aan die begin van ‘n hoofstuk of boek in die Bybel te illumineer, of te wel met goudblad te bedek. Goudblad was ook gebruik om porseleinornamente te verguld. Die Egiptenare het hele grafkelders se mure en sarkofage met goudblad versier.
Bronstydperk (3 300 – 1 200 jaar v.C.) is die tydperk tussen die Steentydperk en die Ystertydperk. Hierdie definisie is op die ontwikkeling van tegnoë logie in Eurasië gegrond. Die Bronstydperk word deur die ontwikkeling van die tegnologiese vermoëns om koper te smelt voorafgegaan, maar hierdie kort tydperk word as die einde van die Steentydperk in Eurasië gereken.
Chemies inert verwys na ‘n stof wat nie maklik met ander stowwe verbind of abreek nie.
Dagsoom is waar ‘n geologiese laag op die grond sigbaar is.
Dikdei is die Nama woord vir ‘n akkedis.
Drukpers is ‘n meganisme wat deur Gutenberg in 1440 ontdek is. Die drukpers laat mens toe om letters en kunswerke op metaalplate op papier of lap te druk. Hierdie revolusionêre tegniek het mense in staat gestel om plakkate, kaarte en boeke op groot skaal te vervaardig.
Êe is die meervoud van eg. Dit is ‘n instrument waarmee die grond van ‘n landery gelyk gemaak word.
Edelmetaal is ‘n metaal wat vir ‘n lang tyd blink bly sonder om aan te slaan of te roes. Hierdie metale, soos goud, silwer en koper is ook goeie geleiers van elektrisiteit. Edelmetale is sag en pletbaar.
Egeïese gebied sluit die Egeïese See en die eilande daarin en die kusgebied daarom in. Die Egeïese See is ‘n uitloper van die Middelandse See wat tussen Griekeland en die west en Turkye in die ooste en die Eiland Kreta in die suide geleë is. Die Egeïese gebied was die bakermat vir die Griekse, Romeinse en later Turkse beskawings. In die noorde is die Egeïse See via die See van Marmara met die Swartsee verbind.
Elektrum is die allooi van goud en silwer wat in die natuur voorkom.
Ensieme sluit beide proteïene en biologiese kataliste in wat chemiese reaksies versnel. Ensieme verander substrate in produkte. Ensiem-kataliste is noodsaaklik vir die effektiewe funksionering van ‘n sel. Ensieme word meestal vir die afbraak van voedingstowwe gebruik.
Erts is die gemynde rotse waaruit metaal onttrek word.
Fortifikasies is borswerings, mure, torings, forte of kastele wat vir die verdediging van ‘n plek opgerig word.
Gebonde arbeider is iemand wat kontratueel genoop word om vir ‘n werkgewer, maatskappy of regering te werk tot sy skuld afbetaal is. Die Britse regering het dit in die verlede veral gedoen met mense van Indië en China, nadat hulle daardie gebiede oorgeneem het en belastings van mense geeis het wat hulle nie kon betaal nie. Dit het hulle in skuld teenoor die Britse regering geplaas en al hoe hulle dit kon terugbetaal was om as gebonde arbeiders vir die Britte te werk. Dit was ook per geleentheid as ‘n straf opgelê, amper soos die hedendaagse gemeenskapsdiens wat iemand as straf moet doen. In die verlede was dit baie soortgelyk aan slawerny, wat baie ironies is, want ons word vertel dat die
Britte die eerste mense was wat slawerny afgeskaf het.
Geleier is ‘n elektriese komponent waardeur ‘n elektriese stroom gelei word.
Goudklonte is goud wat in klonte voorkom wat maklik gesien kan word en opgetel kan word. Dit is anders as goudstof wat op rivierbodems, of goud wat saam met ander verbindings in erts voorkom. Die grootste goudklont wat ooit ontdek is, was in 1869 in Australië gevind en het 72 kg geweeg.
Goudstormloop beskryf die gedrag van desperate, armlastige, werklose of gierige mense wat op ‘n goudveld toesak met die hoop om vinnig ryk te word.
Grafgoedere verwys na die items wat saam met ‘n persoon begrawe word. In die verlede sou dit wapens, juwele en ander kosbare items ingesluit het.
Grafkamer is ‘n spesiale ruimte wat ingerig is om die lyk of kis of sarkofaag waarin daar ‘n lyk is, te huisves.
Hajj is die pelgrimstog wat elke toegewyde Moslem in sy leeftyd na Mekka moet aflê.
Handelsroetes is die paaie of seeroetes waarlangs handelaars gereis het om goedere aan te koop of te verruil en dan na streke te reis waar daardie goedere verkoop kan word.
Hidrotermiese are word langs krake in die aardkors gevorm. Superverhitte mineraalryke water stroom deur hierdie krake wat veral langs midoseaan riwwe, kontinentale subduksiesones en in vulkaniese gebiede voorkom. Hierdie krake word mettertyd deur minerale opgevul wanneer dit afkoel.
Hulpbronvloek is die ellende wat vir die mense van ‘n land volg na die ontdekking van ‘n hulpbron as hulle nie sterk genoeg, of genoeg ingelig of ontwikkeld is om dit self te ontgin en te verdedig nie. ‘n Sterker buitelandse moontheid sal dan gewoonlik beheer oor hierdie hulpbron oorneem en dit plunder na die ontheming, uitwissing of onderdrukking van die inwoners. Ander maniere hoe hulpbronne bekom word is deur omkopery van regeringsamptenare of die destabilisering van die regering deur die geldelike of militêre ondersteuning van die opposisiegroepe in ‘n land.
Inflasie is wanneer ‘n geldeenheid devalueer en wanneer die koopkrag van individue of ‘n land afneem. Uiteindelik word goedere en arbeid al hoe duurder.
Kalligrafie is kunsskrif. In die Middeleeue wat Gotiese skrif die populêre keuse vir kalligrafie.
Kameeltrein is ‘n groep (gewoonlik ‘n lang ry) kamele wat gebruik word om op lang roetes deur die woestyn goedere of mense van een plek na ‘n ander te vervoer.
Konsentrasiekamp is ‘n kamp, gewoonlik met tydelike strukture soos tente toegerus waarbinne ‘n groot groep mense onder haglike toestande aangehou is. Die Britte was wel nie die eerste mense wat konsentrasiekampe uitgevind het nie – die Spanjaarde in Kuba het hulle voorgespring. Die Britte voel erg gebelg as mense hul konsentrasiekampe met die van
Nazi-Duitsland s’n vergelyk.
Kruistogte was die oorloë wat Christen volke op Islam-beheerde gebiede gevoer het.
Krygshamer of oorlogshamer was ‘n swaar hamer met ‘n lang steel waarmee krygers mekaar te lyf gegaan het.
Kwarts is ‘n silikaatmineraal wat algemeen in die aardkors voorkom. Dit is meestal deursigtig, kleurloos en glasagtig, maar onsuiwerhede verleen aan sekere kwartsare kleure soos pienk (rooskwarts), pers (amatis), grys (rookkwarts), wit (melkkwarts) en groen (prasioliet).
Levant is die gebied oos van die Middelandse See en die westelike deel van die Vrugbare Halfmaan. Dit was die tuiste van die Fenisiërs, Akkadiërs, Babiloniërs, Perse en Israeliete.
Lingot is ‘n gegote metaalplaat of staaf waarmee handel gedryf is.
Mesopotamië is ‘n gebied in die Midde Ooste wat tussen die Tigris- en Eufraatriviere geleë is en wat die oostelike deel van die Vrugbare Halfmaan is. Dit kom min of meer ooreen met die gebied wat vandag as Irak bekend staan. Dit is die gebied waar van die eerste beskawings ontstaan het, met die gepaardgaande ontstaan van skrif, wiskunde, landbou en die wiel. Die beskawings wat die gebied beheer het was die Sumeriërs, Akkadiërs en Babiloniërs.
Metaal is ‘n stof wat glans as dit gepoleer of gebreek word. Dit is ‘n goeie geleier van elektrisiteit en hitte. Meeste metale is smeebaar en rekbaar.
Middel Koninkryk van Egipte (2040 – 1782 v.C.) was die tydperk van die Elfde tot die Dertiende Dinastieë wat oor Egipte geheers het. Hierdie tydperk was gekenmerk aan ‘n stabiele, vooruitstrewende tydperk vir Egipte waartydens die Bo- en
Ondernyl gebiede weer verenig is en voor die Hiksos Egipte oorgeneem het.
Millennium is ‘n duisend jaar.
Moai is die meer as 900 reuse klipbeelde op Paaseiland. Die moai is begrawe sodat slegs die koppe uitsteek en die res van die lyf ondergronds is.
Monetêr verwys na dit wat met geld of ‘n muntstelsel te doen het.
Muntmetaal is die suiwer goud of silwer waaruit munte oorspronklik geslaan is. Dit word ook as stawe gegiet, verhandel en in regeringsbeheerde banke deur regerings as ekonomiese rugsteun opgepot.
Mynmagnaat is iemand wat stinkryk uit die mynbedryf en veral die besit van myne geword het.
Nuwe Koninkryk van Egipte (1550-1070 v.C.) volg op die Middel Koninkryk en word deur die heerskappy van die
Rameses-dinastie gekenmerk. Die Agtiende tot die twintigste Dinastieë heers tydens hierdie tydperk. Dit was die toppunt en die magtigste tydperk van die Egpitiese Ryk.
Nubië is die gebied suid van hedendaagse Egipte, naamlik noord Soedan. Tydens die Nuwe Koninkryk was dit by Egipte ingelyf.
Oksideer is wanneer ‘n stof met suurstof reageer. In die geval van metale kan dit roes, aanslaan of selfs aan die brand slaan soos in die geval van magnesium, natrium en kalium.
Ontginning is wanneer ‘n hulpbron uit die natuur verkry word om gebruik te word. In die geval van metale sluit dit mynbou en raffinering of suiwering deur ‘n smeltproses in om onsuiwerhede te verwyder.
Oopgroefmyn is wanneer erts dagsoom of andersins naby genoeg aan die oppervlakte voorkom sodat dit van die oppervlakte af ontgin kan word. Dit is die teenoorgestelde van afbouiing.
Ou Koninkryk van Egipte (2 700 – 2 200 v.C.) verwys na die heerskappy van die Derde tot die Sesde Dinastieë waartydens die piramides gebou is en Egipte as ‘n magtige koninkryk gevestig is.
Pletbaar verwys na die sagte, vervormbare en smeebare aard van ‘n metaal.
Pre- tot Vroeë Dinastiese Tydperk (3000-2700 v.C.) verwys na die tydperk waar die eerse Egiptiese heersers oor die gebied beheer geneem het en die Egiptiese kultuur en religie te voorskyn kom.
Proklameer is wanneer iemand wettig besit neem oor ‘n gebied. ‘n Proklamasie word gewettig deur die goedkeuring van die regering.
Prospekteerder is iemand wat vir minerale of juwele soek met die doel om dit te myn of ontgin.
Ptolemeïese Ryk (305 vC tot 40 nC) verwys na die ryk wat ontstaan het nadat die Masedoniese generaal Ptolemeus, ‘n metgesel van Aleksander die Grote, Egipte oorgeneem het. Hierdie Grieksprekende dinastie het vir drie eeue geregeer. Cleopatra VII was die laaste Ptolemeïese heerser. Tydens hierdie tydperk het daar ‘n versmelting van die Griekse en Egiptiese kultuur in Egipte plaasgevind.
Randlords is die klas van Engelsprekende mynmagnate wat eers die diamantmyne, maar later ook die goudmyne van Suid-Afrika oorgeneem het, en later die banke, ekonomie, politiek, industralisasie en sosiale ontwikkeling van Suid-Afrika, in samewerking met die Britse Regering vanaf die vorige eeuwenteling, beheer het.
Reliëf in kuns verwys na ‘n tegniek waar beelde op so ‘n manier uitgekerf of gemessel word dat dit lyk asof dit driedimensioneel uitstaan, maar in effek is dit ‘n illusie want al staan die beeldhouwerk effens uit van die agtergrond is nog steeds vas en deel van die struktuur agter dit.
Risosfeer is die laag ondergronds wat deur die sekresies van die organismes wat daar leef en deel van die wortelmikrobioom is, gevorm word. Die risosfeer bevat baie bakterieë, protiste, swamme en ongewerweldes wat op dooie plantweefsel, en die suikers en proteïene wat deur plantwortels vrygestel word, voed. Die risosfeer bevat talryke hifes wat met mekaar en die haarwortels van plante verbind is. Hierdie komplekse wisselwerking tussen die verskillende organismes kan plantgroei, kompetisie vir hulbronne, weerstand teen siektes en sirkulasie van voedingstowwe beïnvloed wat die verspreiding en sukses van baie spesies bepaal.
Rondewurm of nematood is ‘n tipe wurm wat oral op aarde voorkom. Dit is die talrykste groep diere op aarde – trouens ongeveer 80% van alle diere op aarde is rondewurms. Alhoewel sommige van hulle soos die wat walvisse parasiteer 10 m lank kan word en so dik soos ‘n tuinslang is, is die oorgrote meerderheid van hulle mikroskopies klein. ‘n Teelepel grond mag duisende rondewurms bevat. Meeste van hulle vreet bakterieë, eensellige organismes en verottende organiese materiaal, maar sommige is parasiete.
Sarkofaag is ‘n doodskis wat gewoonlik uit marmer, graniet of alabaster gebeitel is. Dit is gewoonlik groot en is dikwels met afbeeldings of inskripsies versier.
Segregasie is ‘n beleid wat deur die Britte, in al hulle kolonies, insluitende Suid-Afrika, wat hulle vir ‘n eeu en ‘n half geregeer het, toegepas is. Dit is bitter moeilik vir sommige mense om te verstaan dat Alan Paton se boek Cry the Beloved Country op 1 Februarie 1948 gepubliseer is terwyl die Nasionale Party op 26 Mei 1948 die verkiesing gewen het en dat die boek inderwaarheid Britse segregasie kritiseer en nie Apartheid nie. Segregasie is kortliks om wette in plek te sit om mense wat nie blank is nie, te verhoed om dieselfde fasiliteite en woongebiede as blankes te gebruik en wat hulle van sekere voorregte wat aan blankes toegeken is te ontneem.
Septer is die ampstaf van ‘n koning en word al vir duisende jare gebruik. Dit is dikwels ornaat, van goud gemaak en het soms selfs juwele op.
Skag is ‘n vertikale ruimte soos in ‘n myn. Skagte word met tonnels verbind.
Smee-oonde is ‘n oond waar metaal so warm gemaak word dat mens dit kan smee, of te wel met ‘n hamer slaan om dit te vorm, terwyl die metaal warm is.
Statussimbool is iets wat ‘n simbool van jou status (sosiaal of ekonomies) afwys. Dit kan vandag ‘n luukse huis of ‘n groot motor wees, of silwer gespes op jou skoene en ‘n frilletjiekraag in die dae van die VOC aan die Kaap.
Stilus is ‘n gepunte voorwerp waarmee ‘n kunstenaar of vakman fyn werk kan doen of afrond. ‘n Stilus lyk soos ‘n pen maar dit kan nie skryf nie. Dit kan egter klein induikings maak of gebruik word om iets soos die goudblad van die vergulde detail in ‘n kunswerk vas te druk en af te werk.
Swam is ‘n eukariotiese organisme wat nie fotosintetiseer nie (m.a.w. dit is nie ‘n plant nie). Dit kan een- of meersellig wees en besit selwande van kitien. Meeste swamme is saprofities, m.a.w. hulle voed op dooie plantmateriaal, maar sommige is patogene en parasiete.
Tin is ‘n sagte silwerkleurige metaal wat vanaf 5 000 jaar gelede in Eurasië met koper gesmelt is om die allooi brons te vorm.
Werkerskorps is ‘n groep werkers. Dit kan na die werkers in ‘n sekere besigheid, bedryf, streek of land verwys.
Wîe is die meervoud van wig. ‘n Wig is gewoonlik ‘n driekhoekige voorwerp van yster of hout wat tussen twee voorwerpe of in ‘n naat ingedruk of ingehamer word om die naat oop te beur of twee voorwerpe van mekaar weg te lig.
Witwatersrand Supergroep is ‘n geologiese eenheid wat uit verskillende geologiese lae bestaan wat in ‘n sekere tydperk een laag bo-oor die ander in ‘n vlak see afgeset was. Sekere van hierdie lae is besonder ryk in goud en uraan.
Uitgawe 6 – Junie 2026
Hoesê?
Woorde en Uitdrukkings
Amalgamasie beteken die samevoeging van verskillende goed om ‘n groter meer komplekse eenheid te vorm. In die geval van goudherwinning verwys die amalgamasieproses na die oorspronklike metode om goud uit fyngemaalde erts te herwin deur om die goud met kwik te laat verbind om ’n “amalgam” te vorm. Die amalgam was later verhit om die kwik te laat verdamp en die suiwer goud agter te laat. Hierdie tegniek was algemeen in die 19de en vroeë 20ste eeu, maar is later met die sianiedproses vervang weens gesondheids- en omgewingsgevare.
Arabies verwys na ‘n kultuur wat hoofsaaklik verbind word met Islam. Dit word gekenmerk aan ‘n spesifieke godsdiens, taal, skrif, kultuur en regstelsel.
Arabiese Peninsula is die landdeel wat tussen Afrika en die res van Eurasië geleë is. Dit word begrens deur die Rooi See, die Persiese Golf, die Arabiese See en die Middelandse See. Dit is grootliks woestynagtig vandag, maar was 9 000 – 4 000 jaar gelede die wieg van beskawing.
Babiloniërs was ’n antieke beskawing in Mesopotamië, met Babilon as hoofstad. Hulle was veral bekend vir koning Hammurabi se wette en hul bydraes tot wiskunde en sterrekunde. Hulle het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van reg, kultuur en godsdiens in die Midde Ooste.
Bestaansboer is iemand wat net genoeg op sy plaas produseer om hom en sy gesin te onderhou. Bestaansboere dra weinig tot die ekonomie en voedselsekuriteit van ‘n streek by.
Chemiese presipitasie is ’n proses waar ’n opgeloste stof uit ’n vloeistof neerslaan en ’n vaste stof of presipitaat vorm. Dit gebeur wanneer die oplossing versadig raak of wanneer ’n chemiese reaksie ’n onsuiwer oplosbare verbinding skep.
Deltas vorm waar ’n rivier by sy monding stadig vloei en sedimente afset, gewoonlik in ’n see of meer. Die opgehoopte sand, slik en klei vorm ’n waaiervormige gebied wat dikwels vrugbaar en dus dig bevolk met landbougemeenskappe is. Bekende voorbeelde sluit die Nyl-delta en die Ganges-delta in.
Devaluasie is die afname in waarde van ’n land se geldeenheid teenoor ander geldeenhede. Dit kan doelbewus deur ’n regering of sentrale bank gedoen word om uitvoere goedkoper en meer mededingend te maak, maar dit maak invoere duurder en kan inflasie veroorsaak.
Dhow is ’n tradisionele seilboot wat al eeue lank in die Indiese Oseaan en langs die kus van Oos-Afrika en die Midde-Ooste gebruik word. Dit het ’n kenmerkende driehoekige seil en ’n smal, lang romp wat geskik is vir handel, visvang en seevaart. Dhows was belangrik in die Arabiese en Swahili-handelsnetwerke en het ’n groot rol gespeel in die verspreiding van goedere, mense en die Arabiese kultuur in die lande rondom die Indiese Oseaan.
Egiptenare was die inwoners van antieke Egipte, ’n beskawing wat meer as 5 000 jaar gelede langs die Nylrivier ontstaan en ontwikkel het. Hulle is bekend vir hul monumentale bouwerke soos die piramides en tempels, hul gesofistikeerde godsdiens en hiërogliefskrif, asook hul bydraes tot wiskunde, geneeskunde en landbou. Hierdie beskawing het vir duisende jare ’n groot invloed gehad op die kultuur en geskiedenis van die Mediterreense en Nabye Ooste.
Ekspansionisme is ’n beleid of ideologie waar ’n staat of mag sy grondgebied, invloed of ekonomiese beheer wil uitbrei. Dit kan deur militêre verowering, kolonisasie, politieke oorheersing of ekonomiese uitbreiding plaasvind. Die doel is gewoonlik om meer hulpbronne, mag of strategiese voordeel te verkry.
Etnisiteit verwys na ’n sosiale kategorie waarin mense hulself en ander identifiseer op grond van gedeelde kulturele kenmerke soos taal, tradisies, godsdiens, geskiedenis en ’n gemeenskaplike oorsprong.
Fenisiërs (NIE Venesiërs NIE) was ’n antieke Semitiese volk wat 5 000 jaar gelede langs die kus van die hedendaagse Libanon, Sirië en Israel gewoon het. Hulle was uitmuntende seevaarders en handelaars wat die Middellandse See met skepe en kolonies verbind het. Hulle het mettertyd stede en kolonies rondom die Middelandse See gehad. Die Fenisiërs het die alfabet ontwikkel wat later die basis vir Hebreeuse, Arabiese, Griekse en Latynse skrif gevorm het. Hulle invloed het wyd gestrek deur handel, kultuur en tegnologie, ver buite hul oorspronklike klein tuisgebied.
Gauteng is ‘n naam wat polities geïnspireer is en geen geografiese of etniese verband het nie, maar bloot volgens die stemgetalle wat mees voordelig vir die ANC is, ingedeel is. Dit is geografies die suidelike deel van die oorspronklike Transvaal.
Gedomestiseerde diere of makgemaakte diere is diere wat deur mense oor duisende jare heen vanuit hul wilde voorouerlike spesies getem en aangepas is om saam met hulle te leef en sekere funksies te verrig. Hulle word gebruik vir voedsel (bv. beeste, hoenders), arbeid (bv. perde, donkies) en beskerming (bv. honde). Deur selektiewe teling het mense sekere eienskappe van hierdie diere uitgekies wat hulle meer afhanklik van en nuttig vir mense maak.
Glasuur is ’n dun, glasagtige laag wat op ’n oppervlak aangebring word en na verhitting ’n harde, blink afwerking vorm. In keramiek dien dit om potte, bekers, koppies en borde te versier, maar ook waterdig te maak.
Geldwassery is die proses waardeur geld wat onwettig verkry is deur verskeie transaksies en kanale geskuif word om dit te laat lyk asof dit uit ’n wettige bron kom. Die geld word deur komplekse transaksies geskuif om die oorsprong te verdoesel. Die gesteelde geld word deur middel van korrupte besighede na ander besighede of banke geskruif om uiteindelik met “skoon” geld in die vorm van salarisse, beleggings of uitbetalings van die bank of besighede vorendag te kom.
Goewerneur is ’n amptenaar wat die hoogste gesag in ’n gebied, provinsie of kolonie uitoefen namens ’n staat of regering. In die geval van ‘n kolonie word die gesag namens ‘n buitelandse regering uitgeoefen.
Graangewasse is kosspesies wat mense oor duisende jare uit wilde grasse veredel het. Die bekendstes, wat ook die grootste impak op die mens, sy gesondheid, verspreiding en geskiedenis gehad het, is koring, gars, hawer, sorghum, rys en mielies.
Hettiete was ’n Indo-Europese volk wat in Anatolië (hedendaagse Turkye) gewoon het en tussen 1650–1200 v.C. een van die magtigste ryke van die Bronstydperk geword het. Hulle het hul hoofstad by Hattusa gehad en was bekend vir hul militêre vaardigheid, veral met strydwaens, en vir die gebruik van yster.
Indo-Germaans of Indo-Europees verwys na ‘n antieke kultuur met ‘n taal wat aan al die tale wat strek van Indië in die ooste tot Germaanse streke in Europa. Hierdie tale sluit Sanskrit, Grieks, Latyn, Kelties, Germaans, Slawies en ander in.
Islam is in die 7de eeu n.C. deur die profeet Mohammed in Arabië gestig. Mohanned het die openbarings van Allah in die Koran opgeteken. Die vyf pilare van Islam is die geloofsbelydenis, gebed, aalmoese, vas en die pelgrimstog na Mekka. Islam is een van die grootste godsdienste ter wêreld, met meer as ’n miljard volgelinge in verskeie kulture en lande.
Kaapvaal Kraton is een van die oudste en mees stabiele stukke aardkors op aarde, gevorm tussen ongeveer 3,7 en 2,6 miljard jaar gelede en steeds ’n kern van Suid-Afrika se geologie. Dit is ’n groot Argeïese kraton wat die basis vorm van groot dele van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.
Katoen is ’n natuurlike vesel wat uit die sade van die katoenplant (genus Gossypium) verkry word en is een van die belangrikste tekstielgewasse ter wêreld.
Keramiek of erdeware is voorwerpe wat uit klei en ander minerale gevorm word en dan deur verhitting, gewoonlik langs ‘n vuur of in ‘n oond, verhard word. Dit is die oudste materiaal wat deur die mens ontdek is en is gebruik vir kuns, gereedskap en boumateriaal.
Kraton is ‘n stabiele stuk van die aardkors wat vir miljarde jare reeds bestaan.
Koekepanne is sterk metaal waens met wiele wat op spore loop, wat met die hand deur mense gestoot word, waarmee erts in ‘n myn vervoer word. Die diep U-vormige bak van ‘n koekepan kan na die kant gekantel word om die erts uit te gooi. Sommige myne het klein elektries-aangedrewe lokomotiewe wat die koekepanne trek. Koekepanne word gebruik om die erts na die skagte te vervoer waarvandaan dit met die mynskaghysers na die oppervlakte gebring word. Die koekepanspore word teen ‘n helling gebou sodat die volgelaaide koekepanne, met behulp van swaartekrag, vanaf die goudrif na die mynskag sonder aandrywing kan beweeg. Die leë koekepanne word gewoonlik met die hand na die afbou, waar die myners erts uithaal, teruggestoot. Die woord koekepan is afgelei van die Afrikaanse woord vir ‘n diep pan waarin koek gebak word.
Konglomeraat is ’n sedimentêre gesteente wat bestaan uit afgeronde klaste (klippe, gruis of rolstene) wat deur ’n fynkorrelige matriks of sement aanmekaar gebind is.
Kolonie is ‘n land soos Suid-Afrika, of kontinent (soos Australië) wat deur ‘n volk van ‘n ander land soos Brittanje oorgeneem is en polities, ekonomies en kultureel by daardie land ingelyf is. Alhoewel van ons voorouers Hollands was, was die inwoners van Suid-Afrika nooit as Hollanders gesien nie. Die inwoners van die Kaap, wat van allerlei volke en kulture afgestam het, was nog minder lojaal teenoor Holland. Oorspronklik was die verversingspos aan die Kaap deur die VOC, wat ‘n Hollandse besigheid was, bestuur en nie die regering van Holland nie. Slegs toe die VOC bankrot geraak het en die regering van Holland hulle bestuur oorgeneem het, was Holland vir 4 jaar (1802-1806) in beheer van ‘n deel van die Wes Kaap voor die Britte dit finaal in 1806 oorgeneem het. Met ander woorde ‘n deel van die Wes Kaap was vir 4 jaar ‘n Hollandse kolonie, terwyl die Britte eers die Kaap toe die Boererepublieke Natalia, Oranje Vrystaat en Transvaal oorgeneem het en uiteindelik die Unie van Suid-Afrika vanaf 1795-1802 en 1806-1961 beheer het, met ander woorde Suid-Afrika was vir 162 jaar ‘n Britse kolonie.
Kolonialis is iemand soos Cecil John Rhodes wat alles in ‘n kolonie doen om sy vaderland te bevoordeel en die inheemse mense te onderdruk. Hy sien homself nie as ‘n inbooring van die kolonie nie, maar is daar om ryk te word en uiteindelik na sy vaderland terug te keer, nadat hy die kolonie geplunder het (ironies het Rhodes in Suid-Afrika gesterf voor hy na sy moederland kon terugkeer).
Koloniseer is wanneer ‘n regering van een land, ‘n ander land oorneem deur om van hulle mense in daardie land te vestig, sodat hulle die hulpbronne van daardie land vir hul eie gewin kan plunder. Die vreemde land se mense word onderdruk en in sommige gevalle selfs deur die koloniste verslaaf of deur volksmoord uitgewis.
Kultuur is dit wat mense doen. Dit sluit hul taal, kleredrag, gewoontes, religie, gereedskap, werkswyse, voeding, medisynes, opvoeding ens. in. Alle mense van alle tye het kultuur. Kultuur, soos taal, is wat mense van diere onderskei. Die eerste aanduiding van kultuur is die maak van steenwerktuie. Kultuur is dus ook dit wat die mens doen om die natuur te verander om daarin te kan oorleef.
Kwartsaar is ‘n kraak in ‘n rots waarlangs superverhitte silika-ryke water beweeg het. Kwartskristalle vorm in die kraak wanneer die water aan die einde van die hidrotermiese proses afkoel.
Maghreb is die streek in Noord-Afrika wat die Middelandse see aangrens wes van Egipte. Dit strek tot by die Atlantiese Oseaan en sluit Marokko, Algerië, Tunisië, Libië en Mauritanië in. Die Maghreb het ’n ryk geskiedenis van Berber- en Arabiese invloede en was ’n belangrike spilpunt vir handel en kultuur tussen Afrika, Europa en die Midde-Ooste.
Mapungubwe (1075-1220 n.C.) was die mees suidelike vesting van ‘n groot Arabiese handelsnetwerk wat regoor Afrika gestrek het en wat met hawestede op die Ooskus van Afrika verbind was. Die suidelike Arabiese handelsroete het vir ‘n gedeelte langs die Limpopo Rivier vanaf Mapungube tot by Chibuene aan die ooskus van die hedendaagse Mosambiek geloop. Die volk wat in Mapungubwe gewoon het was verwant aan die Shona-kutluurgroep wat van Zimbabwe af kom. Hulle het benewens deel van Suid-Afrika duskant die Limpopo, ook oor die suidelike deel van Zimbabwe geheers.
Mensehandel is sinoniem aan slawehandel. Mense was vir duisende jare deur ander gevang, vervoer, verkoop en gebruik. Sommige slawe het in harems opgeëindig, ander was vir swaar hande arbeid, mynwerkers, soldate of roeiers in galeiskepe aangewend en nog ander was vir hul vaardighede gebruik.
Metallurgie is die wetenskap wat handel oor die ontginning, verwerking en gebruik van metale. Dit sluit alles vanaf die verkryging van metale uit erts, tot die smelt en die giet daarvan in bruikbare produkte in, asook die tegnologie daaraan verbonde.
Meteoriet is ‘n stuk ruimtepuin soos ‘n komeet of asteroïed wat op ‘n groter hemelliggaam soos ‘n ster, ‘n planeet of maan neerstort. ‘n Stuk ruimtepuin wat uit ys, metaal of klip of mengsels daarvan bestaan, word eerstens deur ‘n groter hemelliggaam se gravitasieveld aangetrek. Wanneer dit die oppervlakte van die groter hemelliggaam tref, word dit ‘n meteoriet genoem, al vergas die meteoriet dikwels op impak.
Miljard is ‘n duisend miljoen of te wel 1 000 000 000. Die Amerikaners noem dit ‘n billion. Maar ongelukkig is hulle nie die mees ingeligte mense op aarde nie. Hulle is heeltemal verkeerd, want ‘n biljoen is 1 000 000 000 000 – wat hulle ‘n trillion noem. Maar weereens is hulle verkeerd want ‘n triljoen is 1 000 000 000 000 000 000. Die woorde miljoen, biljoen en triljoen is deur die Franse uitgedink en dit bedoel letterlik meervoude van miljoen. Dus miljoen miljoen sal bi (twee) of te wel ‘n biljoen wees, en miljoen, miljoen, miljoen sal dan tri (drie) of te wel triljoen wees. Dus is Elon Musk in Europese terme eintlik nou eers ‘n biljoenêr en nie soos die Amerikaners dink, ‘n triljoenêr nie, want hy het maar net $ 1 100 000 000 000 – en voor dit was hy ‘n miljardêr.
Moddersteen is ’n fynkorrelige sedimentêre gesteente wat hoofsaaklik uit modder, kleiminerale en silt bestaan, en wat vorm wanneer modder of klei in waterige omgewings neergelê en later verhard.
Monsoen is ’n seisoenale windverskynsel wat veroorsaak word deur groot temperatuur- en drukverskille tussen land en see, wat afwisselende nat en droë seisoene deur die jaar veroorsaak. Dit is veral bekend in Suid- en Suidoos-Asië, waar die somermonsoen swaar reënval bring en die wintermonsoen droë toestande veroorsaak. Die woord is van die Arabies mausim, wat “seisoen” beteken, afgelei.
Mutapa (ook bekend as Monomotapa of Mwenemutapa) is ‘n koninkryk wat ontstaan het toe Nyatsimba Mutota, ‘n jagter van die Karanga-stam en sy volgelinge, na die ineenstorting van die Zimbabwe Koninkryk, noordwaarts gemigreer en hulself in die noorde van Zimbabwe gevestig het. Hulle het vanaf die middel van die 15de eeu tot die 17de eeu gefloreer danksy handel in goud en ivoor met die Portugese. Hulle het die noordelike handelsroete vanaf Mutapa, al langs die Zambesi Rivier tot by Angoche en Quimane op die ooskus van die hedendaagse Mosambiek beheer.
Mynbou is die proses waardeur mense minerale, metale of ander natuurlike hulpbronne soos sand of olie uit die aarde onttrek. Dit kan plaasvind op die oppervlak (oopgroefmynbou) of ondergronds (skag- of afbouontginning).
Oranje Vrystaat was ‘n Boererepubliek en later ‘n provinsie van die Unie van Suid-Afrika, en later die Republiek van Suid-Afrika. Na die oorname van die ANC was die naam na Vrystaat verander. Die Oranje van die oorspronklike naam is afgelei van die Oranjerivier wat na die Huis van Oranje deur die Hollandse ontdekkingsreisiger Robert Jacob Gordon in die 18de eeu vernoem is. Die Huis van Oranje was die verdedigers van Protestantisme in Holland en oranje is die kleur wat met Protestantisme verbind word.
Perse was ’n antieke Indo-Europese volk wat die Persiese Ryk (Achaemenidiese Ryk), in die gebied wat nou as Iran bekend staan, gestig het. Dit was een van die grootste en invloedrykste ryke van die antieke wêreld. Hulle was bekend vir hul administratiewe vaardigheid, indrukwekkende bouwerke. Hulle kultuur het ‘n groot invloed op die geskiedenis van Wes-Asië, Griekeland en die wêreld gehad.
Persiese Golf is die lang seebekken wat tussen die Arabiese Skiereiland en Iran lê. Dit is ’n verlenging van die Indiese Oseaan en verbind met die Golf van Oman deur die Straat van Hormuz.
Piriet is ’n yster-sulfied mineraal (FeS₂) wat dikwels as gekkegoud of klatergoud bekend staan, omdat dit amper soos goud lyk en ironies dikwels in dieselfde gesteentes as goud voorkom, maar bykans waardeloos is.
Puin is rommel wat gewoonlik uit rotse of boumateriaal bestaan. Dit verwys dikwels na die bourommel wat na ‘n aardbewing, vloed, ontploffing of brand oorgebly het.
Raffinadery is ‘n aanleg waar rou materiale verwerk en gesuiwer word. Daar is verskillende tipes raffinaderye soos olie-raffinaderye waar ru-olie tot petrol, diesel, paraffien en ander brandstowwe verwerk word. By suiker-raffinaderye word rou suiker met baie onsuiwerhede tot wit, geel en bruinsuiker en molasse verwerk. In metaal raffinaderye word metale soos goud, silwer en koper gesuiwer, gesmelt en in stawe gegiet.
Sandsteen vorm oor miljoene jare wanneer sand onder druk en hoë temperatuur versteen.
Sedimentasie is die proses waartydens vaste deeltjies (sediment), wat in ’n vloeistof gesuspendeer is, onder die invloed van swaartekrag of ander kragte na die bodem van ‘n meer, of see, of vloedvlakte sak en daar neergeset word.
Segregasie is die skeiding van mense volgens ras, etnisiteit, geslag status, inkomste of geloof.
Sianied is ’n chemiese verbinding wat die sianiedgroep (-CN) bevat. Dit is ‘n uiterste giftige verbinding wat die liggaam se vermoë om suurstof te gebruik, verhinder. Aangesien goud sterk chemies met sianied reageer, word sianied in goudontrekking gebruik.
Sindikaat is ‘n groep individue of organisasies wat saamwerk om ’n gemeenskaplike doel te bereik, dikwels op ’n gesamentlike finansiële of sake basis.
Sinklien is ’n geologiese struktuur wat ontstaan wanneer gesteentelae na onder toe buig of afwaarts vou om ‘n U vormige struktuur in die aardkors te vorm.
Sofala is die Arabiese naam vir Suidelike Afrika. Dit beteken “land van goud”.
Sub-Sahara Afrika is Afrika suid van die Sahara Woestyn. Dit is ‘n nuttige term om die verspreiding van plante, diere en mense te beskryf. Die Sahara Woestyn vorm ‘n geografiese hindernis wat die verspreiding van plante, diere en mense erg tot noord daarvan (die Maghreb) en suid daarvan (Sub-Sahara Afrika) beperk.
Sultan is ‘n Arabiese heerser wat politieke en godsdienstige beheer oor ‘n gebied uitoefen.
Sultanaat is soortgelyk aan koninkryk waar ‘n sultan soortgelyk aan ‘n koning is. Die sultanaat mag ‘n onderdeel van ‘n kalifaat wees met die kalief (‘n godsdienstige en politieke opperleier), soortgelyk aan ‘n keiser, aan die hoof daarvan.
Sumeriërs was een van die vroegste beskawings in die wêreld, wat in Mesopotamië (tussen die Tigris- en Eufraatriviere, hedendaagse Irak) 4 000 – 2 000 v.C. bestaan het. Hulle hoofstede was onder andere: Ur, Uruk en Lagash waar tiene van duisende mense gewoon het. Hulle was die eerste mense wat skrif (spykerskrif) en geskrewe dokumente op kleitablette ontwikkel het. Hulle was van die eerste mense waarvan ons weet wat wiskunde, sterrekunde, wetstelsels en stadsorganisasie ontwikkel het. Hulle ekonomie was op landbou, en spesifiek die verbouiing van gars en koring, gebasseer. Hulle was verantwoordelik vir tegnologiese deurbrake soos die ontdekking van die wiel, die ploeg en die verbetering van brons-tegnologie wat vir die vervaardiging van gereedskap en wapens gebruik is.
Suspensie is ’n heterogene mengsel waarin klein vaste deeltjies in ’n vloeistof of gas versprei is, maar nie daarin opgelos is nie.
Susterskerke verwys na die drie tradisionele Afrikaanse gereformeerde kerke – die Nederduits Gereformeerde Kerk, die Nederduits Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika – wat dieselfde belydenisskrifte deel en ‘n gemeenskaplike oorsprong het.
Swaarmetale is ’n groep metale wat gekenmerk word deur hul hoë digtheid, hoë atoommassa of atoomgetal, en wat dikwels toksies of skadelik kan wees vir mense en die omgewing wanneer dit in hoë konsentrasies voorkom.
Swahili is ’n etniese en kulturele groep wat onder Bantoe-sprekende groepe langs die kus van Tanzanië, Kenia, Mosambiek en omliggende eilande ontwikkel het, na hul kontak met Arabiese ontdekkingsreisigers, jagters en handelaars wat hulle tot die Islam bekeer het. Die taal wat hulle gebruik wat ook as Swahili bekend staan, bestaan uit ‘n mengsel van Niger-Kongo Bantoe, Arabiese en tot ‘n mindere mate Persiese woorde. Die Swahili’s was deur die Arabiese handelaars aangewend om vir hulle goedere soos slawe, goud en ivoor uit die binneland van Afrika te bekom.
Transvaal is die geografiese gebied noord van die Vaalrivier en suid van die Limpopo, met die Lebomboberge in die ooste. Die gebied het so bekend gestaan in die 1830’s tot 1840’s Voortrekkertyd tot en met die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) in 1857. Na die Britse oorwinning van die ZAR in 1902 het dit weer as die Transvaal bekend gestaan en was so in die Unie van Suid-Afrika as ‘n provinsie ingelyf. Die streek het tot 1994 as die Transvaal Provinsie bekend gestaan. Nadat die ANC oorgeneem het, is die Transvaal vir politieke doeleindes in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en ‘n gedeelte van Noordwes verdeel.
Tsetsevlieg is enigeen van die 22 vliegspesies wat tot die genus Glossina (superfamilie Hippoboscoidea) behoort. Hierdie vlieë is verantwoordelik vir die oordrag van die protosoïese parasiet Trypanosoma brucei in Sub Sahara Afrika en Arabië, waar dit slaapsiekte en nagana (slaapsiekte in vee) veroorsaak. Die Suid-Afrikaanse tsetsevlieë voed op vlakvarke, bosvarke, seekoeie, verskeie bokspesies en plaasdiere soos beeste en varke. Die Hippoboscoidea (tsetsevlieë, hertluisvlieë en vlêrmuisvlieë) is bekend daarvoor dat hulle aan ’n enkele reusemaaier, wat die moedervlieg met melk binne haar uterus voer, geboorte gee in plaas daarvan om honderde eiers soos ander vlieë te lê.
Veeteelt is die doelbewuste makmaak van diere vanuit wilde spesies vir menslike gebruik. Dit sluit in die versorging, voeding en teel van diere soos beeste, skape, bokke, varke en pluimvee om produkte soos vleis, melk, wol, leer en eiers te verkry. Dit is ’n belangrike tak van landbou wat voedsel, wol vir klere en been, vere en vet vir ander nywerhede voorsien.
Vredefort Koepel, ook bekend as die Vredefort Astrobleem of Impakstruktuur is die oorblyfsels van een van die grootste bekende meteorietimpakte op aarde. Die oorspronklike meteoriet impakkrater was tussen 160 en 300 km wyd met ‘n kraterrand van ten minstens 5 km hoog. Die meteoriet wat die impak veroorsaak het was ongeveer 10-15 km in deursneë en het die aarde teen ongeveer 10 km per sekonde (36 000 km per uur) getref. Die impak was so geweldig dat van die mantelmateriaal, 40 km onder die aardkors teruggebons het wat ‘n koepel, ongeveer 40 km hoog gevorm het. Na miljoene jare se verwering het die kraterrand wegverweer en is slegs die binneste deel van die terugbons-effek en die verwronge aardkors rondom heen sigbaar.
Witwatersrand is die geografiese gebied vanaf Nigel in die ooste tot by Randfontein in die weste. Die Witwatersrand se geologie word gekenmerk aan ‘n oranjekleurige kwartsietlaag wat ‘n lae rand vorm wat ongeveer 100 km van die ooste na die weste strek. Dit is die Orange Grove kwartsiet laag wat die onderste deel van die Witwatersrand Supergroep geologiese opeenvolging vorm. Dolomiet kom bo-op en aangrensend aan die Witwatersrand Supergroep voor. Daar is ‘n groot waterleier met miljarde liter water wat ondergronds in die dolomiet voorkom. Fonteine het in vervloë jare, voor mynbou, al langs die Witwatersrand ontspring waarvan die naam van die gebied afgelei is.
Witwatersrand Kom was ‘n laagliggende deel van die oerkors wat met seewater gevul was. Kwartsgruis, geronde piriet en klein swaarmetaal-korrels is vanaf hoërliggende brongebiede uitverweer en met riviere tot by die oersee vervoer en in deltas wat in die see uitgebou het, afgeset. Die modder, wat langer in suspensie gebly het, is verder deur die seewater vervoer en op die seebodem afgeset. Hierdie sedimentêre lae, wat in die Witwatersrand Kom afgeset is, staan as die Witwatersrand Supergroep bekend.
Zama-zama (Zulu vir “vat-‘n-kans”) is ‘n onwettige mynwerker in Suid-Afrika. Baie zama-zamas is bloot opportuniste wat deur die honderde verlate myne in Suid-Afrika rondsoek vir die oorblyfsels van die vorige mynboubedrywe. In Gauteng is die zama-zamas egter deel van groot misdaadsindikate wat deur oorsese entiteite beheer word. Die beheer van die verlate myne word deur swaar bewapende misdaadsindikate bestuur en alhoewel baie plaaslike mense in hierdie netwerk ingetrek word, word mense ook van die buurlande deur menshandelaars ingesmokkel. Hierdie zama-zamas word niks minder as die slawe van die misdaadsindikate nie en moet onder die gevaarlikste en haglikste omstandighede ondergronds werk. In baie gevalle bly hulle selfs vir maande ondergronds sonder om na die oppervlakte te kom. Baie sterf ondergronds weens ineenstortings en ander ellendes.
Zanj was ’n benaming wat Middeleeuse Moslem-geograwe gebruik het vir die Bantoevolke van die Oos-Afrikaanse kus, veral die Swahili-kus, en het ook die gebied self aangedui. Die naam het aanleiding gegee tot plekname soos Zanzibar en die “See van Zanj”. Die woord is van die Persiese woord vir swart mense afgelei. Die Perse, was die eerste mense van buite Afrika wat swart mense as slawe gebruik het. Alhoewel zanj na swart mense in Persies verwys, het dit ook sinoniem met slawe en die plek van slawehandel geword.
Zimbabwe (1100-1550 nC) was oorspronklik ‘n vasalstaat van die Mapungube Koninkryk en het eers na die ondergang van Mapungubwe aan bewind gekom. Die Koninkryk van Zimbabwe het oor ‘n groter goudryke gebied as sy voorganger, Mapungubwe, geheers en het tot die grootste streeksmoontheid ontwikkel danksy die vraag na goud deur die Arabiese Ryk. Daar word gespekuleer dat die koninkryk van Zimbabwe ondergegaan het weens die uitputting van die goudreserwes, maar dit is onwaarskynlik want hul ondergang kan eerder met ineenstorting van die Arabiese handelsroete na die koms van die Portugese verbind word. Die sentrale Arabiese handelsroete het vanaf Groot Zimbabwe tot by die destydse hawestad Sofala (wat na Beira na die Portugese oorname herdoop is) op die ooskus gestrek.

